blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


Wat sê die WAT? 2006-02-16
Hennie Aucamp

* Skrywer

** Hierdie praatjie is gelewer voor die redaksie van die WAT op 26 Augustus 2005


Waaraan ken jy ’n jintelman?

Hy koop die beste Ierse whiskey,

en sy WAT-stel is in leer gebind.



Woorde en boeke vorm skering en inslag van ’n skrywer se bestaan, maar die sport van die leer waarop die skrywer se volle gewig telkens teregkom, is die woordeboek. Daar het ek nou, spontaan soos die meeste taalgebruikers, van die woordeboek gepraat, asof daar net een saligmakende woordeboek is. Dié Freudiaanse vergissing dui egter een ding aan, en dis dat woordeboeke gesag het. ’n Woord of ’n ding bestaan omdat dit in die / ’n woordeboek bestaan.

Dit verbaas my geensins dat daar ’n hele paar woordeboekmakers is wat digters en skrywers geword het nie. In Afrikaans is I.W. van der Merwe, beter bekend as Boerneef, die naam wat voor die hand lê, en nou gaan P.A. Joubert, woordeboekmaker en joernalis, ook ’n bundel gedigte publiseer. Uit die WAT se verlede weer kom digters soos J.J. Smith, Ina Rousseau, Everwyn Wessels en Louis Eksteen.

J.J. Smith, so lig J.C. Kannemeyer ons in, het ’n paar goeie gedigte geskryf, en op my ouma se solder het ek ’n grammafoonplaat gekry, van die ou soort, met net een speelkant, waarop J.J. Smith ’n storie vertel, in die mooiste Afrikaans, en met ’n klokhelder stem. Ek het dié plaat aan Eitemal geskenk.

Vir dié van u wat nie M.E.R. se kamee oor J.J. Smith ken nie, laat ek nou die betrokke stukkie uit haar essay “Die dammetjie” volg:

. . . ’n Seuntjie ry saam êrens heen in die perdekar met sy ouer suster, en hy maak onder meer ’n aanmerking oor die spreeus. Die suster, wat baie gesteld is op welvoeglikheid sê: “Maar ’n mens moenie hulle só noem nie.”

“Hoe dan?”

“Nee, sê dan liewer ‘witstertspreeus’.”

Hulle ry ’n entjie en die seuntjie slaan die spreeus verder gade.

“Maar dit is nie die stert nie,” sê hy.

Die suster en die seuntjie, wat so na die raak woord gesoek het, is – soos so baie van die mense van wie ek vandag my stories vertel – al uit die lewe heen. Hy was die latere prof. Smith, die vader van die Groot Woordeboek, en sy was regter Fagan se moeder.


Op ’n navraag van my aan Ina Rousseau, werksaam by die WAT van 1949 tot 1952, of sy self terme help skep het, het sy ontkennend geantwoord. Boerneef, dit weet ek wel, het idiome soos die volgende hoogs kreatief in Afrikaans vertaal:

“Robbing Paul to pay Peter” het hy hom geword: Bo afsny om onder aan te las

en

“There’s many a slip twixt cup and lip” het geword: Tussen lip en beker lê ’n groot onseker.


Soms word die vertaling van “duck tails” en hul “Sheilas” as “skorries” en hul “morries”, ook aan Boerneef toegeskryf, stellig na aanleiding van ’n Boerneefgedig soos die volgende:

Ons is twee ongeëgtes

ons is twee van die magdom

eendsterte beatnieke skorries

hierjyhaaihoeie spykerbroekmorries

oor die ganske aarde

ons is twee vannie magdom

vannie nuwe soort mensdom

op die ganske aarde

ek issie eendstert Jôn en hy is Jan die skorrie

ek issie vinkel en hy die koljander.


Die waarheid is egter dat Alba Bouwer in ’n rubriek in Die Burger met dié vonds gekom het: skorrie vir “duck tail”; morrie vir “Sheila”.

Hiermee wil ek glad nie die aandag aftrek van Boerneef as woordskepper nie. Sy “volkspoësie”, bloot al soos opgevang in die bekende Tweetalige Skoolwoordeboek van Bosman en Van der Merwe, verdien ’n verhandeling op sigself, maar dis helaas nie meer haalbaar nie: Boerneef, Bosman, en later Johan Spies is oorlede, en niemand meer oor om volledig uit te wys nie: dié skepping is van Boerneef.

