blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


Die stand van die (Suid-)Afrikaanse universiteit: Is tweetalige universiteite moontlik? Gedagtes gebore uit ´n dosent se praktiese ervaring 2006-02-15
Koos Malan

*Medeprofessor in regte aan die Universiteit van Pretoria


Bied tweetalige universiteite in Suid-Afrika ’n volhoubare onderwysmodel? Daar is geen universiteit waarin enige Afrikataal naas Engels as onderrigtaal gebruik word nie. Tot dusver is die energie van sprekers van die Afrikatale vir opvoedkundige instellings waarin ’n Afrikataal vir onderrig gebruik word, ongelukkig steeds so onbeduidend dat ’n universiteit waarin in enige van dié tale onderrig word, nog nie in die vooruitsig is nie. Na twaalf jaar van ANC-bewind en ofskoon Afrikanisering hoog op die amptelike agenda verskyn, is ’n universiteit waarin ook in ’n Afrikataal onderrig word, nie ernstig ter sprake nie.

Die vraag of ’n universiteitsopset met ’n tweetalige status volhoubaar is, beteken in praktiese terme tans dus of dit moontlik is dat Engels en Afrikaans op gelyke grondslag naas mekaar in stand gehou kan word. Die konkrete tersaaklikheid van hierdie vraag word onderstreep deur die feit dat al die voormalige Afrikaanse universiteite oor die afgelope dekade tweetalige Engels / Afrikaanse instellings geword het en dat daar geen Afrikaanse (of tweetalige) technikon (universiteite van tegnologie) meer is nie.

Die beantwoording van die vraag word deur talle faktore bepaal. In die paragrawe wat volg, word egter net op taaldinamika in ’n tweetalige onderrigopset gefokus. Voorts beperk ons onsself tot die situasie waarin Afrikaans se kanse die beste is, naamlik op voorgraadse vlak.

Die fokus is so prakties as moontlik en neem dus veral die soort situasies wat deel van die daaglikse leefwêreld van studente en dosente aan tweetalige universiteite is, in ag. Dit is hierdie soort situasies wat tot groot hoogte die volhoubaarheid van die tweetalige universiteit beslis. Ek wil veral aandag gee aan praktiese implikasies wat volg uit ´n tweetalige taalbeleid, of dit nou op die grondslag van parallelmediumonderrig (PMO) of dubbelmediumonderrig (DMO) geskied. Oor die onvolhoubaarheid van Afrikaans in ´n PMO- of DMO-situasie is al baie geskryf, en ter wille van volledigheid som ek dit hier net bondig op.


PMO

Volgens die PMO-model word lesings in afsonderlike klasse in onderskeidelik Engels en Afrikaans aangebied. Dit is voordelig in die sin dat dit aan albei die onderrigtale die ruimte vir ongestoorde beoefening bied. Vanuit die oogpunt van Afrikaans bied dit die ruimte – so wil dit voorkom - om Afrikaanse vaktaal minstens vir die doel van klasonderrig lewendig te hou. Dit is egter om verskeie redes moeilik - dikwels bykans onmoontlik - om met twee parallelle bane van klasonderrig vol te hou.

Eerstens beteken PMO vir die verantwoordelike doseerkorps dubbel soveel werk as vir hulle eweknieë by eentalige Engelse universiteite. Dit neem dubbel die tyd in beslag wat betref voorbereiding. Verminderde navorsingsuitsette en kleiner navorsingsubsidies is die regstreekse gevolg hiervan. Nie net beteken dit minder navorsingsfondse nie, maar ook verlaagde status vir die doseerkorps en die betrokke instellings, wie se prestasie juis tot ’n groot hoogte aan navorsingsuitsette gemeet word. Tweedens is dit prakties heel maklik om met PMO weg te doen en dit met dubbelmedium of eentalige onderrig te vervang. Die oorgrote meerderheid Afrikaanse studente is Engels goed magtig. Universiteite, fakulteite en dosente kan gevolglik geredelik redeneer dat hulle al die studente – Afrikaans en Engels – in een klas, hetsy in ’n dubbelmedium of eentalig Engelse onderrig-opset moet saamtrek ten einde van die druk weens PMO te ontkom. So ’n besluit is dikwels geensins aan enige anti-Afrikaanse sentiment toe te skryf nie en word bloot geneem omdat die betrokke instelling of dosent onder die werksdruk wat PMO veroorsaak, bykans geen ander uitweg het nie.

DMO

In die geval van dubbelmediumonderrig (DMO) word alle studente ongeag of hulle Engelse of Afrikaanse onderrig verkies in een klas saamgetrek en word lesings teoreties gesproke in albei die tale aangebied. DMO bied – so wil dit lyk - die voordeel dat dit al die dubbele werk wat die doseerkorps in die geval van PMO moet doen en die voortspruitende nadele waarop hierbo gewys is, voorkom.

