blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


Vandeesweek se Kommentaar: Afrikaanse Universiteite 2004-10-08

Die kwessie van Afrikaanse universiteite is een van daardie aangeleenthede waar die spanning tussen twee moontlike sienings van Suid-Afrika van tyd tot tyd blootgelê word. Volgens die een siening moet ras en nasionale eenheid die riglyn vir ons politiek wees; volgens die ander siening moet taal en 'n balans tussen eenheid en verskeidenheid die riglyn wees. Diegene wat hulle beywer vir eentalige Engelse universiteite beroep hulle op die eerste siening, terwyl diegene wat hulle vir meertalige universiteite beywer, hulle op die tweede siening beroep.

Pas weer is hierdie spanning gede monstreer in 'n briefwisseling tussen die voorsitter van Vryheidsfront Plus en adjunkvoorsitter van die studenteraad aan die Universiteit van Pretoria (UP), mnr. Cornelius Janse van Rensburg, en die minister van onderwys, mev. Naledi Pandor, waaroor verslag gedoen is in Rapport van Sondag 3 Oktober.

Van Rensburg het 'n me morandum oor die beweerde miskenning van Afrikaans aan UP aan Pandor oorhandig. Die me morandum is onderteken deur sowat 4 000 studente. In 'n brief aan Van Rensburg skryf Pandor dat sy met die rektore van “eertydse” Afrikaanse universiteite gaan praat oor die stelselmatige agteruitgang van Afrikaans op kampusse, en oor strategieë “wat in die behoeftes van Afrikaanssprekendes voorsien en wat verseker dat die onderrigtaal nie 'n hindernis vir groter toeganklikheid en die sukses van studente is nie”.

Van Rensburg en sy medestudente se optrede sluit aan by die siening van Suid-Afrika as diverse land waar taal die riglyn is, terwyl Pandor se antwoord aansluit by die siening van Suid-Afrika as eenheidsland waar ras die riglyn is, en waar geen rassegroepe op grond van taal uitgesluit mag word van onderwys nie.

Dié jongste gebeure oor Afrikaanse universiteite vorm deel van 'n lang proses wat herlei kan word na veral die gebrek aan politieke wil om hierdie kwessie in die jare voor en na 1994 behoorlik te skik.

In die eerste plek is die kwessie van Afrikaanse universiteite een van daardie gebakte pere waarmee ons nou sit omdat taal tot op die laaste gelaat is in die grondwetlike onderhandelinge voor 1994, en daar toe ter elfder ure besluit is op die aanvaarding van elf amptelike tale, wat simbolies mooi klink, maar prakties ramspoedig is sonder minstens bykomende reëlings oor taal op streeksvlak.

In die tweede plek het redaksielede van Die Vrye Afrikaan herhaaldelik verneem van minstens twee geleenthede waar oud-president Nelson Mandela rektore van “eertydse” Afrikaanse universiteite gevra het of hulle spesiale maatreëls wil sien om Afrikaans se behoud as universiteitstaal te verseker. Klaarblyklik kon dié rektore nie gou genoeg Mandela se aanbod van die hand wys nie.

In 1998 het die universiteite van Potchefstroom en Stellenbosch aangedui dat hulle bereid is om verantwoordelikheid vir Afrikaans te neem, maar minstens UP het hulle hierteen verset. Op sy beurt het die Randse Afrikaanse Universiteit (RAU) en die Universiteit van die Vrystaat (UVS) op eie koste reëlings vir parallelmediu monderrig ingestel.

In 2001 het die FAK se Aksie Hoër Onderwys (AHO) ook voorstelle vir die behoud van Afrikaans as universiteitstaal ingedien by die komitee wat die regering onder voorsitterskap van prof. Jakes Gerwel oor die kwessie aangestel het. Hoewel dié komitee aanbeveel het dat twee universiteite vir Afrikaans verantwoordelikheid neem, en dat die ander inheemse tale aan die ander universiteite ontwikkel word, het daar sedertdien min hiervan gekom.

Waar staan sake vandag? RAU en Potchefstroom bestaan in feite nie meer as aparte instellings nie, en gaan onder verdere verengelsingsdruk in hul nuwe instellings kom, onderskeidelik die University of Johannesburg en die University of the North-West. Die UVS stry klaarblyklik 'n moedige stryd en slaag daarin om Afrikaans met groot moeite vir die personeel en sonder enige staatsteun nog met parallelmediu monderrig te handhaaf. Aan die Universiteit van Stellenbosch is na hewige openbare druk sowat twee jaar gelede 'n beleid aanvaar waar Afrikaans die “ankertaal” van die instelling is, maar in feite is verengelsing op nagraadse vlak al redelik ver gevorder.

UP, as die ander groot “eertydse” Afrikaanse universiteit bevind hom miskien in die moeilikste posisie, in dié sin dat hy van die vyf Afrikaanse universiteite tot op hede die minste gedoen het om 'n volhoubare taalbeleid te ontwikkel. Openbare druk hieroor is ook meesal gesystap, en vae beroepe op markkragte het ook nie juis gehelp nie. Die feit van die saak is dat UP as, enersyds, 'n universiteit met histories 'n sterk invloei van Afrikaanse studente, en, andersyds, onder besondere groot druk uit regeringskringe om sy rassesamestelling meer “verteenwoordigend” te maak, homself tussen die duiwel van openbare Afrikaanse frustrasie en die diep, blou see van regeringsverwagtinge bevind. Om sake verder te vererger, is daar onder die huidige bestuur net so min aksie hieroor as onder die vorige bestuur. Aan die anderkant is daar gelukkig tekens dat die huidige rektor betreklik gevoelig is oor Afrikaans.

Nie–Afrikaanssprekende studente was die afgelope jare besonder luidrugtig en militant in hul eise rondom taal, en dit is veelseggend dat minister Pandor wel op mnr. Van Rensburg en sy medestudente reageer het. Soos die ervaring nou al geleer het, gaan die regering of die burokrate niks doen as hulle nie met burgerlike druk daartoe beweeg word nie.

Dit is verstaanbaar dat nie-Afrikaanssprekende studente wat in die eerste plek nie in hul moedertaal skoolgegaan het nie, maar wel in Engels, min begrip sal hê vir die historiese taalopset aan UP, net soos dit verstaanbaar is dat Afrikaanse studente wat wel in Afrikaans skoolgegaan het soos hul voorgangers aan UP in Afrikaans wil studeer. Die twee kante kan bymekaar gebring word as die nodige leierskap uit regerings- en universiteitsgeledere daarvoor gegee word, maar dit gaan nie gebeur as Afrikaanse ouers, studente en alumni nie ook druk toepas nie. As daar ooit 'n tydstip was waarop burgerlike aksie aan UP uit die Afrikaanse wêreld nodig is, veral vanuit die geledere van alumni, is dit nou.


 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=32
Artikel nagegaan:
    -