Johann Rossouw Geagte leser,
'n Ander wêreld is moontlik. Hierdie eenvoudige woorde het die afgelope paar jaar reeds miljoene mense wêreldwyd van Abidjan tot Zanzibar, van Seattle tot Genua, van Porto Alegre tot Moembaai aangegryp. Dit is 'n boodskap wat u vanoggend saam met minstens 30 000 ander mense in Afrikaans lees in hierdie eerste uitgawe van Die Vrye Afrikaan. By Die Vrye Afrikaan glo ons dat die wêreld voor 'n eenvoudige keuse te staan gekom het: Wil ons leef in 'n wêreld waar gewone mense in hul gemeenskappe self oor hulle toekoms besluit, of wil ons leef in 'n wêreld waar magtige politici en multinasionale maatskappye vir ons daaroor besluit? Die Vrye Afrikaan skaar hom by die gemeenskap, en glo dat nuwe vorme van gemeenskap en politiek nodig is om te keer dat die partypolitiek en die markekonomie langer oor gewone mense loop. Ons glo dat die wêreldwye herlewing van gemeenskappe uiteindelik ook weer die politiek en die ekonomie op 'n gesonde grondslag sal plaas. Die Vrye Afrikaan glo 'n ander wêreld is moontlik as gemeenskappe dwarsoor die wêreld kan saamspan om hulle globale lotsverbondenheid uit te leef. Ons glo dat Afrika 'n sleutelrol in die 21ste eeu sal speel wanneer mag in Afrika nie meer gebruik word om slegs die staat of die korporasie te bou nie, maar veral die gemeenskap. Sedert die Nywerheidsomwenteling van ongeveer 1850 het geweldige tegniese vooruitgang groot rykdom vir Europa en Noord-Amerika gebring, maar in die proses is hulle politieke en gemeenskapslewe vernietig en word hul samelewings toenemend omskep na die beeld van die mark. Ons glo dat Afrika oor vyftig jaar 'n model vir die wêreld sal wees as sy daarin kan slaag om die opkomende globale tegniese stelsel so toe te eien dat haar gemeenskappe so energiek en lewenskragtig bly as wat hulle tans is – ten spyte van al die ellende wat hulle deur die uitmergelende 20ste eeu beleef het. Ons glo dat die ontwikkeling van die 15 groot tale wat deur 85% van Afrika se gemeenskappe verstaan word, die sleutel is om Afrika na 'n nuwe toekoms te lei. Ons glo dat Afrikaners hierin 'n sleutelrol kan speel, omdat hulle in die eerste helfte van die 20ste eeu beleef het hoeveel moedertaalontwikkeling vir 'n gemeenskap kan beteken. Ons glo dat Afrikaners ook kennis met Afrika kan deel oor wat om nie te doen nie, aangesien hulle in die tweede helfte van die 20ste eeu gesien het watter gevare daarin skuil om jou gemeenskap te verstaatlik en te korporatiseer. Ons glo in 'n ekonomie waar die teenoorgestelde van armoede nie rykdom is nie, maar selfstandigheid. Ons glo in 'n ekonomie waar die omgewing nie maar net 'n ontginbare hulpbron is nie, maar die voorwaarde van ekonomie self. Ons glo in 'n Suid-Afrika waar ons nie 'n nasie bou waar alle Suid-Afrikaners identies is nie, maar 'n nasie van gemeenskappe, waar ons ook toegelaat word om te verskil. Ons glo in 'n nuwe Afrikaner wat saam met 'n nuwe Afrikaan werk aan 'n Afrika en 'n planeet waar mense mag kies wat hulle glo, watter taal hulle praat, en watter werk hulle doen - omdat hulle weet wie hulle is. Ons glo in gemeenskappe waar mense sowel individu as groep kan wees. U sal heel onder aan hierdie nuusbrief meer inligting vind oor die maandelikse en weeklikse uitgawes van Die Vrye Afrikaan, asook tegniese inligting. In die opsomming van die inhoud van hierdie eerste maanduitgawe sal u 'n aantal skerpsinnige en uiteenlopende bydraes vind uit die penne van skrywers soos Danie Goosen, Moeletsi Mbeki en Alain de Benoist. Daaruit sal u kan aflei dat Die Vrye Afrikaan, soos van die groot geeste wat die Afrikaanse media vroeg in die 20ste eeu gevestig het, nie glo in die valse skeiding tussen joernalis en akademikus, of tussen denker en gewone mens nie. As redakteur is dit dus my voorreg om saam met die redaksionele raad en die redaksie van Die Vrye Afrikaan aan u te sê: “Welkom in 'n ander wêreld.”
