| ||||
Danie Goosen Deur Danie Goosen Wat hieronder volg, is enkele opmerkings oor die toekoms. Dit is waarvoor ons vandag te staan gekom het, die noodsaak om ‘n visie vir die toekoms helder en duidelik te verwoord. Ons het die afgelope jare dikwels oor ‘n nuwe visie gesels, gedink en gedroom. Ons is ook nog nie by die punt waar ons aan die wêreld kan sê, ‘Kyk, hier is ons volledige visie nie.’ Nogtans het ons reuse treë vorentoe gegee. Ons kan nou ten minste sê, ‘Kyk, hierlangs loop die spore van ‘n groter droom vir ons en ons mense.’ En dit is natuurlik wonderlik.
Dit spreek bykans vanself: ‘n Mens moet ‘n behoorlike perspektief op die agtergrond kry om hoegenaamd die pad vorentoe te kan raaksien. Daaroor hoef ons ook nie lank te gesels nie. Ons het ook daaroor dikwels die afgelope jare met mekaar gesels. Maar die volgende opmerkings is tog nodig. As ‘n mens vra hoe Afrikaners die afgelope eeu hulle wêreld ingerig het, dan lui die eenvoudigste antwoord daarop: Dwarsoor die veelheid van belangrike datums die afgelope eeu - dit is vanaf 1902 en 1910 tot en met 1924, vanaf toe tot 1948 en 1961 en uiteindelik tot en met 1994 - het Afrikaners gepoog om hulself en hul wêreld in te rig aan die hand van die instrumente van die staat. Anders gestel, dwarsoor hierdie tydperk het ons gepoog om ons werklikheid vanuit die sentrum na ondertoe in te rig, te bestuur en te beheer. Dit was ook waar van die FAK. Vanaf ons vroegste oomblikke 75 jaar gelede het ons onsself ten nouste verbind aan die poging van Afrikaners om beheer oor die instrumente van die staat te verwerf. Die FAK het in die proses ook die sentrumsoekende denke eie aan die nasiestaat (die van-bo-na-onder doen en dink) sy eie gemaak. En soos baie ander dinge was ook dit deur dubbelsinnigheid gekenmerk, deur werklike grootsheid wat so tot stand gebring is, maar ook deur donker kante. Vandag lyk ons wêreld radikaal anders. Afrikaners se beheer oor die nasiestaat het in 1994 tot ‘n einde gekom. Afrikaners staan nie meer in die sentrum nie. Vorentoe sal ons ook anders moet dink en doen, nie vanuit die sentrum nie, maar vanuit die burgerlike wêreld. Daarmee sê ons nie dat Afrikaners nie ook vandag nog ‘n belangrike rol in die sentrum van die staat kan speel nie. Hulle kan dit inderdaad nog doen. Maar vanweë die radikale nuwe situasie het dit duidelik geword dat Afrikaners in den brede van onder af vir hulself sal moet intree. Ons visie vir die toekoms sal op hierdie sin vir verantwoordelikheid van onderaf moet bou. Dit is hier waar die FAK ‘n uiters belangrike rol in die toekoms kan speel. As die FAK in die verlede van bo na onder gedink en gedoen het, is sy uitdaging nou om van onder na bo toe te doen en te dink. Ons kan sê sy uitdaging in die toekoms is om nie vanuit die staat na die gemeenskappe te doen nie, maar andersom, vanaf die gemeenskappe na die staat toe. Dit impliseer ‘n heroriëntering weg van die sentrum na die burgerlike wêreld. En die burgerlike wêreld is ‘n wêreld waar ons nie langs partypolitieke lyne verdeel en soos in die verlede vanweë botsende partybelange met mekaar veg nie, maar waar ons juis gemeenskaplike dinge kan kultiveer. Laastens wat die agtergrond betref, dit is vir ons begrip van die situasie belangrik dat ons onsself nie vasstaar teen die gebeure van 1994 nie. 1994 is gewis nie die enigste rede waarom Afrikaners en ander gemeenskappe voortaan