| ||||
mnr. P.J. Badenhorst Deur mnr. P.J. Badenhorst My verkiesing as voorsitter van die FAK by die September 1998 kongres in Bellville, het my onverhoeds gevang en was ‘n groot verrassing. Daar was egter nie baie tyd om my in die verkiesing te verheug nie, want gou was die sjokolade weg en het ek met die harde neut gesit. Hierdie neut was die opdrag wat die kongres van 1998 aan die destydse hoofbestuur van die FAK gegee het, naamlik om die FAK in die nuwe omgewing te posisioneer. Dit was vir die afgevaardigdes by daardie kongres duidelik dat die FAK in die ou gewaad nie aan die eise van die nuwe en veranderde omgewing sal kan voldoen nie. Vir twee jaar is daar deur ‘n strategiekomitee sowel as die dagbestuur volle aandag aan die opdrag bestee. Die produk van hierdie arbeid het voor die kongres van 2000 gedien. Nuwe statute is eenparig aanvaar wat drastiese veranderinge aangebring het waarvan die belangrikste die vervanging van die uitgebreide hoofbestuur van ongeveer 30 persone, deur ‘n direksie van 12 lede was, asook die omskepping van die FAK in ‘n netwerkmeganisme. Die taak vorentoe sou toegespits wees op die verspreiding van inligting aan lede-organisasies en die bespreking van aktuele sake. Die FAK het die inisieerder van oop gesprekke oor aktuele sake geword. Voorsiening is ook gemaak vir ‘n Forum vir Nasionale Leiers. Vandag, na vier jaar, kan ons terugkyk en probeer vasstel of ons suksesvol was en of ons daarin geslaag het om die FAK in die nuwe Suid-Afrika ‘n betekenisvolle rol te laat speel. Anders gestel, kon die FAK daarin slaag om in die nuwe omgewing reg te laat geskied aan sy hoofdoelstelling, naamlik die vestiging, samesnoering, handhawing en die bevordering van Afrikaner-belange en die handhawing en bevordering van die Afrikaanse taal en kultuur? Om die vraag te kan beantwoord sal dit nodig wees om die nuwe omgewing onder die loep te neem. Hoofkenmerk is die politieke verandering wat in 1994 plaasgevind het en wat die politieke mag uit die hande van die Afrikaner geneem het en saam daarmee die ineenstorting van die beleid van afsonderlike ontwikkeling. Laasgenoemde, wat voorsiening gemaak het vir afsonderlike en onafhanklike state, gesagstrukture en wetgewende vergaderings vir die verskillende volkere en bevolkingsgroepe van Suid-Afrika, was gesien as die alternatief vir die Westminster-regeringstelsel wat gebaseer is op een man, een stem en wat aan die wenner by die stembus alle mag gegee het. Die ineenstorting van die beleid van afsonderlike ontwikkeling is dus beleef as ‘n groot terugslag en het verwarring en onsekerheid op politieke gebied meegebring wat ook deurgewerk het na ander terreine, soos byvoorbeeld die kultuur. Ongelukkig het Afrikaners die kantlyn opgesoek, onbetrokke geraak en het ‘n totale gebrek aan belangstelling ontstaan. Die verdeeldheid in Afrikanergeledere wat reeds in die 1980’s kop uitgesteek het en wat meestal gegrond was op politieke ontevredenheid en geskille, duur voort en het selfs verdiep. Vir feitlik elke organisasie wat bestaan het, is ‘n alternatief geskep. Die taak van die FAK om saam te snoer, het feitlik onmoontlik geword. Die afskaling van Afrikaans deur veral die owerheid, maar ook deur die sakesektor het verdere verlamming veroorsaak. ‘n Soort van magtelose ontevredenheid het ontstaan. Die aftakeling van die begrip Afrikaner het aan die orde van die dag gekom. Die Afrikaner is beskuldig van en word verantwoordelik gehou vir feitlik elke swakheid en fout in die Suid-Afrikaanse samelewing. Die Afrikaner word selfs daarvan beskuldig dat hy te lank Afrikaans gemonopoliseer het. Daar is weinig erkenning vir die inisiatief wat aan die dag gelê is en vir infrastrukture wat geskep is. Leiers van die verlede word blootgestel aan hewige en dikwels onregverdige en onbillike kritiek. Die toename in geweldsmisdaad het die maatskaplike lewe in Suid-Afrika geruk en onveilig gemaak. Plaasmoorde veral het ‘n uiters nadelige uitwerking op die geestestoestand van die Afrikaner gehad. Die lewe in woongebiede het onveilig geword. Vuurwapengeweld in die Kaapse Metropool regverdig, volgens ‘n kenner, ‘n noodtoestand. Die gevolg was dat talle persone oorsee ‘n beter en veiliger heenkome gaan vind het. Die getal is onbekend, maar daar is weinig Afrikanerhuishoudings wat nie deur hierdie tendens geraak is nie. As dit wat ek so pas aangetoon het, saamgevoeg word – en daar is nog baie ander faktore en tendense wat genoem kan word – dan is dit geensins oordrewe om te beweer dat die FAK van vandag onder moeiliker omstandighede moet funksioneer as wat die FAK met sy stigting 75 jaar gelede moes doen nie. Dit bly moeilik en gevaarlik om tydperke te vergelyk. 