blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


Die stand van die (Suid-)Afrikaanse universiteit: Kritiese denke, die universiteit en die samelewing 2006-02-15
Bert Olivier

 *Professor in filosofie, Nelson Mandela Metropolitaanse Universiteit, Port Elizabeth, [email protected]


Kom ons sê, argumentsonthalwe, dat die opvoedingstaak van universiteite fundamenteel tweevoudig is: eerstens, om studente op te lei vir die een of ander ‘beroep’, al is dit nie noodwendig ‘direkte’ opleiding nie, maar minstens die ontwikkeling van sekere vaardighede by studente ten einde hulle in staat te stel om eendag hul plek (soos Farhang Erfani sou sê) as ‘arbeiders’ in hul land se ekonomie vol te staan. Tweedens het die universiteit ’n navorsingstaak, naamlik om in al die dissiplines, asook interdissiplinêr, kennis in die breedste sin van die woord uit te brei en aan die hand van publikasies sowel as ander kanale so wyd as moontlik te versprei.

Wat hierdie twee funksies van universiteite betref, sou die meeste mense waarskynlik saamstem. Maar wat van ’n derde, ’n samelewingskritiese taak, wat transversaal deur eersgenoemde twee sny, en hoewel dit van hulle afhanklik is, ’n nuwe dimensie bybring wat – so wil ek hier beweer – onmisbaar is vir die universiteit en vir die samelewing, te wete kritiese, refleksiewe denke? Langs hierdie weg sou studente leer om, bo en behalwe hul rol as ‘arbeiders’, daarby ook verantwoordelike ‘burgers’ in ’n demokrasie te wees (in Erfani se terme), vir sover hulle die kritiese rol wat hulle op universiteit as praktyk aanleer, deurentyd ten opsigte van die maatskaplik-politieke sfeer sou aanwend. Laasgenoemde taak van die universiteit is, anders as eersgenoemde twee, omstrede, aangesien dit die konsekwensie het dat geen regering ‘veilig’ is en op sy louere kan rus nie, selfs nie eens een wat daarop aanspraak maak dat dit ‘vir eens en vir altyd’ demokraties is nie. Die demokrasie is immers, soos Derrida sê, steeds in die toekoms.

Universiteite is natuurlik nie inrigtings wat sonder die mense wat daar werk kan funksioneer nie, en die uitvoering van bogenoemde drie take is dus afhanklik van die mate waarin veral akademiese personeel, maar ook universiteitsbestuur, gewillig is om al drie vreesloos aan te pak en uit te voer – desnoods in die aangesig van politieke sensuur. Wie sou vandag in Suid-Afrika ontken dat intellektueel- en teoreties-gefundeerde kritiek op die apartheidsregime se beleid en politieke praktyk ’n belangrike faktor was in die ondermyning daarvan? - Al is dit so dat verreweg die meeste akademici gewoon op hul enger akademiese taak gekonsentreer het en hulself ‘veiligheidsonthalwe’ van openlike kritiek op die regering van die dag weerhou het – hoe illegitiem dit ook al was. Gelukkig was daar diegene wat die moed gehad het om openlik op die die morele korrupsie van apartheid te wys, soos onder andere Johan Degenaar en André du Toit, wat sodoende vir sommige onder die jonger generasie filosowe in die land die moed gegee het om hul voorbeeld te volg. Dat hierdie kritiek, wat in die konteks van die universiteit as inrigting vir ‘hoër’ onderwys geartikuleer is, bygedra het tot die uiteindelike ineenstorting van die apartheidstaat, ly vir my persoonlik geen twyfel nie.

‘n Mens kan natuurlik nie ’n blinde oog keer op die feit dat kritiek op apartheid, vanuit ’n globale perspektief, onproblematies was nie – jy het immers globale konsensus aan jou kant gehad. Maar wat gebeur wanneer ’n nuwe regering wat, ’n dekade na dit aan bewind gekom het, nog steeds optree asof dit ‘universele’ morele goedkeuring aan sy kant het, en toenemend die indruk skep dat enigeen wat krities staan teenoor sy beleid in die geheel, of die een of ander aspek daarvan, vyandig staan teenoor die projek van ’n ‘verenigde’ Suid-Afrikaanse nasie? Is dit nie hoog tyd dat intellektueles herinner word aan die begrip ‘lojale verset’ van N.P. Van Wyk Louw, en bowendien leer besef dat politieke korrektheid en konsensieuse beoefening van veral geesteswetenskaplike navorsing en onderrig gewoonlik wedersyds uitsluitend is nie? Ek vra hierdie vraag omdat dit reeds geruime tyd blyk – en dit is my persoonlike indruk, maar ek meen dit is nie ver van die kol af nie – dat daar tans weinig tekens is by universiteite dat akademici hul kritiese taak ten opsigte van die samelewing waarin hulle woon, ernstig opneem.

