Demokrasie en die gevaar van 'n totaal moraal In 'n uittreksel uit sy komende opstelbundel, Die Geskeurde Gordyn, waarvan 'n Afrikaanse vertaling in Augustus 2003 in Insig verskyn het, verwys die Tsjeggiese romansier, Milan Kundera, na die neiging tot die moralisering van die politiek waaronder die wêreld sedert die Tweede Wêreldoorlog toenemend gebuk gaan. Kundera vertel hoe hy as jong man kort na die einde van die Tweede Wêreldoorlog in Praag gaan kyk het na 'n opvoering van Sofokles se Antigone waarin die regisseur die booswigte as Nazi’s voorgestel het. Dit, sê Kundera, was die oomblik toe hy besef het dat Europa se tragiese wêreldbeskouing vervang sou word met 'n morele Manicheïsme, waar die wêreld simplisties verdeel word tussen die goeie kragte en die bose kragte. Die Manicheïsme staan in spanning met die tragiese wêreldbeskouing waar twee protagoniste in 'n tragiese situasie albei gebrekkige insig in en 'n gedeelde aandeel aan die situasie het, en waar hulle moet kies tussen die wedersydse erkenning van hul gebrekkige insig en gedeelde aandeel en mekaar sodoende vrystel om saam verantwoordelikheid vir die tragedie te neem; of waar een van die twee se gebrekkige insig tot die waarheid verabsoluteer en sy gedeelde aandeel ontken word, en die ander een dan volstrek veroordeel en uit die geskiedenis (en dikwels die lewe) verwyder word. In laasgenoemde situasie raak “die morele hoëgrond”, skuld en veroordeling baie belangriker as gesamentlike verantwoordelikheidsneming en ruimte vir mekaar se foute. Dit lei tot 'n moralisering van die politiek en verskraal die politiek tot 'n morele aangeleentheid waar die “minder skuldige” party uiteindelik homself die reg toeëien om sy “ morele” wêreldbeskouing eensydig toe te pas. Dit is nie de mokraties nie en moet uitloop op 'n brute magspolitiek in die naam van “die morele hoëgrond”. Gegewe Suid-Afrika se moeilike geskiedenis, en die feit dat die apartheidsbedeling en sy groeiende rasbeheptheid onderlê is deur presies so 'n morele Manicheïsme van die “goeie blankes” en die “slegte swartes”, of die “goeie Christene” en die “slegte Kommuniste”, moet ons dan ook nie verbaas wees dat die huidige magshebbers afkomstig uit die anti-apartheidsbeweging hulle ook toenemend aan 'n omgekeerde morele Manicheïsme skuldig maak nie, waar dit byvoorbeeld gaan om die “goeies” wat wil transformeer en die “slegtes” wat dit nie wil doen nie (sonder dat daar veel van 'n debat oor transformasie as middel tot 'n beter toekoms vir almal is). Tien jaar sedert die koms van grondwetlike de mokrasie is daar tekens dat ons al hoe nader beweeg aan 'n totaal moraal wat deur 'n ons-en-hulle-mentaliteit onderlê word, en wat magspolitiek in die naam van de mokrasie legitimeer. Ons verwys hier na drie sodanige tekens. In die eerste plek het die wyse waarop die huidige orde die heengaan van dr. Beyers Naudé hanteer het, gewys dat daar nie geskroom sal word nie om selfs iets so sensitief soos iemand se dood skaamteloos te verpolitiseer en in te span as instrument om die nuwe orde se weergawe van ons geskiedenis, vereenvoudigings en al, te legitimeer. Régis Debray het al in 1981 se Critique of Political Reason gewys op hoe die sogenaamde ateïstiese Sowjet-Unie sy ontslape leiers gebalsemd in oop kiste in mausoleums laat lê het waar hulle die voorwerp van burgerlike aanbidding gemaak is. 