| ||||
Deon Geldenhuys Deur Deon Geldenhuys Is dit werklik nodig dat Afrikaners, ‘n volle dekade nadat hulle politieke mag in Suid-Afrika prysgegee het, steeds hoef te besin – selfs te wroeg - oor hul plek en rol in Afrika? ‘n Plaaslike verhaaltjie bied dalk ‘n antwoord. ‘n Besoeker uit ‘n ander Afrikaland doen onlangs inkopies in Pretoria. Die Afrikaner-winkeleienaar kan aan die besoeker se aksent aflei hy’s van Nigerië. “Hou u van ons stad?” vra hy die besoeker. Die Nigeriër antwoord: “Ja, baie. En hou ú van ons vasteland?” In hierdie teenvraag lê ‘n moontlike rede vir die voortgesette besinning oor Afrika en Afrikaners. Hou Afrikaners van Afrika? Meer pertinent gestel: Hou wit Afrikaners van swart Afrika, waarby swart Suid-Afrika ingesluit is? Daar is steeds geen enkele of eenvoudige antwoord nie. Ons worstel steeds oor ons plek en rol in Afrika omdat ons ingesteldheid teenoor die swart vasteland so uiteenlopend is. Ek wil kortliks tussen sewe houdings onderskei. (i) Smekers. Hulle glo Afrikaners is weens hul sondige verlede uitgelewer aan die genade van die heersersklas in Suid-Afrika. Afrikaners moet steeds pleit om vergifnis en uit hul pad gaan om in die regering se goeie boekies te wees. Dieselfde kruiperige benadering word teenoor die res van Afrika ingeneem. (ii) Assimileerders. ‘n Handjievol Afrikaners voel klaarblyklik dat hulle slegs volledig boete kan doen oor die verlede, hul bona fides bewys en vir hulle ‘n plek in Suid-Afrika kan verseker as hulle so Afrikaan soos die “ware” Afrikane kan wees. Dit vereis die afsweer van enige etniese verbintenis ten gunste van “Afrikaan” wees en aansluiting by die politieke meerderheid soos deur die ANC verteenwoordig. Vir sommige navolgers van hierdie benadering is opportunisme eerder as oortuiging hul dryfveer; ander mag opreg glo dat kulturele assimilasie wenslik en onvermydelik is en dat ‘n nuwe gehomogeniseerde Suid-Afrikaanse kultuur met ‘n oorheersend Afrika-inslag moet ontwikkel. Afrika is immers vir die Afrikane. (iii) Presteerders. Volgens hulle lê Afrikaners se redding in hul dade; hulle moet hul toekoms hier verdien deur goeie werke. Hierdie beskouing kom tot uitdrukking in stellings oor die wesenlike bydrae wat Afrikaners tot die opheffing van hul swart landgenote en tot Afrika in die algemeen kan maak. Dis ‘n ingesteldheid wat deels gemotiveer word deur ‘n boetedoening vir die sondes van weleer, maar dit mag ook gemotiveer word deur die nood van Afrika. Afrikaners se reg op voortbestaan in Suid-Afrika en op die vasteland as geheel word oorgeteken aan die “meerderheid”: ons is net welkom hier solank ons prestasie na wense is. (iv) Altruïste. Hulle identifiseer volledig met die behoeftes van die histories benadeelde swart meerderheid en doen iets daadwerkliks om diesulkes se lot te verbeter. Dis ‘n benadering gedryf deur die hoogste waardes van onbaatsugtigheid, en spruit dikwels uit ‘n diep geloofsoortuiging. Iets hiervan het Afrikaner-sendelinge in Suid-Afrika en elders in Afrika geslagte reeds gemotiveer. (v) Geldmakers. Dis Afrikaner-sakelui wat Afrika beskou as ‘n ryk, grootliks onontginde mark. Hulle word gemotiveer, soos ondernemers elders, deur geld eerder as gewete of goeie bedoelings. (Tussen hakies, die ridders van die wêreld se tweede oudste professie - huursoldate - sou goed hierby inpas.) (vi) Euro-Afrikane. Soos Afro-Amerikaners trots is op hul Afrika-herkoms, is Euro-Afrikane trots op hul Europese erfenis en wil hulle kulturele bande met die Westerse wêreld uitbou. Eerder as om verskonend te wees oor hul historiese verbintenisse met Europa, beskou sulke Afrikaners hul “Europeesheid” as ‘n bate vir Suid-Afrika en die vasteland: in hierdie era van globalisering gee ons “Eerste Wêreldsheid” ons toegang tot ‘n deel van die wêreld wat