|
||||
Dominique Vidal * Senior assistentredakteur, Le Monde diplomatique, kenner van die Midde-Ooste ** Uit die Frans vertaal deur Johann Rossouw, [email protected]
“Twee gewigte, twee mate”: hierdie Franse uitdrukking is ’n trefsekere beskrywing van die verskil in die mediadekking van Ariel Sharon se beroerte, en die aanvanklike siekte en latere dood van oud-president Yasser Arafat in November 2004. Eersgenoemde se verdwyning sou ’n “bedreiging vir vrede” inhou, terwyl dié van die tweede ’n “struikelblok vir vrede” sou uitskakel. Paradoksale rolverwisseling. Aboe Ammar (Arafat) het die Palestynse Bevrydingsorganisasie (PBO) van die gewapende en soms terreurstryd vir die verdwyning van Israel gelei na die politieke en diplomatieke stryd om naas Israel ’n onafhanklike Palestynse staat te skep. Wat die ou generaal betref, hy het deelgeneem aan al Israel se oorloë, insluitend daardie oorlog verteenwoordig deur die kolonisasie waarvan hy die argitek was. En hy het sy naam aan ’n reeks massaslagtings verbind (1): die media noem dikwels dié van Sabra en Shatila, gepleeg deur die Libanese magte met die medepligtigheid van sy manskappe, maar verwys selde na die ander wat uitsluitlik deur hulle gepleeg is: Kibia (1953), die Mitlapas (1956), die Gasastrook (1971), sonder om te vergeet van die bloedige herowering van die Wesoewer (2002). Sekerlik, maar die “Stootskraper” sou hom skielik tot die pasifisme bekeer het met die eensydige onttrekking aan die Gasastrook in 2005. “Optiese illusie,” antwoord die Israeliese historikus, Tom Segev, “daar is nie ’n ‘nuwe Sharon’ wat in die aand van sy lewe met vrede geslaan is, geopenbaar nie. Ariel Sharon het getrou aan homself gebly: ’n generaal wat die Palestyne deur die visier van sy geweer bekyk en hulle as vyande in plaas van vennote beskou” (2). Vir die voormalige Israeli-ambassadeur in Frankryk, Elie Barnavi “… openbaar die nogal skouspelagtige ommeswaai … in die kommentare meer oor die erns van ’n sekere joernalistiek as oor die objektiewe ontwikkeling van die voormalige premier” (3). Oorlog, het Clausewitz gesê, is “die voortsetting van die politiek met ander middele.” As waardige erfgenaam van Dawid Ben-Gurion en Zeev Jabotinsky het die premier dié stelling omgekeer. Toe hy aan die begin van 2001 verkies is, het hy nog geglo dat “die Onafhanklikheidsoorlog van 1948 nie klaar is nie” (4). Nadat hy hierdie program vir twee jaar lank in die eerste graad toegepas het deur die totale beheer oor die Wesoewer terug te neem, moes hy dit in die tweede graad toepas ten einde met twee uitdagings rekening te hou, die een struktureel, die ander ’n sameloop van omstandighede. Die demograwe het dit voorspel: “Groot Israel” sou binnekort ’n Arabiese meerderheid hê. Verskriklike dilemma vir Israel, wie se Stigtingswet dit as “Joods en demokraties” omskryf: óf hy moes die tweede term voorrang gee en sy Joodse aard verloor, óf hy moes die eerste bewaar en kon dan nie meer demokraties wees nie. Ten einde aan hierdie strik te ontsnap, moes hy óf langs hom ’n werklike staat vir die Palestyne erken, óf laasgenoemde op massiewe skaal uitsit. Mnr. Sharon het die eerste oplossing vermy en geweet dat die tweede tans onuitvoerbaar is. Sedert 1998 het hy dus ’n derde oplossing uitgedink: die vorming van vier Palestynse enklawes in die Gasastrook en die helfte