Maar ’n skrywer of digter hoef nie amptelik aan ’n woordeboek verbonde te wees om woorde te skep, of interessante woorde deur te stuur na ’n woordeboekredaksie nie.

Langenhoven se bydraes tot die WAT is algemeen bekend. Ina Rousseau het hier ’n interessante staaltjie te vertel. Prof. J.J. Smith, P.C. Schoonees en C.J. Langenhoven het saam tee gedrink toe Langenhoven na die “tea cosy” wys en sê dat hy ’n naam vir dié ding bedink het, naamlik “teemus”. Prof. J.J. Smith het opgestaan en ’n brief uit ’n kartondoos gehaal waarin ’n ander bydraer met presies dieselfde vonds voor die dag gekom het: “teemus” vir “tea cosy”.

Gustav Preller het as koerantman woorde vir nuwe begrippe moes bedink. Ons het die woord “tikmasjien” aan hom te danke. Een van sy ander vondste, naamlik “skreeuhofies”, vir wat ons vandag “banieropskrifte” noem, het egter nie inslag gevind nie.

Ook M.E.R., baanbreker-joernalis, was uit nood woordskepper. Die woord “toebroodjie” vir “sandwich”, is van haar. Later jare het sy tot haar spyt moes erken dat sy skromelik van die ou boerewoord “plakbroodjie” vergeet het.

Die gretigheid van die “verwerwers”, soos I.D. du Plessis ’n vroeër geslag kultuurmense genoem het, getuig van ’n dinamiese en idealistiese geesteslewe. Afrikaans was ’n saak van nasionale belang, ook die uitspraak daarvan, en P. de V. Pienaar se Uitspraakwoordeboek was die Bybel van omroepers en radiospelers. Die “spraakmakende gemeente”, in T.H. le Roux se woorde, kon hulle uitspraak met gerustheid rig na die voorbeeld van ’n Anna Neethling-Pohl, ’n Jan Schutte, ’n Jan Cronjé en talle ander.

Ook I.D. du Plessis, moet hier gesê word, was ’n verwerwer, onder meer van sportterme, en via sy jeugboeke, soos Olimpiade, Die Rugbykroon en Die Silwervaring, is dié terme bestendig.

W.J. du P. Erlank, beter bekend as Eitemal, is deur die Reddingsdaadbond afgevaardig om by motorhawens rond te gaan en uit te vind wat gewone werkers uit die volkslae vir sekere motoronderdele sê. Eitemal het na ’n “spark plug” gewys en vir ’n jong werktuigkundige gevra wat hy dit noem. Die antwoord was: “Ons sê sommer vonkprop, Oom.”

G.A. Watermeyer se bydrae tot reklame-Afrikaans is bekend, veral sy advertensies vir Standard Bank, wat in versvorm verskyn het. Maar sy grootste enkele bydrae tot reklame-Afrikaans is stellig “kitskoffie”, en samestellings met kits – as eerste komponent golf voort in die tyd. Die jongste vorm daarvan is waarskynlik “kitsessay(s)”, ’n vinding van Etienne van Heerden, wat met dié term na sy rubriek-essays verwys, later gebundel as Die stilte ná die boek.

Watermeyer het skatryk geword uit sy reklamewerk, maar het waarskynlik gewetenskwellinge gehad omdat hy met sy digtersgawe gehoereer het. Sy gedig “Kronieke van ’n reklameman” kan as boetedoening gesien word:

. . . . . . . . . . . . . . . . . . . . . . . . .;

en met my treurige snawel van verslete opstand

pluk ek uit die trae waters van my lewer

stukkies rou rym op verkoopsmaat

verbete formules vir witter wasmiddels

haarsjampoe-himnes in die oortreffende trap

en ’n slagkreet vir seep

wat landswyd uitskuim

in die betaalde kolomme.


Maar laat ek nie snobisties raak nie. Die groot dramaturg en satiris, Frank Wedekind, het sy leeftog verdien deur advertensies vir Maggi-produkte te skryf.

Ek het dit tot dusver oorwegend oor selfstandige naamwoorde gehad wat konkrete dinge – nuwe konkrete dinge – moet benoem. Maar gevoelstaal kan ook afplat onder invloed van slagspreuk-taal. Wanneer ek jong mense uitvra na hul reaksie op rolprente en boeke, kom hulle waardeoordeel telkens neer op een van die volgende woorde: “fab(ulous)”, “cool” en “heavy”.

