blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


Die stand van die (Suid-)Afrikaanse universiteit: Die behoud van intellektuele vryheid aan ons onderwysinrigtings: “Om die pedagogiese meer polities te maak en die politiese meer pedagogies” 2006-02-15
Sipho Seepe

*Politieke kommentator en akademiese direkteur, Henley-Bestuurskollege, Johannesburg

**Hierdie toespraak is op 10 Mei 2005 gelewer tydens die gradeplegtigheid van die Tshwane-Universiteit vir Tegnologie


Deur navorsing, onderrig en leer vervul universiteite hulle primêre funksies, naamlik die blootlê en verspreiding van inligting. Hierdie funksies kan slegs vervul word indien ’n omgewing geskep word wat vrye gedagtewisseling moontlik maak. In sy beleid oor vryheid van uitdrukking, vreedsame meningsverskil en betogings beskryf die Yale-Universiteit vrye gedagtewisseling as iets waartoe ’n universiteit verplig is. Die beleid beskryf intellektuele vryheid as “the right to think the unthinkable, discuss the unmentionables, and challenge the unchallengeable. To curtail free expression strikes twice at the intellectual freedom, for whoever deprives another of the right to state unpopular views necessarily also deprives others the right to listen to those views.”

Vryheid van uitdrukking bied “a forum for the new, provocative, the disturbing, and the unorthodox. Free speech is a barrier to the tyranny of authoritarian or even majority opinion as to the rightness or wrongness of particular doctrines or thoughts”. Die Yale-Universiteit se beleid verklaar voorts dat elke lid van ’n universiteit die verantwoordelikheid dra om hierdie vryheid te handhaaf – dit is ’n verpligting!

Intellektuele vryheid word eers regtig getoets wanneer ’n ongewilde standpunt gestel word. Die ware toets is dus of ons ons kan versoen met die “vryheid vir die gedagte wat ons haat”. Op die keper beskou beteken dit dat ons ons kampusse moet oopstel selfs vir die individue wie se menings ons afstootlik vind. Dit staan dan diegene wat teen sulke idees gekant is, vry om hulle reg op protes te gebruik – wat ’n uitdrukking van dieselfde reg is. Die Yale-Universiteit se regulasies vereis dat die protes vreedsaam en betogings ordelik moet wees. As lesings en akademiese aktiwiteite ontwrig word, maak dit inbreuk op ander mense se regte.

Trouens, die geskiedenis van menslike ontwikkeling dra die tekens van idees wat op die rand gestaan het of teen die draad in gegaan het. Vooruitgang in wetenskap en tegnologie is die produk van die intellektuele projek aan ons universiteite en in die samelewing. Soos ek elders gesê het:

“Groot leiers ‘maak hulle tyd’ deur vir ons nuwe insigte en perspektiewe te gee. Hulle diepsinnige insigte, wat ons dikwels nie kan begryp nie, dryf denke voort en beïnvloed daaropvolgende denke. ’n Mens dink onwillekeurig aan groot geeste soos sir Isaac Newton, sir Albert Einstein, Karl Marx, Malcolm X en Karl Popper. Ander weer ‘word deur hulle tyd gemaak’ deurdat hulle die groot uitdagings en krisisse van hulle tyd die hoof bied. Voorbeelde nader aan ons is Stephen Bantu Biko, Martin Luther King, Nelson Mandela en Desmond Tutu. Nog ander is nie net ‘deur hulle tyd gemaak’ nie, maar het inderdaad ook ‘hulle tyd gemaak’.”

Dit is belangrik om te sê dat die betrokke individue deskundiges op hulle eie terreine was. Hulle ontdekkings is beïnvloed deur die identifisering van talle anomalieë in die verduidelikings of teorieë wat op hulle belangstellingsveld betrekking gehad het. En in teenstelling met die onsin wat soms in hierdie land heers, het geen politikus nog met ’n nuwe wetenskaplike of mediese insig vorendag gekom nie!