van die Wesoewer, insluitend aan die binnekant van die muur, terwyl Israel die res annekseer, spesifiek die gebiede waarin meer as 80% van die Israelse koloniste byeen is. Vandaar die idee van ’n eensydige onttrekking aan die Gasastrook, ’n gebaar sonder presedent, maar veral ’n stap onderweg na die nuwe vorm van Israeliese hegemonie oor Palestina. Ofskoon strategies, het die maneuver ook ’n taktiese dimensie behels. Mnr. Sharon onderneem dit in 2004 omdat hy sy isolasie inreken: eerstens in Israel, waar die openbare mening moeg is vir die konflik; tweedens in die buiteland. Op 9 Julie 2004 verklaar die Internasionale Geregshof (IGH) die muur onwettig en beveel dit sy vernietiging. Op 20 Julie keur die Algemene Vergadering van die Verenigde Nasies hierdie besluit met 150 stemme teen 6 goed, met 10 lande buite stemming. As al die lidlande van die Europese Unie hiervoor stem, is dit omdat 59% van hulle burgers Israel eerste plaas op die lys van state wat “vrede in die wêreld bedreig” (5). Tel-Aviv vrees Washington se druk. En die Kwartet (Verenigde Nasies, Verenigde State, Europese Unie en Rusland) beroep hom op Israel om in te val by die eise van die “padkaart” met die opskorting van die kolonisering, wat moet dien as teenprestasie vir die skietstilstand deur mnr. Mahmoed Abbas beding. “Die betekenis van die plan met die onttrekking [uit die Gasastrook] is die opskorting van die vredesproses,” verklaar mnr. Dov Weissglas, die naaste raadgewer van die Israelse premier. “Wanneer jy hierdie vredesproses opskort, verhoed jy die skepping van ’n Palestynse staat, asook ’n gesprek oor die [Palestynse] vlugtelinge, die grense en Jerusalem … Die onttrekking is die dosis formalien wat nodig is om te verseker dat daar nie ’n politieke proses met die Palestyne is nie” (6). Sestien maande later sou hierdie ontleding profeties lyk: die Kwartet swyg, en die Europese Unie gaan selfs so ver as om sy eie verslag oor Israel se anneksering van Jerusalem-Oos te verdoesel. Kortom, niemand pla Israel meer met die “padkaart” nie … Die kulkunstenaar het geslaag. Skouspelagtig opgevoer het die vertrek van 8 000 koloniste uit die Gasastrook die planeet gehipnotiseer: nou blind, doof en stom voor die lot van die Palestyne. Desnieteenstande skat Vrede Nou dat die aantal koloniste met 6 100 vanaf die vorige jaar toegeneem het, met ’n totaal van 250 000 aan die Wesoewer (7). Laasgenoemde sal letterlik in twee verdeel word met die vergroting van Maale Adoemim. Die bou van die muur versnel, bykans halfpad klaar of amper klaar, wat die omsingeling van Jerusalem-Oos sal voltooi (8). Die weermag vermenigvuldig bombardemente en sluipmoorde, om nie afkordonnings en vernedering by 750 padblokkades te vergeet nie. Maar stilte: wat tel die internasionale reg, die resolusies van die Verenigde Nasies, die vestiging van ’n Palestynse staat op die hele Wesoewer en Gasastrook met Jerusalem-Oos as hoofstad? ... die vrede is in aantog. Vir ’n lang ruk was Frankryk se Midde-Oosterse politiek in lyn met dié van Israel: by die beskuldigende herinnering aan Vichy se rol in die Nazi-volksmoord het kort voor lank die stryd teen Arabiese nasionalisme in Algiers en dus Kaïro ingesluit. De Gaulle het omgeswaai tydens die oorlog van 1967, oortuig daarvan dat Israel “in die gebiede wat hy ingeneem het ’n besetting gaan organiseer