| ||||
In die eerste van vandeesweek se twee lesersbriewe van die week, skryf mnr. Willem H. Boshoff op 11 September 2004: “In u terugvoer op mnr Claassen se brief steun u oënskynlik sterk op prof. S. Terreblanche se "kliniese analise" van die armoede-probleem in Suid-Afrika. As nagraadse student in ekonomie wys ek u graag daarop dat prof. Terreblanche se analise ver van wetenskaplik is. Prof. Terreblanche se analise is nie gegrond op ekonometriese navorsing nie (die internasionaal aanvaarbare metode vir ekonomiese ondersoek) - maar op die weergee van anekdotes en hoogs twyfelagtige uitsprake (soos dat die ANC tydens geheime ontmoetings sy ekonomiese beleid aan korporatiewe SA verkwansel het!). Eers wanneer u geloofwaardige getuienis het, kan daar oor u stellings gedebateer word!” Ons redakteur antwoord: 1. Mnr. Boshoff beweer: “Prof. Terreblanche se analise is nie gegrond op ekonometriese navorsing nie (die internasionaal aanvaarbare metode vir ekonomiese ondersoek) - maar op die weergee van anekdotes en hoogs twyfelagtige uitsprake (soos dat die ANC tydens geheime ontmoetings sy ekonomiese beleid aan korporatiewe SA verkwansel het!).” Prof. Terreblanche se boek is 'n lywige volume van 527 bladsye wat historiese navorsing van die hoogste gehalte bevat. Nie net het hy die jongste beskikbare historiese bronne betrek nie, maar, belangriker, was daar tot op hede na ons wete nie 'n enkele openbare weerlegging van Terreblanche se uiteensetting van hoe die ANC in die vroeë 1990’s tot 'n ekonomiese beleidsommeswaai deur die korporatiewe sektor oorgehaal is nie. Tot so 'n weerlegging nie vorendag kom nie, het ons geen rede om prof. Terreblanche se uiteensetting in twyfel te trek nie, des te minder aangesien die ANC se ekonomiese beleid tot baie onlangs volledig ooreengestem het met wat korporatiewe Suid-Afrika wou hê. Intussen kom daar dadels van die veelgeroemde 6% groeikoers, regstreekse buitelandse beleggings of deursyfering van welvaart na armes, bes moontlik omdat veral laasgenoemde gewoon nog nooit in die geskiedenis gebeur het nie. 2. Mnr. Boshoff se beroep op ekonometrie as die “internasionaal aanvaarbare metode vir ekonomiese ondersoek” is twyfelagtig. Wat prof. Terreblanche self betref, het hy waar nodig 'n magdom statistieke, van hulle self deur ekonometriste byeengebring, in sy boek aangewend om met vers en kapittel aan te toon waarom Suid-Afrika so erg gebuk gaan onder armoede. Wat die ekonometrie self betref, is die vraag watter verskil, sê, die afgelope tien jaar se ekonometrie, beide in sakebylaes of finansiële tydkrifte, of in akademiese joernale, verander het aan Suid-Afrika se armoedekrisis, of om gemeenskappe ekonomies selfstandig te maak. Die antwoord is bittermin. Wat eerder waar is, is dat die vernuftige syferspel wat vandag vanaf sportkommentaar tot ekonomiese ontledings domineer, eerder te make het met die diens van stelsels as met die opheffing van gemeenskappe. As ekonometrie ons help om die redes vir armoede te begryp, is dit nuttig; as dit egter die armoedekrisis en die redes daarvoor verdoesel, soos wat alte dikwels in Suid-Afrika gebeur met die baldadige begroeting van nog 'n persentasiepuntjie af van die rentekoers of dergelike, is dit onmenslik, en eintlik niks anders as propaganda waarmee die bevoorregtes hulself sus nie. Groot ekonome soos J.K. Galbraith, John Maynard Keynes of Amartya Sen, wat pas deur Rhodes-universiteit met 'n eredoktorsgraad vereer is, is allermins ekonometriste, maar ekonome wat hulle besig hou met wat die woord in sy grondvorm sê, naamlik die materiële welstand van gewone mense. In die tweede van vandeesweek se lesersbriewe skryf mnr. Gert Rautenbach op 10 September: Haai Johann, Noudat jy aan die begin van 'n nuwe roepstem is: help my asb. verstaan. Hierdie ONS-PLEK-IN-AFRIKA-EN-DIE-WêRELD ding: wat is dit wat ons probeer doen? Ek kan sekere goed as vanselfsprekend verstaan, soos die belangrikheid van moedertaalonderrig, ens. Maar dan: 1. Probeer ons iets aan Afrika oor onsself verduidelik wat ons dink hulle nie verstaan nie? 2. Probeer ons iets aan Afrikaners verduidelik oor Afrika wat hul mening oor die kontinent sal verbeter? 