blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


Die NG Kerk in gesprek met die wêreld 2004-10-01
dr. Dawie Theron

Deur dr. Dawie Theron, Uitvoerende Amptenaar, NG Kerk: Diens van Barmhartigheid

Met die afsluiting van die NG Kerk se Algemene Sinode van 2002, het die NG Kerk tydens ‘n baie plegtige oomblik ‘n verklaring van voorneme eenparig aanvaar. In hierdie verklaring het die NG Kerk by ‘n keerpunt in sy bestaan in Suid-Afrika gekom.

Die NG Kerk het sy oortuiging uitgespreek dat die Here ‘n plek en roeping vir die NG Kerk in Suid-Afrika het.

Die Kerk het hom opnuut verbind aan die Here, Hom gedank dat ons in Suid-Afrika geplaas is met ‘n doel en dat die Evangelie van Christus ons op die pad van heil kan plaas.

Die Kerk het hom verbind tot die vasteland van Afrika, in die besonder Suider-Afrika, en onderneem om met al sy krag te werk om ook ‘n verskil in hierdie land te maak. Die Kerk is beskikbaar om op elke vlak aan oplossings vir die probleme in ons samelewing mee te werk en het die owerheid verseker van sy getroue voorbidding. Die Kerk het sy ontsteltenis uitgespreek oor die tragiese verhale van die allerverskriklike vorms van geweld, die geweldige omvang van armoede en gevolglike hongersnood, die gevolge van die vigsepidemie, die gebrek aan respek vir mense, diere en die omgewing, en ook ons aandeel daarin bely.

Die Kerk het hom voorts verbind tot groter eenheid met ander kerke en sy voorneme om te herenig met sy kerkfamilie. Daarnaas wil die NG Kerk ook hande vat met ander kerke om saam as Christene ons lande op te bou en die pynlike omstandighede te verlig.

Gemeentes is opgeroep om by die genesing van die land betrokke te raak, wetende : “Ons het ‘n HERE, ons is hier en ons is Sy kerk.”

Hierdie verbintenis van die Kerk in 2002, het die afgelope twee jaar die agenda van die Kerk se betrokkenheid by die gemeenskappe van Suider-Afrika geword. Die verslae en aanbevelings wat in hierdie dae voor die Algemene Sinode dien, getuig daarvan dat hierdie nie goedkoop belydenisse en ondernemings van die Kerk was nie.

In ‘n sekere sin kan ‘n mens sê dat die NG Kerk ná 1994 vir die eerste keer weer die moed gehad het om die wêreld in die oë te kyk en te sê: ons het nie nét foute gemaak nie, ons wil ook nie in hierdie land ondergaan as ‘n kerk wat misluk het nie.

Die NG Kerk het ‘n geskiedenis van omgee vir mense in nood, wat sedert die vroegste jare van ons koms na Suid-Afrika opmerklik was.

Van die oudste inrigtings vir mense met spesiale behoeftes, is deur die NG Kerk opgerig. Ook in sy uitdra van die evangelie in die destydse onherbergsame dele van Suid-Afrika en die res van Afrika, was die bou van hospitale en skole kenmerkend.

Na die vryheidsoorloë aan die begin van die vorige eeu, was die kerk gereed om mense weer op te help en hoop te gee. Tydens die jare van droogte en depressie was dit die NG Kerk wat in 1934 die volkskongres in Kimberley georganiseer het. Daaruit is ‘n hele netwerk van aksies gebore – tot selfs die Departement van Volkswelsyn en Pensioene.

Gaandeweg het die NG Kerk ‘n infrastruktuur ontwikkel wat hom een van die grootste rolspelers in welsyn in Suid-Afrika gemaak het. 113 Tuistes vir ouer mense, 24 kinderhuise, 108 maatskaplikewerkkantore met 284 maatskaplike werkers in die diens van die NG Kerk en 13 spesiale skole vir mense met gestremdhede, het gaandeweg gevestigde bronne van hulp geword.

Die invloed van die kerk in die skepping van wetgewing en beleid met betrekking tot maatskaplike aangeleenthede binne die Suid-Afrikaanse samelewing is bekend. Die NG Kerk se spore op die gebied van maatskaplike hulpverlening is diep en vandag nog blywend.

‘n Gevaar vir enige kerk, is om sy eie belange en die belange van sy lidmate hoër te ag as wat die kerk as dienskneg van die Here behoort te doen. Die NG Kerk het op ‘n stadium in hierdie situasie beland. Soos wat Afrikaner-nasionalisme begin groei en blom het, het die kerk as die destydse grootste Afrikaanse kerk, nie onaangeraak gebly nie.

Hierdie toenemende Afrikanermagsposisie, wat ook die NG Kerk ingesuig het, is een van die hartseer momente in die geskiedenis van die NG Kerk. Ten spyte van die paar moedige profete in en buite die NG Kerk, was dit vir die kerk moeilik om die regte keuses te maak. Die tragiese gevolg was dat die NG Kerk vervreem geraak het van die meerderheid van die inwoners van die land. Die Kerk was met homself besig en het na binne geleef en gedy.