polities, ekonomies, tegnologies en kultureel toonaangewend is. (vii) Afro-pessimiste. Soos baie Westerlinge, word Afrikaners ook deur Afro-pessimisme geteister. Behalwe dat hulle Afrika as’t ware afskryf, het Afro-pessimiste in eie geledere ook ernstige twyfel of daar in Suid-Afrika en in Afrika in die algemeen plek is vir wittes wat ‘n eie identiteit, verskillend van die inheemse meerderheid, wil behou. Ek wil my vervolgens by een van hierdie houdings bepaal. Om ‘n Euro-Afrikaan te wees, is in pas met twee groot, kompeterende kragte wat vandag in die wêreld vaardig is: globalisering en lokalisering. Globalisering, wat gekenmerk word deur die internasionale beweging van goedere, kapitaal, mense en idees, lei tot die groter eenwording van die wêreld in terme van die politiek, ekonomie, kommunikasie en selfs kultuur. Die mensdom word toenemend in ‘n gedeelde lot saamgebind binne ‘n enkele globale samelewing. Die draers of agente van globalisering sluit in internasionale organisasies soos die Verenigde Nasies, multinasionale maatskappye, internasionale nie-regeringsorganisasies, transnasionale bewegings (veral godsdienstig en ideologies) en etnonasionale bewegings, die internet en ook miljoene individue wat daagliks oor nasionale grense beweeg. Baie van hierdie groeperings vorm deel van die ontluikende globale burgerlike samelewing. Lokalisering, die teenoorgestelde van globalisering, beklemtoon lokale of nasionale eiesoortighede en belange, soos boerewors i.p.v. McDonald’s se hamburger; inheemse klere teenoor Amerikaanse handelsmerke, of Bollywood teenoor Hollywood. Lokalisering vra voorts dat sub-nasionale groepe soos kulturele minderhede, asook geografiese streke en selfs stede, regstreeks met die buitewêreld mag praat, nie net deur hul nasionale regering nie. Sulke entiteite wil juis regstreeks met die buitewêreld kommunikeer om hul eie belange beter te bevorder as wat die “sentrum” dit kan doen. ‘n Ander betekenis van lokalisering is die teenoorgestelde van sentralisering, en verwys veral na die afwenteling van politieke mag van sentrale na streeks- en plaaslike vlakke of na sub-nasionale gemeenskappe. Die essensie van die politieke dimensie van globalisering is demokrasie en menseregte. Demokrasie is ‘n gesagsvorm bestaande uit ‘n burgerlike regering wat populêr verkies word by wyse van gereelde vrye, mededingende verkiesings en gebaseer is op die erkenning van basiese menseregte. Alhoewel menseregte dikwels net met individuele politieke en burgerlike regte geassosieer word, is minderheidsregte part en deel van algemene menseregte. Volgens gegewens van die Verenigde Nasies, huisves die wêreld se bykans 200 state nagenoeg 5 000 etniese groepe. Twee-derdes van hierdie state het ten minste een substansiële minderheid, d.w.s ‘n etniese of godsdienstige groep wat ten minste 10% van die totale bevolking verteenwoordig. In baie lande eis minderheidsgroepe groter amptelike erkenning van hul regte. Waarom die wêreldwye aandrang op minderheidsregte? Die eenvoudige antwoord is dat minderhede deur die meerderheid of die regering benadeel of onderdruk word juis op grond van hul etniese andersoortigheid. Dis veral die geval in outoritêre state. Maar selfs demokrasieë kan deur minderhede beleef word as meerderheidsoorheersing waardeur hul belange geskaad word. Vandaar die aandrang op of voorsiening van minderheidsregte vir groepe soos die Tamils in Sri Lanka, Koerde in Turkye, die Katolieke in Noord-Ierland, die Baske in Spanje, Sami-gemeenskap in Finland en die Quebecers in Kanada. In onafhanklike Afrikastate was leiers omtrent deur die bank uiters onwillig om etniese minderhede amptelik te erken en vir hulle minderheidsregte soos kulturele en politieke outonomie te gun. Die vrees was dat dit die weg sou baan vir die afskeiding