wat nie sonder onderdrukkings en uitsettings kan geskied nie, en daar sal weerstand teen Israel ontstaan wat hy self as terrorisme sal beskryf”. Sy opvolgers, Georges Pompidou, Valéry Giscard d’Estaing en veral Francois Mitterand sou hou by hierdie “Arabiese beleid”, in die oortuiging dat slegs Palestynse selfbeskikking die Gordiaanse knoop in die streek sou deurkap. Die vraag ontstaan nou of president Jacques Chirac, aanvanklik getrou aan hierdie koers, nou meteens ’n ander ingeslaan het, en waarom? Ooglopend het die rooi tapyt wat verlede Julie uitgerol is vir premier Ariel Sharon, tot op daardie tydstip nog persona non grata, op ’n ommekeer gedui. Die Franse president het feitelik nie eens op die hospitalisasie van mnr. Sharon gewag voor hy die lof van hierdie “man van vrede” besing het nie - ofskoon darem ’n bietjie later as mnr. George W. Bush. Afgesien van die skynheiligheid is dit veral die kontras tussen Parys se oorverdowende stilte oor die onderdrukking in Palestina en sy al hoe nouer samewerking met Tel-Aviv, gemarkeer deur onophoudelike ministeriële besoeke, wat tref. Die deelname van twee groot Franse ondernemings, Alstom en Connex, aan die konstruksie van die tremlyn wat Jerusalem verbind met die kolonies – wat Frankryk nog altyd as onwettig beskou het – van Pisgat Zeev en French Hill spreek van skisofrenie. En wat moet ’n mens sê van die afgelope Desember se Paryse besoek op uitnodiging van die Franse Minister van Binnelandse Sake, mnr. Nicolas Sarkozy, van die Israelse Minister van Openbare Veiligheid, Gideon Ezra, en die hoof van die Israelse polisie, Moshe Karadi: ten einde – volgens die Israelse koerant Haaretz – “hulle Franse eweknieë bloot te stel aan die insigte wat hulle opgedoen het in die onderdrukking van onluste in hul eie land”? Die Franse, het die koerant smalend bygevoeg, is “hoogs geïnteresseerd in Israeliese kundigheid oor die saak”… Hier is ooglopend meer in die spel as bloot die Nabye Ooste: voorvegter in 2003 van die teenstanders van president Bush se avontuurlustigheid, span mnr. Chirac vanaf 2005 met hom saam. Van Afghanistan na Iran volg hy die Verenigde State en gaan hy hulle trouens voor, soos in die Libanees-Siriese dossier. En oor die Palestynse vraagstuk? Laat ons aflei dat daar by die geopolitiese abdikering ietwat meer kleinlik-politieke belange betrokke is. Sonder twyfel sal die Franse leiers, geobsedeer deur verkiesings, min of meer toegee aan die koor wat al die afgelope vyf jaar enigiemand wat Israel kritiseer as anti-semities voorstel (10). Ofskoon hierdie veldtogte min invloed op die Franse openbare mening het, blyk die politieke en mediaklas gevoeliger daarvoor. Om nou daarvandaan ’n oorlogsmisdadiger in ’n heilige te verander…
_________ (1) Lees Le Général Sharon. Éléments pour une biographie, Parys: Éditions de la Revue d’études palestiniennes, 2001. (2) Le Monde, 12 Januarie 2006. (3) Le Figaro, 13 Januarie 2006. (4) Haaretz, Tel-Aviv, 12 April 2001. (5) Le Monde, 5 November 2003. (6) Onderhoud met Haaretz, 6 Oktober 2004. (8) Volgens die Israelse menseregteorganisasie, Betselem, is oor ´n totaal van 681km 31% gebou, 16,5% in aanbou en 43% hangende terwyl die oorblywende 9,5% nog beslis moet word. (9) Haaretz, 12 Desember 2005. (10) Lees “Les pompiers pyromanes de l’antisémitisme”, Le Monde diplomatique, Mei 2004. |