Ons het egter gesien dat die intellektuele projek in ons land ondermyn word. Ek het my [bogenoemde] argument soos volg voortgesit:

“In ons tyd en op hierdie plek is die MIV/vigs-epidemie die grootste uitdaging. Dit is sonder presedent in die mediese geskiedenis. Dit ken geen kunsmatige of natuurlike grense nie, ongeag of dit ras, kleur, klas, godsdienstige affiliasie, seksuele oriëntasie, maatskaplike herkoms of sosiale stand is. Die feit dat die virus vinnig muteer, maak dit uiters kompleks. Hierdie bedreiging het allerlei ghoeroes met allerlei oplossings vorendag laat kom. Dit het mense verenig wat gewoonlik weinig sou hê om oor saam te stem. Dit het ook die debatte oor wetenskap en die demokrasie skerp onder die soeklig laat kom. Hierdie debatte het die potensiaal gehad om, as dit met die nodige omsigtigheid hanteer is, ons samelewing te transformeer tot ’n ruimte vir wetenskaplike en intellektuele eksperimente. Die debatte sou kon ondersoek hoe haalbaar dit is om inheemse kennisstelsels by die hoofstroom van wetenskaplike en mediese stelsels te inkorporeer.”

Ongelukkig het die MIV/vigs-debatte die intellektuele gewoonte allesbehalwe gevoed; trouens, dit het tot die ondermyning van akademiese kundigheid gelei. Mediese kennis en kundigheid word gedurig betwis deur mense wat geen benul het waarvan hulle praat nie.

“Suid-Afrika het op regeringsvlak ’n smous en komposhoop van gediskrediteerde idees geword ... In plaas daarvan dat hierdie debatte ’n kreatiewe debat oor wetenskap en demokrasie aan die gang gesit het, het dit belangrike gebreke geopenbaar in die manier waarop ons demokrasie begryp. Daar is ’n algemene gebrek aan insig in die verband tussen demokrasie en vryheid van uitdrukking, en tussen demokrasie en ontwikkeling.”

’n Paar geleerdes wat dit durf waag het om ’n stem van protes te laat hoor, het onder slegsêery deurgeloop. Die stilswye van universiteitsleiers, met uitsondering van prof. Malegapuru Makgoba, was dawerend. Regter Edwin Cameron het hierdie verskynsel “die krisis van die waarheid praat” genoem.

In sy kommentaar op die ruggraatlose swart politieke leierskap in die Verenigde State van Amerika kon die Afro-Amerikaanse geleerde Cornel West net sowel gepraat het van die krisis van intellektuele leierskap aan ons universiteite. Hy skryf in Race Matters: “Present day black political leaders appear too hungry for status to be angry, too eager for acceptance to be bold, too self-invested in advancement to be defiant. And when they drop their masks and try to get mad, their bold rhetoric is more performance than personal, more play-acting than heartfelt.”

Die krisis van die waarheid praat teister ons universiteite. Tragies genoeg het dit die intellektuele en akademiese projekte by ons onderwysinrigtings geaffekteer. Hulle kort die moed om die akademiese projek te verdedig.

Die kultuur van ontwrigting wat ons universiteite oorspoel en herinner aan die jare van die struggle, is ’n manifestasie van die krisis van intellektuele en politieke leierskap. Studente, aangemoedig deur ’n kultuur waardeur kritici afgemaak en geëtiketteer word as verregs, verlinks, regsgesind, teenrevolusionêr en so meer, het institusionele bestuurders sleggesê, geïntimideer en gyselaar gehou. In so ’n omgewing kan geen produktiewe onderwys plaasvind nie.

Prof. Jonathan Jansen, Dekaan van Opvoedkunde aan die Universiteit van Pretoria, stel dit elegant as hy in die 40ste Hoernle-Gedenklesing opmerk dat wanneer die intellektuele projek ophou, die universiteit ophou bestaan.


