blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


Oog om oog, tand om tand: Steven Spielberg se Munich 2006-02-16
Stefan Louw

*Leraar, NG-gemeente, Melville


Munich is gegrond op die gyselaarsdrama wat afgespeel het tydens die 1972 Olimpiese spele in München, toe die Palestynse terroriste-organisasie, Swart September, die Israeliese atlete gyselaar geneem het. Die drama is tragies beëindig op die lughawe, waar die meeste terroriste onder ’n koeëlreën gesterf het en al elf die atlete vermoor is. Munich neem hierdie stukkie geskiedenis as vertrekpunt en vertel die verhaal van die vergeldingsaanvalle wat Israel in reaksie hierop geloods het, naamlik deur elf terroriste wat onregstreeks vir die aanval verantwoordelik was, een vir een uit te snuffel en te vermoor.

Oog om oog, tand om tand. Munich is ’n verhaal wat handel oor vergelding.

Die hoofkarakter in die verhaal is Avner (Eric Bana), die jongman in die Israeliese intelligensiediens, wat deur Golda Meir (Lynn Cohen) gevra word om hierdie operasie saam met vier ander makkers te lei. Die naam Avner (of Abner) verwys heel toepaslik na die Joodse figuur in die Ou Testament, Abner, die leerowerste van koning Saul in Israel se oorlog teen die Filistyne.

Munich is sekerlik een van Spielberg se beste rolprente tot nog toe. Hier sit hy die ondersoek na sy eie Joodse identiteit voort wat hy in Schindler’s List met welslae aangepak het. Waar Schindler’s List handel oor Nazi-Duitsland se haat teen die Jode, handel Munich oor die ánder groot twintigste-eeuse antisemitiese aanslag, naamlik die Palestynse en die breër Midde-Oosterse haat jeens die Jode.

In beide rolprente staan die tema van antisemitisme dus sentraal, en in Munich ontstaan die vraag veral: Hoe hou ’n nasie, wat vir ’n duisend jaar vervolg en verag word, die kop bymekaar? Hoe keer jy dat jy word soos jou vervolgers? Deur jou ordentlikheid te behou? Deur beskaafdheid, beleefdheid, goeie buurskap? “Elke nasie vind dit nodig om kompromieë aan te gaan met hul eie waardes …” Dis die boodskap wat Golda Meir vir haar adjudante gee wanneer sy die vergeldingsaanvalle na aanleiding van die Münchense drama van stapel stuur. “Vergelding is myne … Ek aanvaar volle verantwoordelikheid.” Wat in die rolprent volg, ondersoek die bloedige gevolge van hierdie besluit: Pandora se kissie is oopgemaak.

Nee, geregtigheid. Dis wat van ’n Jood ’n Jood maak: Die wet. Geregtigheid. Daardie onwrikbare rasionele deug wat jy opgrawe onder die haat uit, onder die weerwraak uit, onder die smart en pyn en emosie van ’n duisend jaar, die soberheid wat eindelik ten laaste die begeerte besweer. Dís wat Jood Jood hou.

Dís wat ek verloor het, bely Robert (Mathieu Kassovitz) teenoor Avner. Robert is die bomspesialis van die Israeliese wraakspan. Hy’s egter onprofessioneel. Sy bomme werk nie goed nie. Dis óf te sterk, óf dit wil nie afgaan nie. “Ek was nooit ’n bomplanter nie!” skreeu hy dit uiteindelik uit. “Ek is opgelei om bomme onskadelik te stel!”

Ontlonter-Jood. Ontploffer-Jood. Jood van vrede. Jood van geweld. Hy hunker terug na die onskuld van sy Joodse wortels van vóór die kompromis en onttrek hom halfpad deur die operasie. Te laat. Hy sterf in ’n sluipmoordbomaanval, ’n perverse agterhaling van sy eie verraad.

’n Problematiese deel van Jood-wees tree na vore in die probleem van geografiese versperring. Die Palestyne was nog altyd in die pad. Die land kan slegs deur bloedvergieting teruggeneem en behou word. So vertel die geskiedenis van die twintigste eeu. So glo ons as Jode, sê Spielberg.