vanuit die gemeenskappe en van onderaf moet dink en doen nie. Die proses van globalisering is vanaf ten laatste die einde van die Koue Oorlog en dus reeds vanaf vóór 1994 besig om ons wêreld radikaal te hervorm. ‘n Oorheersende kenmerk van globalisering is die feit dat ons in twee dikwels uitsluitende wêrelde geplaas word, naamlik enersyds die sentrumsoekende magte (die groot nasiestate, die multinasionale korporasies, ensovoorts) en andersyds die magdom van plaaslike gemeenskappe. Dit is ondenkbaar om aan globalisering te dink sonder om te sê, ja, die groot state en die multinasionale korporasies speel dikwels ‘n konstruktiewe rol in die skep van ‘n post-Koue Oorlog wêreld. Maar hulle belange, wense en begeertes stem dikwels nie ooreen met dié van die duisende gemeenskappe dwarsoor die wêreld en ook nie met dié in Afrika nie. Daarom is dit ook ewe ondenkbaar om aan globalisering te dink sonder om kennis te neem van die nuwe rol wat plaaslike gemeenskappe vanuit die burgerlike wêreld reeds die afgelope dekade en meer begin speel het. Ons lewe in ‘n wêreld van groot state en finansiële magte, maar ook van aktiewe en demokratiese gemeenskappe. Dit lyk asof die geskiedenis homself al rondom die dialoog tussen dié twee kragte afspeel en dat dit in die dekades wat kom al hoe meer die geval sal wees. Dit is juis hier waar ons uitdaging as ‘n burgerlike forum lê: Om onsself vanuit die nuwe wêreld te verstaan en daarin as gemeenskap tussen en saam met ander gemeenskappe ‘n rol te speel. Wat natuurlik nie beteken dat die rol van die state en hul assosiate ontken word nie. Maar dat ons ons oriëntering neem vanuit onder, vanuit die gemeenskappe, vanuit die burgerlike wêreld.
As ‘n lewenskragtige burgerlike forum wat buiten ons gewone mense ook ons intellektuele, kunstenaars en musici kan aangryp, behoort ons ten nouste aansluiting te soek by die lotgevalle van die veelheid van gemeenskappe in Afrika in die algemeen en Suid-Afrika in die besonder. Hier vertolk ek die idioom wat ten grondslag van die eerste uitgawe van Die Vrye Afrikaan lê. As ‘n forum wat van onderaf en vanuit die gemeenskappe dink en doen, kan ons die idee van ‘n Afrika van selfrespekterende gemeenskappe vir onsself toeëien. En waar die belange van gemeenskappe deur die sentralistiese neigings van state, nuwe elites of welke ander krag ook al bedreig word, behoort ons in die naam van ‘n demokratiese gemeenskapslewe vir hulle en vir onsself in te tree. So ‘n Afrika, ‘n Afrika van selfrespekterende gemeenskappe, het onder meer die volgende dimensies, naamlik ‘n ekonomiese, ‘n regs-, ‘n politieke en ‘n kulturele dimensie. Hierdie dimensies verteenwoordig die hart van dié visie. Ons verwys kortliks na elkeen. 1. Die FAK kan ‘n lewenskragtige burgerlike forum wees vanwaar die visie van ekonomies selfrespekterende gemeenskappe uitgedra word. Ekonome soos prof. Johan van Zyl sê vandag dat die ekonomie wêreldwyd in twee wêrelde uiteenval, naamlik ‘n sogenaamde eerste en ‘n tweede ekonomie. Hy sê ook dat vir die afsienbare toekoms daar geen moontlikheid bestaan dat die tweede ekonomie in die eerste ekonomie opgeneem sal kan word nie. Om die waarheid te sê, die eerste ekonomie neem vanweë die veranderde aard van onder meer sy tegniese middele al hoe minder mense in diens. Daarmee sê Van Zyl nie dat ons van die eerste ekonomie moet afskeid neem nie. Maar wat die rol van