1929 het te doen gehad met armoede en die verstedeliking van die Afrikaner, maar daar was ‘n sterk verlange om verenigings en persone bymekaar te bring wat ‘n gesamentlike program vir die handhawing van die Afrikaanse taal op alle gebiede, en vir die positiewe ontwikkeling van die Afrikaanse kultuur kon uitwerk. Die vorming van die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge met leuse Handhaaf en Bou, is hartlik verwelkom en leiers het met positiewe optrede wondere verrig. Daar was belangstelling, geesdrif en deelname. Hierdie Federasie bestaan vandag nog steeds, maar vind nie meer dieselfde geesdrif en ywer nie. Daar is by die meeste Afrikaanse organisasies ‘n gespook en gestoei om in die nuwe omgewing die regte staanplek of nis te vind. Trouens, die meerderheid van Afrikaanse kultuurorganisasies is in ‘n stryd om voortbestaan gewikkel. Daar is talle wat bestaan, maar min aktiewe lede. Daar is ‘n bevraagtekening van die waarde van lidmaatskap. Gewilligheid om te dien het verdwyn. Daar is ‘n gebrek aan leiers. Finansieel gaan dit ook nie goed nie. Waar die FAK vroeër in sy bestaan groot donasies van goedgesinde maatskappye en instellings ontvang het, het hierdie stroompie feitlik opgedroog. Die gevolg was ‘n drastiese vermindering van personeel en ‘n begroting wat nie veel ruimte laat vir inisiatiewe en die uitvoering van noodsaaklike en belangrike take nie. Die noodsaaklike en onontbeerlike ondersteuning van die kerk en media het feitlik ook verdwyn. Laasgenoemde handhaaf ‘n neutrale standpunt en is slegs bereid om inklusief Afrikaans te ondersteun maar is andersins allergies vir Afrikanerbelange. Die kerk staan ver weg van die Afrikaner en sy kultuur. Die FAK het die afgelope vier jaar daarin geslaag om deur sy oop gesprekke Afrikaners rondom belangrike aktuele sake saam te bring. In ‘n paar gevalle was daar opvolgwerk gedoen, maar ongelukkig was daar om verskeie redes, soos byvoorbeeld gebrek aan finansies en werkkragte, geen voortsetting nie en kon belangrike insette en bydraes nie hulle adres bereik nie. Die Nasionale Leiersforum het suksesvolle vergaderings gehou, maar is nie in ‘n vaste struktuur gegiet nie. Die totstandkoming van ‘n Afrikanerraad is deeglik bespreek, maar is elke keer van die hand gewys. Sou so ‘n raad eensydig tot stand kom, gaan ‘n gebrek aan geesdrif by die meerderheid Afrikaners ‘n groot struikelblok wees. Dit is duidelik dat ‘n Afrikanergemeenskap of inklusiewe Afrikaanse gemeenskap van vooraf gebou sal moet word. Dit op sigself is ‘n geweldige taak en die herlewing in Afrikanergeledere, waarvan gepraat word, is ‘n ontsettende uitdaging. Ek is oortuig dat die FAK met groot ywer en toewyding sal voortgaan om te help om die ideale te verwesenlik. Ons kon nie daarin slaag om suksesvol tot die grondvlak deur te dring nie. Daar was ‘n periode in die geskiedenis van die FAK toe plaaslike kultuurrade of skakelkomitees ‘n belangrike rol gespeel het en groot geesdrif opgewek het. Ons kon ook nie daarin slaag om te desentraliseer nie. Die aktiwiteite van die FAK vind meestal in die noordelike gebied van die land plaas en daar is gebiede wat feitlik nie bereik word nie. Dit was deurgaans duidelik dat daar ‘n kommunikasiegaping is wat gevul moet word. Dit was dus aangenaam om op die voorlaaste vergadering van die direksie te kon besluit om ‘n kommunikasie- en navorsingsbeampte vanaf 1 Augustus 2004 vir ‘n tydperk van 12 maande te kontrakteer en dat op Vrydag, 3 September die eerste uitgawe van die elektroniese tydskrif, Die Vrye Afrikaan, sou verskyn. Die doel van hierdie aanstelling en publikasie is om ‘n nuwe gemeenskapsvisie vir Afrikaners en alle Afrikaanstaliges te ontwikkel. Dit sal ‘n dringende en noodsaaklike uitreik na eie geledere wees om die kernprobleme in Afrikanergeledere aan te spreek en positiewe leiding te gee, maar ook ‘n uitreik na almal wat saam in Suid-Afrika moet woon, om van hierdie land ‘n wenland te maak. Ek is dus oortuig dat die FAK steeds besig is om aan sy aanvanklike doelstellinge te voldoen maar in ‘n nuwe gewaad. Die FAK is dus steeds op pad en op koers! Dit was aangenaam om vir ses jaar as voorsitter te kon dien. Saam met my versekering van volle toekomstige ondersteuning, dra ek graag my beste wense aan my opvolger en die nuwe direksie oor. Gaan voort om te handhaaf en te bou! Dit is slegs deeglike bouwerk wat storms kan weerstaan en uit moeilike omstandighede ‘n toekoms kan skep. |