| ||||
Ampie Coetzee Deur Ampie Coetzee Ek wil graag 'n paar woorde sê oor ons nuwe 10-jaaroue konsep: veeltaligheid – en dan ook oor moedertaalonderrig. Wie is dit wat die meeste praat en pleit vir veeltaligheid en moedertaalonderrig? Nie Afrikaanses of Afrikaanssprekendes nie – maar Afrikaners. Hoekom? Johann Rossouw het by die Taalberaad o.a. gesê: 'As die Afrikaner uit Afrikaans gehaal word, sal die taal sterf' en verder ' ...as die taal se swart en bruin skakerings nie erken word nie, sal sy stagneer'. Oor die tweede stelling sou ek wou sê: deur wie erken word? Maar ek gaan nie daarop in nie. Dit gaan vir my daarom dat Afrikaners veeltaligheid 'n realiteit wil maak, omdat as dit nie gebeur nie, sal Afrikaans doodgaan. Om Afrikaans te red, moet ons dus beklemtoon dat die nege ander Afrikatale gelyke status verkry, ook as moedertaalonderrigtale. Maar ek het nog nie gehoor van gepolitiseerde taalaktiviste in hierdie tale wat enigsins voorop staan in hierdie strewe nie. En dit moet gepolitiseerd wees. (As u weet daarvan, lig my asseblief in.) Neville Alexander sê wel die 'eerste Suid-Afrikaanse taalbeweging is gebore'. Nou word 'n nuwe konstruk ook geskep. Die enigste taalbeweging wat hierdie land ooit gesien het, het in 1875 met Afrikaans begin, en dit duur vandag nog voort. Want ons Afrikaners is mos skuldig. 'Mea culpa, mea maxima culpa'. Aktiviste sal eerder Engels praat en Afrikaans afmaak oor die verlede. Soos byvoorbeeld Jon Qwelane in sy rubriek in die Sunday Sun van 27 Aug. 2004. (Mampoer anthem pain in the ear) Afrikaans word kwalik geneem dat dit nog bestaan. Maar ek wil nie verder hieroor praat nie. Dis net om aan te dui wat die houdings teenoor Afrikaans kan wees. En ook Afrikaanses voel 'Apartheid werk nog in op taaldebat'. So redeneer Annie Olivier in haar Forum-stuk oor die Taalberaad (Die Burger, 4 Sept. 2004). Ek wil nie veeltaligheid teenstaan nie, want tale skep mense, en identiteit word gevorm deur taal. Maar as jy nie in jou moedertaal onderwys kry nie, en dit nie as taal geag word nie, en jy gedurig moet stry vir jou reg binne jou taal, gaan dit tog letsels laat. Dan ook: altyd kwaad word. Ek haal graag vir Carel Boshoff (iv) aan in 'n brief wat hy aan die poslys van die Groep van 63 op 31 Augustus gestuur het: ''n Politiek bewuste aktivisme hou ... rekening met die diepgesetelde sentiment dat om my taal te misken, dieselfde is as om myself te misken en om my taal te erken 'n voorwaarde vir my menswaardigheid is.’ Maar ek praat nie net van seerkry en menswaardigheid nie; ek praat ook en veral van kennisverwerwing, van kognisie. Ek vra my af: hoeveel weet politici en onderwysadministrateurs en die meeste rektore van universiteite werklik van taal? Vir die meeste is taal primêr 'n kommunikasiemiddel (goed of swak). Daar word nie besef dat taal nodig is vir denke, taal maak denke – en as jou taalvermoë belemmer word, sal jou denkvermoë beperk wees. 'n Laaste voorbeeld van waarvan ek praat: In Die Burger van 6 September is daar geskryf oor Kuruman wat gedwing word om Engelse leerders in te skryf . (Afrikaanse skole kry regshulp oor beleid). Engelstalig is die norm. 'n Afrikaanse gemeenskap mag nie sy eie Afrikaanse skole hê nie – net soos Asmal destyds in die hoër-onderwyswetgewing gesê het: daar sal nooit weer iets soos 'n 'Afrikaanse universiteit' bestaan nie. Veeltaligheid beteken doodgewoon: Engels. Die grootste onreg wat taalmanipuleerders en onderduimse voorstanders van een taal – nl. Engels – aan die mense in hierdie land kan doen, is om te peuter met hulle denkvorming. |