| ||||
Die FAK op 75 Vir baie mense is die Federasie van Afrikaanse Kultuurverenigings (FAK) bloot die organisasie wat eens op 'n tyd die lywige bundel volksliedjies, die FAK-sangbundel, uitgegee het. Maar tydens die pasafgelope FAK-jaarkongres wat op 17 en 18 September in Pretoria ter viering van die FAK se 75ste bestaansjaar gehou is, was dit duidelik dat die FAK nie net veel meer as 'n sangbundel is nie, maar ook op die vooraand van 'n opwindende nuwe tydvak staan. Soos die bekende kultuurhistorikus, O.J.O. Ferreira, ons herinner in die verjaardagbundel van die FAK, FAK-75: Geskiedenis van die derde kwarteeu in die bestaan van die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge, 1979 – 2004 (FAK, Pretoria, 2004), het die FAK op 18 Desember 1929 tot stand gekom by die Afrikaanse Taal- en Kultuurkonferensie wat in die Bloemfonteinse stadsaal gehou is. In die “besielende openingsrede” wat dr. N.J. van der Merwe by die kongres gehou het, vertel Ferreira (p.10) dat Van der Merwe onder meer gesê het: “Ek heet u welkom tot 'n kongres wat 'n verdere skof op die trekpad van die Afrikaner beteken.” Die stigtingskongres van die FAK het plaasgevind teen die agtergrond van die traumatiese, grootliks gedwonge verstedelikingsproses waaraan Afrikaners na die Anglo-Boereoorlog onderwerp is. Uitgesluit uit wat vandag as “die eerste ekonomie” bekendstaan, en sonder werklike inspraak in staatsake, was Afrikaners se enigste alternatief om hulself veral as gemeenskap te organiseer. Tussen 1929 en 1948 het die FAK veral met sy reeks “volkskongresse” 'n reuse rol gespeel om van hierdie gemeenskapsbeweging 'n gedugte faktor in Suid-Afrika te maak. By die volkskongresse is nie net deeglike ontledings gemaak van sake soos die onderwys of die ekonomie nie, maar is ook aksies geloods op hierdie terreine. Daar is dus gedink sowel as gedoen, en die doen en die dink is nie kunsmatig apart van mekaar gehou nie. Dit was een van die skaars periodes waar Afrikanerintellektuele en die breër gemeenskap skouer aan skouer vir 'n groter ideaal gewerk het. Daardie ideaal was Afrikanernasionalisme en die droom van staatsbeheer, wat uiteindelik in 1948 verwesenlik is met die Nasionale Party se oorwinning by die stembus. Waar die tyd voor staatsmag van 1929 tot 1948 een van groot energie en legitimiteit vir die FAK was, het die verstaatliking van die Afrikaner vanaf 1948 algaande ook meegewerk om die FAK van die gemeenskap en die intellektuele af te sny en dienstig aan staat en party te maak. Dit is ook uit hierdie era wat die oppervlakkige onderskeid tussen kultuur en (party)politiek dagteken, en waarvolgens die kultuur die terrein van die organisasies en die politiek die terrein van die party was. Beide was natuurlik inderwaarheid instrumente van die staatsorde. Aangesien dit hier gegaan het om 'n staat wat sonder veel verandering uit die koloniale tydvak oorgeneem is, het beide kultuur en (party)politiek mettertyd dus verander in magsinstrumente eerder as gemeenskapsvoertuie, en teen die vroeë 1980’s was die skade hiervan deeglik te bespeur onder 'n nuwe jong geslag Afrikaners vir wie kultuur 'n verstokte formalisme en politiek geslepe opportunisme was. Na 1994 is die FAK soos feitlik alle ander Afrikanerinstellings met die prysgawe van staatsmag in 'n krisis gedompel. Sommige van hierdie instellings sou ten gronde gaan, byvoorbeeld deur hulle opnuut by die staatsorde aan te sluit, soos die NNP gemaak het. Ander sou hulself met 'n nuwe visie heruitvind, en hiervan is die transformasie van die Mynwerkersunie tot Solidariteit die beste voorbeeld. Ook die FAK-leierskap het deeglik kennis geneem van hierdie veranderde historiese konteks, en onder leierskap van die uittredende voorsitter, mnr. Piet Badenhorst (of Oom Piet soos hy alombekend is), asook die huidige besturende direkteur, die energieke mnr. Hennie de Wet, is begin met 'n proses van bestekopname. 'n Verjonging van die direksie is begin en veral die afgelope twee jaar is nie net die organisasie tot meer vaartbelynde netwerkmeganisme omvorm nie, maar is die finansiële posisie ook grootliks gestabiliseer, hoewel daar nog heelwat ruimte vir verbetering is. Vroeër vanjaar is 'n strategiese komitee in die lewe geroep om te werk aan 'n nuwe visie en rigting vir die FAK. Die besef het ingetree dat die beste kans op vernuwing geleë is in 'n herontdekking van die FAK se tradisie voor 1948 as instelling van intellektuele en die breër gemeenskap. Verder is besef dat 'n nuwe Afrikavisie waarin Afrikaner en Afrikaan vanaf gemeenskapsvlak rondom veeltaligheid en ekonomiese selfstandigheid handel, dringend nodig is ten einde die huidige elitistiese, uitsluitende Afrikavisie van die heersende korporatiewe en staatselite te verbreed tot iets meer gemeenskapsgerig. 'n Eerste tree ter verwesenliking van hierdie visie was die stigting van Die Vrye Afrikaan, waarvoor lof en waardering steeds uit alle oorde bly instroom. 'n Tweede tree was om verlede naweek kongres te hou oor Afrikaners, Afrika en (tien jaar) de mokrasie. By die kongres is die FAK se nuwe visie van Afrika nie net met groot geesdrif deur oud sowel as jonk begroet nie, maar het Oom Piet Badenhorst die voorsitterstoel waardig en met waardering oorhandig aan die nuwe voorsitter, prof. Danie Goosen, wat onbestrede verkies is, en wat ook dien in die redaksionele raad van Die Vrye Afrikaan. Die Vrye Afrikaan is trots op dié prestasie van een van ons medewerkers, wat om hom die afgelope jare as een van die belangrikste denkers in Suid-Afrika onderskei het, en ons wens hom van harte geluk met sy verkiesing. Aanstaande week publiseer ons nie net Goosen se voorsittersrede nie, maar ook prof. Deon Geldenhuys se galalesing oor die kongrestema, asook enkele ander bydraes wat tydens die kongres deur mense soos prof. Sipho Seepe gelewer is. Die Vrye Afrikaan wens die FAK ook geluk met sy 75ste verjaardag, en ons glo dat die FAK met 'n nuwe visie vir Afrikaners in Afrika, en met nuwe energie in sy leierskap, op die vooraand van 'n nuwe era staan. Ons glo dat dr. Van der Merwe se woorde van 75 jaar gelede opnuut van toepassing is: saam met die FAK kan Afrikaners aantree vir “'n verdere skof op die trekpad”. |