blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


Le Monde diplomatique: Katalaans: ’n Taal wat die demokrasie verdiep 2006-02-15
Victor Gómez Pin

*Professor aan die Outonome Universiteit van Barcelona

**Uit die Frans vertaal deur Sonya van Schalkwyk-Barrois, [email protected] Hierdie artikel het verskyn in ´n bylaag oor Katalonië by Le Monde diplomatique van Januarie 2006


Vir ’n Europese waarnemer in die algemeen en ’n Franse een in die besonder is die beeld van Katalonië binne Spanje iets vreemds. ’n Mens weet min of meer dat sy kulturele en veral taalspesifisiteite hom kwalik as maar net nog ’n streek kan laat deurgaan, soos wat die amptelike beleid van die Franco-jare gedoen het. Hierdie spesifisiteite kom ’n ver pad. Reeds ’n eeu gelede het die plaaslike burgerstand die Katalaanse vertaling van klassieke werke geborg, die stad van Barcelona hervorm tot ’n avant-garde plek vir artistieke gebeure – argitektonies, beeldend en musikaal. Kortom, hulle het Katalonië deel gemaak van die beeld wat ’n bepaalde Europa van homself het. Dit was moontlik omdat die maatskaplike grondslae dit toegelaat het. Maar Katalonië het skynbaar ontkom aan die swaarmoedigheid, wat aan melankolie grens, wat Spanje oorval het as gevolg van sy ekonomiese en militêre verval en sy randstatus binne die Europese kultuur. ’n Grondliggend landelike Spanje – met uitsonderings soos die Baskiese streek – wat herinner aan iets uit Antonio Machado se verse waarin hy Kastilië beskryf: oorgegee aan die ellende, gister se oorheerser, toegedraai in sy vodde en agterdogtig jeens alles wat hy nie ken nie.

Katalonië se kulturele andersheid lei in die Republiekjare tot wetlike erkenning wat gestalte kry in die status wat aan hom gegee word, net soos aan die Baskiese streek en Galisië. Toe kom die burgeroorlog en die skadujare onder Franco. In die afwesigheid van ’n pakt met die nuwe bewind – in weerwil van die sameswering van ’n groot gedeelte van die Katalaanse burgerstand wat aan ’n soort gespletenheid ly tussen sy ekonomiese belange en dit wat die Franco-ideologie op kulturele vlak verteenwoordig, word alle fasette wat hom kenmerk die teiken van onverpoosde vervolging. In die praktyk word die Katalaanse taal van alle amptelike gebruik uitgesluit en raak dit tot die huislike sfeer beperk. Al elemente van die kultuur wat verdra word, is dié wat na die volkse register gekanaliseer kan word, soos tradisionele dans en musiek, wat in amptelike propaganda en streeksgeleenthede in die verenigde Spanje die stempel van goedkeuring kry.

Daarnaas, op die ekonomiese terrein, hou Katalonië aan met ontwikkel, wat die maatskaplike kloof wat dit van die res van die land skei, beklemtoon. In die 1950’s, met die Franco-regering volledig gekonsolideer, begin die kinders van landelike Spanje uitwyk na die industriële gebiede in die Noorde, veral Katalonië en die Baskiese streek. Hier sien ’n mens ’n kulturele botsing soortgelyk aan wat terselfdertyd plaasvind in die Italië wat so roerend in Luchini Visconti se films uitgebeeld word. Tussen Almería en Barcelona is daar dieselfde ekonomiese en kulturele gaping as tussen die mezzogiorno van La terra trema en die industriële Milaan van Rocco et ses frères, met daarby ’n taalverskil wat deurslaggewend sou word.

In Katalonië word die Mediterreense emigrante onvermydelik slagoffers van die soort ergerlikhede waaraan produserende Europa die kinders van landelike Europa onderwerp – teistering wat ons vandag dikwels sien in die verhouding tussen burgers van die Unie en dié van Suid van die Middellandse See. Maar in die destydse Katalonië kry dié minagting, opgesom in die term charnego, ’n teenvoeter in die feit dat die instromende Kastiliaanstalige immigrante – onder die manipulasie van Franco se beleid – objektief gesien die kans verskraal dat die Katalaanse taal en kultuur sy verlore maatskaplike teenwoordigheid sal herwin.

Gevolglik tree die boorlinge van die res van Spanje, wat tegelyk geminag word weens hulle ekonomies haglike toestand én die kleed van verdrukkers dra, na vore as instrumente van die kulturele onderdrukking van ’n ganse volk. ’n Konkrete offensief – waarvoor die regime in die laaste instansie verantwoordelik is – wat noodwendig ’n diep letsel op die siel van die slagoffers laat.

Maar dié wat op ’n tydstip in Katalonië “die ander Katalane” genoem is – en die benaming “Katalane” moet onderstreep word, want dit is ’n eerste poging tot versoening – kon een feit nie miskyk nie: die Katalaanssprekende bevolking het weerstand gebied bloot deur op talle fronte te veg vir die herstel van die politieke toestande wat noodsaaklik was, nie vir die opbloei van sy kultuur nie, maar vir die oorlewing daarvan. Só word die algemene stryd in Spanje teen die Francoïsme hier gesekondeer deur ’n ware dialektiek wat wil keer dat ’n gemeenskap in twee skeur.

