blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


Die stand van die (Suid-)Afrikaanse universiteit: Sun Tzu: Hoe om universiteite te verengels 2006-02-15
Hendrik du Plessis

Onlangs het Hermann Giliomee ’n opmerking gemaak rondom die benadering van die magsentrum rakende die taalkwessie by ons skole en universiteite. “Op die oog af lyk die regering se beleid oor voertaal en toegang tot skole na ’n Babelse verwarring. Dit is egter nie so nie. Die konstante faktor is dat die regering ‘access’ deur middel van Engels as supernorm gebruik. Hy is bereid om uitsonderings te maak […] maar die supernorm staan.”

’n Voorbeeld van sulke verwarring is die Gemengde Portefeulje van Benaderings van Chris Brink, rektor van die US, wat enige moontlike benadering tot die taalkwessie insluit ten bate van volhoubaarheid. Dit sluit enigiets in van eentaligheid, tweetaligheid, T-opsie, parallelmedium, dubbelmedium tot en met tolkdienste (Volksblad, 9 November 2005).

Maar die patroon is generies. Dit begin met die ononderhandelbare eis van toegang tot gehalteonderwys en die daarmee saamgaande demografiese verspreiding van die bevolking. Dan volg die een of ander kombinasie met dubbelmediumonderrig wat Afrikaans teenoor Engels in die klaskamer posisioneer. En dan begin ’n proses van klagtes, probleme en verwarring. Die groter Engelse groep wat meestal uit tweedetaalsprekers bestaan, raak ontevrede daarmee dat die kleiner groep Afrikaanse studente moedertaalonderrig ontvang en dus bevoorreg word, terwyl hulle tevrede moet wees met net die tweede beste. Sommige beweer dat Afrikaans aanstootlik is en veroorsaak dat hulle nie in die klaskamer kan konsentreer nie. Sommige dosente, wat hulle werkslas wil verminder, laat die minderheid Afrikaanse studente self in die klaskamer besluit of hulle nog onderrig in Afrikaans wil hê, of suggereer dat dit beter sou wees vir almal indien net Engels in die klaskamer gebruik word.

Die klagtes, probleme en wanorde word bloot toegelaat om sy gang te gaan, ’n reeks noodwendighede met Engels as die logiese limiet. Die reaksie van die amptenary is dan klaarblyklik een van stille kondonering, ’n stilte waarvan hulle nie onbewus kan wees nie.

Binne die konteks van ’n bevrydingsorganisasie wat ’n revolusionêre oorgang bestuur, is hierdie stand van sake natuurlik nie sonder enige sin nie. ’n Mens hoef ook nie ver te soek na strategiese modelle wat dit enigsins verklaar nie.

Die oudste opgetekende handleiding oor die kuns van oorlogvoering is geskryf deur Sun Wu wat in 544 v.C. in die staat Chi in China gebore is. Hy het later ’n generaal in die weermag geword en ’n adviseur van die koning. Hy het die eretitel Sun Tzu verwerf vanweë sy groot meditatiewe oorwinnings, en het die bekende siening geformuleer dat oorlog die kuns van misleiding is.

In 1772 is die teks vanuit Chinees in Frans vertaal deur die sendeling, Vader J. J. Amiot. Vandag word die teks wyd toegepas deur korporatiewe bestuurders en die hoofde van state en hulle adviseurs. Onder studente van die teks tel bekende meesters van oorlogvoering soos Napoleon Bonaparte en meer onlangs, Mao Tse-tung en sy skool van Maoïste. (Robert Mugabe is ’n bekende Maoïs.)

Die model van Sun Tzu wat hier van toepassing is, kan soos volg verskerp word: Verwar jou vyand eers met wanorde, en breek hom dan met orde (Sun Tzu, The Art of War, 1 (20)).



Propaganda van stilte


Die proses soos hierbo uiteengesit, vind plaas binne ’n meer omvattende proses van ontkenning van die identiteit van Afrikaners, en word ondersteun deur intense propaganda.