Nood wat om die kerk gesmeul het en later soos ‘n sweer oopgebars het, het die NG Kerk byna onkant betrap. Vir baie lidmate en predikante het dit lank gevat om tot die besef te kom dat daar stilweg meegedoen is aan ‘n stelsel van onreg, wat noodwendig tot ‘n einde moes kom.

Dit was eers met verloop van jare dat die Kerk gaandeweg tot die besef gekom het dat sy posisie radikaal verander het en dat hy deel van ‘n verlede is waaroor daar hard geoordeel is deur die wêreld en die benadeeldes van Suid-Afrika.

Die tyd vir bely en erkenning van verkeerde optrede was vir die Kerk nie makik nie. Dit het soms moeilik gegaan om die vernederende pad van skuldbelydenis te loop. Die verlies aan geloofwaardigheid, mag en seggenskap het die potensiaal gehad om die NG Kerk in ‘n sloot van irrelevansie te laat beland.

Genadiglik het die Here dit verhoed.


Die dinamika van die nuwe Suid-Afrika het die kerk aan die hart gegryp. Al was die Kerk nie meer die “groot “ kerk nie, is hy deel van ‘n nuwe Suid-Afrika.

Aanvanklik was die vloedgolf van negatiwiteit teen die NG Kerk, iets waarmee die Kerk moes saamleef. Die gesprekke oor die vestiging van ‘n nuwe bestel vir Suid-Afrika, sou maklik sonder die NG Kerk voortgegaan het, en die NG Kerk het soms soos ‘n buitestander gevoel, maar tog sy plek ingeneem en aan die gesprekke meegedoen.

Baie opwindende dinge gebeur en gaandeweg tree ‘n nuwe benadering ten opsigte van maatskaplike dienste na vore. Die keerpunt was die aanvaarding van die Witskrif vir Welsyn in 1995, waarin die klem geval het op ontwikkelingsgerigte gemeenskapsdienste. Die aanspreek van agterstande in die voorheen benadeelde gemeenskappe was bo aan die sakelys en hierin het die NG Kerk met toewyding meegewerk. Daar is vandag baie meer maatskaplike dienste in voorheen benadeelde gemeenskappe onder die toesig van die NG Kerk as ooit tevore. Al die dienste van die NG Kerk is oop vir alle mense sonder om op geloof, geslag of herkoms te let. Die Kerk het ‘n korps goedopgeleide maatskaplike werkers wat in die mees beskeie swart en bruin gemeenskappe dienste lewer. Die maatskaplike werkers is ook nie meer gefokus op gevallewerk nie, maar eerder programbestuurders van ‘n magdom van gemeenskapsontwikkelingsprojekte.

Die mooi bykomende element is gemeentes wat spontaan begin het om betrokke te raak by agtergeblewe gemeenskappe en talle volhoubare projekte is ontwikkel en word steeds uitgebrei. Gaandeweg het die NG Kerk tog kon wys dat hy by die nuwe Suid-Afrika aansluiting vind en dat dit ons erns is om deel van die oplossings van ons mooi land te wees.

Alles het egter nie net voorspoedig gegaan nie. Die tragiese versuim van die staat om met werkbare wetgewing vorendag te kom, skep oneindige probleme en daar is gapings in die wetgewing wat die funksionering van die maatskaplike dienste in Suid-Afrika ernstig kniehalter.

Die staat se klem op staatstoelaes, bring ook mee dat die beskikbare fondse vir maatskaplike opheffingsprogramme ook al hoe minder word. Waar die kerk voorheen in die “goeie” ou dae tot soveel as 60% subsidie van die staat vir sy dienste ontvang het, is die gemiddelde subsidie nou af na 20% tot 30%. Die kerk het nie sy dienste laat vaar en getermineer nie. Met die genade van die Here kan ons voortgaan en selfs dienste uitbrei.

Die hoofbron van die kerk se inkomste bly nog steeds die gemeentes, maar binne die gemeentes het armoede ook sy tol begin eis. Die dalende inkomste van gemeentes weens die groeiende werkloosheid onder ons eie lidmate, is ’n nuwe bron van kommer. Trouens, dit is ‘n verskynsel wat die drie Afrikaanse kerke onlangs genoop het om saam met ander rolspelers dringend te begin werk aan ‘n strategie om ook ons eie lidmate se nood en armoede doeltreffend aan te spreek.

Aan die begin van dié artikel is verwys na die nuwe begin in die NG Kerk. Die kernsake op die agenda van die NG Kerk se barmhartigheidsdienste is armoede, MIV en vigs, geweld en misdaad en ons roeping in en vanuit Afrika. Dit is die sake wat nou ons aandag vra en die kerk wil hierby betrokke wees. Ons het weer ons roeping ontdek, ons het ons opnuut aan die Here gewy en ons weet ons het ‘n uitdaging soos nooit tevore nie, om kerk van Christus in Suid-Afrika te wees.

Mag Hy ons waardig ag en gebruik.


 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=25
Artikel nagegaan:
    -