|
||||
Dale T. McKinley
* Politieke kommentator, gemeenskapsaktivis en onafhanklike navorser
Ondanks die meer algemene maatskaplike, politieke en ekonomiese vooruitgang wat sedert die demokratiese oorwinning oor apartheid in 1994 in Suid-Afrika gemaak is, kan daar eenvoudig nie ontken word dat die vrugte van dié vooruitgang deur slegs ’n klein minderheid geniet word nie. Die gaping tussen diegene wat baie het (wat verteenwoordig word deur ’n gevestigde, meestal wit, korporatiewe elite, asook deur ’n burokratiese staatselite en ’n vinnig groeiende swart bourgeoisie), en diegene wat min het (wat verteenwoordig word deur ’n grotendeels swart meerderheid van werkers en armes), word vinnig al hoe groter. Dit is die werklikheid, en geen mate van politieke en analitiese beeldpoetsery deur die regering en/of sy intellektuele volgelinge kan dit verdoesel nie.
Ontstaan van die mite
Om hierdie werklikheid te plaas en te begryp, beteken dat ’n mens die grondslag daarvan moet kan plaas en begryp. Ofskoon die ANC-regering in 1994 aan bewind gekom het op grond van beloftes (vervat in die Heropbou- en Ontwikkelingsprogram, HOP) om sy nuutgevonde politieke mag te gebruik om prioriteit te verleen aan die herverdeling van natuurlike en menslike rykdom/hulpbronne as ’n manier om billike en volgehoue ekonomiese groei te bewerkstellig, het Suid-Afrika in die eerste twee jaar van sy nuwe demokrasie die ANC se geleidelike, hoewel soms betwiste, politieke en ideologiese aanvaarding van die breë raamwerk van ’n wêreldoorheersende, neoliberale politieke en ekonomiese ortodoksie beleef. Die ANC het besef dat hy so ’n drastiese ideologiese skuif moeilik by sy kiesersgevolg van werkers/armes sou laat ingang vind en was toe slim genoeg om sy aanvaarding van liberale bourgeois-demokrasie gelyk te stel aan die wil van “die mense”. Op dié wyse kan neoliberalisme gepaar word met liberale bourgeois-demokrasie sodat eersgenoemde voorkom as ’n noodsaaklike en natuurlike ekonomiese orde wat voortspruit uit ’n eweneens noodsaaklike en natuurlike politieke produk. In so ’n scenario kan demokrasie en ontwikkeling dan sinoniem word met die “groei” van ’n kapitalistiese, neoliberale “vrye mark”. En so het postapartheid-Suid-Afrika se weergawe van die neoliberale groei-mite die lig gesien. Van deurslaggewende belang is dat hierdie ideologiese skuif na regs deur die ANC gepaardgegaan het met die stelselmatige aftakeling, of inkorporering by die organisatoriese raamwerk van die ANC self, van feitlik alle onafhanklike en verwante gemeenskapsorganisasies (hetsy “civics”, vroueorganisasies of jeuggroeperinge) in Suid-Afrika. Teen die middel 1990’s het die ANC, en in mindere mate sy alliansievennote, verreweg die meeste van die gemeenskapsorganisasies wat so sentraal gestaan het in die radikalisering van die anti-apartheidstryd en die hoop van miljoene op ’n antikapitalistiese transformasie van die Suid-Afrikaanse samelewing lewend gehou het, ingesluk. Die “transaksie” is toe institusioneel deur die ANC-regering gekodifiseer met die bekendmaking omstreeks mid-1996 van die openlik neoliberale GEAR makro-ekonomiese strategie. GEAR het die ANC-staat daartoe verbind om (onder meer) staatsbesteding te besnoei (as ’n manier om die begrotingstekort te verminder), inflasie in enkelsyfers te hou (deur hoë reële rentekoerse), belastingvakansies en ander aansporings vir korporatiewe kapitaal te gee, deviesebeheermaatreëls uit te faseer, ’n “buigsamer” arbeidsmark te skep, “loonbeheersing” aan te moedig en die privatisering van staatsbates te bespoedig – kortom, om die mag van die staat (en die politieke/morele legitimiteit van die ANC as ’n voormalige bevrydingsbeweging) te gebruik om die nou versoenbare klassebelange van ’n ou en ’n nuwe kapitalistiese elite na te streef.
