Charles Villa-Vicencio Deur Charles Villa-Vicencio, teoloog en Uitvoerende Direkteur van die Instituut vir Geregtigheid en Versoening, Kaapstad Wie is die man ter ere van wie hierdie jaarlikse lesing gehou word? Om Beyers Naudé te huldig, is om 'n NG-dominee te erken - sy wese is onlosmaaklik van hierdie identiteit. Om Beyers Naudé te vier, is om 'n polities betrokke landgenoot te erken. Om Beyers Naudé te ken, is om 'n diep godsdienstige en vroom mens te respekteer. Die las van my aanbieding wat deur hierdie man geïnspireer is, hou verband met 'n kritieke kwessie wat Suid-Afrika in hierdie tweede dekade van demokrasie in die gesig staar. Dit betrek die vraag van hoe om die reg tot kulturele, etniese en rasse-identiteit - waarvan dié van minderheidsgroepe nie die minste is nie - te bevestig; hoe om die energieke deelname van alle Suid-Afrikaners te bevorder sonder om van enige groep te verwag om hulle kulturele wortels te negeer of te onderspeel; hoe om 'n waarlik veelvoudige Suid-Afrikaanse samelewing te vier.
Die oorgrote meerderheid van noemenswaardige konflikte wat tans in die wêreld voorkom, is tussen gemeenskappe binne nasionale state, eerder as tussen nasionale state. Die meeste van hierdie konflikte is minstens gedeeltelik gewortel in die mislukking van etniese, kulturele en godsdiensgemeenskappe om vreedsaam naas mekaar te bestaan. Terselfdertyd is dit belangrik om te erken dat etniese, kulturele en godsdienstige konflik feitlik sonder uitsondering vervleg is met een of ander vorm van materiële ontbering en/ of politieke uitsluiting. Dit is in wese wanneer individue en groepe 'n sin van uitsluiting van die staatshuishouding (body politic) en sy materiële voordele ervaar, wat hulle steun op identiteitsbelange om hulle politieke en materiële agendas aan te dryf en te legitimeer.
Daar is 'n groeiende globale bewustheid dat nasies - en nie in die minste nasies in oorgang vanaf onderdrukkende regering en volgehoue geweld soos ons eie nie - wat in gebreke bly om die bedreiging wat groepe uitgesluit uit die nasiebouproses inhou, aan te spreek, dit tot hulle eie nadeel doen. Die balans wat hier nodig is, is delikaat. Om die skepping van 'n gedeelde en inklusiewe kultuur uit te stel, is om weerstandige groepe toe te laat om die ou orde voort te sit. Om, daarenteen, te vinnig vorentoe te beweeg, is om wrewel en potensiële destabilisering te bevorder. Die vraag na hoe om 'n inklusiewe staat te bou in omstandighede van diepe historiese, kulturele, godsdienstige en materiële verdeeldheid, bied 'n politieke uitdaging aan ontluikende demokrasieë waarop die akademie, politici en alle redelike burgers verstandig sal wees om te let.
Tien jaar later is daar aanduidings dat hierdie eenheid toenemend van balans gegooi en selfs uitgedaag word deur 'n groeiende sin van partikularisme. Khoi-Sanherkoms word gevier; daar is groeiende trots onder diegene wat hul identiteit herlei na die aankoms van slawe in die 16e eeu; Afrikaners eis hul plek as stam van Afrika op; Suid-Afrikaanse Indiërs bevestig hul kulturele afkoms; en Moslemvroue word toenemend in die openbaar met swart sluiers gesien. Algemeengesproke lyk dit of dit nog slegs Suid-Afrikaanse Engelse is wat steeds stry om hul voorvaderlike afkoms anderkant een of ander soort taal- of globale oorheersing. Die meerderheid van swart Afrikane is geensins meer eenvormig as enige ander groep nie, en tog, miskien weens 'n nuwe sin van oorheersing, staan hulle grootliks onverskillig teenoor die soektogte en twiste wat die identiteitstryde van minderheidsgroepe uitmaak - hoewel Thami Maswai, Barney Pityana, Malegapuru Makgoba en andere dit geniet om hulle aan sulke debatte te waag.
In hierdie situasie plaas Beyers Naudé as besliste Afrikaner hom ongekwalifiseerd binne die breër Suid-Afrikaanse konteks. Dit is hier waar hy woon, beweeg en sy wese het, terwyl hy weier om te vlug na die ghetto van wit eksklusiwiteit. Dit bied 'n uitdaging wat geen Suid-Afrikaner - wit of swart - kan bekostig om te ignoreer nie. Hy oorstyg stamchauvinisme en uit hoofde van sy sterk Afrikaneridentiteit daag hy 'verskilblinde' begrippe van liberale inklusiwiteit uit. Hy kerm nie. Hy vra geen spesiale guns nie, en kla nie oor die behoefte aan wit voorreg of minderheidsregte nie. Hy eis sy regte op deur 'n Suid-Afrikaner in 'n nie-rassige, demokratiese Suid-Afrika te wees. Miskien is hy in staat om dit te doen vanweë sy geworteldheid in sy eie Afrikaneridentiteit, sonder om aan te neem dat die eie belangriker is as die ander.
