|
||||
Emir Sader * Professor aan die Universiteit van Rio de Janeiro ** Uit die Frans vertaal deur Sonya van Schalkwyk-Barrois, [email protected]
Kyk ’n mens na wêreldstreke wat gebuk gaan onder neoliberale beleidsrigtings, neem Latyns-Amerika ’n voorste plek in. Geen integrasieprogram op streeksvlak ontkom aan die verwoestende gevolge nie. Handels- en finansiële liberaliseringsmaatreëls versnel Europese en Amerikaanse multinasionale se beheeroorname van die onderskeie binnelandse markte. Dit verskerp ook die plaaslike ekonomieë se afhanklikheid van buitelandse markte. Nietemin, terwyl lande in Wes-Europa en Noord-Amerika hul integrasieprosesse voortsit, word soortgelyke programme ook in veral Suid-Amerika ingestel. Hulle doel is om, al is dit dan in ’n geringe mate, die ekonomieë in die streek teen die negatiewe gevolge van globalisering te beskerm. In die 1980’s en 1990’s is twee teenstrydige programme op die been gebring: aan die een kant die Suidelike Gemeenskaplike Mark (Mercosur) wat Argentinië, Brasilië, Paraguay en Uruguay insluit (1); en aan die ander kant die Noord-Amerikaanse Vryhandelsooreenkoms (NAVHO) met die VSA, Kanada en Mexiko. Washington streef daarna om NAVHO geleidelik na die res van die vasteland uit te brei. Feitlik op die oomblik toe dié inisiatief gestalte gekry het, en toe Chili voorgestel is as die volgende land wat ingelyf sou word, dryf die Mexikaanse krisis in 1994 die Amerikaanse Kongres daartoe om nie meer die president van die VSA toe te laat om soos sy voorgangers van die “fast track” gebruik te maak nie. Dié “vinnige-baan”-metode behels die reg om handelsooreenkomste met ander nasies te sluit, waarna parlementslede slegs die bevoegdheid het om dit te aanvaar of te verwerp, sonder dat enige wysiging moontlik is. Die VSA-regering moet gevolglik terugval op ’n vroeër projek wat op die rak bly lê het: die Vryhandelsone van die Amerikas (ALCA in Spaans en in Portugees). Twee programme kom dus teen mekaar te staan: die een uitsluitlik Latyns-Amerikaans, die ander vir die hele vasteland. Die (belangrike) verskil is die VSA se teenwoordigheid in laasgenoemde. Aangesien hulle 70% van die totale bruto binnelandse produk (BBP) verteenwoordig, omvorm hulle ALCA in ’n meganisme om hul oorwig te konsolideer, sonder enige teken van integrasie. Desondanks vind ’n nuwe tendens terselfdertyd inslag: die ideologiese evolusie van Hugo Chávez in Venezuela, Luiz Inacio “Lula” da Silva se toetrede tot die bewind in Brasilië, dié van Nestor Kirchner in Buenos-Aires en, later, van Tabaré Vasquez in Montevideo, Uruguay, skep ’n gans nuwe situasie. Venezuela, veral ná Chávez se oorwinning oor die opposisie in die herroepingsreferendum van 15 Augustus 2004, verkry ’n belangrike politieke posisie wat hy inspan om nuwe woema aan die integrasie-denkrigting te gee. Dit doen hy veral deur middel van ’n koördineringsmeganisme met die presidente van Argentinië en Brasilië, waarin die drie belangrikste ekonomieë van Suid-Amerika verteenwoordig word. ’n Eerste gevolg hiervan is dat sektorale ontmoetings tussen ministers van energie, maatskaplike beleid en ekonomie aangemoedig word. Verskeie ooreenkomste word op handels-, energie- en selfs militêre gebied onderteken. Om maar een voorbeeld te noem: Chávez kondig in 2004 aan dat Venezuela, wat vir sy oliebedryf goedere en dienste ter waarde van 5 miljard dollar uit die VSA invoer, voortaan 25% van dié aankope in Argentinië en Brasilië sal doen. Sodoende, en hoewel hulle opsies aansienlik van sy radikale benadering verskil, slaag hy daarin om van dié twee lande geleentheidsbondgenote te maak. Einde 2005 word Venezuela ’n volwaardige lid van Mercosur, terwyl die organisasie se algemene koördineerder, die Argentyn Cacho Alvarez, ná die verkiesingsoorwinning van Evo Morales voorstel dat Bolivia onder dieselfde voorwaardes toegelaat word. Só begin die tweeledigheid geleidelik vervaag tussen Mercosur en die Suid-Amerikaanse Gemeenskap van Nasies wat op 8 Desember 2004 op Brasiliaanse inisiatief in Cuzco (Peru) die lig sien, en waaroor Kirchner se regering voorbehoude gekoester het, aangesien hulle eerder sou sien dat Mercosur uitgebrei