|
||||
Fernando Matamoros Ponce * Instituut vir Maatskaplike Wetenskappe, Outonome Universiteit van Puebla (Mexiko). ** Uit die Frans vertaal deur Christel Cattin, [email protected]
Ongewapen, maar met 'n klapmus oor sy gesig, het die rebelleleier
onderkommandant Marcos, die Zapatiste-weermag vir nasionale bevryding
(EZLN) se bekendste bevelvoerder, sy vesting in die Chiapasberge op 1
Januarie 2006 verlaat. Hy het homself herdoop as “Afgevaardigde Zero”
en onderneem 'n motorfietsreis wat hom, vergesel deur 'n inheemse
afvaardiging, na Mexiko se een-en-dertig state sal neem tot op die
vooraand van die presidensiële verkiesing eerskomende Juniemaand.
Die PAN se regeringsoorname het niks in hierdie verband verander nie. In die lente van 2001 het die belangrikste partye van die Kongres, die PAN, die PRI, maar ook die Party vir 'n Demokratiese Rewolusie (PRD) – sentraal links – wel ten gunste van 'n “inheemse wet” gestem. Maar, baie ver van die letter en gees van die San Andrés-akkoorde, het dit, na die EZLN en die Nasionale Inheemse Kongres se mening, slegs die staat se paternalisme teenoor inboorlinge bestendig. Na afloop van 'n 3000 kilometer lange staptog tot in die hoofstad, het die Zapatiste weer eens die dialoog met hierdie geleentheid verbreek. Sedertdien bly die Chiapas op hul hoede. Deur konflik te vermy en uitlokkings te ignoreer, het die Zapatistiese gemeenskappe besluit om die akkoorde van 1996 eensydig in rebellegebiede toe te pas. Vanaf Augustus 2003, met die kollektiewe verbeelding van die Majas, het hulle hul pogings gekonsentreer op die hersamestelling van hulle ou weerstandstegnieke, deur outonomie regoor sones wat Caracoles (spirale) genoem is, te skep, sowel as Rade vir Goeie Regering (Juntas de buen gobierno) instellings vir die koördinasie van outonome kommunes in elke sone (2). Die viento de abajo (die wind van onder) waarvan Marcos in 1994 gepraat het, het homself versterk: “Hierdie wind van onder, die een van rebellie, van waardigheid, is nie net 'n antwoord op die wind van bo wat homself afdwing nie (...) dit is nie net die aftakeling van 'n onregverdige en arbitrêre stelsel nie, dit is veral hoop - hoop op die oorskakeling van waardigheid en van rebellie na vryheid en waardigheid. Hierdie wind sal van die berge af kom, dit word reeds onder die bome gebore en span saam vir die skep van 'n nuwe wêreld, so nuut dat dit slegs 'n intuïsie in hulle kollektiewe hart is, en wat hulle verder aanmoedig (3)…” Nuwe wyses van organisasie... Die gemeenskappe stel hulle eie programme op vir onderwys, gesondheid, handel, die stigting van klein kruidenierswinkels en koöperatiewe. Hulle aanvaar nóg geld, nóg regeringsprojekte van die regering, hulle definieer hulle tydsbesteding versigtig teenoor dié vir die verhandeling van goedere, en staan die diskoers van globalisering teen danksy herinneringe en Indiese legendes. “Die oumense vertel dat Yacoñooy 'n klein vegter was, maar braaf en waaghalsig, hy was vir niks bang nie en het groot en magtig voorgekom… Die son het gelag, met vertoue in sy mag en sy krag, en het die klein mannetjie wat hom vanaf die aarde uitgedaag het, geïgnoreer. Yacoñooy het hom weereens uitgedaag en het die volgende gesê: ‘Die krag van jou lig maak my nie bang nie, my wapen is die tyd wat in my hart ryp word’, en hy sy boog gespan en met die pyl se punt reguit na die arrogante son se middelpunt gemik. Die son het weer begin lag en sy gordel van vuur rondom die rebel ingetrek om hom nog kleiner te maak. Maar Yacoñooy het homself met sy skild beskerm en weerstand gebied, terwyl die oggend sy plek aan die namiddag verruil. Die son het magteloos gesien hoe sy krag verminder soos wat die tyd verbygaan en die klein rebel het uitgehou, beskerm en weerstandbiedend onder sy skild, terwyl hy wag vir die gepaste oomblik vir die pyl en boog (4)”. Die Zapatiste het geen behoefte om self te oorheers nie, maar hulle
wil dat vertakkings van nadenke aansluit by dié van herinnering, net
soos die wortels van die Ceiba, die Majas se mitiese boom, plek van
samekoms en gesprekvoering van gemeenskappe (5). Natuurlik gaan hierdie
stil konsolidasie van plaaslike mag nie sonder hindernisse gepaard nie.
Byvoorbeeld, die rotasiestelsel vir die hoof van die raad besorg soms
probleme: “Ons wou hê,” verduidelik Marcos, “dat dié verantwoordelik
vir regering nie ekslusief aan een groep behoort nie, sodat daar nie
‘professionele’ leiers is nie, dat die grootste moontlike aantal mense
dit kan aanleer en dat ons wegdoen met die beginsel waarvolgens
regering slegs aan sekere mense toevertrou kan word... Hierdie metode
kompliseer soms die verwesenliking van projekte, maar as vergoeding
daarvoor laat dit 'n skool van denke tot stand kom wat op die lang duur
sy vrugte sal dra in die vorm van 'n nuwe manier om politiek te bedryf
(6)”. As 'n soeke na suurstof teenoor die “selfmoord” van isolasie, is
hierdie verklaring 'n uitdaging, 'n teoretiese voorstel, maar ook
prakties vir die organisasie van politieke aksie; dit wil 'n vuur wees
wat deur die “wind van onder” aangeblaas word.
