blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


Emigrant: ’n Kortverhaal 2006-02-16
Martin Labuschagne

1 

Die Portugese vrou agter die toonbank van die kafee waar hy gewoonlik sy brood en melk koop, was die eerste persoon wat hy meegedeel het dat hy aansoek gedoen het om te emigreer. Dit was nou nadat hy The Star op die toonbank neergesit, en hulle spontaan oor die Kayla-moord begin gesels het.

“The crime in this country is intolerable,’ verduidelik hy.

“This is not a country for white people anymore,” voeg sy bitter by, en sy bepeins haar eie ouers se vlug uit Mosambiek. Niemand wou hulle invat behalwe die Republiek nie.

“My wife and kids where hijacked about two weeks ago,” sê die man.

“Really?”

“Yes, three blacks held a gun to my wife’s head. Thank God, they just took the bakkie and left. Can you imagine what would have happened if they drove off with them? They could have ended up like this Kayla-girl.” Hy voeg as nagedagte by: “It’s like the Wild West.”

Die vrou skud haar kop, terwyl sy die melk en brood lui.

Hy betaal.

“Where do you want to go?” vra die vrou opgewonde.

“I am thinking of Australia.”

“Why not Canada?”

“I prefer Australia. Canada is too cold.”

“But a white Christmas is so beautiful!” Sy slaan haar hande saam.

“We thought of the United States, but it is so difficult just getting a visa.”

Die vrou sit die melk en brood in ’n plastieksak en gee dit vir hom.

“I hope your application is successful,” sê die vrou toe hy uitstap.

Daardie aand toe hulle die winkel sluit, vertel die vrou vir haar man van haar groot droom om ’n wit Kersfees in Kanada te sien. Hy brom net oor haar aandag wat nie altyd by die werk is nie, daarom maak sy sulke foute op die kasregister.



2

Die volgende keer toe sy hom sien, kom hy met sy hande agter sy rug die winkel binnegestap. By die yskaste staan hy ingedagte rond voordat hy ’n bottel melk en ’n paar bottels koeldrank uithaal. Hy tel The Star by die koerante op en druk dit onder sy arm in. Verder laai hy ’n paar bestanddele vir ’n groenteslaai in sy plastiekmandjie. By die toonbank kyk hy na die syfers op die skerm van die kasregister.

“How are you today?” vra sy hom terwyl sy die goedjies lui.

Dit lyk asof hy uit ’n beswyming wakker skrik. “Well, thank you.”

“Are you having people over today?” vra sy en knik na die groentes wat hy koop.

“Yes, my brother-in-law came over from Canada. We are having a little get-together for them.”

“What does he do over there?” wil sy koerend weet.

“He is an accountant.”

Hy oorhandig ’n vyftigrandnoot en brom: “Prices have gone up.”

“It is the weak Rand.”

Die vrou maak die kasregisterlaai oop en vra: “How are your emigration plans going?”

Hy kyk fronsend af na sy beursie: “Good. We’re still waiting for a reply from the embassy.”

Sy lyk in haar noppies. Nadat hy betaal het, pak sy die goedjies vir hom in ’n sak en kyk hom agterna terwyl hy uitloop.


3

Ongeveer twee maande later kom die man weer na die winkel toe. Eers herken die Portugese vrou hom nie. Sy hare is slordig en in sy een hand dra hy ’n drop-kleurige sakkie, dié tipe waarin jou dop gepak word by Solly Kramer. Die man dwaal tussen die rakke rond. Eers tel hy The Star op en druk dit onder sy arm in. Hy loop tussen die rakke deur tot hy weer by die koerante kom. Die man brom iets binnensmonds en smyt The Star weer op die hoop terug saam met die ander. Volgende tel hy The Citizen op en blaai ’n paar keer daardeur met ’n grinnik. Hy sit dit ook neer en loop na die tydskrifrak. Hy vat-vat aan die FHM, maar neem dan eerder die Rooi Rose. By die koeldranke vat hy ’n twee-liter Coke en kom by die toonbank staan.

’n Sweempie drank prikkel haar neus. Hy wieg op sy voete terwyl hy ’n honderdrandnoot uit sy beursie haal.

“Next week this time I’ll be gone,” kondig hy aan toe sy die geld by hom vat.

“Did your application for emigration go through?” In ekstase bak sy haar hand oor haar mond.

Hy knik, sy oë lomerig.

“When are you leaving?”

“We are still in the process of booking the flights, but probably next Thursday.”

“Are you going to Australia?”

“No, we’ve applied for Canada.”

Haar mond hang oop.

“We are going to see a white Christmas this year.” Hy knipoog vir haar.

Sy wil dadelik sy nommer hê en sal graag wil kontak hou as hy in Kanada is.


4

Twee weke later stap ’n wit vrou hand aan hand saam met ’n swart man die kafee binne. Verhoudings oor die rassegrens laat die Portugese vrou ril, maar sy bly glimlag. Besigheid is besigheid. Die vrou stap reguit na die koerante en tel The Star op, terwyl haar wederhelf ’n koeldrank uitsoek. Sy blaai daardeur en dit vervies die Portugese vrou, want klante verniel so die koerante sonder dat hulle dit koop. Voordat sy die moed bymekaar kan skraap om te kla, vat die vrou gelukkig die koerant.

Sy kom by die toonbank staan saam met haar swart vriend, wat intussen ’n twee-liter Coke gevat het. Sy sit haar motorsleutels neer terwyl sy in haar beursie krap. Die Portugese vrou sien die sleutelhangertjie met die Kanadese vlag op.

“Are you from Canada?” wil sy weet en haar oë vonkel.

“Yes,” sê die vrou ingedagte en brom binnesmonds. “Where the hell is my credit card?”

“Are you here on holiday?”

Die vrou hoor haar nie, en die swart man antwoord: “We are coming back.”

“Coming back?”

“We were in exile and we are coming back,” antwoord die man en glimlag vriendelik.

Die vrou gee haar kredietkaart en voeg by: “We’ve had enough of white Christmases!”

“Not to mention the people,’ brom haar swart vriend sylangs.

Toe die paartjie by die kafee uitloop, trek die hoofberig haar aandag en sy gaan haal sommer die koerant om dit agter die toonbank te lees.

Die hooffoto is van die man wat gesê hy gaan Kanada toe trek. Sy kan aflei dat dit iewers in ’n restourant geneem is, want hy sit saam met vriende by ’n tafel en geniet ’n glasie wyn. Die berig lees dat hy gisteraand sy vrou en twee kinders om die lewe gebring en daarna ’n koeël gesluk het. In die berig bespiegel die joernalis oor die rede vir die gesinsmoord, maar die beste rede wat sy kan kry, is dat hy waarskynlik aan depressie gely het.

Haar oë is wasig toe sy opkyk na die volgende kliënt by die toonbank. Dis ook op daardie oomblik dat sy besef dat sy waarskynlik nooit in haar lewe ’n wit Kersfees in Kanada sal sien nie.


 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=490
Artikel nagegaan:
    -