blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


Lesersbrief van die week 2004-09-10
Vanaf vandeesweek begin Die Vrye Afrikaan met 'n gereelde rubriek waar ons na verdienste een of meer lesersbrief van die afgelope week uitsonder en daarop reageer. Vandeesweek se brief is na aanleiding van verlede week se kommentaar (skakel na Vandeesweek se kommentaar van 3/9) op 6 September uit Australië gestuur deur mnr. Chris Claassen. Mnr. Claassen skryf:

"Die intellektuele verklaring vir die moorde in Suid-Afrika sit die pot mis. Inteendeel: dit skok. (Jammer vir die meng van metafore.) Die volgende redes word naastenby aangehaal (soos ek dit onthou; ek weet nie hoe om 'n deelskerm oop te maak nie): Die almagtige mark ontmenslik mense; kruipende bruin en swart armoede wat oorgaan in woede en moorde; die staat wat gemeenskappe ontken. Die logikafoute het meer gate as 'n Switserse kaas. Hoe vind kruipende armoede onder Afrikaners -- wat negeer word in die kommentaar -- uiting? Hoe vind Afrikaners se verlies aan groep uiting? Darem nie in ongebrydelde, barbaarse, wraakgierige moorde op swartes nie. Eweneens: die redakteur is bekend vir sy anti-mark idees. Dis sy goeie reg. Maar om 'n markekonomie vir wreedaardige moorde te blameer is 'n wye draai, selfs vir 'n gevierde intellektueel -- die soort ou wat jou kan oortuig perdevye is eintlik iets anders. Ag nee wat: noem die ding sommer by sy minder intellektuele naam: Wetteloosheid; 'n gebrek aan polisiering; wraak vir drie eeue se oorheersing; 'n gebrek aan respek vir lewe en besitting; ontmensliking as die produk van 'n komplekse stel faktore (soos armoede, toegegee, maar ook faktore soos 'n antagonistiese staat, stilswyende "goedkeuring" deur leiers, stilswyende media.)"

Ons redakteur antwoord:
1. Mnr. Claassen wys tereg daarop dat "Afrikaners se verlies aan groep… darem nie uiting vind in ongebrydelde (sic), barbaarse, wraakgierige moorde op swartes nie", maar, eerstens, is sy aanspraak nie heeltemal korrek nie, en, tweedens, is daar 'n verklaring vir die gedeeltelike korrektheid van sy aanspraak.
Wat sy aanspraak betref, is die feit van die saak dat daar in die afgelope agtien maande minstens twee voorvalle van beweerde gewelddadige moorde deur jong Afrikanermans op mense van ander groepe was, te wete moord op 'n swartman in 'n veld naby die Hoërskool Waterkloof, sowel as die op 'n bruin "bergie" naby die NG-Kerk Stellenberg in die Wes-Kaap. In beide gevalle staan jong Afrikanermans tereg.
Die afgelope jare was daar ook voorvalle van moorde deur boere op plaaswerkers in veral Mpumalanga, hoewel dit binne 'n uiters gespanne konteks gebeur het, dikwels deur sensasionele mediaberiggewing uit verband geruk is, en beslis nie verteenwoordigend is van die wyse waarop die meeste boere hul werkers behandel nie.
Wat 'n moontlike verklaring vir, enersyds, die oënskynlike toename in geweldpleging deur Afrikaners op bruin- of swartmense betref, kan dit waarskynlik herlei word na gevoelens van miskenning deur die nuwe staatsorde (wat toenemend in spanning met die grondwetlike orde verkeer). Die feit dat dit nie van dieselfde omvang as geweldpleging deur swart- of bruinmense is nie, het met kleur of kultuur niks te make nie, maar wel met die feit dat Afrikaners weens minstens 125 jaar se lewe binne die sfeer van die gedrukte woord en relatiewe materiële bestendigheid gelukkig is dat hulle gemeenskapstrukture beter daaraan toe is as wat die geval met baie bruin en swart gemeenskappe ná meer as 300 jaar se koloniale ekonomiese patrone en gereelde politieke miskenning deur die staat is.

2. Mnr. Claassen beweer "die redakteur is bekend vir sy anti-mark idees. Dis sy goeie reg. Maar om 'n markekonomie vir wreedaardige moorde te blameer is 'n wye draai, selfs vir 'n gevierde intellektueel".
In geen stadium het ek my nog ooit uitgelaat teen die mark as sodanig nie, maar wel teen die verabsolutering van die mark, waarvan die patologiese simptome vanaf die globale ekologiese krisis tot die onverbiddelike toename in die globale vergroting van die gaping tussen arm en ryk, onder vele meer, ooglopend is.
Die neiging om sedert 1994 ekonomiese beleid eerder op groei as op werkskepping af te stem, soos Sampie Terreblanche dit klinies in sy South Africa: A History of Inequality ontleed, wat die armoedekrisis in Suid-Afrika verskerp, tesame met die noodwendige verwagtinge oor 'n beter lewe vir almal wat eweneens deur die koms van grondwetlike demokrasie onder voorheen uitgeslotenes gevestig is, moet in een of ander stadium omslaan in geweldpleging as die verwagtinge gefrustreerd bly. Die meeste van die faktore wat hierin 'n rol speel en waarna mnr. Claassen in die laaste gedeelte van sy brief verwys, dra uiteraard ook in wisselende mates tot die probleem by.
- Johann Rossouw


 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=20
Artikel nagegaan:
    -