Vir baie was dit onontbeerlik dat die burgers van Spanje die saak van die volle herwinning van die Katalaanse taal en in die algemeen kultuur, hulle eie maak. Hierdie oopmaak na die siel van die ander, beginnende by sy taal, het veel verder gegaan – nie net in Katalonië nie, maar ook in die Baskiese streek – as bloot die kwessie of Katalonië se nasionale identiteit aanvaar moes word of nie. Daar is in werklikheid rede om te glo dat die dood van ’n taal iets baie meer konkreets, meer tragies is as dié van ’n abstraksie soos wat ’n staat of ’n vaderland dikwels verteenwoordig. Want tale in hulle verskeidenheid het iets met mekaar gemeen: die dubbelsinnigheid en willekeurigheid van die taalregister, die feit dat dit nie ’n nabootsing van die werklikheid is nie, kortom, die feit dat ’n taal ligjare verwyderd is van ’n blote kode bestaande uit tekens. Vandaar dié teenstrydigheid: tale is salva veritate onderling vervangbaar; en tog, in ’n sekere sin, wanneer een van hulle verdwyn, is dit of taal self sterf, soos dit die geval is met mense, omdat daar geen mensheid is sonder indiwidue nie.

Waar dit twintig jaar gelede nie gelyk het of die herstel van die Katalaanse taal en kultuur ervaar is as ’n negering van algemene, volkome legitieme waardes verbonde aan ’n sekere beeld van Spanje nie, wil dit vandag voorkom of ons agteruit beweeg het. Twee jaar gelede het mnr. José María Aznar, die destydse regeringshoof, die werkgewersklas gemaan om saam te werk ter bewaring van Spaanse eenheid. Aangesien dit niemand se begeerte was om die eenheid van die mark te ondermyn nie – ’n saak waarvoor sakelui veral gevoelig is – het dit iets anders verdoesel.

Die gewaande vrees vir verlies aan gedeelde verwysings op kulturele en simboliese vlak het weer sy kop uitgesteek. En nie slegs onder Spaanse nasionalistiese regsgesindes nie: in pas met mnr. Aznar se uitlatings gee die sosialistiese voorsitter van die outonome gemeenskap van Estremadure in ’n meningsartikel te kenne dat die moontlike soewereiniteit van die Baskiese streek of van Katalonië onaanvaarbaar is, nie net om historiese nie, maar ook om “sentimentele” redes (sic). ’n Verbasende term uit die mond van ’n politieke leier.

Die manifestering van politieke, kulturele en taalidentiteit komende van die burgers van ’n gemeenskap sou dan ontoelaatbaar wees omdat dit ons “gevoelens” aanstoot gee. Gaan dit nie eerder oor ons griewe nie? Laasgenoemde ontstaan nie uit die niet nie. Daar is oorsake wat dit bepaal, en twee kante wat dit lewend hou. As voorbeeld kan ons die betreurenswaardige debat rondom die Frankfortse Boekeskou neem, waar ’n kulturele beampte ’n uitstalling van Katalonië beoog het wat uitsluitlik uit die werke van Katalaanstalige skrywers sou bestaan. ’n Poging om die hardnekkige werklikheid te ontwyk, daar ’n beduidende aantal boeke deur Katalaanse skrywers in Spaans geskryf word.

Maar soms word so ’n ontoelaatbaarheid aan die kaak gestel as ’n verskoning om nie te moet erken dat in die Barcelona van vandag, die Katalaanse taal op geen praktiese gebied ’n bedreiging vir Spaans inhou nie. Dit is opmerklik dat sommiges heeltemal bereid is om regstellende regulasies te aanvaar waar dit om vroue se deelname in regering gaan, en nietemin tot op hede oordrewe versigtig is om dieselfde logika te aanvaar met betrekking tot tale wat, indien ’n mens hulle aan die wet van die taalmark oorlaat, uiteindelik sal wegkwyn. Dit is nie noodwendig die geval met Katalaans nie, maar wel met Euskera. Laat ons nie doekies omdraai nie: afgesien van enige ideologie of edele sentimente maak die objektiewe posisie van die Spaanse taal – en die kultuur wat dit met hom saamdra – dit onmoontlik dat die kleiner tale in Spanje dit sal uitrangeer.

Ver van Francoïsme, behoort dit moontlik te wees om ’n versoenbaarheidsooreenkoms tussen die Katalaanse kultuur – en in die eerste instansie sy taal – dié van Spanjaarde uit ander streke, en dié van nuwe immigrante, wat ook hulle eie kulturele uitdrukkingsvorme het, in die vooruitsig te stel. Dan sal ons in ’n posisie wees om ander kwessies wat skynbaar ewig uitgestel word, aan te roer – tensy iemand by die teendeel sou baat. Soos ons weet, is dit dié wat hulle eie vraagstukke afdwing wat in ’n sin die wêreld se gang uitstippel. ’n Artikel in die Katalaanse wet bepaal dat Katalaans die taal eie aan Katalonië is, en voeg by dat “dieselfde vir Kastiliaans geld”. Dit gaan nie daarom om die bewoording te verander nie, maar om toe te sien dat in wese, as ons aan ware demokratiese waardes getrou wil bly, die ander taal beide in Katalonië én in Spanje minstens as eie taal gerespekteer word.



 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=472
Artikel nagegaan: Nee.
Indien die artikel se inhoud hierbo nie vertoon nie, sal dit mettertyd bygevoeg word wanneer die artikel nagegaan word.

    -