blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


Kerkwees in ‘n veranderde tegniese milieu: Gelowige Afrikaners vanaf die grafosfeer na die videosfeer 2004-10-01
Johann Rossouw

Deur Johann Rossouw

'n Verstommende stukkie statistiek dui daarop dat Afrikaners hulself vandag in 'n dramatiese religieuse verandering bevind: in 1980 was 91% van alle Afrikaners lidmate van een van die drie gereformeerde Afrikaanse susterskerke, maar tans is dit slegs 50%! Navorsing dui daarop dat hoewel 'n klein gedeelte van hierdie "kerkafvalliges" hulle tot alternatiewe religieë gewend het, of heeltemal gesekulariseerd geraak het, die oorgrote meerderheid van hulle hul heil by charismatiese kerke of groepe gaan soek het. Trouens, die groei in charismatiese kerke of groepe ten koste van die gereformeerde susterskerke is so dramaties, dat die risiko vandag bestaan dat hierdie kerke kan praat van die "charismatiese gevaar", net soos hulle voorheen van die "Roomse gevaar" of die "swart gevaar" gepraat het. Dit is natuurlik 'n oorvereenvoudiging van beide die proses van kerkverskuiwing en die charismatiese beweging onder Afrikaners. Maar hoe kan ons hierdie dramatiese proses verstaan?

Om die proses te verstaan, moet ons dit sien teen die agtergrond van die drie sfere van kultuuroordrag waardeur die Afrikaners reeds beweeg het, naamlik die era van die gesproke woord (oftewel die logosfeer, ongeveer 1652 – 1875), die gedrukte woord (oftewel die grafosfeer, ongeveer 1875 – 1975) en die elektroniese beeld (oftewel die videosfeer, ongeveer vanaf 1975).

In ons gesprekke oor kerkwees vergeet ons dikwels dat die Rooms-Katolieke kerk histories beslag gekry het in Europa se logosfeer, wat met Gutenberg se boekdrukkuns vanaf 1450 tot 'n einde kom. Vereenvoudig gesien was die priester, wat (Latyn) kon lees en skryf die absolute gesag oor sy ongeletterde gemeente. Teologiesgesproke was die logosfeer ook die era waarin God die Vader sentraal was, net so hoog en ontoeganklik vir die gewone mens as die pous en sy geletterde elite.

Met die koms van die gedrukte boek kon massas mense toenemend – ook in hul moedertale - begin lees, en so ontstaan die Protestantse beweging as kerk van die boek. Mense kon nou self deel hê aan die evangelie, en teologiesgesproke was Jesus as middelaar tussen God en die gewone (lesende) mens nou belangrik.

Waar Europa die oorgang van logosfeer na grafosfeer vanaf 1450 gemaak het, het Afrikaners dit met die Genootskap van Regte Afrikaners vanaf 1875 gemaak. Hierdie oorgang was ook belangrik vir ons kerke. Tot teen 1875 was die NG Kerk vir alle praktiese doeleindes die enigste gemeenskapsinstelling waaroor Afrikaners beskik het. Hoewel die NG Kerk in naam Protestants was, het dit ironies genoeg basies soos die Katolieke kerk voor die Hervorming gefunksioneer, met die geletterde leraar as absolute gesag bo sy ongeletterde kudde. Tussen 1900 en 1940 het Afrikaners op groot skaal verstedelik en geletterd geraak, en met die Bybelvertaling in 1933 het die drie susterskerke finaal die grafosfeer betree. So is die era ingelui waarin dié kerke hul 50 goue jare sou beleef as die plek waar Afrikaners aanbid het.

Hoewel die rolprent, die vliegtuig en die motor teen 1975 – alles deel van die videosfeer - almal al lankal en in pas met ander lande plaaslik beskikbaar was, is TV tot dan kunsmatig teruggehou. Gevolglik het die koms van TV 'n proses ontketen waarvolgens Afrikaners teen 'n ongelooflike tempo die grafosfeer vir die videosfeer versaak het. Gou was die invloed hiervan sigbaar: in 1982 het die Nasionale Party, primêre instelling van die grafosfeer, geskeur; Afrikaners het toenemend individualisties begin optree, ens.

Maar dit is ook hier wat die voorwaardes vir die opkoms van die charismatiese beweging onder Afrikaners geskep is. Nasionalisme, oftewel die ideologie wat saam met die gedrukte woord aan Afrikaners 'n stel idees, verhale en mites as groep gegee het, het begin verbrokkel. Die susterskerke, wat op 'n rasionele, deurdagte geloofsbeoefening klem gelê het, het ook nie meer tot mense gespreek in die videosfeer met sy waardes nie.

In die logosfeer is die afstand tussen (ongeletterde) mens en waarheid baie groot; die koms van die boek verklein die afstand (ek kan nou self lees); en die koms van die beeld verklein die afstand nog meer (ek kan by die huis kerk kyk, of op die internet gaan lees wat ek nodig het). Ook is die videosfeer ingestel op emosie, liggaamlikheid en onmiddellikheid: presies wat die charismatiese beweging vir mense aantreklik maak. Soos die Protestante in die Hervorming aan die Katolieke weens die boek kon sê, "Ons het die kerk nie meer nodig om by God te kom nie", sê die charismate vandag aan die gereformeerdes dieselfde. Teologiesgesproke staan die Heilige Gees nou sentraal: en wat is intiemer as my gees wat met die Heilige Gees kommunikeer?

Die beweging na die charismatiese kerke en groepe wentel dus veral om twee faktore: eerstens bring die videosfeer 'n verskuiwing vanaf die rasionele na die emosionele; en tweedens lei die ineenstorting van nasionalisme as samebindende krag daartoe dat Afrikaners religie as samebindende krag herontdek. Per stuk van sake beteken die twee Latynse grondwoorde van religie – religare en religere – onderskeidelik om byeen te bring en om te verbind!

Waar laat die koms van die videosfeer gelowige Afrikaners, gereformeerd sowel as charismaties? Wat die gereformeerdes betref, is dit nodig om te erken dat 'n oordrewe klem op rasionalisme en 'n miskenning van die liggaam en emosies skade gedoen het. Wat die gereformeerdes nodig het, is nie soseer 'n nuwe teologie nie (en dit is waarom die Nuwe Hervorming met sy oorbeklemtoning van teologie nie slaag nie), maar nuwe praktyke van aanbidding, waarin ook die liggaam en die emosie erken word.

Wat die charismate betref, is groter volwassenheid in kerkwees nodig. Onlangs hoor ek van 'n man wat hom een middag per afspraak in sy jacuzzi laat doop het: dit is wanneer God geprivatiseer word in die illusie van onmiddellikheid wat die videosfeer skep, en waar mense die gemeenskap van die gelowiges ignoreer. Ook die charismate sal soos die Protestante voor hulle uiteindelik die kerk wees waarvan hulle so hard probeer wegkom, en hier is die uitdaging dus om kerke te bou wat nie net op emosies en liggaam geskoei is nie, maar ook ‘n geheue en ‘n tradisie het. Waar die gereformeerdes versigtig moet wees om nie ‘n eensydige weergawe van die tradisie te verabsoluteer nie, moet die charismate versigtig wees om nie tradisie as sodanig verdag te maak nie.


 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=23
Artikel nagegaan:
    -