Henk Smal
*Hoëronderwyskundige
In watter mate beïnvloed die subsidie wat universiteite van die
staat ontvang die universiteitsbeleid, byvoorbeeld ten opsigte van die
taal van onderrig? Het universiteite nog voldoende “akademiese vryheid”
(ook ten opsigte van finansiële besluitneming) om outonoom op te tree,
soos wat histories en wêreldwyd die geval is? Word die stelselmatige
verengelsing van die Histories Afrikaanse Universiteite (HAU’s)
enigsins deur die subsidieformule gedryf? Word universiteite deur die
staat finansieel beloon volgens akademiese prestasie, of nie?
Vanaf 2003 is daar met die oorskakeling na ’n nuwe
universiteitsubsidiestelsel begin. Die oorgang is nog nie voltrek nie,
en die groot verskille met die vorige stelsel maak vergelykings tussen
die twee baie moeilik. Die nuwe raamwerk is bloot ’n meganisme
waardeur die nasionale toewysing aan hoër onderwys deur die Tesourie
jaarliks ooreenkomstig die Minister van Onderwys se beleidsprioriteite
tussen die onderskeie inrigtings verdeel word. Dit is dus ’n
verdelingsformule om die totale toegewese begrotingsbedrag vir hoër
onderwys tussen die verskillende inrigtings toe te ken volgens gestelde
doelwitte en uitgangspunte.
Besonderhede van die nuwe befondsingsformules is vervat in die
Statement on Higher Education Funding: 2004/05-2006/07 van die Minister
van Onderwys, Februarie 2004. Hierdie artikel berus grootliks op
bogenoemde dokument en aanhalings daaruit.
Meerjarige beplanningsproses
Die staat volg tans ’n rollende driejaarlikse uitgawebeplanningsbeleid,
die sogenaamde Medium term expenditure framework (MTEF). Wat hoër
onderwys betref, hou dit in dat die Minister van Finansies elke jaar by
die bekendmaking van haar toekenning aan die HO-sektor ook die
voorlopige toekennings aan dié sektor vir die daaropvolgende twee jaar
insluit. Die staat kan inderdaad die getal studente in elke
studierigting kontroleer. Universiteite wat meer studente as die
toegelate getal vir ’n bepaalde studierigting wil inskryf, sal vir die
oortallige studente geen subsidie ontvang nie.
Drie geldstrome
Hoëronderwysinrigtings se inkomste bestaan uit drie kategorieë, naamlik
(a) subsidie-inkomste, (b) studentegelde, en (c) die sogenaamde “derde
geldstroom”, oftewel verdienstes uit kontraknavorsingsprojekte, die
kommersialisering van intellektuele eiendom, kortkursusse (vir
nie-graad-doeleindes) en ander kontrakwerk.
In
die dae van die vorige stelsel het die inkomsteverdeling van die
tradisionele HWU’s (historiese wit universiteite) in die middel 1990’s
tipies uit sowat twee-derdes subsidie-inkomste, een-kwart studentegelde
en sowat een-tiende derde geldstroom bestaan. Sommige van die HSU’s
(historiese swart universiteite) se subsidie-inkomste het so veel as
90% van die totale inkomste uitgemaak, met klasgelde die orige 10%, en
’n onbeduidende derde geldstroomkomponent.