gemeenskappe betref staan hulle voor die uitdaging om ekonomiese selfstandigheid op ‘n gemeenskapsgrondslag te verwesenlik. So kan miljoene mense weer in die toekoms ‘n sinvolle ekonomiese bestaan voer. Verskeie eksperimente dwarsoor die Derde Wêreld bevestig die lewensvatbaarheid daarvan. Die FAK kan ten nouste betrokke raak by die gesprek oor en die soeke na wyses waarop ekonomiese selfstandigheid onder arm Afrikaners en ander arm gemeenskappe ‘n praktiese werklikheid kan word. Ons visie is ‘n droom van ‘n Afrika van ekonomies selfrespekterende gemeenskappe. 2. Die FAK kan ‘n lewenskragtige burgerlike forum wees vanwaar die visie van ‘n vredevolle en geordende Afrika van gemeenskappe uitgedra word. Dit is vanselfsprekend: die staat het ‘n belangrike verantwoordelikheid in die handhawing van die reg. Maar vandag weet ons dat die geweld en misdaad in ons land ook en veral ‘n gevolg is van die druk waaraan die tradisionele gemeenskappe (maar ook die moderne gemeenskappe!) onderwerp word. Hier het ons te doen met ‘n vreemde paradoks. In die mate waarin die staat vanweë die verlies aan gesag van die gemeenskappe die regspleging in sy hande sentraliseer, in daardie mate word die gemeenskappe nog verder van hul betekenis gestroop. En so word die spiraal van misdaad ironies genoeg juis bevorder. Vanuit onder en vanuit die gemeenskappe beoordeel behoort ons die teenoorgestelde rigting te beklemtoon. Gegrond op die idee van selfrespekterende gemeenskappe is die skep van orde in die eerste plek die verantwoordelikheid van die gemeenskappe self. Eers die gemeenskappe en dan al die ander dinge van die staat. In hierdie verband kan die FAK saam met ander gemeenskapsforums ‘n rigtinggewende rol speel. Ons strewe ‘n vredevolle Afrika van selfrespekterende gemeenskappe na. 3. Maar op grond van die visie van ‘n Afrika van selfrespekterende gemeenskappe kan die FAK ook ‘n forum word vanwaar die idee van demokratiese selfstandigheid bevorder word. Ook wat die politieke toneel dwarsoor die wêreld betref word ons vandag, soos in die ekonomie, dikwels met ‘n skerp tweedeling gekonfronteer: Enersyds het ons te doen met die bundeling van politieke mag in die hande van die nasiestate en hul assosiate, andersyds met die betreklike onmag van die gemeenskappe. Die geskiedenis van die moderne nasiestaat staan as sodanig in die teken van die sentralisering van soewereiniteit eerder as die verspreiding daarvan oor die gemeenskappe. Post-koloniale Afrika is hiervan - ironies genoeg - ‘n goeie voorbeeld. Dekolonisering vanaf die middel van die vorige eeu het in Afrika dikwels gepaard gegaan met die sentralisering van mag in die hande van die nuwe bevryders, die nuwe elites van die nasiestaat. Dit het die magdom van plaaslike gemeenskappe in radikale vorme van onmag gedompel. As ‘n mens vra waar die demokratiese energie vandag in die wêreld aanwesig is, is dit ook en veral daar aanwesig waar gemeenskappe op ‘n demokratiese wyse inspraak in hul werklikheid verwerf. Goeie sentrale regering en deelname daaraan is ook vandag nog nodig. Ook vir Afrikaners. Maar gemeenskappe neem vandag wêreldwyd en in die era van globalisering ook van onderaf die inisiatief. Nie soseer vanuit die sentrale regerings, hul elites en partye nie, maar vanuit die gemeenskappe. Daar - by die gemeenskappe, van onderaf - lê die werklike demokratiese energie. Die FAK moet as burgerlike forum ‘n ruimte word waar die droom van ‘n Afrika van demokratiese gemeenskappe gekultiveer en wyses gesoek word waarop dit praktiese beslag kan kry. 4. Die droom van ‘n Afrika van selfstandige gemeenskappe is ook ‘n droom waarin die gemeenskappe hul kulturele miskenning afskud en waarin haar magdom tale, idiome en dialekte energiek groei en blom. Ons droom ook van ‘n Afrika van kultureel-energieke gemeenskappe. Die kulturele klem wat ek hier plaas, kan nie van bogenoemde dimensies van die visie geskei word nie, veral nie van die ekonomiese dimensie nie. Die Keniaanse skrywer, Ngugi wa’Thiongo het byvoorbeeld op ‘n oortuigende wyse die verband tussen ekonomie en die kultuur uitgewys. Ekonomie en kultuur het nie soos in die moderne gedagtewêreld niks met mekaar te doen nie (of soos in die ortodokse Marxisme is die kulturele nie maar net ‘n afskaduwing van ekonomiese kragte nie). Inteendeel, kultuur en ekonomie is wedersyds voorwaardes vir mekaar. Ekonomie en kultuur speel in op mekaar. Die punt is eenvoudig en word oor en oor deur navorsing bevestig: Daar waar moedertale ontwikkel word, daar groei die ekonomieë ook. Om dus te help skep aan ‘n Afrika van kultureel-selfrespekterende gemeenskappe is ook om te help skep aan ‘n Afrika van ekonomies-selfrespekterende gemeenskappe. Nog meer en in navolging van dieselfde Keniaanse skrywer: Deur deel te neem aan die skep van ‘n Afrika van kultureel-selfrespekterende gemeenskappe is ons ook besig om mee te doen aan die verwesenliking van ‘n egte post-koloniale wêreld. Ngugi se punt is weer eens eenvoudig: Deur hul gebruik van die ou koloniale tale bly die gemeenskappe (meestal nou vanweë hul elites se toeëiening van dié tale) steeds in ‘n toestand van kulturele en ekonomiese afhanklikheid. Die FAK moet met visie deelneem aan die burgerlike gemeenskapsinisiatiewe in Afrika om dié afhanklikheid in ‘n selfstandige lewe te vertaal. 5. Die droom van ‘n Afrika van selfrespekterende gemeenskappe is ‘n droom waarin die gemeenskappe hulself so ver as moontlik volgens hulle eie oordeel inrig, en nie volgens die voorskrifte van sentrale magte nie. In ou-ou en gerespekteerde demokratiese tradisies staan dit bekend as die beginsel van "subsidiariteit". Dit is ‘n droom wat sê dat die seggenskap oor die gemeenskappe soveel as moontlik by die gemeenskappe self moet lê. Eers dan het ons ‘n ware demokrasie. Ons droom terselfdertyd van ‘n Afrika waarin sy veelheid van gemeenskappe hande vat. In die era van globalisering speel groot state en multinasionale korporasies ‘n deurslaggewende rol om die wêreld volgens hulle beeld in te rig. En dikwels is dit ook goed so. Maar dikwels geskied dit nie volgens die wense van die gemeenskappe nie. Daarom verheug dit ons wanneer ons sien hoe gemeenskappe bondgenootskappe sluit om hierop te antwoord. Saam kan hulle ‘n Afrika skep waarin die gemeenskappe vry en sinvol kan lewe. Ten slotte, die FAK verbind geslagte nou reeds vir 75 jaar met ‘n vroeëre Afrikaanse wêreld. So skep die FAK kontinuïteit. Maar die FAK stel ons ook in staat om vandag nuut oor onsself en ons wêreld te droom. So kondig hy ook breuke aan. Hy verbind ons aan die verlede, maar hy stel ons ook vry vir die toekoms. Ons oproep aan die Afrikaanse wêreld en die talle gemeenskappe is eenvoudig: Kom ons antwoord met hoogste intensiteit ‘ja’ op die uitdaging waarvoor gemeenskappe vandag te staan gekom het. |