|
||||
Elders in vandeesmaand se uitgawe gee ons uitvoerig aandag aan die neoliberale groeimite in Suid-Afrika. Ofskoon die bydraers tot dié dossier feitlik almal vanuit ´n post-Marxistiese hoek oor die neoliberalisme skryf, is die meeste van hulle ook aktief betrokke by pogings om nuwe maatskaplike bewegings te bou in arm gemeenskappe wat die swaarste ly onder die ANC en korporatiewe Suid-Afrika se verraad teenoor die armes. Ofskoon die Marxistiese tradisie dikwels geneig is om vanuit ´n suiwer materiële hoek oor gemeenskappe te dink, is hierdie tradisie vandag saam met die demokratiese gemeenskapstradisie waarby Die Vrye Afrikaan ook aansluit twee van die belangrikste vertrekpunte vir ´n Suid-Afrika van selfrespekterende gemeenskappe teenoor ´n Suid-Afrika van selftevrede elites. In ons dossier word met chirurgiese presisie deur ons post-Marxistiese gespreksgenote aangetoon hoe die ANC se neoliberale ekonomiese beleid die armes verder onderploeg en die reeds hoë gaping tussen ryk en arm nog wyer maak. Maar die neoliberale wêreldwanorde het ook ernstige implikasies vir gemeenskappe gesien wat betref hulle simbole, instellings en identiteit. Die neoliberale wêreldwanorde, wat eens na die Val van die Berlynse Muur deur mnr. George Bush snr. as “´n nuwe wêreldorde” beskryf is, het natuurlik na die ineenstorting van die kommunistiese state as oorwinnaar van die Koue Oorlog tussen Wes en Oos na vore getree. Waar sowel die nasiestaat as die vrye mark daarna streef om van die mens ´n alleenstaande individu te maak, en hom af te skei van alles wat van hom ´n mens maak (religie, etniese verbintenis, gender, klas, taal), het die neoliberalisme die afgelope vyftien tot twintig jaar hierdie neiging tot nuwe hoogtes gevoer. Volgens die neoliberalisme moet alles aan die “vrye individu” en “markkragte” oorgelaat word, terwyl juis daardie dinge wat die mens vry maak en wat haar mens maak, inderdaad nie in rand en sent (of dollar) bereken kan word nie! Terwyl meer rykdom as ooit in die geskiedenis geproduseer word, het minder mense as ooit daartoe toegang, en is dit al hoe duideliker dat ekonomiese groei eerder die groei van armoede as die groei van rykdom teweeg bring. Die Marxisme, die nasionalisme en die liberalisme is aldrie ideologieë wat in die 500 jaar sedert die boekdrukkuns (1450) en die Hervorming (1517) na vore getree het. Terwyl die nasiestaat en die kommunistiese staat reeds vir alle praktiese doeleindes iets van die verlede is, bestaan die skyn in neoliberale kringe vandag dat dié ideologie onstuitbaar is. Niks kan egter verder van die waarheid wees nie. In die eerste plek kan ekonomiese groei nie onbeperk voortduur op ´n beperkte planeet nie. In die tweede plek is die potensiaal vir geweld wat die mensdom vandag weens die vernietiging van sy tradisies in die gesig staar, enorm. In die derde plek is daar ´n groeiende alternatiewe demokratiese beweging wat in vele vorme wêreldwyd die heersende wêreldwanorde met groeiende sukses uitdaag. Ook Afrikaners as gemeenskap is nie onaangeraak deur hierdie historiese kragte nie. Terwyl die kommunisme en die liberalisme histories min inslag onder Afrikaners gevind het, was dit natuurlik anders gesteld met die nasionalisme. Afrikaner-nasionalisme kon egter nie daarin slaag om verby sy grense vanaf die 1970’s te dink nie, en die geweldige skade wat dit daarna aan Afrikaners en die ander gemeenskappe gedoen het, het die meeste Afrikaners vandag etnies verwond gelaat. Dit is dan ook vanweë die misbruik van etniese identiteit deur die nasionalisme en die koloniale staat dat die neoliberalisme vandag so ´n groot verleiding vir Afrikaners bied. Talle Afrikaners ly vandag aan die illusie dat die neoliberale wanorde met sy ondermyning van instellings (kerk, skool, universiteit, ens.), sy permanente vermaak en verdowing deur die begeertes, en sy illusie van ´n vrye individu aan hulle genesing vir die etniese wond kan bring. Niks kan verder van die waarheid wees nie: selfontkenning baar uiteindelik ´n gebrekkige self, ´n skeefgetrekte ons. Wat staan demokratiese Afrikaners voor die kanker van die neoliberalisme te doen? Hoe sal ons gesond bly? Ten eerste moet daar in ons eie historiese bronne en tradisies gesoek word. Afrikaners het ´n lang tradisie van ´n politiek op basis van gemeenskap, en dit is ons beste wapen teen die gemeenskapsmiskenning en –verdagmaking van die neoliberalisme. Ten tweede moet die soeke na alternatiewe in gesprek met ander gemeenskappe en tradisies plaasvind, beginnende by die hedendaagse Suid-Afrika. Dit is waarom Die Vrye Afrikaan moeite doen om aan Suid-Afrikaanse intellektuele afkomstig uit die Marxisme en die Swart Bewussyn ruimte te gee ter wille van die gesamentlike soeke na ´n demokratiese alternatief op die elitepakt wat Suid-Afrika vandag in die naam van die demokrasie regeer. Uiteraard bestaan daar ook verskille met hierdie gespreksgenote, maar dit maak die gesprek des te noodsaakliker. Eweneens is ons posisie ook nie sonder meer een van sosiale demokrasie nie, wat toenemend in gebreke is om die meesters van die wêreldwanorde in bedwang te bring. Ten derde kan demokratiese Afrikaners in hierdie soeke en as deel van ´n voortgaande gesprek met bondgenote uit ander ideologiese tradisies bydra om die Heilige Graal van Suid-Afrikaanse politiek te vind, naamlik ´n politiek gebaseer op sowel klas- as etnolinguistiese verbintenis, die politiek van selfstandigheid wat sowel materiële as simboliese armoede weerstaan. Vir híérdie demokratiese politiek is ons land en ons planeet ryper as ooit. |