Sedertdien het veral die HWU’s in die afgelope dekade sterk klem gelê
op die ontwikkeling van hul derde geldstroom-inkomste. Aan die
Universiteit van Stellenbosch, byvoorbeeld, bedra die derde geldstroom
vanjaar nie minder nie as R732 miljoen (oftewel 46,6%) uit ’n totale
begroting van R1 572 miljoen (losiesgelde uitgesluit). Vir die HWU’s is
die subsidie-inkomste tans tipies in die orde van 50% en minder. Groter
finansiële onafhanklikheid van die staatsubsidie sal slegs verkry kan
word as die derdegeldstroom-inkomste verder verhoog kan word, veral
aangesien klasgelde reeds naby die limiet is van wat die mark kan
akkommodeer, en die ideaal is dat die jaarlikse verhoging in
klasgelde nie die inflasiekoers sal oorskry nie – iets wat min SA
universiteite regkry. Geen HSU kon tot op datum enige noemenswaardige
inkomste genereer uit die derde geldstroom nie – iets wat ten nouste
saamhang met die navorsingsuitsette van die betrokke
hoëronderwysinrigting – ten spyte van intensiewe pogings om dit te laat
realiseer. Die internasionale ervaring is: die derde geldstroom is ten
nouste gekoppel aan die lewering van navorsingsuitsette van hoë (lees:
internasionale) gehalte – daar is geen, maar geen “liefdadigheid”
verbonde aan die derde geldstroom nie. En dit hou regstreeks verband
met die nagraadse aktiwiteite van die betrokke hoëronderwysinrigting.
Bloktoekenning vir onderriginsette
Die bloktoewysing in die staatsubsidie dek onderriginsette,
navorsingsuitsette, onderriguitsette en bepaalde institusionele
faktore. Dit is verreweg die belangrikste deel van die staatsubsidie,
en 56% van alle hoër onderwys-fondse vir 2004/05 is vir onderriginsette
toegewys. Daar word voorsien dat dieselfde persentasie in die
daaropvolgende twee jaar aan hierdie komponent bestee sal word. Hierdie
bloktoewysings is volkome kleur- en taalblind.
Daar
word tans in die hoëronderwyssektor tussen 22 kategorieë van
opvoedkundige materiaal onderskei, wat elkeen op sy beurt in een van
vier fondsgroepe ingedeel is, met fondsgroep 1 die goedkoopste en
fondsgroep 4 die duurste. Vervolgens word tussen vier vlakke van
kwalifikasie onderskei, met baccalaureus of ekwivalent die goedkoopste,
en doktoraal of ekwivalent die duurste, op so ’n wyse dat die subsidie
vir ’n doktorale student vier keer soveel as vir ’n baccalaureusstudent
is.
Dit
beteken verder dat ’n voltydse of ekwivalente (VE) doktorale student in
byvoorbeeld chemie veertien keer meer aan subsidie “verdien” as
’n voltydse of ekwivalente baccalaureusstudent in sielkunde. Bygesê,
dit kos die universiteit aansienlik meer om aan eersgenoemde onderrig
te verskaf (veral wanneer duur laboratoriumfasiliteite verskaf moet
word). Ofskoon sommige universiteite nie die pro rata-verdienste per VE
deurgee aan die betrokke omgewing (fakulteit/departement) nie en dus
kruissubsidiëring kan toepas, is die algemene benadering om dit wel te
doen. Dit beteken dat ’n departement met min nagraadse studente
dienooreenkomstig minder aan subsidie sal verdien, en derhalwe ’n
kleiner dosentetal kan bekostig. Vir baie universiteitsdepartemente lê
die behoud van doseerposte juis in die maksimalisering van die
koppetelling op voorgraadse vlak – ’n soort “veiligheid in
getalle.” Die logiese sou wees om hulle nagraadse status en
studentegetalle te verhoog, maar in die meeste gevalle is dit nie ’n
bereikbare ideaal nie.
Bloktoekenning vir navorsingsuitsette
Die befondsing van navorsing binne die nuwe raamwerk geskied tweërlei,
naamlik deur bloktoewysings aan inrigtings gebaseer op hulle werklike
navorsingsuitsette, en geoormerkte toekennings vir
navorsingsontwikkeling. Laasgenoemde toekennings sal slegs aan
inrigtings gemaak word wat onderpresteer op navorsingsgebied “weens
historiese benadeling”. Toekennings vir navorsingsontwikkeling sal
gemaak word op grond van ’n besigheidsplan voorgelê deur kwalifiserende
HOI’s.
