blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


Die US-raad: Stem reg! 2006-03-02

Lesers van Die Vrye Afrikaan sal weet dat ons al by herhaalde male in ons blaaie gewys het op die verengelsingsproses aan die Universiteit Stellenbosch (US). U sal verder weet dat die jongste stap in hierdie proses voltrek is toe die raad van die US gedurende Desember verlede jaar teen die oorweldigende openbare mening in en sonder enige noemenswaardige pedagogiese, etiese of maatskaplike argumente gestem het vir die uitbreiding van dubbelmediumonderrig, oftewel die T-opsie, na die derdejaarsvlak aan die Fakulteit Lettere en Wysbegeerte.

            Soos ons ook by geleentheid aangetoon het, was dié besluit van die raad niks anders nie as ’n produk van die onheilige alliansie tussen die Afro-nasionalistiese staat en sy neoliberale korporatiewe bedmaat se elitepakt nie. Hierdie pakt is tans besig om sowel die belange van arm as minderheidsgemeenskappe in Suid-Afrika te vertrap en die aanspraak dat Suid-Afrika ’n demokrasie is sienderoë te ondermyn.

            Uit die geledere van die Stellenbosse elite moes ’n mens hoor dat ontoereikende swart studentegetalle (wat nie noodwendig uit ’n Afrikaanse onderrigbeleid hoef te volg nie) die universiteit uiteindelik duur aan staatsubsidiegeld kan kos. Dié bewering is in Die Vrye Afrikaan van 17 Februarie 2006 van alle waarheid ontbloot deur Henk Smal, wat aangetoon het dat selfs al is 60% van die US se studente swart, dit die universiteit slegs 15 miljoen rand ekstra aan subsidie op ’n begroting van meer as 1,3 miljard rand in die sak sal bring.

            Nou het die hele kwessie weer opgevlam op die vooraand van die verkiesing van vier nuwe raadslede aan die US. Drie van die lede sal as verteenwoordigers van die konvokasie op die raad dien, terwyl die vierde lid as verteenwoordiger van die donateurs van die US sal dien.

            In die openbare debat wat reeds oor die saak ontstaan het, het die verdeling tussen voorstanders en teenstanders van die T-opsie reeds as bepalend na vore getree. Kandidate en kommentators wat vir die T-opsie is, het reeds probeer om dié sentrale kwessie te onderspeel en aan te voer dat die taalkwessie maar een van die sake is waaroor dit gaan.

            Dít is ’n verdraaiing van die werklikheid, want as die US verder verengels, sal dit nie net sy stigtingsidee finaal die rug toedraai nie, maar sal die US ook al hoe minder in diens van sy voedingsgemeenskap staan.

            Drie kandidate uit die konvokasie is teenstanders van die T-opsie, naamlik proff. Hermann Giliomee, Christo Viljoen en Lina Spies, terwyl mnr. Jacko Maree as genomineerde kandidaat namens die donateurs weer teen die T-opsie staan. Geen beeldpoetsery of verdraaiing van die feite kan daarvan wegneem dat die verkiesing van hierdie vier persone nie net ’n wesenlike verskil aan die raad se onbevoegde hantering van die taalkwessie kan maak nie, maar dat dit ook die laaste kans mag wees om die proses te stuit. Daarom doen Die Vrye Afrikaan vandag ’n beroep op stemgeregtigdes in hierdie verkiesing om vir hierdie vier kandidate te stem. Ten minste 5000 alumni van die US moet stem, en daarom versoek ons u ook om hierdie inligting so wyd moontlik te versprei. Hierdie is ’n seldsame kans vir gewone mense om met hulle stem die elite in hulle ondemokratiese spore te stuit!

            Alle alumni van die US mag voor 16:00 op 20 Maart 2006 hul stem uitbring. Die elektroniese stembriewe is onderskeidelik beskikbaar by  http://web-apps.sun.ac.za/VoteWeb/app/C_Form_Afr.jsp?lang=afr&CorD=C, asook by http://web-apps.sun.ac.za/VoteWeb/app/D_Form_Afr.jsp?lang=afr&CorD=D. ’n Gedrukte stembrief kan ook telefonies aangevra word by die Sekretaris van die Konvokasie by 021-808-4516.

 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=495
Artikel nagegaan: Nee.
Indien die artikel se inhoud hierbo nie vertoon nie, sal dit mettertyd bygevoeg word wanneer die artikel nagegaan word.

    -