Propagering van die mite
Ten einde die mite te propageer dat sulke eng klassestrewes uiteindelik almal sal bevoordeel (veral die werkers/armes), het GEAR te kenne gegee dat ’n kombinasie van ekonomiese regstellende aksie (deur grondverdeling aan ’n nuwe klas swart kommersiële boere en staatsbystand aan opkomende swart nywerheids-/vervaardigingsondernemers) en swart ekonomiese bemagtigingsinisiatiewe deur “vennootskappe” met korporatiewe kapitaal die beste “lewering” van die verlangde uitkomste van ekonomiese herverdeling, maatskaplike gelykberegtiging, werkskepping en, natuurlik, “ekonomiese groei” sal verseker.
Die belofte was (en is) dat ’n meer sorgsame neoliberale kapitalisme, minstens op die lange duur, ’n “beter lewe vir almal” sal bied. Die verskillende “verkoopspraatjies” van die ANC-regering en sy korporatiewe bondgenote oor die jare – insluitende die onlangs bekendgestelde nakomeling van GEAR, die “Versnelde en Gedeelde Groei-inisiatief vir Suid-Afrika” (ASGISA) – het, ondanks die gedurige retoriek tot die teendeel, alles gewentel om die idee dat die nastrewing van “groei” (binne die aanvaarde en geïnstitusionaliseerde parameters van ’n kapitalistiese neoliberalisme) sowel die maniere as die middele sal voorsien om sosio-ekonomiese ongelykheid en ongeregtigheid die hoof te bied. Daar is aan Suid-Afrikaners gesê dat hulle net geduldig moet wees en die regering moet toelaat om te regeer en die mark om toe te deel. Wanneer dit geblyk het dat die werklikheid nie netjies inpas by sulke propaganda nie (d.w.s. voortdurend), het sowel die ANC-regering as korporatiewe kapitaal gou gespeel om statistiese inligting te manipuleer, ’n verskeidenheid van ander “kragte” of gebeurtenisse te blameer vir die mislukking, en diegene wat dit waag om nie te glo nie, aan te val en te delegitimeer.
Ontbloting van die mite
Gelukkig het die ketters die werklikheid aan hulle kant. Elke belangrike stuk navorsing wat die afgelope klompie jare gedoen is, sowel deur die staat as onafhanklik, ontbloot die neoliberale groeimite vir wat dit is. ’n Opname wat in 2003 deur die Community Agency for Social Enquiry gedoen is en waarby meer as 6 000 mense uit 60 arm gemeenskappe betrokke was, het die volgende bevind: · 55% van die werkloses en 32% van dié met werk het gesê hulle kon nie voedsel bekostig nie · 54% van die werkloses en 43% van dié met werk kon nie basiese dienste bekostig nie · 46% kon nie huurgeld of verbandterugbetalings bekostig nie · 68% het minder as R500 per maand verdien, hetsy werkend, selfgeëmplojeerd of werkloos · 86% was aan die werk soek · 1 uit 8 selfgeëmplojeerdes het gesê hulle verdien genoeg om van te leef
Navorsing deur die Ontwikkelingsbank van Suid-Afrika in 2005 het aan die lig gebring dat die aantal Suid-Afrikaners wat in armoede verkeer (met die norm vir die nasionale armoedegrens vir 2002 gestel op ’n ellendige R354 per volwassene per maand), in alle bevolkingsgroepe dramaties toegeneem het, naamlik van 17 miljoen in 1996 tot 21 miljoen in 2003. In dieselfde tydperk het die gemiddelde huishoudelike inkomste met 7,6% gestyg. Tesame geneem bevestig hierdie syfers dat daar ’n toenemend ongelyke inkomsteverspreiding is in ’n land wat reeds tel onder die mees ongelyke samelewings ter wêreld. Trouens, die staat se eie syfers vir 2002 toon dat die armste helfte van alle Suid-Afrikaners slegs 9,7% van die nasionale inkomste verdien (teenoor die 11,4% van 1995), terwyl die rykste 20% meer as 65% van alle inkomste verdien. Volgens die verslag van die komitee van ondersoek na ’n omvattende stelsel van maatskaplike sekerheid vir Suid-Afrika (2002) leef 55% van Suid-Afrikaners in armoede en 60% van die armes ontvang geen maatskaplikesekerheidsoordragte en/of -toelae nie. Erger nog, die verslag van die Suid-Afrikaanse Stedenetwerk (2004) het aan die lig gebring dat daar van 1996 tot 2001 ’n toename van 180% was in die aantal stedelike huishoudings met geen meetbare inkomste hoegenaamd nie. ’n 2006-verslag deur die Universiteit van Suid-Afrika – Projection of Future Economic and Sociopolitical Trends in South Africa up to 2025 – stel Suid-Afrika se werkloosheidsyfer op tussen 30 en 40 persent, afhangende van die definisie van “werkloos” wat gebruik word, en