Die
begrip “histories benadeelde hoëronderwysinrigtings” is inderdaad ’n
kampuslegende wat nie deur die historiese feite gestaaf word nie.
Tydens die apartheidsjare is die HWU’s (in die latere jare van dié era)
befonds volgens die vorige sogenaamde SANSO-stelsel van die Departement
van Nasionale Onderwys, terwyl die HSU’s volgens ad hoc-begrotings
befonds is deur onderskeidelik die destydse Departemente van Bantoesake
en Kleurlingsake. Christo Viljoen verduidelik hierdie situasie in ’n
brief (“Bevoordeeldes is benadeel”) aan Die Burger op 17 Nov 2004:
“In die middel 1990's is van owerheidskant besluit om alle
universiteite oor een kam te skeer en sou dieselfde
SANSO-subsidieformule op almal van toepassing gemaak word.
“Dit het ontsteltenis in die HSU-geledere veroorsaak aangesien elkeen
se subsidie-inkomste [nou] volgens die SANSO-formules aansienlik minder
sou bedra as wat hulle voorheen [vorige subsidie] ontvang het. Dit het
geblyk dat die HSU’s dus, wat staatsubsidies betref, voorheen per
VE-student aansienlik méér bevoordeel as die HWU's was. Die "voorheen
benadeelde inrigtings" was inderdaad al die tyd die bevoordeelde
inrigtings!”
Dit
sou eerliker en histories korrek wees om liewer nie na sulke
hoëronderwysinstellings as “histories benadeelde” universiteite
nie, maar as HSU’s te verwys.
Binne die nuwe befondsingsraamwerk word die navorsingsuitset van ’n
hoëronderwysinstelling in ’n bepaalde jaar gedefinieer as die getal
goedgekeurde publikasies (bereken volgens die nasionale beleid in die
verband) plus die getal navorsings- M-grade toegeken, plus 3 keer die
getal D-grade wat toegeken is. ’n Normtotaal vir die navorsingsuitsette
van die totale hoëronderwysstelsel word jaarliks vir die jare 2002 tot
2004 bereken volgens voorgeskrewe formules. Hierdie norm is op 1,25
(navorsingsuitsette per dosende personeellid) vir universiteite en 0,5
vir technikons vasgestel vir 2004/05 tot 2006/07. Hoe swakker ’n
inrigting se prestasie is, hoe meer ontwikkelingsfondse sal ontvang
word. Hierdie is dus ’n geval van prestasie wat gestraf, en
nieprestasie wat beloon word – kwalik ’n aansporing tot uitnemendheid
op die terrein van navorsing, wat naas onderrig die belangrikste
hoeksteen van ’n universiteit se aktiwiteite vorm. Deur geld op die
probleem te strooi, gaan die deurlopende probleem van onderprestasie
van die HSU’s op die terrein van navorsing en nagraadse studie nie
opgelos word nie.
Aangesien die meeste HWU’s se navorsingsuitsette per permanente
doserende (sogenaamde C1-) personeel in 2002 hoër as 1,25 was (aan die
Universiteit van Stellenbosch was dit byvoorbeeld 1,6), het hulle
nie in 2004/05 vir ontwikkelingsfondse in aanmerking gekom nie.
Dit sal waarskynlik ook in 2005/06 en 2006/07 die geval wees.
Bloktoekenning vir onderriguitsette
Soos in die geval van navorsingsuitsette geskied die bloktoewysing vir
onderriguitsette binne die nuwe raamwerk ook tweërlei, naamlik
bloktoewysings aan inrigtings gebaseer op die werklike kwalifikasies
toegeken en geoormerkte toekennings vir onderrigontwikkeling.
Laasgenoemde toekennings sal slegs aan inrigtings gemaak word wat,
gemeet aan ’n bepaalde norm, “onderpresteer op onderriggebied”. Hierdie
geoormerkte toekennings sal ideaal gesproke gemaak word op grond van
besigheidsplanvoorleggings van dié hoëronderwysinstellings.