Hierteenoor ’n positiewe staaltjie:

’n Keer was ek in die hospitaal, en ’n jong verpleegster uit ’n ander afdeling het soms by my kom sit en ernstig gesels. Dit blyk toe dat sy ’n toegewyde leser van poësie is, en toe ek my verbasing hieroor uitspreek, sê sy: “Hoe sal ek weet wat my gevoelens is as ek nie gedigte lees nie?”

Uit hierdie spontane opmerking is lering te haal. Wat help dit as ons alle konkrete dinge by die naam kan noem, van “korbeelhuis” tot “malletokkie”; van “metasediment” tot “levulose”, maar toelaat dat die taal van die hart verarm?

Die emosionele opvoeding van ’n taalgemeenskap is ’n gekombineerde taak: dié van digters en skrywers; dié van woordeboekmakers wat aanteken wat hulle om hulle hoor en wat hulle lees; dié van onderwysers; dié van taalgevoelige lede van die publiek.

Vier reëls van G.A. Watermeyer is hier meer as voldoende illustrasie van wat ek onder “opvoeding van die emosies” verstaan:

Die liefde is die bitter glas,

die droë glas, die donker glas;

die liefde is die naverdriet

wat in die hart se holte pas.



Tot dusver het ek die klem laat val op digters en skrywers se daadwerklike bydrae tot woordeskat-uitbreiding in Afrikaans.

Dis ongelukkig só dat skrywers en digters die skitterskyn van openbare figure het. Die belangrike bydraes wat medici, tandheelkundiges, ingenieurs en ’n heirskare ander vakkundiges tot Afrikaans lewer, kan nooit genoeg geloof word nie.

En hef-aan lê nog voor: die wêreld van elektronika en ander toekomstige terreine wag om woordgewys verower te word.



Die WAT neem ’n belangrike plek in my lewe in, en via my ook in ander se lewens. Vriende bel my onder druk en vra benoud: “Wat sê die WAT?” Of iemand wil byvoorbeeld weet: “Hoekom praat Karel Schoeman konstant van ‘karbeel’ en nie van ‘korbeel’ nie?”

Wanneer ek uiteindelik na ’n versorgingsoord moet gaan, moet die boekrakke in die nuwe plek reeds gereed staan om my in-leergebonde-volumes van die WAT te ontvang.

’n Boekery is ’n geheue, en sonder sekere boeke – by name woordeboeke – word die mens geheueloos.

Die WAT – dit weet ek op daaglikse basis – is die Afrikaanssprekende se groot kollektiewe geheue, onder andere omdat dit, soos die Ou Vrou in Raka, “veel bewaar/van die stam se herinnerings en sy swaar”.

Véél, meer nie alles nie.

Mag ek nog die Z-fase van die WAT beleef.



Hoe, wil ek ten slotte vra, kan Afrikaans ’n lewende taal bly, en wat kan die WAT doen om te verhoed dat Afrikaans ’n taal met ’n groot dormante woordeskat word?

Lig loop, wil ek onder meer waarsku, dat Afrikaans nie ’n taal van louter nostalgie word nie.

’n Joernalis is onlangs geprys omdat hy die mooi ou woord “aksenawel” in hersirkulasie gebring het. Maar enkele weke later praat dieselfde joernalis van “subway” terwyl “duikweg” een van die mooiste vondste in Afrikaans is, ook geloof in die Lae Lande.

Die oue nie vergeet nie, behoort die stelreël van gewetensvolle taalgebruikers te wees, maar terselfdertyd die nuwe help skep, en deur gereelde openbare gebruik help bestendig.

In sy memoires A Tale of Love and Darkness vertel die Israeliese skrywer Amos Oz hoe sy geleerde oom Joseph Klausner hom daarvoor beywer het dat moderne Hebreeus voortdurend sy woordeskat uitbrei, ten einde ’n funksionele moderne taal te bly. Oom Joseph het self nuwe woorde help skep, waar daar noodsaak was vir sulke woorde, en dié vermoë het Oz bewonderend laat sê: “A man who has the ability to generate a new word and to inject it into the bloodstream of the language seems to me only a little lower than the Creator of life and darkness.”

Dit is iets waaroor die Afrikaanssprekende, en die organisasies wat Afrikaans dien, in die komende jare al hoe ernstiger sal moet besin: hoe om nuwe woorde vir nuwe begrippe spontaan in te skakel by taalgebruik op straat, op skool, oor die radio en op TV.



 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=489
Artikel nagegaan:
    -