'n Inklusiewe Suid-Afrika is 'n visie wat sowel uitnodiging as uitdaging inkorporeer. Die uitdaging is om ras, kultuur en voormalige identiteit te oorstyg - sowel as klas, gesondheidstatus en onmiddellike maatskaplike behoeftes. Die uitdaging betrek die implikasies daarvan om te leef in 'n land wat steeds deur die ongeregtighede van die verlede geteister word. Uitnodiging en uitdaging is keerkante van dieselfde munt, wat die bevestiging van die inherente skakel tussen versoening, maatskaplike insluiting en ekonomiese ontwikkeling betrek. In besinning oor hierdie uitdagings suggereer Njabulo Ndebele kragtig, dog eenvoudig dat versoening en insluiting nie soseer te make het met huidige werklikhede nie as met "wie ons kan word". Dit herinner ons dat vir versoening om te oorleef en vir kulturele verdraagsaamheid om te gedy, moet die materiële en die subjektiewe behoefte as keerkante van dieselfde muntstuk bevorder word.
Die samesmelting van die Nuwe Nasionale Party (NNP) as tuiste van sommige Afrikaanssprekende Suid-Afrikaners met die African National Congress herbeklemtoon, byvoorbeeld, die behoefte aan egte kulturele deelname aan sowel party as staat. Hoewel die bydrae van die NNP tot die ANC getalsgewys onbeduidend mag wees, sal die toenadering - indien eg - weer eens van die ANC vereis om die implikasies van kulturele inklusiwiteit soos vasgevang in die Vryheidsmanifes in die gesig te staar. Laat ons volstaan deur te sê dat as verdere wit deelname aan die party moet plaasvind, is dit waarskynlik dat die debat oor kulturele inklusiwiteit in die openbare sfeer sal verhewig. Hierdie debat wat soms oorgelaat word aan 'n paar intellektuele en aan diegene wat die kwaaiste deur 'n sin van uitgeslotenheid beledig voel, is 'n debat waarvoor die stutte en strukture goed geplaas is. Die grondwetlike erkenning van diversiteit, die status van elf amptelike tale, en die verteenwoordiging van minderheidspartye in die Nasionale Vergadering op basis van so min as 25% van die nasionale stem bied almal ruimte vir deelname aan die nasiebouprojek. Hierdie strukture moet aangewend en ontgin word om groeiende blyke te gee van 'n openbare sfeer wat in sy eie belang nie kan bekostig om uit te sluit nie.
Dit is verstaanbaar dat ons 'n verdraagsame, selfs 'n laissez-faire, eerder as 'n beginselvaste, gerigte begin met die kwessie van nasionale simbole, stad- en dorpname, landmerke en standbeelde gemaak het - hoewel dit nou aandag begin geniet. Ons het nie geboue, standbeelde en simbole van die verlede gesloop nie. Die vraag is waarheen ons hiervandaan gaan. Hoe sal ons 'n nuwe visie wat verby die verlede na 'n inklusiewe toekoms strek insluit, aanvul en vasvang?
Apartheid was natuurlik gebou op multikulturele verskil en die bevordering van groepsidentiteit as voorwendsel vir oorheersing. Boerestaatpolitiek en Zoeloenasionalisme gaan op hul beurt en op hul manier voort om die reg om anders te wees te bevestig. Om 'n samelewing te bou waarin verskillende kulture en etniese groepe sy aan sy leef in plaas daarvan om die moontlikhede om met mekaar in omgang te tree hou duidelik sy eie stel probleme in. Gegewe dat die menslike aard en politiek is wat dit is, leen die stryd om oorheersing hom tot die soort nasionalistiese of groepsnarcissisme waarna vroeër verwys is.
Die belang van verskil is om ruimte te skep vir Suid-Afrikaners gewortel in verskillende tale en kulture om aan die openbare ruimte deel te neem. Dit is terselfdertyd belangrik om te verseker dat geen groep ander oorheers of die inklusiwiteit van die openbare sfeer by verstek of met opset ondermyn nie. Dít vereis 'n besef by alle deelnemers aan die nasiebouproses dat vir kultuur om vry te wees en 'n volk te laat ontwaak - om in Fanon se woorde "die sin te skryf wat die hart van die volk uitdruk en die mondstuk van 'n nuwe werklikheid in aksie word" - moet dit oop wees vir wat dit beteken om Afrikaner, Xhosa en Zoeloe in verhouding met die ander etniese groepe van die nasie te wees. Kulturele openheid gaan oor die verkenning van die toekoms eerder as oor die projektering van die verlede of die verskansing van die hede. Dit gaan oor die oorweging van wat môre mag inhou, eerder as om die onafwendbare te probeer voorkom. Dit is om te erken dat nuwe, komplekse identiteite in Suid-Afrika na vore begin tree.
Hierdie besef was deel van Beyers Naudé se verbintenis ten tyde van die stigting van die Christelike Instituut in 1963. Deur apartheid af te wys as 'n "valse geloof" en 'n "nuwe evangelie" het die Instituut se posisie die duidelikste geword in die Message to the People of South Africa gepubliseer deur die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke (SARK) in oorleg met die Instituut en SARK-lidkerke. Dit het verklaar dat versoening "hindernisse van herkoms, ras, nasionaliteit, taal en kultuur wat geen regmatige plek in die inklusiewe broederskap van dissipelskap het nie", uitsluit. As ons as nasie maar net toe na hierdie woorde geluister het. Dit het veertig jaar geneem om te begin verstaan wat dit mag beteken. Hierdie is 'n verkorte weergawe van die eerste Beyers Naudé-gedenklesing wat deur die Kagiso-trust geborg word en op 1 September 2004 in Engels by die Universiteit van Pretoria gelewer is. Die Vrye Afrikaan bedank dr. Villa-Vicencio vir sy toestemming om dit in Afrikaans te publiseer. |