Of
ook hierdie bloktoekenning met die verloop van tyd ’n verandering tot
gevolg sal hê aan die “onderpresterende” universiteite, sal net die tyd
leer. In die verlede is gevind dat sodanige bloktoekennings meestal
aangewend word vir roetine-uitgawes, en nie vir die regstelling van die
probleem waarvoor die fondse in die eerste plek bestem is nie.
Bloktoewysing vir institusionele faktore
Twee verdere bloktoewysings sal tans aan inrigtings gemaak word,
naamlik ’n toewysing vir ’n groot verhouding benadeelde studente, en ’n
toewysing op grond van die grootte van ’n inrigting. Gesamentlik sal
die twee toewysings 6% van die hoëronderwysbegroting uitmaak vir die
begrotingsjare 2004/05 tot 2006/07. Die twee toewysings word nou
kortliks afsonderlik bespreek.
(i) Toewysing op grond van ’n groot verhouding benadeelde studente
“Benadeelde studente” word binne die konteks van die huidige stelsel
gedefinieer as swart (African) en bruin studente. Slegs
inrigtings waarin meer as 40% van die VE-kontakonderrigstudente
benadeelde studente is, kom in aanmerking vir hierdie toewysing. Die
volle toekenning in hierdie kategorie word gemaak wanneer die betrokke
instelling se persentasie benadeelde studente 80% bedra. Die meeste
HWU’s se persentasie van benadeelde studente, volgens die definisie vir
die berekening van die faktor, is laer as 40% en sal waarskynlik ook
nie binne die nabye toekoms voldoende toeneem om enige toewysings vir
hierdie institusionele faktor te kan ontvang nie.
Dit
is bereken dat as die US aan die norm van 60% benadeelde studente
voldoen, dit ’n addisionele R15 miljoen rand aan subsidie kon verdien –
minder as 1% van sy totale begroting. Hierdie “verlies” aan subsidie op
hierdie subsidiekomponent kan baie maklik vergoed word deur eenvoudig
meer nagraadse studente in te neem. Die norm van 60% “benadeelde
studente” aan ’n inrigting soos die US is nie haalbaar binne die
afsienbare toekoms nie, en die subsidieverdienste-inisiatief daarvoor
is hoegenaamd nie die moeite werd nie.
(ii) Toewysing op grond van inrigtinggrootte
Aangesien klein inrigtings nie die voordele van ekonomie van skaal in
dieselfde mate as groter inrigtings kan benut nie, word ’n addisionele
toewysing aan kleiner inrigings gemaak. (Onder die voormalige
subsidiestelsel is dit gedoen deur 1 000 VE-studente te tel by die
berekende getal VE-studente vir elke hoëronderwysinstelling).
Slegs inrigtings met minder as 25 000 VE-studente (kontak- plus
afstandsonderrig) kom in aanmerking vir hierdie toewysing. Die US
se VE-studente in 2002, naamlik 16 526, vertaal in ’n faktorwaarde van
0,06054 vir die 2004/05-begroting – wat andermaal ’n onbeduidende
bydrae tot die totale begroting beteken.