van minderheidsgroepe en dus die territoriale verbrokkeling van baie Afrikastate. Eerder as die beskerming van nasionale minderhede, het Afrikaleiers die weg van nasiebou gevolg; eenheid en selfs eenvormigheid is ten koste van verskeidenheid nagejaag. Dit het tipies met die onderdrukking van etniese identiteite gepaard gegaan. Die geskiedenis van die 20ste eeu leer egter dat die onderdrukking van kultuurgroepe tot weerstand lei, terwyl die erkenning van kulturele identiteite weer ernstige spanning kan verlig. Dis daarom veral Afrikastate wat ag behoort te slaan op die Human Development Report van 2004, onlangs vrygestel deur die Ontwikkelingsprogram van die Verenigde Nasies. Dit dra die insiggewende subtitel Cultural Liberty in Today’s Diverse World. Alhoewel die bevindinge en voorstelle in die verslag nie nuut is nie, behoort die VN se outeurskap te verseker dat dit wêreldwyd ernstige aandag sal kry. Wat meer is, die verslag bied interessante moontlikhede vir Afrikaners in hul interaksie met sowel ons eie regering as met ander Afrikastate. Volgens die verslag beleef die wêreld vandag die opkoms van identiteitspolitiek. Enersyds mobiliseer mense op alle vastelande rondom ou griewe wat saamval met etniese, godsdienstige, rasse- en kulturele skeidslyne. Hulle eis dat hul identiteite deur die breër samelewing erken, gerespekteer en geakkommodeer sal word. Andersyds het globalisering tot gevolg dat individue, gemeenskappe en state vrees dat hul plaaslike kulture verswelg word. Hulle wil hul eiesoortigheid in die globaliserende wêreld verseker. Hierdie twee tendense word aangevuur deur die verspreiding van demokrasie, wat aan “identiteits”-bewegings ruimte skep vir politieke protes. Globalisering bied mense groter geleenthede as ooit om internasionaal rondom ‘n kwessie te mobiliseer en die probleem aan die groot klok te hang. Dít, weer, is deel van die opkoms van ‘n globale burgerlike gemeenskap. Die VN se verslag waarsku dat as hierdie stryd om kulturele identiteit nie behoorlik hanteer word nie, dit ‘n ernstige bron van onstabiliteit binne en tussen state kan word en broodnodige ontwikkeling kan knou. Anders gestel, geen staat of die internasionale gemeenskap kan in hierdie era van globalisering dit bekostig om eise vir “kulturele vryheid” – die begrip wat die verslag verkies – te ignoreer nie. Kulturele vryheid is volgens die verslag ‘n basiese reg wat mense die vryheid gee om hul identiteite te kies en die soort lewe te lei wat hulle verkies – sonder om as gevolg daarvan benadeel te word t.o.v sake soos onderwys, gesondheid en werksgeleenthede. Multikulturele beleide is daarop gerig om kulturele vryheid te vergroot en die inperking van dié vryheid deur die meerderheid of dominante groep te bekamp. Dit vereis dat state in hul grondwette, ander wette en instellings uitdruklik erkenning gee aan kultuurverskille. ‘n Krities belangrike terrein waarop kulturele vryheid bevorder behoort te word, is politieke deelname. Die VN-verslag beveel hier ‘n multikulturele opvatting van demokrasie aan ten einde doeltreffende magsdeling tussen kultureel diverse groepe te verseker. Een moontlikheid is ‘n federale bedeling, soos in Maleisië, Spanje en Kanada; ‘n ander is selfregerende geografiese gebiede, soos vir die Inuïte in Kanada. Verdere beleidsareas waarin kulturele vryheid doelbewus deur state bevorder behoort te word, is volgens die verslag godsdiensvryheid, die regswese (om bv. voorsiening vir inheemse reg te maak), taal (bv. in die openbare sektor en onderwys) en op sosio-ekonomiese terrein (om ongelykheid t.o.v. bv. inkomste, onderwys en gesondheid uit te skakel). Aan die hand van die VN se Human Development Report vir 2004 wil ek ten slotte ‘n paar take aanstip wat Afrikaners in Suid-Afrika en elders op die vasteland