Johann Rossouw Redakteur: Die Vrye Afrikaan 3 September 2004 www.vryeafrikaan.co.za Lewer kommentaar op hierdie bydrae IN VANDEESMAAND SE Die Vrye Afrikaan: In vandeesweek se kommentaar gee ons aandag aan van die redes wat dalk agter drie onlangse grusame moorde naby Bethlehem en in Durbanville sit. Ons skryf onder meer: "As Suid-Afrika se gemeenskappe nie binne die volgende tien jaar daarin gaan slaag om ons koloniale staatsbestel werklik tot diens van die mense te stel nie, as arm swart en bruin mense se woede bly oplaai, en as middelklas Afrikaners hul behoeftes aan erkenning deur besittings probeer uitleef, is die tafel gedek vir 'n populistiese opstand met rasse-ondertone teen ons brose demokratiese bestel – nes Europeërs vandag vir verregse populiste stem." (Klik hier om verder te lees) In die eerste van ons twee spesiale dossiere gee ons aandag aan die staat, die politieke party en die gemeenskap, veral in Afrika die afgelope vyftig jaar sedert dekolonisasie. Ons ontleding is dat gemeenskappe in Afrika se weersin in die partypolitiek voortspruit uit die feit dat politieke partye na dekolonisasie eerder instrumente van 'n onveranderde koloniale staat as dienaars van die gemeenskap is. Pas het die Universiteit van Botswana se Democracy Research Project byvoorbeeld bevind dat"Die meerderheid Batswana (meer as 50%) voel dat politici hul eie belange dien ten koste van die bevolking" (http://allafrica.com/stories/200408270943.html). Ook onder Afrikaners het hierdie weersin onlangs uitgebars rondom die ontbinding van die NNP - 'n gebeurtenis waaroor nie 'n enkele mediakommentator na ons wete verwys het na die feit dat Afrikaners se woede waarskynlik eerder teen die staatselitisme van die NNP (as voortsetting van sy ou regeringstyl in die vorige bedeling) as teen die idee van samewerking of teen ons grondwetlike demokrasie gerig is. In die lig van voorgenoemde publiseer ons een van die knapste politiek-ekonomiese ontledings van die post-koloniale Afrika-staat, die privaatsektor en die kleinboergemeenskap wat sedert 1994 geskryf is, en wel uit die pen van Moeletsi Mbeki (lees dit hier). Moeletsi Mbeki se ontledings van Afrika sluit in belangrike opsigte aan by dié van die Franse politieke filosoof, Alain de Benoist, wat in 'n eksklusiewe onderhoud met Die Vrye Afrikaan op baie toeganklike wyse met ons gesels oor Europa, haar gemeenskappe, en haar verhouding met Afrika. De Benoist voer onder meer aan dat Islamitiese ekstremisme nie in die eerste plek 'n religieuse verskynsel is nie, maar 'n politieke verskynsel (lees dit hier). Nader aan die tuisfront ondersoek Danie Goosen die tema van gemeenskap in die Mbeki-era, en meer bepaald die uitdagings waaraan Mbeki en ander Afrika-leiers aandag sal moet gee as hulle Afrika suksesvol uit die koloniale era wil lei (lees dit hier). Op sy beurt vra Johann Rossouw in 'n historiese oorsig van die politieke verhouding tussen Afrikaner en Afrikaan dat Afrikaner en Afrikaan hulle nou verbind tot 'n nuwe struggle vir Afrika se tale en gemeenskappe (lees dit hier). In ons tweede spesiale dossier kyk ons terug op die pasafgelope historiese Afrikaanse taalberaad van die Nasionale Taalliggaam vir Afrikaans, wat van 25 tot 27 Augustus op Stellenbosch plaasgevind is. Dit is beskryf deur Neville Alexander, as die begin "van die eerste Suid-Afrikaanse taalbeweging ooit" (ThisDay, 2004/9/1). Die tyd sal leer of Alexander se optimisme geregverdig is, maar ons glo dat daar beslis rede tot optimisme is: nie net het wit en bruin/swart by die beraad nader aan mekaar beweeg nie, maar ook diegene wat taal via die staat of vanuit die gemeenskap wil bevorder. In sy verslag van die beraad skryf Gerrit Brand dit "was 'n beslissende moment in die gesprek oor wat dit sou kon beteken om Afrikaans in Afrika te wees" (lees dit hier). Carel (iv) Boshoff deel Brand se optimisme, en wys dat ons getrou aan die eeue-oue republikeinse tradisie eerder van 'n Afrikaanse gemenebes as 'n Afrikaanse gemeenskap moet praat (lees dit hier). Koos Malan sluit in sy verslag aan by Boshoff se gedagte van uiteenlopende gemeenskappe in Afrikaans wat nou gemene grond vind, en herinner ons daaraan dat hierdie nuwe beweging nie maar verlede week op Stellenbosch begin het nie, maar 'n resultaat is van die harde werk wat talle mense die afgelope jare op vele terreine in en breër as Afrikaans doen (lees dit hier). In sy samevattende reaksie op Brand, Boshoff en Malan deel Lawrence Schlemmer hul blydskap, maar wys hy ons sober op die enorme uitdagings wat nog op hierdie nuwe beweging wag (lees dit hier).
|