“’n Universiteit hou op bestaan wanneer die intellektuele projek nie meer sy identiteit definieer, sy kurrikulum deursuur, sy geleerdes stimuleer en sy studente inspireer nie. Dit hou op bestaan wanneer staatsinmenging die ruimte toemaak waarin akademiese diskoers en verbeelding ongebonde kan floreer. Die universiteit hou op bestaan wanneer hy homself verengende uitsigte op die toekoms oplê op grond van etniese of linguistiese chauvinisme en die veelheid van stemme en visies ontken wat aan [sulke] inrigtings hulle eiesoortigheid verleen. En die universiteit hou op bestaan wanneer hy niks meer verteenwoordig nie as ’n leë dop van rasseverteenwoordigendheid ten koste van akademiese inhoud en intellektuele verbeelding.” (Vertaal uit: Mail & Guardian, 28 Jan-13 Feb 2005)


Die ideologie van transformasie


Bogenoemde ontwikkeling word moontlik gemaak deur ons gewilligheid om ons te onderwerp aan die heersende ideologie – die ideologie van transformasie.

Die Oxford Advanced Learner’s Dictionary (6de uitgawe) definieer “ideologie” bondig as iets wat sowel idees as oortuigings uitmaak. Dit omskryf ideologie as (i) ’n stel idees waarop ’n ekonomiese of politieke stelsel berus, en (ii) ’n stel oortuigings, veral een wat deur ’n bepaalde groep gehuldig word en die manier beïnvloed waarop mense optree.

Die mate waarin ’n individu of ’n groep ’n ideologie aanvaar, is ’n funksie van bepaalde sielkundige en materiële belange. Ideologie manifesteer hom op verskillende wyses vir verskillende individue. Dié wat dit baie intens ervaar, neem ’n aktivistiese en propagandistiese rol aan, terwyl party meer passief en andere bloot medereisigers sal wees. Laasgenoemde groep sal waarskynlik onbewus wees van die ideologieë wat hulle denke en gedrag onderlê.

Ideologieë is verantwoordelik vir die handhawing van sosiopolitieke stelsels. Dit is bekend dat onderdruktes in onderdrukkende samelewings apologete van en deelnemers aan hulle eie voortgesette onderdrukking kan word. Vir sover as wat ’n mens ’n verband kan lê tussen onderdrukking en ideologie, kan dieselfde gesê word van demokrasie en ideologie. Die punt is dat ideologie maatskaplike en magsverhoudings legitimeer en dit daardeur normaal laat lyk vir die lede van die samelewing.

Die veranderinge en beleide wat in Suid-Afrika verorden is, veronderstel dat die hele stelsel getransformeer word van die “geopolitieke apartheidsverbeelding” na een wat geskik is vir die postapartheidsomgewing.

Ongelukkig, en weens die groepsbehepte geskiedenis en onverdraagsaamheid, het transformasie ’n selflegitimerende ideologie geword. Amptelik gesanksioneerde uitsprake en prosesse word geregverdig en algaande voorgestel as nie-onderhandelbare transformasie-imperatiewe. Deur jou op transformasie te beroep, word alle bespreking irrelevant. Die ideologie van transformasie geniet opperheerskappy. Soos dinge tans is, word daar van swart intellektuele verwag, en was hulle gewillig, om die projekte van die nuwe regering te ondersteun – ongeag of dit sin gemaak het of nie. In hierdie verband het Jansen (in ’n ander referaat) soos volg gesê:

“Die eerste ding wat ’n mens opval, is die swye van swart intellektuele oor die meeste van hierdie kwelpunte [die president se standpunt oor MIV/vigs, die Zimbabwiese krisis, die gefabriseerde komplot teen die president, ens.]. Van die een krisis na die volgende is die stemme van leidende swart intellektuele, met of sonder kundigheid op die betrokke terreine, eenvoudig stil. ’n Mens kan byvoorbeeld maar net wonder of die swye van die mediese establishment iets te doen het met kommer oor noodsaaklike hulpbronne, die verlies van gesogte betrekkings en toegang tot sosiale en dissiplinêre bevoorregting; of sulke verliese die swye of die laat en gedempte reaksie van ’n handjie vol kan verduidelik.” [vertaling]

Die mag van die ideologie van transformasie het duidelik geblyk by die bekendstelling van die Nasionale Plan vir Hoër Onderwys en die daaropvolgende besluit om swart inrigtings met voormalige Afrikaner-inrigtings te laat saamsmelt en daarby in te lyf.