kom tot die gevolgtrekking dat “the economy is not creating jobs – to a large extent it’s jobless economic growth”. Die Menseontwikkelingsindeks van die Verenigde Nasies se Ontwikkelingsfonds (wat metings van lewensverwagting, opvoedkundige vlak en aangepaste reële inkomste gebruik) het Suid-Afrika 120ste geplaas uit 177 lande waar metings gedoen is. Vergeleke hiermee is die Palestynse gebied in die 102de posisie geplaas. Onderliggend aan hierdie grootskaalse armoede en ongelykheid is die wydverspreide gebrek aan basiese dienste, veral in landelike dele van ons land. Die verslag van die Verenigde Nasies se Ontwikkelingsprogram getiteld South Africa Human Development Report (2003) het bevind dat die aantal huishoudings wat geag word nie toegang tot “goeie” basiese dienste te hê nie, van die 1996-sensus tot die 2001-sensus van 5,68 miljoen toegeneem het tot 7,24 miljoen. In verhouding tot die grootte van die huishoudingsbevolking in 1996 en in 2001 het die persentasie van die bevolking wat nie toegang tot sulke basiese dienste het nie, toegeneem van 63% tot 65% van die algehele bevolking. Die verslag van die Stedenetwerk het getoon dat die toename in die aantal plakkershutwonings in Suid-Afrika se belangrikste stedelike sentra amper gelyk is aan die aantal huise wat van 1996 tot 2001 gebou is, dat die aantal huishoudings sonder elektrisiteit en water (hetsy gekonnekteer of gediskonnekteer) feitlik gelyk is aan die aantal wat wel dié dienste ontvang, en dat twee-derdes van stedelike volwassenes nie basiese sekondêre skoolopleiding voltooi het nie.
Die werklikheid onder die oë
Dit is, volgens enige maatstaf of na-1994-tydraam, ’n patetiese toedrag van sake, gegee die aansienlike mense-, natuurlike en kapitaalhulpbronne in ’n land soos Suid-Afrika, en te meer vir ’n regering en president (aangespoor deur ’n opportunistiese private sektor) wat spog oor Suid-Afrika se “wêreldklas”-standaarde en graag ’n moreel meerderwaardige houding aanneem deur voor te gee dat hulle namens Suid-Afrika en die wêreld se armes praat, maar wat heeltemal onwillig skyn te wees om die werklikheid onder die oë te sien. Die digter en skrywer James Baldwin het tereg by geleentheid opgemerk: “Not everything that is faced can be changed, but nothing can be changed if it is not faced.” Wat onder die oë gesien moet word, is dit: ten grondslag aan die neoliberale groei-mite is die politieke/ideologiese begrip van en praktiese benadering tot ontwikkeling en demokrasie wat deur Suid-Afrika se politieke en korporatiewe elite aanvaar en geïnstitusionaliseer is. Eerder as om ontwikkeling te beskou as ’n metaforiese “huis” waarvan die stabiliteit en bewoonbaarheid allereers daarvan afhang dat ’n fondament van basiese behoeftes/dienste gelê word vir die meerderheid van dié wat daarin woon, het hulle verkies om daarop te fokus om die boonste “verdiepings” te ondersteun en te versterk in die (ydele) hoop dat dit nie net die huis beter sal laat lyk nie, maar dat dit ook op die een of ander manier na die fondament sal deurwerk. Hierdie agterstevoor neoliberale ontwikkelingslogika en benadering is vervat in pres. Mbeki se tese van twee nasies, twee ekonomieë, waarin die “eerste ekonomie” (wat in reële terme die boonste verdiepings van die ontwikkelingshuis verteenwoordig) gesien word as die grondslag van ontwikkeling, en die “tweede ekonomie” (wat in reële terme die fondament van die ontwikkelingshuis is) gesien word as sekondêre bouwerk. Soos Mbeki self gesê het: “Ons moet hard werk om te verseker dat ons sentrum, die eerste ekonomie, groei en ontwikkel om die rykdom te genereer wat ons benodig om die doel van ´n beter lewe vir almal te verwesenlik… armoede en onderontwikkeling [die tweede ekonomie] tree op as hindernis vir die verdere ontwikkeling van die eerste ekonomie.” Die nastrewing van hierdie soort ontwikkelingsplan vereis nie net dat die akkumulatiewe “behoeftes” van die kapitalistiese klas (die eerste ekonomie) die bron van groei en voorspoed “vir almal” moet wees nie, maar ook dat die blywende sosio-ekonomiese toestande van die werkers/armes self geïdentifiseer moet word as die belangrikste struikelblok vir sodanige akkumulasie en dus vir ontwikkeling self (teenoor die omgekeerde). Dit