blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


’n Resensie van Changing the Fourth Estate- Essays on South African Journalism, Adrian Hadland (red.), Pretoria:HSRC-uitgewers, 2005 2006-02-16
Peet van Aardt

 *Joernalis, Rapport


As ’n onlangs gegradueerde en beginnerjoernalis wat pas die koerantwêreld betree het, het ek hierdie boek met groot opwinding en afwagting aangepak. Ek was op soek na ’n boek wat my ’n kykie agter die skerm en blad bied. Op universiteit het ons talle handboeke gehad wat die teorie en reëls duidelik uitlê en ontleed. Maar – en of dit nou gegrond is of bloot tipiese studentedenke – ek was oortuig dat die handboeke my nie veel geleer het nie. Ek was honger vir die ‘inside scoop’.

Changing the Fourth Estate- Essays on South African Journalism is net wat die pediater aanbeveel het vir die jong joernalis. Bydraes van gesoute siele in die mediawêreld, onder meer Pippa Green, George Claassen, Joe Thloloe en Zapiro – om net ’n paar te noem – bied die leser veel om van te leer.

Soos die dooiegewighandboek dek Hadland se versameling ook ’n breë spektrum onderwerpe, van sport tot oorlog, etiek tot uitleg, druk tot internet.

Met die praktiese, persoonlike insette van elkeen van hierdie uitmuntende mense word die rol van die joernalis uiteengesit.

Mense is geneig om die verandering in ons media wat die sowat elf jaar sedert ons eerste demokratiese verkiesing meegebring het, mis te kyk. In die voorwoord lig Jakes Gerwel dié punt uit. Apartheid en ’n regering wat genadeloos optree teenoor menseregte is verby, en nou is dit belangrik vir ons land om joernaliste te kweek wat in die konteks van die nou en hier (gegrond op die kennis en waardering vir die mediavoorgangers) verantwoordelike verslaggewing doen.

Ook lig Gerwel ’n uiters interessante punt uit wanneer hy praat oor die rol van gehaltejoernalisiek in die hedendaagse Suid-Afrika. Volgens hom beteken dit deelname aan die strewe na ’n beter, regverdiger, verdraagsamer en gelukkiger samelewing. Dit, sê hy, verg empatie, begrip en die vermoë om te inspireer.

Die joernalis moet dus nie net kritiseer nie, soos Hadland tereg in die inleiding sê, maar terselfdertyd ook opbouend wees. Dus: ons land kort goeie, jong joernaliste.

Een van Hadland se doelwitte is om die aspirantjoernalis te inspireer, en in inspirasie lê die boek se grootste waarde.

Die musikant en snuffelneusjoernalis Mzilikazi wa Afrika verduidelik in sy hoofstuk oor in- diepte-skrywery hoe hy twee fassinerende stories gedoen het met die hulp van baie navorsing en ’n soeke na die waarheid. Op so ’n wyse bespreek hy hierdie tipe joernalistiek dat sy bydrae lees soos ’n speurverhaal wat die leser boei om agter te kom hoe hy sy stories die lig laat sien het.

Adrenalien is ’n joernalis se brandstof, en Angela Quintal se stuk oor politieke verslaggewing getuig hiervan. Energiek verduidelik sy hoe sy haar al moes haas om ’n storie oor die kabinetsposisie van Buthelezi vanuit haar motor oor die telefoon na te vors, te konstrueer en na die koerant te stuur - alles binne sewe minute. Die lewe van ’n joernalis ..

Jacques Louw bespreek kortliks die reg se verhouding met joernalistiek, en George Claassen, die etiek wat in hierdie beroep (moet) geld. Ook die tegniese sy word uitgelê deur David Hazelhurst in sy afdeling oor bladontwerp: ’n goeie praktiese blik op die koerantwese.

Vir dié wat ’n aptyt het vir die ligter sy van verslaggewing dien Franz Krüger ’n insiggewende stuk op wat handel oor artikelskrywery; dalk die kaneelsuiker van die media. Wat Krüger se bydrae so interessant maak, is dat hy die persoonlikheidstipe van die rubrieksrywer ook beskryf. Dit in sigself is ’n plesier om te lees.

Die strokieslegende, Zapiro, skets ’n kleurvolle beeld van die strokieskunstenaar se wêreld.

Realiteit en romantisme ontmoet mekaar in Carol Lazar se hoofstuk oor die reisrubriekskrywer. Lazar is eerlik oor haar onderwerp. Sy lig sowel die Parys as die Bosnië daarvan uit. Ook moedig sy die leser aan om, indien dit sy bootjie vlot hou, sy droom na te streef. Sy bespreek die mark en moontlikhede – fasette wat deur baie van die bydraes uitgesluit word.

Volgens die redakteur Hadland is die boek ontwerp om jong, nuwe of aspirantjoernaliste van rolmodelle te voorsien, praktiese advies te gee en praktiese leiding te verskaf. Dat die boek rolmodelle bevat, is nie aan te twyfel nie, en van praktiese leiding oor die praktyk van verslaggewing en dit wat in die agterkamers van die blad gebeur, is daar genoeg. Dit is net ’n jammerte dat die boek se ander mikpunt nie tot realisering kom nie. Wat moet die aspirant maak met al die inspirasie wat hy ontvang het? Myns insiens moes daar ’n hoofstuk oor iets soos ‘Wat nou?’ ingesluit gewees het. Lazar raak dit wel aan, maar daar word in werklikheid geen bykomende raad en advies gegee nie. Gerus kan ’n jong joernalis genader word om ’n opstel te skryf oor die pad/paaie wat geloop kan word tot by werk kry… Hoe om te werk te gaan, wie om te kontak, waar om te begin, wat om te doen, wanneer die beste tyd is, en waarom ’n mens se kanse sal wees wat dit is.

Ook is dit verstommend dat daar geen aandag gegee word aan kunsverslaggewing of fotografie nie. Hadland apologeer wel hiervoor in sy inleiding, maar dit is nogtans onvergeeflik. Beskou die RGN iets soos kunsverslaggewing as minderwaardig? As die rol wat kuns in ’n samelewing speel, en dan veral in die konteks van ons land (soos die impak wat die Markteater tydens apartheid gehad het), in gedagte gehou word, wonder ’n mens hoekom hierdie afdeling agter die gordyne bly. Changing the Fourth Estate roep dan juis om ’n vernuwing in die joernalistiek, en watter beter katalisator is daar as die rol van die pers tydens die Voëlvry-toer? Jongmense sal kan baatvind by die stories van vorige progressiewes.

My laaste punt van kritiek is iets wat ook lê in die boek se sterkste punt: sy skrywers. Alhoewel elke persoon ten volle bekwaam is op sy spesifieke terrein, kom dit tog voor of daar op die wit, Engelse mediawêreld gekonsentreer word. Waar is die meer alternatiewe joernaliste? Joe Thloloe is daar wel, maar hy skryf oor televisie. Waar is dié wat op die alternatiewe trom van die Suid-Afrikaanse pers gespeel het? ’n Max du Preez, of die erfgename van Drum? Of swart joernaliste wat in die ‘wit’ media inbeweeg het – sowel Afrikaans as Engels?

Changing the Fourth Estate Essays on South African Journalism is inspirerend en insiggewend; ’n boek wat die nuuskierigheid van die aspirantjoernalis prikkel.


 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=491
Artikel nagegaan:
    -