blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


Die Burgerlike Uitdaging van die Staat 2004-10-01
In ‘n samelewing wat al deur soveel politieke ontstuimigheid in sy geskiedenis is soos Suid-Afrika, is dit verstaanbaar dat die koms van grondwetlike demokrasie tien jaar gelede deur die meeste politieke kommentators aangegryp is as ‘n positiewe historiese wending. So hoor ‘n mens dan dikwels hoe die een kommentator na die ander ons vryheid van spraak en die oopheid van ons openbare debat sonder meer gunstig vergelyk met die vorige bedeling en tot die gevolgtrekking kom dat Suid-Afrika in hierdie opsig ‘n meer demokratiese en vryer samelewing as tydens die vorige bedeling is.

Natuurlik geniet Suid-Afrika tans meer vryheid van spraak en ‘n oper openbare debat as tydens die vorige bedeling, maar dit is juis in die vergelyking van die huidige bedeling met die vorige wat ons daarteen moet waak om nie weens ‘n blinde sug na beter dae op loop te gaan met ons historiese en politieke oordele nie. Die feit van die saak is dat die vergelyking tussen die huidige en die vorige bedeling baie dikwels berus op ‘n vergelyking van appels met pere, aangesien die vergelyking wat meesal getrek word, is tussen die laaste sowat tien jaar van die vorige bedeling en die eerste tien jaar van die huidige bedeling. En dit is presies hier waar goeie oordeel en ‘n gesonde historiese sin in die gedrang kom, want die feit van die saak is dat dit juis nie die vergelyking is wat ons moet maak nie. Hoekom sê ons so?

Soos Hermann Giliomee aantoon in Die Afrikaners: ‘n Biografie, wat vandag verskyn, was die apartheidsbedeling inderdaad ‘n komplekse verskynsel wat deur verskillende fases beweeg het. So, byvoorbeeld, was die eerste tien jaar of wat na die Nasionale Party in 1948 aan bewind gekom het, ‘n tyd waarin heelwat meer vryheid van spraak en openbare debat verdra is as, sê, tussen 1985 en 1990, toe die Nasionale Party tot ‘n baie groot mate moes steun op die veiligheidsmagte om politieke stabiliteit te verseker.

Wanneer daar vandag oor die apartheidsbedeling gepraat word, doen baie mense dit uit hoofde van hul persoonlike ervaring van apartheid, en dan is dit dikwels die jare tussen 1985 en 1990 met sy vergrype deur die veiligheidsmagte (en die stilswyende kondonering van die politici) wat voorop in mense se gemoedere staan. En dit is dan met hierdie jare van sensuur, staatspropaganda en openbare leuens wat die afgelope tien jaar van grondwetlike demokrasie vergelyk word om tot die slotsom te kom dat ons vandag baie meer vryheid van spraak en ‘n oper openbare debat het. Dit is presies dié soort praatjies vir die vaak waarteen demokrate hulle behoort te verset, des te meer omdat dit nog ‘n simptoom is van die moralisering van die politiek waaronder ons in Suid-Afrika gebuk gaan.

Om werklik die vorige bedeling met die huidige bedeling te vergelyk, behoort demokrate dit eerder te doen aan die hand van hoe die vorige en die huidige magshebbers die koloniale staat hanteer het. Die koloniale staat kan omskryf word as daardie bestel wat tot stand kom wanneer ‘n groep van een wêrelddeel danksy betreklik gevorderde vervoer-, kommunikasie en ander tegniese middele homself met dwang in ‘n ander wêrelddeel vestig, en algaande ‘n ingevoerde tegniese en staatsbestel in hierdie ander wêrelddeel vestig, wat dan tot die politieke miskenning, ekonomiese uitbuiting en simboliese ondermyning van die inheemse inwoners lei.

In die 20ste eeu is ‘n patroon in Afrika gevestig waar diegene wat deur die koloniale staat verdruk is, hulle politiek gerig het op die oorname van die staat en sodanige oorname sonder meer aan demokrasie en vryheid gelyk te stel. Dit is verstaanbaar dat mense so redeneer, maar ongelukkig het hierdie soort politieke naïwiteit keer op keer daartoe gelei dat die voorheen verdruktes na oorname van die koloniale staat nog erger verdrukkers as hul koloniale meesters geword het. Die belangrikste rede hiervoor is dat die voorheen verdruktes selde indien ooit besin het oor hoe die koloniale staat hervorm kan word sodat dit werklik in diens van die gemeenskap staan. Die gevolg van hierdie tragiese fout was dat die voorheen verdruktes dan agente van die koloniale staat geword en hul eie gemeenskappe verdruk het, in plaas daarvan dat die staat ‘n voertuig van die gemeenskap kon word. (Sommige mense sal reken dat die staat fundamenteel nie by vermoë is om die gemeenskap te dien nie, maar dit is ‘n onderwerp vir ‘n ander keer.)

