| ||||
dr. Braam Hanekom Deur dr. Braam Hanekom, leraar by die NG Gemeente Stellenberg (Durbanville, Wes-Kaap) en ook verantwoordelik vir Nuwe Gemeente Ontwikkeling in die sinodale gebied Wes- en Suid-Kaapland Die Algemene Sinode van die NG Kerk kom weer in Oktober bymekaar, die keer by Hartenbos, Wes-Kaap. Sommige mense sal seker die wenkbroue lig en siniese vrae vra oor die hou van so ‘n kerklike byeenkoms by ‘n vakansieoord soos Hartenbos. Van die ou kerkvaders sou selfs in hul grafte kon omdraai net by die aanhoor van die gedagte. Tog sou ons ook anders daarna kon kyk. ‘n Sinode op Hartenbos sou ook gesien kon word as tekenend van fundamentele skuiwe wat daar in die kerk se siening van kerkwees die afgelope paar jaar plaasgevind het. Die dae van stywe vergaderings, hoogeerwaarde here, rigiede vergaderingsprosedure, instandhoudingstrategieë en instandhoudingstaal het begin plek maak vir iets anders… Maar ook hieroor sou mense negatiewe vrae kon vra. Het die kerk nou so ‘n gemaklike, informele plek geword waar alles deug? In die Kaap was daar juis ‘n klein polemiek oor ‘n dominee wat sou gesê het dat daar te veel mense in gemeentes is wat net lê en “tan”. Hoe dan anders as die predikante deesdae sinode by Hartenbos hou? Voordat ons egter vinnige gevolgtrekkings maak, sou dit goed wees om te kyk na die waardes wat die huidige leierskap en ook die vorige sinode geformuleer het as van die belangrike kontoere waarlangs kerkwees, gemeentewees en besluitnemingsprosesse in dié dae moet geskied. Daar is al heelwat hieroor gepraat en geformuleer, maar ek haal graag ‘n paar sinne aan wat die moderatuur en Algemene Sinodale Kommissie (ASK) hieroor geformuleer het. Dit staan nie teenoor die kerk se belydenis nie en moet natuurlik komplementerend daartoe gelees word. Dit is egter belangrike waardes wat ons wil rig:
• As kerk het ons nog altyd geglo dat ons in Afrika is met ‘n roeping. Wat presies die roeping is, was die laaste klompie jare nie vir almal van ons so duidelik nie. As ons die nood rondom ons sien, weet ons dat ‘n deel van die roeping duidelik is. Ons glo dat hoe nader ons aan die Here kom, hoe duideliker sal die res ook vir ons word. Ons dink steeds dat om groter duidelikheid oor hierdie roeping te kry, een van die dringendste opgawes van ons tyd is. Die tweede dag van die sinode sal dus veral op ons roeping in Suider-Afrika fokus. •Dit is ook reg en Bybels dat ons ons opnuut verbind het aan die ekumeniese kerk en die herenigingsproses met die Familie. Ons eerste bondgenote en lotsgenote in die land is nie politieke instansies of partye nie, of kultuur en taalgenootskappe nie, maar hulle wat ons geloof in die Drie-enige God en die Evangelie met ons deel. Sonder hulle kan ons God se wil moeilik reg verstaan of behoorlik uitvoer. Ons gaan dus die derde dag fokus op ons verbintenis aan die breër Christelike gemeenskap (ekumene) en kerkeenheid • Ons het ons ook verbind om ons gemeentes te help om hierdie roeping te hoor en dit met nuwe ywer aan te gryp. Dit is dalk ons grootste uitdaging omdat baie van ons gemeentes deur ‘n moeilike tyd gaan as gevolg van die politieke en maatskaplike oorgang in ons land. Dit gaan min help dat ons op Algemene Sinode-vlak aanpassings maak, maar nie die noodkreet uit baie van ons gemeentes hoor nie. Ruim tyd sal dus ook aan bedieningsbrandpunte afgestaan word. Maar ‘n mens sou dit nog eenvoudiger kon stel: Ons leef in ‘n tyd waar mense op soek is na ‘n dieper spiritualiteit, ware gemeenskap, gemeenskappe, organisasies en strukture wat waarlik ‘n verskil maak; en na ‘n vars belewing van kerk en geloof. Daar moet leiding gegee word te midde van diversiteit, gemeenskap en gemeenskappe moet herbou word en ‘n diep spiritualiteit moet gekweek word. Ons leef in ‘n nuwe tyd waarin mense hulle nie steur aan waardes, wyshede en belydenisse wat op papier geskryf staan nie, maar daarop reageer wanneer dit beliggaam word. Een van die lakmoestoetse van die sinode gaan inderdaad wees of dié groot vergadering by die see ons hiermee gaan help. ‘n Laaste woord. Individue wat nie binne die dampkring van ‘n geborge karaktervolle gemeenskap leef nie, verword maklik. Daarteenoor word mense wat ‘n positiewe bydrae lewer tot die opbou van ‘n ruimer gemeenskap, altyd gekweek binne een of ander morele en integriteitbelaaide gemeenskap. Die Afrikanergemeenskap het in Suid-Afrika deur ontsaglike veranderinge gegaan. Ou gemeenskapsverbande het gedisintegreer en nuwes groei steeds. Sonder ware morele gemeenskappe kan ons verword tot individuele parasiete op die Afrikalandskap - ‘n paar handelaars wat eintlik maar net spartel om die afbetaling van die motor en die hoë muur om die huis. Die kerk bly een van daardie kritiese gemeenskapstigtende entiteite in die samelewing. Die rol wat gemeentes binne ons samelewing kan en moet speel, is waarskynlik selfs groter as wat meeste mense besef. Die rol en identiteit sal fyn gedefinieer moet word. Mag die sinode ons daarmee help. |