sou kon verrig. Die Afrika-taak is eintlik die logiese verlengstuk van die binnelandse taak. Albei is gebaseer op die veronderstelling dat Afrikaners ‘n groep mense is met ‘n onderskeibare kulturele identiteit wat hulle graag wil bewaar, maar dit nie in isolasie kan of wil doen nie. Die take is daarom nommerpas vir die Euro-Afrikane onder ons, maar onvanpas vir die Afro-pessimiste, smekers, presteerders en assimileerders. Die eerste taak vir Afrikaners is om kulturele vryheid in Suid-Afrika te bevorder, nie net vir hul eie groep nie maar vir alle ander wat ook ‘n behoefte daaraan het. Dit beteken ons moet deeglik besin oor hoe kulturele vryheid ten beste in Suid-Afrika verseker kan word. Is daar voldoende maatreëls op politieke, taal, godsdienstige, juridiese en sosio-ekonomiese terreine om Afrikaners en ander etniese groepe genoegsame kulturele beweegruimte te gee? Die tweede taak is om kulturele vryheid elders in Afrika, spesifiek in demokratiese state, te probeer bevorder. Presies dieselfde vrae as t.o.v. ons eie situasie behoort oor die ander state gevra te word. Natuurlik is dit ‘n taak wat Afrikaners slegs in noue samewerking met kultuurgroepe elders in Afrika kan onderneem; daar mag geen sprake van voorskriftelikheid wees nie. Dis noodsaaklik dat so ‘n inisiatief bemark sal word as ‘n poging om die jong demokrasieë van Afrika te help konsolideer, mense te bemagtig en, soos die Human Development Report dit by herhaling stel, menslike ontwikkeling te bevorder. Dit sluit goed aan by president Thabo Mbeki se verbintenis tot die vestiging van ware en stabiele demokrasieë in Afrika as voorvereiste vir volhoubare menslike ontwikkeling. My voorstel behels beslis nie ‘n nuwe Afrikaner-imperialisme of ‘n slinkse verdeel-en-heers plan nie. In dié verband behoort dit vir die Afrikanerminderheidsgroep ‘n bate te wees dat hulle vrywillig van die politieke mag in Suid-Afrika afstand gedoen het en as groep nooit weer hier aan die mag sal kom nie. Saam met mede-Afrikane kan ons dan die geleenthede wat globalisering bied in terme van die universalisering van demokrasie en menseregte – met inbegrip van minderheidsregte – ontdek en ontgin. Sodoende kan ons saam probeer om ons onderskeie uniekhede – en dus die enorme rykdom van Afrika se menslike diversiteit – te bewaar. Dis ‘n oproep tot ‘n nuwe vryheidstryd, een wat gaan om kulturele vryheid in Suid-Afrika en Afrika. Derdens behoort die eerste twee take saam te val met nouer skakeling tussen die Afrikanergemeenskap en ander nasionale minderhede buite Afrika. Ons behoort aansluiting te vind by daardie komponent van die globale burgerlike samelewing wat hom bemoei met minderheidsregte. My vermoede is dat min van die betrokke organisasies in die buiteland bewus is of enige redelike begrip het van Afrikaners se strewe na kulturele vryheid. In hierdie era van globalisering staan ons nog heeltemal te eenkant. Ons behoort ons strewe na groter kulturele vryheid te internasionaliseer deur oordeelkundige kulturele diplomasie. Hierdie drie take is baie anders as dié soort wat dikwels deur Afrikaners vir hulself opgelê word – soos om hul landgenote en Afrikane elders te help paaie en brûe bou, besighede te bedryf of die landbou te ontwikkel. Natuurlik kan Afrikaners by sulke inisiatiewe betrokke raak, maar ek twyfel of ons dit op ‘n unieke “Afrikaner”-manier kan doen. Die take wat ek in gedagte het, lê – ten minste aanvanklik - meer op die intellektuele as die materiële vlak, van dink eerder as doen. En dis ‘n enorme uitdaging. Soos ‘n Duitse gesegde lui: “Denken ist die schwerste Arbeit die es gibt, Darum ist es bei vielen Menschen so unbeliebt”. Wanneer dit wel by uitvoering kom, behoort ons en ons mede-minderhede die bekende riglyn te volg van “doen lokaal, maar dink globaal”. |