Maar sekere van die EZLN se aspekte is verbasend. Want al loods Marcos hewige aanvalle op die PRI en die PAN, doen hy dit ook met die PRD, “die party van taktiese foute”, vir wie, wil dit voorkom, hy sy heftigste slae reserveer. 'n Reuseskare het op 24 April 2005 in Mexiko 'n optog gehou om mnr. López Obrador se reg om homself as kandidaat vir die presidensiële verkiesing in 2006 beskikbaar te stel, terwyl die regering besig was om te maneuvreer om hom uit te skakel. “Die proses van parlementêre uitsluiting van die AMLO was, buiten 'n tragi-komiese drama, 'n goeie aanduiding van populêre ontevredenheid,” ironiseer Marcos “,maar ook, en veral, 'n uitstekende springplank vir die verkiesing... vir die een wat weggelaat is (7).” Voordat hy die swaar geskut afvuur: “Om die regerende kandidaat se program te ken, moet 'n mens nie luister na sy verklarings aan die mense op voetsoolvlak nie, maar na dié wat op hooggeplaastes gerig is – in onderhoude wat byvoorbeeld aan die New York Times en aan die Financial Times toegestaan is. (...) Die sentrale vraagstuk van die AMLO se presidensiële program (...) is ekonomiese stabiliteit, met ander woorde, altyd meer wins vir die rykes, groeiende armoede en onteiening vir die armes, en 'n bestel wat die ontevredenheid van laasgenoemdes smoor.” ‘n Mens kan nie die “ander veldtog” verduidelik, die opstelling van outonome politieke spasies, as 'n stryd om bestuursposte tussen die EZLN en die PRD nie. Vanuit die Zapatiste se oogpunt, is die feit dat mnr. López Obrador radikaal links of 'n sentraal-linkse reformis is, nie wesenlik om te verstaan wat hy verteenwoordig nie. Dit gaan nie oor die individu en/of die PRD se stromings nie, met sommiges wat hulself regs en anti-Zapatisties ontbloot, maar oor milljoene Mexikane. Deur middel van hulle stryd teen die “AMLO” se uitrangering, het hierdie mans en vroue, stedelike Zapatiste en Perrediste (ondersteuners of simpatiseerders van die PRD) in die strate opgemarsjeer om oorwinnings wat in Mexikostad verkry is, te beskerm. Net soos Marcos, is mnr. López Obrador 'n simbool van die historiese gewilligheid vir transformasie. Hy verteenwoordig nie net 'n verlede van strydvoering nie, maar is ook die spreekbuis waaroor die neo-Zapatiste en die chilangos (8) opgewonde is. Simbole word vermeng: in die populêre verbeelding word die “AMLO” met Marcos geassosieer, dit konsentreer die korrels van die behoefte aan verandering. Die “ander veldtog” dien as versterking vir hierdie begeertes, maar wil ook dien as versekering teenoor die “aangekondigde frustrasie”, net soveel in die praktyk as deur middel van toesprake van sekere tendense in die PRD teen die Zapatiste, as gevolg van druk vanaf finansiële instellings regoor die planeet. Die bestaan daarvan is nóg die aankondiging van 'n teenveldtog, nóg 'n byvoegsel van mnr. López Obrador se kandidatuur, selfs al is dít hoe dit in nasionale en institusionele debatte voorkom. Die EZLN is daarvan beskuldig dat dit stemme en simpatiseerders van mnr. Lopez Obrador en van die PRD laat verlore gaan. Die Zapatiste het daarop klem gelê dat hulle organiseringswyse nie op verkiesings gerig is nie. Daar kan van die inheemse segswyse afgelei word dat die ander veldtog 'n skild van nadenke is teenoor politieke praktyke en “fonteine van rebellie wat deur die wind van onder versprei is, laat opborrel in die hart van tyd”. Dit gaan dus nie oor 'n aanval op die “AMLO” en die PRD nie, maar oor 'n goeie posisionering op die politieke skaakbord, om van regeerders te eis om te sê wat hulle gedoen het, wat hulle doen en wil doen. Die Zapatiste onthou inderdaad dat al die partye in April 2001 ooreengekom het om teen die San Andrés-verdrag te stem. Hulle het nie vergeet dat hulle tydens “geheime vergaderings” verraai is nie, dat die spot gedryf is met Indiane en hulle hoop op erkenning, deur teen die “inheemse wet” te stem nie. Volgens die EZLN, het dit daar gegaan oor 'n “politieke berekening” van sekere strominge binne die PRD wat daarop gemik was om die openbare en nasionale verskyning van hulle organisasie te vermy, en om hulle “gevangene” te hou in die blou Chiapasberge. Alhoewel verskeie Perrediste met die Zapatiste samehorig is, vergeet
laasgenoemde nie dat die ander hulle in die steek gelaat het nie, wat
hulle tot 'n stadige dood verdoem op dieselfde wyse wat daar in die
verlede staat gemaak is op die verdwyning van Indiane deur middel van
beleidsrigtings van kulturele prysgawe en gedwonge integrasie van
inheemse bevolkings.
|