Oor die redes hiervoor kan lank gedebatteer word, maar ek glo dat ’n mede-intellektueel en vriend van my reg was toe hy onlangs aan my geskryf het dat, na sy mening, ‘…kritiese denke in die geesteswetenskappe die afgelope tien, vyftien jaar aan SA universiteite agteruitgegaan het, deels weens vrees om die ANC se nasionalistiese projek uit te daag, deels weens korporatisering’. Myns insiens is sy diagnose akkuraat, en is dit bowendien nie moeilik om te verstaan waarom dit die geval is nie. Onder omstandighede waar politieke korrektheid feitlik ’n norm geword het – onder meer ten einde beskuldigings van ondermyning van Suid-Afrikaanse nasieskap te vermy, veral by diegene wat die ou apartheidstaat ondersteun het – het weinig mense die moed of die kennis om vreesloos die kontoere van wat my vriend ‘die ANC se nasionalistiese projek’ noem, te identifiseer. En hier moet niemand my toon verkeerdelik as regs-konserwatief opvat nie; inteendeel. Ek praat vanuit ’n progressief-demokratiese perspektief, wat – in die kontinentale filosofiese tradisie van Habermas en Derrida – die ideale van demokrasie steeds aan die lewe hou, sonder om te enige tyd foutiewelik te meen dat demokrasie ‘klaar gearriveer’ het. Ons mag ’n progressiewe, demokratiese Grondwet hê, maar daagliks word daar talle vergrype teen hierdie Grondwet uitgevoer, soos byvoorbeeld wanneer daar op hiërargies-outoritêre wyse bestuursbesluite wat werknemers verreikend affekteer, gemaak word by inrigtings soos universiteite.

Moontlik het die druk van om polities korrek te wees daartoe bygedra dat, soos ’n kollega van my dit gestel het, ‘teorie’ na sy mening ‘dood’ is in Suid-Afrika (en dit nie veel beter gaan in die res van die wêreld nie). Met ‘teorie’ het hy maatskaplikwetenskaplike teoretisering bedoel, van die soort wat volgens Habermas deur die interesse van ‘emansipasie’ gelei word. Is dit nie ironies nie? Dat, in Suid-Afrika van alle lande, waar die belang van vryheid voorrang bo alle ander behoort te geniet, die stelling gemaak kan word dat hierdie soort emansipatoriese teorie ‘dood’ is! Mens kan tot slegs een slotsom kom, naamlik dat daar hier te lande akademici is wat, soos Fukuyama, glo dat die einde van die geskiedenis aangebreek het omdat die huwelik tussen liberale demokrasie en kapitalisme globaal ‘volledig’ is en ander opsies nie meer met enige erns bejeën kan word nie.

Maar dit is nie al nie: afgesien van sy intellektueel-wetenskaplike kapitulering (en mens het goeie rede om te glo dat hy nie alleen is hierin nie), stel hy ook onomwonde dat universiteite, na sy mening, toenemend inrigtings van ‘toepassing’ word, in plaas van enige gewaande fundamentele navorsing. Uit die gesprek was dit duidelik dat hy verwys na die tendens, by sommige Suid-Afrikaanse universiteite (indien nie almal nie), om al hoe meer beroepsgerig te word, ten koste van die instandhouding en uitbreiding van daardie dissiplines – soos onder meer filosofie, letterkunde en politieke teorie – wat die derde taak van die universiteit, soos hierbo beskryf, ernstig opneem, naamlik krities-refleksiewe denke en teoretisering. Die belangrike punt is dat ‘beroepsgerigte’ universiteite die veilige roete kies: dis ’n keuse wat hulle van die verantwoordelikheid onthef om deurentyd waaksaam te wees ten opsigte van maatskaplik-politieke tendense wat kritiek dringend vereis, voordat hulle onopgemerk konvensionele, status quo-status bereik, en niemand eens meer opmerk dat dit kommerwekkend behoort te wees nie. En uit Suid-Afrika se verlede weet mens hoe moeilik dit is om konvensie te bevraagteken: apartheid was op ’n stadium ’n konvensie, al was dit ’n onmenslike een, en bitter min blankes in hierdie land het dit openlik bevraagteken. Dit is dringend noodsaaklik dat die neiging by sommige akademici om sonder meer die kritiese taak van die universiteit agterweë te laat ten gunste van ’n beroepsgerigte, status quo-houding of beleid, weerstaan moet word. Anders word universiteite weldra die beseflose instrumente van die heersende party (watter party dit ook mag wees). As daar nie van ons was wat die apartheidstaat openlik op goeie filosofiese gronde gekritiseer het (en ironies die ruimte gehad het om dit te doen) nie, is dit onwaarskynlik dat die besef op ’n bepaalde tydstip tot sommige van die NP-leiersfigure sou deurgedring het dat apartheid ’n onding was wat uitgewis moes word.