'n Mens is onwillekeurig hieraan herinner in die tien dae tussen Naudé se dood en uiteindelike begrafnis. Op totale en onbesinnende wyse is Naudé op baie bepaalde wyse deur die huidige orde toegeëien. Dit is nogal ironies as 'n mens onthou dat Naudé self in 1963 met die totaal moraal van daardie era gebreek het in die naam van 'n ander soort moralititeit en politiek. Ook tekenend van hierdie totaal moraal en die onderliggende versugting om ten alle koste vir die morele magsondernemers van die huidige bestel aanvaarbaar te wees, is die haas koorsagtige wyse waarop 'n handjievol Afrikaanse joernaliste dag vir dag by wyse van spreke die kis oopgehou het, terwyl daar uit die breë Afrikaanse gemenebes se geledere eintlik bloedweinig reaksie was. Waarskynlik is hierdie gebrek aan reaksie nie soseer te wyte aan 'n gebrek aan respek en waardering vir Naudé nie, as aan 'n ongemak daarmee dat die regering die slegte gewoonte het om slegs daardie Afrikaners te erken wat oënskynlik kritiekloos by hul moralistiese magspolitiek inpas. In die tweede plek is daar in die nasionale debat die neiging om enige stewige kritiek op die nuwe orde met rassisme te verbind. Wanneer blanke kommentators kritiek lewer, veral rondom 'n saak soos Zimbabwe, word hulle alte gou vir rassiste uitgekryt. Wanneer swart kommentators dit doen, word hulle beskuldig van selfhaat of dat hulle deur “reaksionêre (blanke) kragte” gekoöpteer is. Oor hierdie vergroeisel van ons openbare sfeer het prof. Sipho Seepe hom tydens 'n paneelbespreking by die FAK jaarkongres met groot bedrewenheid uitgelaat, en dit kom ook nie as 'n verrassing nie dat hy in soveel mags- en mediakringe persona non grata is nie. Wat in die verlede as volksvreemd of volksverraaier beskryf is, staan vandag bekend as onpatrioties of anti-transformasie. In die derde plek is daar veral onder Afrikaners 'n besondere strategie om te bou aan 'n totaal moraal, naamlik om kritiese Afrikaanse stemme komieklik te maak deur hulle voor te hou as mense wat “wroeg”, dikwels ook nog met die gewraakte “grys skoene”. (Dra iemand ooit nog grys skoene? Is daar 'n verskil tussen grys skoene en grys hare? En is daar iets verkeerd met grys skoene of grys hare?) Onderliggend aan die vertekening van kritici tot “wroegers” is 'n soort sonskynpolitiek waar “skuldige” Afrikaners liefs dankbaar moet wees dat hulle nie die see ingejaag is na die apartheidsera nie, en waar “goeie” swart regeerders nie dieselfde magsvergrype as sommige van hulle “slegte” wit voorgangers sal pleeg nie. Veral heelwat jonger kommentators wat oordrewe moreel na die politiek kyk, is geneig om pleitbesorgers vir die politiek van goeie gesindheid te wees (wat in feite geen politiek is nie!). Intussen is hierdie kommentators se bereidheid om te veroordeel regstreeks omgekeerd in verhouding tot hul onver moë tot goeie oordeel - 'n wesenlike voorwaarde vir die politiek. Dit is dan ook nie verbasend nie dat hulle pogings tot 'n nuwe politiek in Afrikaans byna outomaties aan nasionalistiese nostalgie, neo-apartheid of daardie ergste van morele donkertes, regsheid, verbind, in plaas daarvan om met argumente en analises vorendag te kom. De mokrasie, soos prof. Seepe beklemtoon het, word nie gegee nie, maar opgeëis, en teen die agtergrond van 'n halfeeu se globale totaal moraalpolitiek behoort de mokrate nog waaksamer as ooit te wees. Die einde van apartheid was nie die einde van die stryd om demokrasie in hierdie land nie. |