Soos alle baanbrekerinisiatiewe het die voorstelle luidkeelse protes uit verskeie sektore ontlok. Die persepsie was dat die voorstelle sekere inrigtings bevoorreg het ten koste van ander, of ongelykhede en gesindhede wat deur apartheid voortgebring is, gelegitimeer het. Trouens, party van dié wat gereageer het, het driftige en opruiende diskoers gebruik – “oorlogsverklaring”, “institusionele groepsmoord op swart universiteite en technikons”, “verraad teen die struggle”, “intellektuele skande, “ ’n politieke ramp”. Die voorstelle is beskou as deel van ’n listige strategie om swart inrigtings toe te maak, ’n afkraking van swart wees, en ’n onderskrywing van die idee van “wit is goed, die Weste is die beste”. (Vir ’n vollediger uiteensetting van hierdie standpunt, kyk Seepe, 2002.)

Die Suid-Afrikaanse Visekanseliersvereniging (SAUVCA), altyd behoedsaam, het sy steun vir die Plan laat blyk, al was dit met voorbehoude. In die besonder het die Vereniging daarop gewys dat die Plan rasionele doelwitte vir die hoëronderwyssektor identifiseer, maar dat ’n ondersoek van die strategieë wat gebruik gaan word, gebiede van potensiële spanning aan die lig bring.

Voorts sê hy die Plan gee geen gedetailleerde bloudruk vir sy eie implementering nie, maar verkies om eerder ’n “raamwerk” vir optrede te skets. Dit laat die Plan oop vir talle veranderlikes wat lei tot verskeie moontlike eindresultaatscenario’s – en nie almal daarvan is wenslik nie.

Ondanks die talle kwellinge en voorbehoude wat die hoëronderwyssektor uitgespreek het, het dit nie lank geduur voordat die hele hoëronderwyssektor aan die ideologie van transformasie oorgegee het nie. En uit die huidige kabaal tussen die Ministerie van Justisie en die regbank kan ’n mens aflei dat die ideologie van transformasie nie tot onderwysinrigtings beperk is nie. Besorgdheid is uitgespreek dat as “the legislative proposals were adopted as they stand, the executive would become involved in administering the courts and training and disciplining judges to an extent that is fundamentally incompatible with the separation of powers and the independence of the judiciary” (Camerer, 2005). Gelukkig wil dit voorkom of al die senior lede van die regbank hieroor bekommerd is.

Die uitdaging vir die gegradueerdes en die universiteit is om die onderwys as ’n vryheidspraktyk terug te eis. Dan sal ons konkreet uitdrukking gee aan die totstandbrenging van ’n waarlik demokratiese samelewing. Is ons opgewasse teen dié uitdaging?


Bronnelys


  1. Aronowitz, S., & Giroux, H.A. 1993. Education Still Under Siege, 2de uitgawe, Bergin & Garvey, Wesport, CT

  2. Camerer, S. 2005. “Fixing the bench to the party line”, in Business Day, 5 Mei 2005.

  3. Jansen, J. 2004. “When does a university cease to exist?” 40ste Hoernle-Gedenklesing, in Mail & Guardian, 28 Jan-13 Feb 2005.

  4. Jansen, J. 2002. “The (Self-Imposed) Crisis of the Black Intellectual”. Wolpe lecture, Universiteit van KwaZulu-Natal.

  5. SAUVCA. Executive Response on the National Plan on Higher Education. http://www.sauvca.org.za/highered/policy/555188.htm

  6. Seepe, S. 2001. “Challenged by our times” , in Mail & Guardian, 14 Desember 2001.

  7. Seepe, S. 2002. “Critical Endorsement of the National Plan on Higher Education”, in Quarterly Review of Education & Training in South Africa, Volume 9, No. 2. Eenheid vir Onderwysbeleid, Universiteit van die Witwatersrand.

  8. Yale College Undergraduate Regulations 2003-2004.



 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=480
Artikel nagegaan: Nee.
Indien die artikel se inhoud hierbo nie vertoon nie, sal dit mettertyd bygevoeg word wanneer die artikel nagegaan word.

    -