Daar is die oomblik wanneer Robert se bom in die woonstel ontplof. Die Arabier word aan flarde geskiet. Die twee mure van die kamers aan weerskante verkrummel. Die bom was heeltemal te sterk. In die linkerkamer is ’n jong Joodse paartjie, pas getroud. Hulle was midde-in die liefdespel. In die regterkamer is Avner. Hy moes as teken die lig afskakel. Met die versperring tussen die twee kamers uit die weg, storm Avner ontsteld deur na die oorkantste kamer toe. Die Arabier se liggaamsdele hang van die plafon af. Die paartjie is in skok. Avner gooi ’n laken oor die naakte vrou se skouers. “Ek kan nie sien nie! Ek kan nie sien nie!” roep sy histeries. Die prys van wraak. Die prys van liefde. Die prys van eenheid.

Parallel met die grondkrisis loop die herhalende tema van tuisteloosheid. Avner en sy vier makkers loop al op die voetspore van die Diaspora deur Europa agter die Münchense terroriste aan. Dis die vreemdelingskap wat die onmens uitbring wat die sluipmoorde vir hulle so emosioneel onbeduidend maak. Die eeue-oue vreemdelingskap. Daar is die treffende oomblik waar Avner sy Joodse identiteit afsweer teenoor die Israeliese intelligensiediens, as kontraktuele voorwaarde vir die uitvoer van die operasie. So word hy persona non grata, ’n swerwende skim wat slegs die maskers dra van die personalia wat hy aanneem, met niks daaragter nie; niks wat hom nog Jood hou nie, buiten sy wraaksending en ’n sekuriteitslaai in ’n bank met al die geld wat vir die operasies nodig is.

Die tema van Joodse geldsug word genadeloos ondersoek in die film. Ons Joodse voorliefde vir geld korrupteer ons selfbegrip, wil Spielberg sê. Daar’s die tragikomiese oomblik wanneer die amptenaar in die intelligensiediens wat vir die boekhouding van die operasie verantwoordelik is, naarstiglik elke enkele betaalstrokie soek wat die operasie gaan oplewer – vir goeie boekhouding natuurlik. ’n Windvlaag ruk egter al sy papiere van die tafel af en verstrooi dit.

Dis uiteindelik met geld waarmee die Jood homself laat geld. Dis met geld dat ’n Jood vergeld. So word die terroriste se lewens een vir een uitgekoop en verkwansel in die vorm van inligting oor hulle skuilpekke. Avner se enigste lyn van kontak met sy land is die geldlaai, wat keer op keer mildelik volgemaak word. Geen prys is te hoog nie.

Maar geld is uiteindelik blind vir oortuiging of lojaliteit. Wat as ’n sending met ’n onwaarskynlike morele hoëgrond begin, vertroebel mettertyd heeltemal in ’n spiraal van geweld. Op elke suksesvolle sluipmoord volg daar ’n Swart September-vergeldingsaanval. Die dodetal styg eksponensieel, en dis later nie meer duidelik of hulle slagoffers enigsins by München betrokke was nie.

’n Voorteken van hul morele verwarring is reeds sigbaar met die eerste sluipmoord, wanneer hulle ’n Palestynse man om die lewe bring wat oor jare Die Arabiese Nagte uit Arabies in Italiaans vertaal het – daardie klassieke werk wat in die teken staan van die oorwinning van die narratief oor die swaard – en wat dan op die dag van die bekendstelling van sy boek om die lewe gebring word.

“Ons doen wat terroriste doen” merk Robert later op. Later word die bordjies verhang: hulle word die gejagtes, en dit word ’n kat-en-muis-speletjie waarin drie van Avner se makkers om die beurt uitgehaal word, en waarop hulle weer met hul eie stukkie vergelding antwoord deur die agent wat een van hulle makkers vermoor het, op te spoor en om die lewe te bring.

Daar is egter een saak wat die verraad in Avner teëwerk: sy swanger vrou en die belofte van vaderskap. Hierdie is die een anker wat hom Jood hou, méns hou deur al die operasies heen. In die vreemde is hy steeds eggenoot, word hy nou vader. Die vaderlike kant van sy Joodsheid slaan keer op keer deur in klein en weliswaar sardoniese gebare van teerheid. Soos wanneer hy die japon oor die lyk gooi van die naakte Nederlandse vroue-agent wat hulle pas vermoor het – dieselfde vrou wat hom ’n paar dae tevore om die lewe wou bring deur hom in ’n hotel te probeer verlei – maar toe eerder sy makker as slagoffer kies.