Die vraag is egter of DMO werklik dubbelmediumonderrig beteken. Dubbelmediumonderrig is slegs moontlik en funksioneer trouens op die grondslag dat al die studente albei die onderrigtale genoegsaam magtig is om lesings in albei die tale gemaklik te volg. Werklike dubbelmedium-onderrig kan op verskillende wyse hanteer word: lesings kan om die beurt in Afrikaans en Engels aangebied word of die dosent kan in die verloop van ’n lesing so tussen die twee tale wissel dat elkeen nagenoeg vyftig persent van die lesingtyd in beslag neem. Indien dit wel so gebeur, bied DMO inderdaad ’n goeie geleentheid bied om albei die taalgroepe aan die vaktaal in albei tale bekend te stel.

In Suid-Afrika is die voorwaardes vir DMO-onderrig egter gewoonlik afwesig. Die tipiese situasie wat hier in die DMO-klasopset afspeel, is dat al die studente met spesifieke insluiting van die Afrikaanse studente Engels betreklik goed magtig is terwyl ’n beduidende deel van die nie-Afrikaanse studente oor ’n onvoldoende kennis van Afrikaans beskik om dié gedeeltes van ’n lesing wat in Afrikaans aangebied word, te volg. ’n Aantal nie-Afrikaanse studente sal derhalwe die Afrikaanse gedeeltes van ’n lesing glad nie, of nie voldoende verstaan nie, in teenstelling met die Afrikaanse studente, wat die hele lesing kan volg. ’n Dosent wat ernstig is om vol te hou om ’n deel van die lesing in Afrikaans aan te bied, sal derhalwe verplig wees om alles wat in Afrikaans gesê is in Engels te herhaal, anders word ’n beduidende deel van die nie-Afrikaanstaliges van die voordeel van die lesing uitgesluit. Maar volledige herhaling is vanweë beperkte lesingtyd eenvoudig onmoontlik. Aan die ander kant is dit nie nodig om die Engelse gedeeltes van die lesing in Afrikaans te herhaal nie aangesien die Afrikaanse studente die Engelse dele van die lesing goed kan volg. Ten einde dus alles wat in die klas behandel behoort te word binne die beperkte beskikbare tyd in te pas, word dit noodwendig uiteindelik in Engels gedoen. DMO in so ’n situasie – en dit is bykans deurlopend die situasie in Suid-Afrika - beteken derhalwe noodwendig en heel spoedig eentalige onderrig in Engels met die gevolglike verlies van die gebruik van Afrikaanse vaktaal in die klas en spoedige verwaarlosing en verdwyning daarvan.

‘n Dosent wat in weerwil van die feit dat studente nie albei tale ewe goed magtig is nie, steeds op ’n DMO-grondslag voortgaan en dus om die beurt Afrikaans en Engels praat en nie alles wat in Afrikaans gesê is in Engels herhaal nie, loop die gevaar dat die Engelssprekende studente merkbaar swakker as die Afrikaanse studente presteer. Dit is vanselfsprekend dat dit nadeel vir die betrokke dosent voorspel, veral gegewe die feit dat taalonderskeid gewoonlik tot hoë mate langs die verdelingslyne van ras loop. In ons gevoelige rassesituasie in Suid-Afrika sal dit feitlik vir seker tot beskuldigings van rassevoortrekkery en rassisme teen die dosent lei.

Ofskoon DMO in teorie die werk van die dosent verminder in die sin dat alle lesings nie vir sowel ’n Afrikaanse as ’n Engelse groep aangebied word nie, impliseer dit steeds, bykans net soveel as in die geval van PMO, duplisering van materiaal vir voorbereiding, opsteltoetse, ens. Die druk wat daar in die geval PMO op dosente is om na ’n eentalige Engelse opset oor te slaan ten einde meer tyd vir navorsing en dergelike pligte in te ruim, geld derhalwe tot groot hoogte ook vir DMO.


Lesingmateriaal / klasaantekeninge, handboeke in PMO en DMO-konteks

Sowel die PMO as die DMO-onderrigmodelle vereis dat klasaantekeninge in albei tale opgestel moet word. Ten aansien hiervan is die dosent weer eens met die feit gekonfronteer dat Afrikaanse studente Engels verstaan terwyl die meeste Engelse studente nie Afrikaans magtig is nie. Die effek hiervan is dat dosente noodwendig studiemateriaal eerste in Engels opstel om sodoende al die studente te bereik. Indien materiaal eerste in Afrikaans opgestel word, bestaan die druk steeds voort om dit onverwyld ook in Engels beskikbaar te stel of andersins die Engelstalige studente agter te laat. Lesingmateriaal word derhalwe eerste in Engels opgestel en aan almal – ook die Afrikaanse studente - beskikbaar gestel. Hierdie toedrag van sake het gewoonlik niks te doen met enige besonder voorkeur van die betrokke dosent vir Engels of met ’n anti-Afrikaanse sentiment nie. Inteendeel, die dosent mag die beste van voornemens hê om so spoedig moontlik die lesingmateriaal in Afrikaans beskikbaar te hê. Tydsdruk, die deurlopende verpligting om navorsingsgewys so goed as moontlik te presteer en (in die geval van baie dosente) om nagraadse studie te voltooi, ens. bring mee dat die betrokke dosent, ondanks goeie voornemens eenvoudig net nie by die opstel van die Afrikaanse materiaal kan uitkom nie.