Geoormerkte toewysings
Daar is reeds aangedui dat die nuwe befondsingsraamwerk ook geoormerkte
toekennings vir spesifieke doelwitte insluit. Hiervan is die
NSFAS-toekenning (National Student Financial Aid Scheme) die
vernaamste. Dit is ’n beursleningskema waarvoor jaarliks
bedrae vir elke instelling geoormerk word en wat die instellings
dan toeken (aan uitsluitlik “swart” studente volgens die breë definisie
van die woord) ooreenkomstig die NSFAS-riglyne. ’n Student wat alle
vakke slaag, kry tot 40% afslag op terugbetalings. Dié toekenning aan
inrigtings, wat in totaal 6% van die stelsel se toewysing uitmaak vir
die jare 2004/05 tot 2006/07, sal soos in die verlede volgens
VE-studente, maar op ’n rassebasis (waarby wit studente met ’n faktor
van 0, Asiër-studente met ’n faktor van 1, bruin studente met ’n
faktor van 2 en swart studente met ’n faktor van 3 geweeg word)
toegeken word. Dit is nie duidelik waarvolgens die Minister van
Onderwys op hierdie weegfaktore besluit het nie, veral gesien in die
lig van die feit dat dit juis bruin skoolleerlinge is wat die laagste
deelnamekoers aan universiteite openbaar (slegs 4,5% van alle bruin
Afrikaanssprekende skoolleerlinge dring tot universiteitstudie deur),
en Asiërskoolleerlinge wat die hoogste deelnamekoers van alle rasse
(insluitende wit skoolleerlinge) het.
Subsidie en taal
Afgesien van die NSFAS-toekenning en die toewysing as gevolg van ’n
groot verhouding benadeelde studente is die subsidieformule kleurblind.
Dit is bekend dat sowel die regering as die Departement van Onderwys
ongeneë is om voorskrifte ten opsigte van onderrigtaal aan instellings
te gee; trouens, dit word as ’n sensitiewe saak beskou. Daar is wel die
gereelde kommentaar van onder meer agtereenvolgende Ministers van
Onderwys dat (onderrig)taal nie gebruik moet word as meganisme om enige
bepaalde studente van die betrokke instelling “uit te sluit” nie.
Snaaks genoeg het dit skynbaar net betrekking op die gebruik van
Afrikaans as onderrigtaal; volgens hierdie benadering is Engels as
onderrigtaal skynbaar vrygestel van enige aantyging dat dit as
uitsluitingsmeganisme gebruik mag word – ’n onderskeid wat tot op datum
nog nie aanvaarbaar verduidelik kon word nie.
Enige poging om HAU’s se onderrigtaal te wysig na Engels (hetsy
uitsluitlik, of in parallel- of dubbelmedium-verband saam met
Afrikaans) ten einde byvoorbeeld meer swart studente te trek, word
egter hoegenaamd nie deur die subsidieformule gedryf nie, maar
ooglopend deur ’n gretigheid van die universiteitsowerhede om die
regime ter wille te wees. Dit word ondersteun deur verskeie ander
faktore, waaronder selfbehoud ’n belangrike faktor is.
Die getal Afrikaanssprekende skoliere met matriekvrystelling het in die
laaste twee dekades van die twintigste eeu in verskeie gebiede in die
land begin daal. Om onbekende redes het die vraag binne die blanke
gemeenskap na universiteitsonderrig ook afgeneem. Sekere studierigtings
aan HAU’s het, vanweë ’n tekort aan studentebelangstelling, verdwyn
(vergelyk byvoorbeeld die verdwyning van die Departement Afrikaanse
Kultuurgeskiedenis aan die US). Die studentegetalle in sekere
departemente – bepaald in die geesteswetenskappe – het aan die meeste
HAU’s sterk afgeneem, hoofsaaklik vanweë die migrasie van blanke
studente na die meer professioneel gerigte beroepsrigtings.
Tabel 1: Persentasie Afrikaanstalige studente aan HAU’e
Jaar |
Potchefstroom |
Vrystaat |
Stellenbosch |
Pretoria |
RAU |
Totaal |
1993 |
90 |
88 |
77 |
80 |
73 |
82 |
2000 |
49 |
51 |
64 |
57 |
24 |
44 |
Die persentasie-afnames is duidelik, maar natuurlik nie die
enigste maatstaf nie: die absolute getal Afrikaanssprekende studente
aan HAU’s het grootliks konstant gebly, te midde van ’n sterk groei in
nie-Afrikaanssprekende studente by hierdie inrigtings. In sommige
gevalle het toenemende getalle wit Engelstalige studente hulle laat
inskryf by die HAU’s, waarvan die US ’n treffende voorbeeld is.