word (2). Dit is tydens dié beraad in Cuzco dat Chávez, in sy beeldryke taal, die volgende riglyn voorstel: “Die politiek as lokomotief, die maatskaplike as vlag, die ekonomie as spoorlyn en kultuur as brandstof”. Terselfdertyd vermenigvuldig Caracas sektorale inisiatiewe en ontwikkel hy ’n strategiese alliansie-inisiatief met Kuba: die Boliviaanse Alliansie vir die Amerikas (ALBA) (3). In die dokument wat in April 2005 in Havana onderteken word, sit die Kubaanse en Venezolaanse regerings ’n sterker vorm van integrasie op tou tussen ekonomieë wat reeds oor ’n hoër vlak van politieke identifikasie beskik. Die bal word aan die rol gesit met Chávez se aankondiging tydens die Maatskaplike Wêreldforum in Porto Alegre, in Januarie 2005, dat sy regering se handeling deel uitmaak van wat hy bestempel as die “sosialisme van die 21ste eeu”. ALBA is ’n integrasieprojek wat berus op meganismes wat “koöperatiewe voordele” in die plek wil stel van die sogenaamde “komparatiewe voordele” wat ’n refrein van die internasionale handel se liberale teorieë geword het. Koöperatiewe voordele is daarop gemik om die bestaande ongelykhede tussen lande in die halfrond te verminder. Dit is gebaseer op kompensasiemeganismes om die verskille tussen die onderskeie lande se ontwikkelingsvlakke reg te stel. ALBA is bedoel as lynregte teenwig vir ALCA. Alle ekonomiese en maatskaplike spelers – koöperasies, nasionale maatskappye, klein, middelslag en groot privaatondernemings – word betrek, en voorrang word gegee aan die oplos van die onderskeie bevolkings se belangrikste kwelpunte: voedsel, behuising, nywerheidskepping, omgewingsbewaring. ALCA, daarenteen, tref geen onderskeid tussen klein en groot nasies, tussen lande met of sonder natuurlike, finansiële, energie- of ander hulpbronne nie, en versterk sodoende die stukrag wat die sterkstes – in dié geval die VSA – laat wen. Daarby gee ALCA te kenne dat hy kriteria van regsveiligheid toepas wat tot die voordeel van groot transnasionale firmas strek, sonder om hom in die minste oor hulp aan die swakste lande te kwel. In ALBA is daar nie sprake van subsidies nie, maar wel van krediet, voorrade en tegnologieë vir maatskappye waarvan die eienaars afstand gedoen het en wat deur hulle werknemers oorgeneem is; vir koöperasies en gemeenskappe van klein produsente – of dit dan nou in die nywerheid, die handel of dienste is; en vir openbare maatskappye. ALBA ontvang hulp van die onderskeie lande in die vorm van krediet, tegniese en regshulp, bemarking en internasionale handel, terwyl ALCA vrye teuels gee aan die oorheersende magte in die mark en aan groot ekonomiese agente se finansiële vermoëns. In April 2005 is tientalle ooreenkomste tussen Caracas en Havana onderteken, gebaseer op ’n “strategiese plan wat daarop gemik is om die voordeligste produktiewe komplementariteit te waarborg in terme van rasionalisering, die gebruik van bestaande voordele aan beide kante, ’n ekonomiese bestuur van hulpbronne, uitbreiding van nuttige werksgeleenthede, toegang tot die markte, of enige ander oorweging gebaseer op ware solidariteit wat beide lande se sterkte ten volste benut”. Op dié tydstip is besluit om 600 volledige sentrums vir mediese diagnose, 600 klinieke en 35 hoëtegnologiesentrums in Venezuela te skep ten einde die totale Venezolaanse bevolking van gratis toegang tot mediese sorg te voorsien. Kuba besluit ook om 40 000 dokters en 5 000 vakkundiges in mediese tegnologie in Latyns-Amerika op te lei, asook 10 000 Venezolaanse dokters en verpleërs. “Operasie wonderwerk” word ook voortgesit, wat reeds aan duisende Venezolaanse hulle sig terugbesorg het ná ´n geringe operasie (verwydering van katarakte) wat in Kuba uitgevoer word. Hulle getalle trek al by die 100 000. Venezuela besluit op sy beurt om ’n takkantoor van sy nasionale oliemaatskappy PDVSA in Havana oop te maak, asook ’n tak van die Banco Industrial de Venezuela. Die twee regerings staan wedersydse tariefvoordele aan mekaar toe vir hulle onderlinge handelstransaksies. Kuba besluit om Venezolaanse produkte ter waarde van 412 miljoen dollar aan te skaf, wat tot die skepping van tienduisende werksgeleenthede by sy