Maar daar is nog ’n groter risiko wat hierby betrokke is. Ek meen dat denkers soos Derrida, Habermas, Lyotard, Jameson, Hardt en Negri – om slegs enkeles te noem – reeds in so ’n mate op die totaliserende aard van laat-kapitalisme gewys het dat niemand enigsins mag twyfel dat die monopoliserende magsvergrype daarvan ook die universiteit as kampvegter vir samelewingskritiek ondermyn nie. Ek herinner my aan vele diskussies met kollegas rondom nuwe akademiese programme, waartydens geeneen van hulle hoegenaamd blyke gelewer het van selfs ’n sweempie agterdog dat al die gepraat oor die ‘kennissamelewing’, of die ‘optimalisering van ekonomiese ontwikkeling’ in Suid-Afrika moontlik verband hou met die nuutste fase van kapitalistiese hegemonie-uitbreiding nie, naamlik via die bevordering van ‘globalisering’. ‘Kennissamelewing’ is net ’n retoriese wyse waarop die uitbreiding en versnelling van ’n bepaalde soort ekonomiese ontwikkeling – wat slegs ’n klein handjievol mense in die wêreld in onbeskryflike (en walglike) mate materieël bevoordeel – bevorder word, vir sover die term te kenne gee dat dit iets beskryf wat begerenswaardig is: ‘kennis’.

As filosoof is ek natuurlik, soos Plato reeds in antieke tye, die laaste mens wat sou betwis dat kennis inderdaad met die hoogste waarde beklee behoort te word. Maar die punt is dat ons juis nie in ’n ‘kennis’-samelewing woon nie; maar die teenoorgestelde. Dit is in die belang van (veral die ekonomiese) maghebbers wêreldwyd, nou meer as ooit tevore, om die voorwaardes vir ‘kennis’ in die ‘verligting’-sin van die woord – kennis as emansipatories ten opsigte van onder meer maatskaplike, ekonomiese en politieke ongeregtigheid; met ander woorde kennis as kritiek – sistematies te ondermyn. En een manier om dit te doen is om kennis en ‘inligting’ (informasie, data) met mekaar gelyk te stel. ‘Inligting’ is nog nie kennis nie; dit moet eers deur iemand toegeëien word, en verkieslik op ’n krities-denkende wyse. Deur die terme ‘inligting’ en ‘kennis’ omwisselbaar te gebruik, word aan ‘inligting’ ’n onregverdigbare status toegeken, en onopmerkbaar subtiel word tegelykertyd die belange van die ‘mark’ bevorder, vir sover ’n magdom van ‘inligting’ in hierdie sin intiem vervleg is met tegnologiese ontwikkeling wat ’n sekere tipe produksie bevorder en versnel.

Dis om hierdie rede dat Lyotard reeds in 1979 opgemerk het dat mag vandag onskeibaar is van die vrae wie die ‘databanke’ beheer en watter tipe ‘kennis’ reduseerbaar is tot ‘data’ wat rekenariseerbaar is. Kennis as kritiese refleksie op vrae rondom die voorwaardes vir demokrasie in ’n multikulturele samelewing, die vraag of politieke mag tot die ekonomiese sfeer geassimileer kan word, en of dit irrelevant is wat magsuitoefening betref dat menslike kommunikasie op die vlak van die simboliese orde in een taal, eerder as ’n ander plaasvind, behoort almal tot die kategorie van vrae wat nie tot ‘data’ gereduseer kan word nie. Die blote feit dat iemand ’n webwerf besoek om deel te neem aan ’n debat oor vrae soos bogenoemdes, vereis reeds dat so ’n persoon vertolkend omgaan met wat sy of hy daar lees – op geen stadium geskied sodanige simboliese interaksie aan die hand van elektroniese kommunikasiemiddele of in terme van ‘data’ wat neutraal is nie. Inteendeel, die taal waarin sodanige interaktiewe kommunikasie plaasvind, is steeds waardebelaai – dit kan die status quo bevestig, maar kan dit ook bevraagteken in belang van ’n beter, meer demokratiese samelewing.

Indien Suid-Afrikaanse universteitsadministrateurs dus in die waan verkeer dat universiteite hedendaags slegs ’n beroepsopleidingstaak het, en dit dan nog op teenstrydige wyse aan ’n beleid van ‘gemeenskapsbetrokkenheid’ koppel, is hulle (miskien onwetend) besig om sowel politieke as ekonomiese hegemonie in die hand te werk, wat niks goeds vir die gees van demokrasie inhou nie. Immers: demokrasie floreer wanneer inrigtings soos hierdie die vryheid, maar ook die uitdruklik-toegeëiende taak het om gedurig, in die naam van gevorderde, kritiese kennis, as brandwag op te tree wanneer die beoefening van sodanige akademies-intellektuele vryheid bedreig word. En bedreiginge soos hierdie kom vanuit die mees onverwagte oorde, soms selfs van binne die universiteit in die gewaad van ’n soort intellektuele verlamming, ’n onvermoë of onwilligheid om die formidabele kragte waarna hier verwys is, moedig te konfronteer.


 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=479
Artikel nagegaan: Nee.
Indien die artikel se inhoud hierbo nie vertoon nie, sal dit mettertyd bygevoeg word wanneer die artikel nagegaan word.

    -