En dan is daar die geval van die telefoonbom, wanneer hulle slagoffer se jong dogtertjie die foon optel. Avner storm paniekbevange terug om Robert, wat met die afstandbeheerde snellermeganisme op die teken wag, voor te keer. Dis egter wanneer hy sy eie dogtertjie se stem oor die foon hoor dat Avner vir die eerste keer, tussen al die afgryse heen, diep emosie wys. Hy’s vader. Hy verlang huis toe. Hy’s steeds Jood. Nie omdat hy heldedade vir sy vaderland verrig nie, maar omdat hy ’n huis het, ’n gesin en ’n tuiste om na terug te keer. Avner se naam het ook ’n tweede betekenis. Avner beteken letterlik: “Vader van lig.”

Dis egter die byna obsessiewe verlange na ’n plek van jou eie, na ’n heenkome en ’n tuiste, wat die tweesnydende swaard is waarmee die Jood homself beskerm en verwond. Om net uitgelos te word om jou eie ding te doen. Tot elke prys. Dis in Avner se ma (Gila Almagor) dat hierdie verlange lank reeds ideologiese afmetings aangeneem het. Na haar seun se terugkeer, spreek sy haar onwrikbare geloof uit in die saak waarvoor hy weggestuur is: "Ons móés dit vat, want niemand wou dit vir ons gee nie. Wat dit ook al gevra het, wat dit ook al vra: ons het uiteindelik ons plekkie onder die son." Die verskeurdheid en verontmensliking wat dit in haar eie seun tot gevolg het, is deel van die prys. Sy is bereid om dit te betaal.

Maar die Palestyne voel dieselfde. In ’n onwaarskynlike maar betekenisvolle gesprek wat Avner met ’n Palestynse vryheidsvegter voer (onder die voorwendsel dat hy en sy makkers kommunistiese agente is) word dit duidelik dat dieselfde obsessiewe begeerte wat in die hart van sy volk leef, naamlik die droom van ’n eie onafhanklike vaderland, ook leef in die hart van sy vyand. “Hoe lank het dit die Jode geneem om hulle land te kry? ’n Duisend jaar? Ons kan nog langer wag.”

Die aangrypendste tema in die rolprent bly egter dié van vaderskap. Avner se vader was ’n oorlogsheld, maar daar is vervreemding tussen Avner en sy pa, en eintlik is hy ’n verlore seun, vaderloos, op soek na ’n tuiste. Twee vaderfigure tree in die verhaal na vore. Die een is Ephraim (Geoffrey Rush), die persoon in die Israeliese geheime diens van wie hy sy opdragte kry en aan wie hy regstreeks rapporteer. Ephraim is die vader as ideoloog, die militêre patriarg wat Avner se tuiskoms as Jood verstaan as ’n tuiskoms in diens van die ideologie van die staat Israel. Sy ontferming oor Avner is ten diepste manipulasie: Avner moet die lojale seun wees van ’n volksideaal. Sy tuiste is die familie van die intelligensiediens.

Aan die ander kant is daar Papa (Michael Lonsdale), ’n warm Fransman met ’n groot familie en krioelende kleinkinders, en wat die geheime informant is wat aan Avner en sy makkers keer op keer betroubare inligting verskaf (teen ’n aansienlike prys natuurlik). As ontnugterde kind van die Tweede Wêreldoorlog en later die koue oorlog het Papa sy rug gedraai op alle magsgedrewe ideale en bestuur hy nou ’n “ideologies promiskue” intelligensiediens wat inligting oor verskuilde persone verskaf aan wie ook al die regte prys kan betaal.

In Papa vind Avner ’n vader vir wie familie die laaste geloofwaardige saak is om nog voor te leef. Papa se besorgdheid oor Avner word mooi geïllustreer as hy Avner telkens uitvra na die welsyn van sy vader. Vir Papa is Avner iemand wat die seun is van ’n vader, maar ook ’n seun op soek na ’n vader. So word Avner op ’n manier Papa se “aangenome” seun.