Voorgraads het dit toegeneem van 6% in 1964 tot 10% in 1973 en 30 % in
2005. In die Fakulteit van Lettere en Wysbegeerte staan dit tans
op net onder 40% (dit sluit studente in wie se voorkeurtaal van
onderrig Engels is). In sommige modules vorm hulle selfs die
meerderheid. In ander gevalle, byvoorbeeld UP, RAU en UV is toenemende
getalle swart studente gewerf ten einde die betrokke instelling se
studentebasis te probeer handhaaf. By UV het die swart (“African”)
studente byvoorbeeld tussen 1992 en 1997 van 5% tot 29% gestyg, by UP
van 4% tot 21% en by RAU van 10% tot 30%.
Dit
het druk op die onderrigtaal geplaas, omdat die meeste van hierdie
“nietradisionele” studente aan die HAU’s Engels as onderrigtaal
verkies. Met ’n regeringsbeleid van subsidiëring wat grootliks op die
inname van studente gebaseer is, en ’n kwynende Afrikaanse demografiese
basis, was die HAU’s genoodsaak om hul voertaalbeleid te heroorweeg.
Dit het ’n kennelike gebrek aan vermoë en wil van bykans al die HAU’s
om Afrikaans as taal (gegee sy negatiewe historiese konnotasies) aan
nie-Afrikaanstalige studente te “verkoop” as ’n vriendelike en
volwaardige akademiese taal, duidelik geïllustreer.
Die
afskaling van Afrikaans as onderrigtaal aan die HAU’s is dus nie die
gevolg van enige voorskrifte of inmenging van regeringskant of
subsidievereistes nie, maar is grootliks die gevolg van selfbehoud en,
soos wat mnr. Koos Bekker van Naspers sê (1), papbroekigheid – ’n
gebrek aan die wil om dit te doen. As ’n departement se studentegetalle
afneem, gaan dit die insetkomponent (ongeveer 60%) van die nuwe
formule na twee jaar negatief beïnvloed. Indien die
subsidieformule vir hoëronderwysinrigtings ook vir die verdeling van
inkomstes binne ’n hoëronderwysinrigting gebruik word (soos wel by
die US gebeur) sal dit ook die betrokke departement se begroting, en
bepaald sy doserende personeelgetalle, direk raak (tensy
kruissubsidiëring ter sprake is). Departemente met kwynende
studentegetalle (veral in die geesteswetenskappe) aan HAU’s se
selfbehoud lê dus in die werf van groter getalle swart studente, wie se
onwilligheid om Afrikaans aan te leer, druk plaas om die aanbieding van
voorlesings in Engels. Selfs die beskikbaarheid van (nieverpligte)
taalhulpkursusse motiveer sulke studente nie om daarvan gebruik te maak
nie; slegs 3,5% van studente aan die US het die Taalsentrum in 2004
gebruik om hulle taalvaardigheid op te skerp (2).
Die
situasie is gans anders wanneer taalvaardigheidskursusse as verpligte
en kredietdraende deel van die akademiese program ingesluit word. So
byvoorbeeld het die Fakulteit Ingenieurswese aan die US ’n verpligte
kommunikasievaardigheidskursus (5 voorlesings per week) vir alle
eerstejaaringenieurstudente ingestel, en word parallelmediumklasse
slegs in die eerste studiejaar aangebied. Studente wie se vermoë in
Afrikaans ondermaat is, word deur middel van hierdie verpligte kursus
genoegsaam toegerus om sonder enige oorgangsprobleme in die tweede
studiejaar alle voorlesings in Afrikaans (die A-opsie) te kan volg. Dit
is in teenstelling met byvoorbeeld die Fakulteit Lettere en
Wysbegeerte, sonder enige verpligte kommunikasievaardigheidskursus of
ingeboude insentiewe vir nie-Afrikaansvaardige studente om die taal aan
te leer, waar die aanbieding van voorgraadse voorlesings in
dubbelmedium (die omstrede T-opsie) met ingang van vanjaar uitgebrei is
tot die derde jaargang. Dit het kennelik geskied onder studentedruk, en
nie op grond van wat die Voorsitter van die Taalkomitee, Anton van
Niekerk, noem “goeie akademiese oorwegings” nie, welke “akademiese
oorwegings” een van die bes bewaarde geheime op die Matiekampus is.