Die eerste vlak van ontkenning is direk, en is onlangs deur Alec Erwin, Minister van Openbare Ondernemings, in gesprek met ’n afvaardiging van Afrikaners uitgespreek. Hy het dit onomwonde gestel dat Afrikaners eintlik nie bestaan nie. Daar is niks om met Afrikanerleiers te onderhandel nie, omdat Afrikaners eenvoudig nie daar is nie. Die bemagtiging van Afrikaners is eintlik nie ter sprake nie.

Afrikaners kan dus slegs deel van die huidige bestel wees as hulle uit hulle Afrikanerskap bedank. Die sogenaamde nasionale vraagstuk het nie eens betrekking op Afrikaners nie, en van ’n vorm van selfbeskikking is hier geen sprake nie.

Die tweede vlak van ontkenning is indirek, en vind plaas waar die magsentrum swygsaam toelaat dat die identiteit van Afrikaners onomkeerbaar gedekonstrueer word.

Volgens die politieke meningsvormer, Noam Chomsky, moet dit wat doelbewus van owerheidsweë verswyg word, noodwendig ook as propaganda dien. Stilte oor eie en ander se misdade is propaganda, sodat mense dit nie kan verstaan nie, en gevolglik niks daaraan kan verander nie. Propaganda is ’n afstomping en ’n onderdrukking van die geheue en die bewussyn (1).

’n Voorbeeld hiervan is die stille diplomasie jeens sistematiese menseregteskendings en kriminele grondroof in Zimbabwe. Die onderhawige geval van die Afrikaanse universiteit soos hierbo uiteengesit, is ’n ander.

Vanuit die Chomskyaanse benadering moet die propaganda van stilte dus gesien word as ’n doelbewuste poging van die magsentrum om die aftakeling van die Afrikaanse universiteit te ondersteun.



Selfbeskikking


Die stand, die toestand en die instandhouding van die Afrikaanse universiteit kan nie losgemaak word van selfbeskikking nie, omrede prosesse soos hierbo uiteengesit nie deur diegene wat dit die meeste raak, naamlik Afrikaanssprekendes, gestabiliseer kan word nie. Hulle staan magteloos hierteenoor. In die besonder ervaar Afrikaners die ontkenning van hulle identiteit nie meer as net ’n uitdaging nie, maar al hoe meer as ’n bedreiging vir hulle voortbestaan.

Die taalverskuiwing van Afrikaans is ’n daaglikse gegewe op die kampusse van Afrikaanse universiteite. Afrikaanse studiegidse en die vaktaal van kursusse wat oor die grootste gedeelte van die vorige eeu ontwikkel is, beland eenvoudig in die asblik sonder dat dit duidelik is waar dit weer gebruik sal word. Wat egter duidelik geword het, is dat pogings om bestaande kanale binne Afrikaanse universiteite te gebruik om taalverskuiwing te keer, hoofsaaklik misluk het.

Daar is sprake dat die Afrikaanse universiteit net in die kuberruimte kan voortleef. En alhoewel daar beslis aan hierdie idee aandag gegee moet word, loop Afrikaners die wesentlike gevaar om alles wat konkreet en tasbaar is te verruil vir ’n wasige bestaan iewers in ’n abstrakte ruimte. ’n Universiteit in die eter en ’n Republiek in die hemel. ’n Soort hiernamaals. ’n Soort dood.

Erger nog is die vooruitsig van verdeelde Afrikaanse universiteite wat net die skyn van Afrikaanse universiteite het.

Miskien is dit ’n oomblik van helderheid hierdie wat aan Afrikaners gegee is – ’n herbevestiging van die wete dat dit te veel van nie-Afrikaners, dikwels anti-Afrikaners, gevra is om na hulle belange om te sien. Miskien kan dit gesien word as die historiese oomblik waarop Afrikaners deur die magsentrum gestimuleer is om selfbeskikking op te eis.

_________

(1) Noam Chomsky, Imperial Ambitions, Interviews with David Barsamian, New York: Henry Holt, 2005.

 

 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=478
Artikel nagegaan: Nee.
Indien die artikel se inhoud hierbo nie vertoon nie, sal dit mettertyd bygevoeg word wanneer die artikel nagegaan word.

    -