Dit is omdat die meeste kommentators en selfs historici so geneig is om moralisties met apartheid om te gaan, in plaas daarvan om op die eintlike probleem, te wete die koloniale staat in Afrika, te fokus, dat hulle nie snap dat Afrika se dekolonisasie nie begin met Ghana in 1956 nie, maar juis met die staatsoorname van Afrika se eerste anti-koloniale vryheidsvegters, die Afrikaners, in 1948. (Miskien begin dit nog vroeër met die Amerikaanse slawe wat na Afrika teruggekeer het, Liberië gestig het en omdat hulle nie die probleem van die koloniale staat verstaan het nie, dit gedupliseer het, met ‘n gevolglike bloedige geskiedenis wat Liberië tot vandag nog teister.) Juis omdat die Afrikaners nie die koloniale staat behoorlik begryp het nie, was hulle vanaf die vroeë 1960’s nie meer bekend as Afrika se eerste anti-koloniale vryheidsvegters nie, maar as Afrika se eerste selfkoloniseerders. Apartheid en sy mislukking was uiteindelik nie die rede waarom die Afrikaners nie die staat slimmer kon gebruik nie, maar die simptoom van hul gebrek aan insig in die koloniale staat. (Wat Afrikanerpolitici waarskynlik verhoed het om dieselfde vlakke van korrupsie en verdrukking as die res van post-koloniale Afrika te handhaaf, is die feit dat Afrikaners weens moedertaalontwikkeling ‘n meer kritiese burgery was as wat die geval is met die res van Afrika waar die gebrek aan moedertaalontwikkeling verhoed het dat ‘n kritiese burgery die nuwe heersers in toom kon hou.)

Waar die Nasionale Party tussen 1948 en 1966 nog deur ‘n idee gedra is, was dit teen die PW Botha-bewind nie net duidelik dat hierdie idee alle drakrag en legitimiteit verloor het nie, maar het Botha se versigtige gebare in die rigting van hervorming ironies genoeg veroorsaak dat die verslapping in die staatsorde die ruimte vir die grootste burgerlike weerstand in Suid-Afrika se geskiedenis geskep het. Dit is hier waar die eertydse United Democratic Front na vore getree het, en dit is hier waar die grootste vergrype van veiligheidsmagte onder die NP plaasgevind het. Anders gestel: die ou wet waarvolgens die verslapping in ‘n verdrukkende orde tot ‘n nog groter manifestasie van die woede teen die orde lei, is bevestig, en vandag word dié verskynsel deur dese en gene as “apartheid” voorgehou.

In die huidige bedeling is daar tekens dat die ANC se wittebrood nou inderdaad na tien jaar verby is. Die belangrikste teken hiervan is die groeiende erkenning in die openbare debat dat die staat en die burgerlike samelewing inderdaad nie noodwendig dieselfde belange deel nie. Voorbeelde van betekenisvolle burgerlike weerstand sedert April se verkiesing – onthou u dit nog? – sluit in vakbondaksie teen Iscor, Telkom en die staatsdiens, asook die burgerlike protes wat die afgelope weke teen plaaslike regerings in die Vrystaat voorkom. Voor April se verkiesing was daar onder meer die verset van die Treatment Action Campaign, die Soweto Crisis Committee, die Khayalitsha Anti-Eviction Committee en die Groep van 63.

Dit is duidelik dat die woede in die burgerlike samelewing teen die staat en die korporatiewe sektor aan die oplaai is, en hieroor kan ons ter afsluiting die volgende opmerkings maak:
1. Die wyse waarop die regering reeds die intelligensiedienste ingespan het teen sommige van hierdie burgerlike bewegings boesem nie juis vertroue in nie oor hoe veilig vryheid van spraak en ‘n oop debat werklik in Suid-Afrika gaan wees wanneer die staat eers met mening uitgedaag word. Voorbeelde hiervan sluit in mediaberigte oor die infiltrasie van die Khayalitsha Anti-Eviction Committee deur intelligensieagente, asook die skandalige wyse waarop die intelligensiedienste die Groep van 63 na sy ope brief aan die president oor die Boeremagbomme in November 2001 in die media swartgesmeer het. Oor laasgenoemde het president Mbeki blykbaar gedurende Desember 2001 by ‘n vergadering van die provinsiale premiers erken dat die regering die Groep van 63 as “academics of integrity” verkeerd hanteer het, maar in die openbaar in al elf amptelike tale geswyg.

2. Daar is tekens van ware nie-rassigheid en samewerking tussen Afrikaner en Afrikaan op gemeenskapsvlak in die nuwe burgerlike verset. In die Vrystaat het Afrikanervroue sy aan sy met swartmense getoyi-toyi, terwyl Solidariteit vir alle praktiese doeleindes die leiding in die koalisie van vakbondprotes by Telkom en Iscor geneem het. Dit demonstreer dat die rassisme wat Afrikaners so maklik om die nek gehang word, allesbehalwe die waarheid is, en dat die rassekaart in elk geval eerder deur partypolitieke magsondernemers gespeel word as wat ras werklik so ‘n struikelblok op gemeenskapsvlak is.

3. Aangesien die tyd in die politiek vanweë geweldige tegniese vooruitgang vandag baie korter as in 1948 is, gaan ons weldra in staat wees om ‘n beter historiese vergelyking tussen Afrikanernasionalistiese staatsmag en Afro-nasionalistiese staatsmag te tref. In die proses sal dit waarskynlik duidelik word dat ‘n fiksasie op apartheid (eerder as ‘n sobere evaluering daarvan) die voortgaande stryd om demokrasie in Suid-Afrika nie gaan versterk nie, maar verswak. Hoe gouer demokrate van alle gemeenskappe in hierdie land besef dat ware demokrasie daar lê waar gemeenskappe self en saam met mekaar oor hul lot kan beslis, hoe beter vir ons almal. Eers dan sal ons kan begin om die staat en die korporatiewe sektor ware vennote van die gemeenskap te maak.


 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=22
Artikel nagegaan:
    -