Dit
laat Hermann Giliomee sê: “’n Kritieke massa Engelssprekendes kan nie
’n verandering in die voertaalbeleid teweegbring indien daar ’n taalwil
by ’n universiteitsowerheid aanwesig is nie. Dit is juis die
afwesigheid van ’n taalwil wat die US op ’n taalglybaan laat beland
het.” (3)
Dit
bring die vraag na vore of hierdie selfsugtige benadering van getalle
bo gehalte – dit gaan nie oor taal en die uitbou en behoud van
Afrikaans as akademiese taal nie, maar oor die behoud van poste –
hoegenaamd nodig is. Is ’n kleiner maar beter HAU nie verkieslik bo ’n
groter inrigting waarin Afrikaans gevaar loop om te verdwyn nie? Die
“grösser ist besser”- mentaliteit word nie bevestig deur van die beste
universiteite ter wêreld nie. Is ’n US met byvoorbeeld 25 000
ingeskrewe studente werklik wenslik, veral gesien in die lig van die
druk wat dit op die dorp (met betrekking tot akkommodasie, verkeer,
ensovoorts) uitoefen?
Van
die beste universiteite ter wêreld het aansienlik kleiner
studentegetalle, byvoorbeeld Harvard-universiteit (3 682 studente),
Boston-universiteit (3 774 studente), Cornell-universiteit (3 258
studente), die uitmuntende Stanford-universiteit (2 998 studente), en
selfs die “groot” Cambridge-universiteit met 17 421 en Oxford met 18
356 studente (4). Uiteraard sou ’n kleiner US nie net die voortbestaan
en uitbou van Afrikaans as onderrigtaal kan verseker nie, maar sou
hulle in staat stel om werklik die room van alle skoolverlaters te trek
(soos wat dit in elk geval reeds doen; 17 van die 20 top-matrikulante
van 2005 in die Wes-Kaap skryf hulle vanjaar by Maties in as studente).
Bowendien sou dit die fokus kon plaas op nagraadse studente, wat tans
minder as een-derde van die totale studentekorps uitmaak. Ook op
finansiële gebied maak dit sin, gesien die aansienlik hoër subsidie vir
nagraadse studente en die vermoë om die derde geldstroom verder te
vergroot, juis omdat gehaltenavorsing ’n voorvereiste vir laasgenoemde
is. Maar ’n kleiner US impliseer ’n kleiner dosentekorps, en daarvoor
is akademici, met hul ingeboude drang tot selfbehoud, waarskynlik nie
te vinde nie.
_________
(1) Koos Bekker, “Keira, wat’s jou ringtone?”, Die Burger, 26 Oktober 2006.
(2) Universiteit van Stellenbosch, “Opname oor die ervaring van die
implementering van die taalbeleid en –plan aan US, 2004”, pp. 17-19.
(3) Hermann Giliomee en Lawrence Schlemmer, Die Historiese Afrikaanse
Universiteite (HAUs) se Beleid teenoor Voertaal en Veeltaligheid:
Terugblik op `n Dekade (1994 – 2005) en `n Toekomsvisie (gepubliseer te
word tydens 2006)
(4) Campuses by Active Student Enrollment 2005, www.ice.gov/graphics/sevis/numbers/school/campus_enroll.htm
|