’n Deurslaggewende oomblik volg wanneer Avner moet kies tussen Ephraim en Papa. Ephraim dring daarop aan dat Avner hul informant aan hom bekend moet maak ter wille van die groter saak van Israel. Sy aanspraak op Avner is ekonomies: “Ek betaal jou! Jy doen wat ek sê!” Avner weier egter. “Jy betaal ’n geldlaai. Ek bestaan nie!” Hierdie keuse vorm deel van sy uiteindelike vryspraak, want in hierdie keuse vind Avner ironies sy geestelike tuiskoms as Jood in die vreemde, by ’n nie-Joodse vader wat werklik besorg is oor hom. Dit gee hom die vryheid om die polities-ideologiese tuiste van sy verlede en hede te transendeer en sy rol as eggenoot en vader te omhels as die diepste betekenis van tuiskoms, van Jood wees.

Hierdie punt word treffend geïllustreer in die laaste snit in die film waar Ephraim en Avner mekaar ontmoet teen die agtergrond van ’n New Yorkse stadskim, met die Verenigde Nasies se gebouekompleks in die onmiddellike agtergrond. Ephraim rig ’n laaste appèl tot Avner om sy heenkome te vind in die intelligensiediens. Hy is na sy suksesvolle operasies immers ’n nasionele held. Groot take wag nog vir hom in diens van volk en vaderland. “Die enigste oplossing vir Israel is ’n volgehoue vergeldingsrespons op die vyande van Israel. Dis waar jou heil lê, Avner.” Jy’s Abner, die leerowerste van Saul.

Avner troef egter hierdie polities-ideologiese aanbod van tuiskoms: “Êrens in die Boek staan daar geskrywe dat wanneer twee Jode mekaar op vreemde grond ontmoet, die een die ander na sy huis toe moet nooi en daar saam met hom brood moet breek. “Kom breek brood saam met my, Ephraim” nooi Avner. Die bordjies word verhang. Nou is Ephraim die een wat die keuse moet maak.

Ephraim sien nie kans nie. Hy draai om en loop weg.

Dis ’n betekenisvolle wegdraai. Die kamera draai suid en vind in die verte teen die kim die silhoeët van die twee torings van die Wêreldhandelsentrum.

Die emosionele klimaks van die film speel af in terugflitse van die laaste smartlike oomblikke op die Münchense lughawe waar die Duitse spesiale magte die terroriste konfronteer in ’n skietgeveg – dit terwyl Avner besig is om intiem te verkeer met sy vrou. Dis intense en dramatiese oomblikke waar die grense tussen liefde en geweld ononderskeibaar word. Die terroriste sterf in ’n koeëlreën, so ook die gyselaars. Avner se gelaat verontmenslik heeltemal as hy uiteindelik sy klimaks bereik. Die Jood: Moordenaar. Minnaar. Liefdemaker. Doodmaker.

“Ek is lief vir jou”, fluister sy vrou vir hom toe hy uitgeput op haar neersak – haar vingers koesterend oor sy gesig.

Die geweld is verby. Hy’s steeds bemin. Hy’s vader. Hy’s tuis.

Naskrif

’n Werklik betekenisvolle oefening is om saam met Munich die Palestyne film Paradise Now te gaan kyk. Dit ondersoek breedweg dieselfde kwessies van vergelding en tuisteloosheid te midde van onderdrukking en vervolging – maar uit presies die teenoorgestelde perspektief. Dit vertel die verhaal van twee jarelange vriende, Said (Kais Nashef) en Khaled (Ali Suliman), wat deur die Palestynse milisie opgeroep word om as selfmoordbomaanvallers in Tel Aviv op te tree.

Hul aanvanklik ywerige bereidheid neem hulle egter op ’n emosionele en morele tuimeltog waarin hul aanvanklik naïewe patriotisme in die spel geplaas word deur die egtheid van hulle vriendskap, deur die liefde van ’n vrou, maar veral deur die herinnering aan ’n vader wat ’n Israeliese informant was. So word die twee jongmans ingetrek in ’n morele spanningsveld waar geen keuse meer onskuldig is nie en verraad na die een of ander kant toe in elke besluit skuil.

Dis ’n rolprent oor die rou wanhoop van ’n desperate volk met min om voor te leef en weinig om op te hoop. Vir diegene wat na vrede in die Midde-Ooste verlang, bied Munich en Paradise Now onontbeerlike insigte.


 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=492
Artikel nagegaan: Nee.
Indien die artikel se inhoud hierbo nie vertoon nie, sal dit mettertyd bygevoeg word wanneer die artikel nagegaan word.

    -