bondgenoot behoort te lei, en terselfdertyd ’n inspuiting vir sy swak ekonomie sal wees. Hoewel hierdie “strategiese spil” tussen Caracas en Havana kritiek ontlok in konserwatiewe sektore wat nie graag toesien dat Kuba uit sy isolasie breek nie, word die ontwikkeling van die gesondheidsbeleid, waaraan daar ’n drastiese tekort is, met groot belangstelling deur maatskaplike bewegings oor die ganse subkontinent heen dopgehou. Hierdie betrekkinge is ’n goeie voorbeeld van “regverdige” of “billike” handeldrywery: elke land lewer dit wat hy in die beste posisie is om te produseer, en in ruil daarvoor verkry hy dit wat hy nodig het, ongeag internasionale markpryse. So ’n benadering verskil radikaal van dié in bilaterale ooreenkomste wat Washington met lande in die halfrond onderteken – onder meer in Sentraal-Amerika, Chili, Uruguay, Peru en, binnekort, Colombia – wat neig om ongelykhede te verskerp, en wat die VSA, met sy beslissende oorwig, in staat stel om posisies te konsolideer wat al reeds struktureel tot sy voordeel strek. Selfs voordat hy op 22 Januarie vanjaar in La Paz tot sy amp toegetree het, het die nuwe Boliviaanse president, Evo Morales, in Havana en Caracas ’n buitelandse reis begin wat vir Bolivia die pad tot inlywing by ALBA sou kon oopmaak. Kuba het onderneem om die chirurgiese dienste wat reeds in Venezuela verskaf word, na dié land toe uit te brei, en Caracas sal die uitreiking van identiteitsdokumente aan alle Boliviane finansier. Terselfdertyd is die maatskappy Petro-Caribe op die been gebring, wat aan 11 Karibiese lande energiebronne teen verlaagde pryse en met toeskietlike betaalvoorwaardes sal verskaf. Met hierdie inisiatief stel Chávez se regering ander regerings in die streek in staat om olieprysskommelinge en -stygings op die wêreldmark die hoof te bied, terwyl dit ook deels die druk verlig wat Washington uitoefen om bilaterale ooreenkomste op hulle af te dwing wat hulle afhanklikheid van die Amerikaanse ekonomie vererger. Hoewel dit nog maar in sy wordingsfase is, en sonder om sy sukses vooruit te loop, verteenwoordig ALBA die mees ambisieuse integrasieprojek op streeksvlak om aan die marklogika te ontsnap. Maar aan struikelblokke ontbreek dit nie. Daar moet ook rekening gehou word met lande soos Argentinië, Brasilië en Uruguay, waarskynlik Mexiko en dalk ook Peru. En dít in ’n konteks van heelwat beperkter ideologiese en ekonomiese nabyheid. Hierdie lande se ekonomieë word oorheers deur multinasionale maatskappye wat aansienlik meer belangstel in die bewaring van hulle aandele in die uitvoermark na die VSA en Europa as in ’n soort integrasie wat hulle dalk hierdie afsetgebiede mag ontneem. Die presidente van dié nasies ondervind selfs veel groter probleme om vooruit te beweeg binne die aansienlik minder ambisieuse raamwerke van Mercosur. Hiervan getuig talle konflikte tussen die bestuursektore in Brasilië en Argentinië, wat hierdie integrasieproses saboteer in weerwil van die twee betrokke regerings se posisies. In werklikheid kan ALBA slegs gestalte vind tussen regerings wat vasbeslote is om ’n strategiese projek vir groot interne, strukturele transformasies te ontwikkel, in so ’n mate dat die besluite wat hulle neem, die ekonomie van hulle land daadwerklik betrek. Op ’n tydstip dat Latyns-Amerika die mees gunstige politieke situasie op linkerhand beleef sedert die middel van die vorige eeu, kies ALBA die opsie van ’n strategiese bondgenootskap tussen lande op die vasteland. Ander inisiatiewe – Petrosur (’n Suid-Amerikaanse oliemaatskappy), Telesur (’n televisiekanaal wat Latyns-Amerikaanse nuus verskaf) – stel projekte daar wat komplementariteit tussen die lande aanmoedig, en sodoende die swakstes bevoordeel en die algehele ekonomie van die subkontinent versterk.
_________ (1) Met lidlande soos Bolivia, Chili (1996), Peru (2003), gevolg deur Colombia, Ecuador en Venezuela (2004). (2) Die Suid-Amerikaanse Gemeenskap van Nasies is ’n samesmelting van Mercosur en die Andiese Verdrag, en bestaan uit Argentinië, Bolivia, Brasilië, Colombia, Chili, Ecuador, Guyana, Paraguay, Peru, Suriname, Uruguay en Venezuela. (3) Die woord “alba” in Spaans beteken “daeraad”.
|