blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


‘n Kerk-Kodesa vir Kerkeenheid 2004-10-01
Wilhelm van Deventer

Deur Wilhelm van Deventer, leraar, VGK Gemeente Promosa, Potchefstroom

Die rondskop van die Belhar Belydenis deur die verskillende lede van die NG Kerkfamilie het ‘n punt en spelwyse bereik dat dit moeilik is om te glo dat die eenheidsproblematiek nog steeds hoofsaaklik rondom hierdie dokument en sy inhoud sentreer.

Aan die eenkant is daar só ‘n groot mate van algemene aanvaarding van die belydenispunte van Belhar dat ‘n mens bykans van ‘n konsensus ten opsigte hiervan in die NG Kerkfamilie sou kon praat. Aan die anderkant is daar soveel ander knelpunte rondom kerkeenheid wat gerieflikheidshalwe deur die Belhar-debat verbloem word, en wat ‘n mens laat wonder of Belhar nie dalk vir alle partye ‘n maklike speelbal geword het waarmee die verleentheid van magspolitiek, baas- en klaasskap in die kerk, eiendomsreg, finansiële belange, vergoedingspariteit, ens. “weggesteek” word nie?

Die groep VGK leraars uit die Wes-Kaap het in ‘n sekere sin die deksel rondom hierdie en ander bedekte motiewe rondom kerkeenheid gelig met die uitspreek van hul vrese ten opsigte van oorname in plaas van eenheid. Hierdie selfde gedagtegang leef al lank in die harte, gemoedere en gesprekke van die VGK in ons noordelike sinodes - en dan nie bloot in terme van kerklike beheer nie, maar ook insake persoonlike en gemeentelike baasskap. Die persepsie (werklikheid?) van “klaasskap” van sommige NG Kerk in Afrika dominees en gemeentes in die Vrystaat en Noord-Kaap versterk hierdie huiwering.

Daar is ook die NG Kerk se onsekerhede rondom grondbesit, geboue en swaarverdiende geld, terwyl daar veral in die swart geledere van die VGK hoë verwagtinge bestaan ten opsigte van gedeelde eiendomsreg, finansies en veral vergoedingspariteit. Vir baie in die NG Kerk en VGK staan en val die finale beslissings rondom die werkbaarheid en implimentering van kerkeenheid by hierdie materiële oorwegings.

En dan is daar die veranderde politieke, maatskaplike en ekonomiese klimaat gedurende die afgelope tien jaar. Die dringendheid van kerkeenheid het beslis getaan met die normalisering van ons landsomstandighede. In die ou Suid-Afrika was kerkeenheid as noodsaak en ernstige alternatief tot apartheid en vervreemding beskou.

Wat in laasgenoemde verband interessant is, is dat die destydse swart en wit voorsangers van kerkeenheid se stemme stil geword het. Is hulle dalk tevrede dat die makroverskuiwings voldoende is, ook vir die kerk – wat onder meer sou kon beteken dat hul koorsang van gister primêr ideologies van aard was, of het die nuwe uitdagings van die nuwe Suid-Afrika en die realiteit van kerkeenheid hulle onkant gevang?

Die Rerformed Church in Africa (RCA) is nie ‘n baie aktiewe speler in hierdie wedstryd nie, maar stel tog ‘n belangrike vraag aan die orde, waarby ook die swart komponent van die VGK belang het: Watter ruimte sal ‘n verenigde NG Kerkfamilie bied vir ‘n verskeidenheid van verinheemsde aanbiddingsvorme en kerklike bedieninge?

Die NG Kerkfamilie staan derhalwe voor die grondliggende keuse om óf die speletjies agter die rookskerm van Belhar daar te laat en kerkeenheid as ononderhandelbare geloofsoortuiging met inbegrip van die harde werklikhede daarvan deur middel van ‘n sort Kerk-Kodesa deur te worstel en te vestig, óf om die moed aan die dag te lê om saam te stem om die eindfluitjie te blaas, blad te skud, die spoils te deel en huis toe te gaan.


 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=26
Artikel nagegaan:
    -