3. Probeer ons op 'n manier wys dat ons anders as die ander wit Europeers is? Dat ons Afrika beter verstaan, of beter aan verbind is, a.g.v. die Boereoorlog ens? 4. Probeer ons Afrikaners oortuig om hul welvaart met Afrikane te deel? 5. Probeer ons Afrikaners oortuig van meer "Afrikawaardes", eerder as "Europese/Amerikaanse waardes" 6. Soek ons gemeenskaplike grond vanwaar Afrikaners en Afrikane verenig kan word? 7. Soek ons aanvaarding vir iets wat ons gedoen het, maar nie erken word nie? 8. Soek ons vergifnis of 'n klop op die skouer, of probeer ons wys dat ons verby die skuldgevoel gekom het? 9. Probeer ons die groep Afrikaners vergroot om Kleurlinge, ens. in te bring? 10. Probeer ons Afrika oortuig dat ons die "sleutel" tot hul sukses kan wees? 11. Wat maak die "Vrye Afrikaan" anders as die "Onvrye Afrikaan"? Dink mooi daaroor en laat weet. Ek belowe jou dis maar net 'n eerlike poging om agter die kap van die byl te kom. En ek sweer die ander mense sit en wonder en worstel met dieselfde vrae.”
Mnr. Rautenbach, op u punte 1 tot 11 die volgende: 1. Beslis nie, Afrika kan vir haarself dink. 2. Ook nie, DVA is allermins 'n oefening in goeie gesindheid, maar wel 'n poging om 'n nuwe blik op Afrika te ontwikkel, nóg romanties, nóg swartgallig, wel realisties. 3. Nee, ons het niks om te bewys nie, maar wel 'n geleentheid om onsself nuut uit te vind. 4. Nee, maar wel dat die klem vir Afrikaner sowel as Afrikaan op volhoubare selfstandigheid val, met die nodige erkenning aan sowel Afrikaners se aandeel in hulle eie welstand, as in ander gemeenskappe se armoede. Albei is deel van ons geskiedenis. 5. Nóg die een, nóg die ander. DVA glo nie in kulturele essensialismes soos “Afrikawaardes” of “Europese waardes” nie: die beste en die donkerste van die menslike geskiedenis kom in albei wêrelddele voor. Wat ons wel dink, is dat gemeenskappe tans lewenskragtiger in Afrika as in Europa is, vir die eenvoudige rede dat tegniese modernisering nie op dieselfde skaal in Afrika deurgevoer is nie. Ons verwys u graag na Jared Diamond se Guns, Germs and Steel as 'n uitstekende bron om hierdie probleem te verklaar. 6. Nee, ons leef die gemeenskaplike grond wat reeds bestaan, maar wat in die onlangse verlede en in die hede dikwels deur opportunistiese partypolitici misken is vir kortsigtige eiegewin. 7. Beslis nie, anders as wat die geval met sommige elitistiese Afrikaners is wat hulself ten alle koste wil misken om deur elitiste in swart geledere aanvaar te word. Ons belang lê nie by elitiste nie, maar by almal wat in die eerste plek glo in en werk vir lewenskragtige gemeenskappe. 8. Nóg die een, nóg die ander. Maar ons glo wel dat die beste manier om ons veelkantige geskiedenis te erken is deur die oomblikke van selfstandigheid en goeie buurmanskap in ons verlede ter wille van 'n beter toekoms vir gemeenskappe en ons vasteland toe te eien. 9. Nee. Gemeenskappe se toekoms hang nie van opportunistiese omgang met die demografie af nie, maar wel van waardige handeling en gegronde idees. 10. Nee, want ons is self ook Afrika. Maar ons glo wel dat Afrikaners veel het om tot Afrika by te dra. 11. Haar selfstandigheid, idees, taalontwikkeling en gemeenskappe. |