is beswaarlik klinkende steun vir betekenisvolle demokrasie, wat tog seker vereis dat die “bemagtiging” van die “mense” berus op voldoening aan hulle basiese behoeftes sodat hulle daadwerklik kan deelneem aan die beplanning en bou van die “ontwikkelingshuis”. Wat tot dusver gedoen is, is om demokrasie valslik af te paar met die behoeftes van die kapitalistiese mark. Hieruit het weer ’n voortdurende “krisis van demokrasie” voortgespruit waarin geïnstitusionaliseerde praktyke en vorme van verteenwoordigende demokrasie, soos verkiesings en plaaslikeregeringstrukture, weinig verskil maak, aangesien die deurslaggewende samelewings- (ontwikkelings-) besluite deur die “mark” geneem word. Die gevolg is ’n gedwonge en valse “groei”-konsensus wat hoofsaaklik die kapitalistiese base en die nuwe swart elite wat die ANC-regering so graag wil uitbou, sal bevoordeel. Die toenemende klasse-ongelykhede tussen ryk en arm en die voortgaande uitbuiting van werkers sal net nog meer verhul word deur die gefabriseerde skyn van politieke en sosio-ekonomiese konsensus onder alle Suid-Afrikaners. Terwyl die kapitalistiese en politieke elites die middelpunt van die aandag is en hulself volstop, word daar van die armes verwag om maar net hulle voortgesette politieke marginalisering te omarm en te vier, en om bly te wees oor die ekonomiese krummels wat van die “meesters” se tafels af vir hulle gegooi word. Suid-Afrika se “oorgangsondervinding” sedert 1994 bevestig dit. Die gebrek aan visie en die wil om fundamenteel aandag te gee aan die wortels van Suid-Afrika se ontwikkelingskrisis, en bygevolg sy demokrasiekrisis, wat onlosmaaklik verbind is aan die krisis van basiese dienslewering, het gelei tot ’n groeiende ontwikkelingslas wat geplaas word op diegene wat die minste in staat is om daardie las te dra. Die Minister van Provinsiale en Plaaslike Regering, Sydney Mufamadi, het onlangs die Nasionale Forum vir Munisipale Finansies meegedeel dat munisipaliteite moet begin om hulle eie inkomste te genereer “om hulle afhanklikheid van die nasionale regering te verminder”. In die praktyk beteken dit dat plaaslikeregeringstrukture gedwing word om basiese dienslewering te privatiseer of te korporatiseer te einde “koste” te verhaal, terwyl arm gemeenskappe gedwing word om die gapings te probeer toemaak en terwyl watter minimale vermoë en hulpbronne hulle ook al het, uit hulle gepers word. Dit is meer as ironies dat dit lyk soos ’n terugkeer na die soort “selfhelp”-ontwikkelingsbenadering wat gedurende die koloniale tydperk gegeld het. Ons hoef nie verder te soek as die onlangse ervaring op Delmas om te sien hoe hierdie benadering afloop nie – naamlik as die “pasiënte” nie beter word nie, gee dan die “pasiënte” die skuld en gee hulle op die koop toe sommer ’n klap ook. Die kumulatiewe uitwerking van hierdie ontmagtigende (ten minste vir die armes) neoliberale ontwikkelingsraamwerk en -praktyk is tweërlei: dit verbreed die verskuiwingslyne van armoede, ongelykheid, die lewering van toeganklike/bekostigbare basiese dienste en genieting van die hele reeks mense- en grondwetlike regte, en dit doen beduidend af aan die hele konsep en ervaring van burgerskap, en dus ook van demokrasie. Die benadering van gekommodifieerde private goedere wat sentraal in neoliberalisme staan, reduseer burgers tot individuele verbruikers wie se verhouding met die staat en dié wat dit bewoon en bestuur, ’n weerspieëling is van die relasionele wêreld van besigheid. Openbare goedere en kollektiewe waardes word vervang deur private kommoditeite en individuele voorkeur. Die stelselmatige sosio-ekonomiese, morele en politieke krisis van neoliberale kapitalisme verteenwoordig ’n krisis van ontwikkeling en demokrasie wat nie tot Suid-Afrika beperk is nie, maar wat ongelukkig, in verskillende vorme en in verskillende mate, oor die hele wêreld voorkom. In Suid-Afrika is die gevolge duidelik te sien vir diegene wat hulle oë oop hou en wat aandag gee; dit is naamlik die institusionalisering van ’n al hoe groter wordende klassekloof wat gekenmerk word deur die bemagtiging van ’n haas ontraste elite naasaan die verskerpte verarming van die meerderheid, vir wie die lewe ’n voortdurende stryd om oorlewing geword het.
|