John Miles Deur John Miles *Hierdie lesing is gelewer tydens die FAK-paneelgesprek oor Afrikaners, Afrika en (tien jaar) demokrasie op Saterdag 18 September 2004
As daar ‘n kwessie is, begin by jouself. Al is dit ‘n ompad. Afrikaner/ Afrika/ Demokrasie. Swaarbelaste woorde. Terreine so snuifgetrap dat dit skaars meer deel van my aktiewe woordeskat is. Nie dat ek my nié met hierdie begrippe bemoei nie, maar as skrywer duik dit by my op in ander gedaantes. As persoon/ plek/ omstandigheid. Persoon: Soos Jan du Toit, Anna Diergaard... Plek: Soos Umtata, Bloemfontein, Kinshasa... Omstandigheid: Soos ‘n vakbond, koerant, hofsaak... Noodwendig geskied dit in ‘n spesifieke taal, soos Afrikaans, ‘n taal wat in vandag se globale wêreld maklik “etnies” genoem word. (Vgl die opmerking van Francis Bennett soos aangehaal in Die Burger van 26 Augustus 2004.) Gaaf, hoekom nie etnies nie? Word daar nie waarde toegevoeg as ‘n taal etnies is nie? Want taal is nie slegs instrument van kommunikasie nie, dit moet jou intiemste omgang met bestaan verseker en in geen ander taal weet ek van die skilpadbessiebos, bosganna en bontrokkie soos in Afrikaans nie. Tegelykertyd die veronderstelling dat ek deur my klein taal die ganse globale wêreld kan benader. Afrikaner bring my by identiteit. Identiteit is jou bewussyn van die self. Jou persepsie van jouself. Hoe jy verkies om jou sigbaar te maak. Dis die omskrywing van jou naam. Iemand anders kan nie jou identiteit omskryf nie. Jy moet die vryheid hê om dit self te doen, ook die vryheid om jou identiteit te verander. En dié reg kom elke mede-burger toe, of hy hom Zulu wil noem of sy haar Suid-Afrikaans. (Selde noem mense hulleself Engels; Engels word so vanselfsprekend geag soos ‘n biologiese feit.) Daar is geen vaste stel waardes of kenmerke wat jou identiteit opmaak nie. Vir baie is geloof ‘n hoë prioriteit. Tydens Apartheid het ek baie dinge verloor, maar nooit my taalverbondenheid nie. Dekades lank noem ek myself nie Afrikaner nie, maar steeds Afrikaanssprekend. Dis my eerste sosiale groep. As iemand aandring op die term Afrikaner, dan is dit vir my heel eerste iemand wat Afrikaans praat. Afrika. Afrika is ‘n baie groot plek, vir my byna onhanteerbaar groot. Maar ek weet waar Afrika begin. Nie by Beitbrug nie, maar by Afrikaans. Deur my taal en mede-taliges gee ek my eerste tree in Afrika. Só word Afrika vanself deel van my identiteit. Afrikaans is nie wit nie en Afrikaans is nie swart nie. Om ‘n voorstander van Afrikaans te wees, beteken nie dat jy die waarde van ander tale ontken of die funksie van byvoorbeeld Engels minag nie. Maar om te meen Engels is voldoende om Afrikaan te wees, is pure wensdenkery. Meer as Engels is nodig. Om die inheemse tale van Afrika te geringskat, is om mense van hulle waardigheid te stroop, hulle te verklein tot gesiglose items. Demokrasie, tien jaar. Voor ons Suid-Afrika van sy probleme probeer skoondink, moet ons Afrikaans se huis in orde kry. Om voor die eie deur te vee, is ‘n geskikte vertrekpunt en nie verniet ‘n alledaagse idioom nie. Uit die koerantbesprekings wat op die onlangse Taalberaad gevolg het, lei ‘n mens af dat Afrikaans na tien jaar van demokrasie steeds ‘n verdeelde huis is. Ons moet na mekaar luister. Niemand anders sal dit vir ons doen nie. Hoekom bly ons ná tien jaar verstrik in ons persepsies van mekaar? Waarom hoor ons steeds ‘n versugting dat daar ook vir Afrikaanstaliges ‘n debat oor die verlede moet plaasvind, ‘n debat om onderlinge wantroue uit te klaar? Vir my beteken ‘n debat oor die verlede nie noodwendig ‘n letterlike gesprek nie, maar ‘n samespraak waarin verlede en toekoms mekaar ontmoet. Om sinvol oor die verlede te dink, word ‘n gesprek oor die toekoms met veral twee kwessies hoog op die agenda: rassisme en armoede. Van rassisme se growwe aantasting van menswaardigheid het Suid-Afrikaners meer as genoeg ervaring. Vandaar die bekommernis: Het die pleidooi vir ‘n nuwe solidariteit van alle Afrikaanssprekendes rondom ‘n nuwe taalbeweging nie weer verskuild die oogmerk van wit bevoorregting nie? As ek hierop nee antwoord, het dit weinig waarde. Indien die FAK met sy geskiedenis van 75 jaar dit doen en die antwoord in praktyk omskep, is dit betekenisvol. Dis die uitdaging aan alle organisasies soos die FAK om sonder voorbehoud te demonstreer dat solidariteit van alle Afrikaanssprekendes hoegenaamd geen voortsetting is van die rasbevoordeling van die verlede nie. Dat moedertaalskole nie steeds ‘n skans vir wit skole is nie. Armoede. Oor armoede kan ‘n mens nooit uitgepraat raak nie. Om jou beleid van geen bevoorregting uit te leef, sal jou vanself te staan bring voor die omvang van toenemende materiële verarming onder ons mede-Afrikaanstaliges. Dis waar die gesprek van die verlede, wat oor die toekoms handel, begin. Geen geringe uitdaging vir die burgerlike samelewing nie. Wat my hoop gee is die manier waarop die FAK hulle 75-jarige bestaan wil gedenk deur die oprigting van Die Vrye Afrikaan. Wanneer dit kan gebeur, dan is daar lewe na die dood. Minstens kan ons op ‘n sinvolle manier oor ons dilemma begin praat. |