Die situasie waarin Afrikaanse studente in ’n tweetalige bedeling verkeer, is dus dikwels dat hulle in ’n PMO-opset lesings in Afrikaans ontvang maar steeds met Engelse basis-aantekeninge moet klaarkom. Dit bring dikwels mee dat die Afrikaanse studente toets- en eksamenvraestelle en werkopdragte in Engels beantwoord onder meer omdat hulle weens Engelse klasnotas beter met die Engelse vaktaal vertroud is. In ’n DMO-bedeling, wat in praktiese terme, soos hierbo verduidelik eerder ’n Engelse onderrigopset is, hoor die Afrikaanse studente nouliks die Afrikaanse vaktaal en is verengelsingsdruk natuurlik nog groter as in die PMO-opset waarin die Afrikaanse student minstens mondeling van die tersaaklike Afrikaanse vaktaal verneem. Sowel PMO as DMO beteken in die praktyk in terme van basisnotas vir onderrig dikwels Engelse eentaligheid.

Dieselfde proses speel homself af met betrekking tot die studentehandboeke. Die dosent by eentalige Engelse universiteite bereik sy totale studentegehoor met die publikasie van ’n Engelstalige handboek. Die dosent by die Afrikaanse universiteit was in dieselfde gunstige posisie met die publikasie van ’n Afrikaanstalige handboek. Die tweetalige universiteit, ongeag of PMO of DMO gebruik word, het die Afrikaanse handboek egter ’n gevoelige slag toegedien. Wanneer ’n dosent nou ’n Afrikaanse handboek publiseer voorskryf, word die meeste Engelstalige studente uitgesluit. Net soos in die geval van mondelinge onderrig en lesingmateriaal, is die Engelse handboek egter vir die meeste studente, insluitend die Afrikaanse studente toeganklik. Hierdie situasie verplig die dosent om sy handboek in Engels te skryf, maar anders as met klasnotas is die kanse vir ’n Afrikaanse vertaling in dié geval natuurlik vir ’n aantal klaarblyklike redes beduidend skraler: handboeke is veel meer omvattend as notas en dis bowendien duur om uit te gee. Boonop word die mark onder die Afrikaanse studente wat reeds die Engelse handboek aangekoop het, versadig en vind hulle dit gevolglik nie nodig of kostedoeltreffend om die later gepubliseerde Afrikaanse vertaling aan te koop nie. Indien die universiteit en die onderrig Afrikaans was, sou die posisie vir die Afrikaanse handboek natuurlik drasties anders gewees het. Die studente wat bedien moes word, was dan Afrikaans met die gevolg dat die handboekskrywer se keuse met betrekking tot die taalmedium daarvan uiteraard Afrikaans sou wees.

Dit is so dat daar nog ’n klompie Afrikaanse handboeke verskyn. Die tweetalige universiteit het egter die leefruimte van die Afrikaanse handboek drasties ingeperk en het dit ’n gevoelige slag toegedien.

Benewens die faktore, wat vlugtig hier behandel is, is daar natuurlik ook ander kragte wat Afrikaans in die hoër onderwys smoor. Die belangrikste daarvan is wat in Suid-Afrika as employment equity bekend staan en kragtens die Wet op Billike Werksgeleenthede geïmplementeer (moet) word. Dit bring dikwels mee dat mense wat nie Afrikaans magtig is nie, by tweetalige Afrikaanse instellings aangestel word met die oog daarop om aan rasse-doelwitte te voldoen. Hierdie faktor is so belangrik dat dit afsonderlike aandag vereis.

In hierdie artikel is net enkele taalsosiologiese faktore by die tweetalige universiteit te berde gebring. Dit bring aan die lig dat tweetalige instellings in die afwesigheid van maatreëls om Afrikaans se posisie te stabiliseer (ekstra doseerpersoneel, goed funksionerende vertalingseenhede, ens.) selfs op voorgraadse vlak nie volhoubaar is nie. Dit is op sy beste ’n betreklik kortstondige oorgangsbedeling in aanloop tot volledige Engelse eentaligheid. Die reeds afgehandelde verengelsing van voormalige Afrikaanse (en tweetalige) technikons en die huidige verengelsing van tweetalige universiteite is aan hierdie taalsosiologiese kragte uitgelewer.


 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=476
Artikel nagegaan: Nee.
Indien die artikel se inhoud hierbo nie vertoon nie, sal dit mettertyd bygevoeg word wanneer die artikel nagegaan word.

    -