| ||||
In die onderhoud wat Alain de Benoist in die eerste maanduitgawe van Die Vrye Afrikaan met ons gevoer het, verklaar hy "dat daar uiters uiteenlopende religieuse, politieke en ideologiese strominge in die Islamitiese wêreld voorkom"; asook "dat wat vandag beskryf word as 'Islamitiese fundamentalisme' veel eerder 'n politieke as 'n religieuse verskynsel is". Om dus drie jaar na Al Qaida se terreuraanvalle op die VSA terug te kyk op wêreldgebeure sedertdien - ook met die histories belangrike Amerikaanse presidentsverkiesing om die draai - is dit dus raadsaam om De Benoist se kwalifikasies in gedagte te hou. Wat die Midde-Ooste betref, is dit alombekend dat Islamitiese ekstremisme - om die verskynsel meer presies te benoem - 'n teelaarde vind in die kombinasie van meer as sewentig jaar se Westerse uitbuiting van die streek met die monopolisering van die streek se olierykdom deur sy korrupte regimes. Charles Villa-Vicencio sê dan ook in sy Beyers Naudé-gedenklesing, waarvan ons vandeesweek 'n verkorte weergawe publiseer: "Terselfdertyd is dit belangrik om te erken dat etniese, kulturele en godsdienstige konflik feitlik sonder uitsondering vervleg is met een of ander vorm van materiële ontbering en/ of politieke uitsluiting. Dit is in wese wanneer individue en groepe 'n sin van uitsluiting van die staatshuishouding (body politic) en sy materiële voordele ervaar, wat hulle steun op identiteitsbelange om hulle politieke en materiële agendas aan te dryf en te legitimeer." Maar waarom word 'n erg verdraaide vorm van Islam dan vandag 'n wagwoord vir dikwels gewelddadige politieke mobilisasie in lande so uiteenlopend as Afghanistan, Pakistan, Rusland of Tsjetsjnië? In Afghanistan was daar in die aanloop tot aanstaande maand se verkiesing reeds verskeie bomontploffings, soos dit ook al vir etlike jare in Pakistan die geval is (en skerp toegeneem het sedert 9/11). In Rusland is 90 mense dood in twee afsonderlike vliegongelukke naby Sondag 29 Augustus se tweede beknoeide Tsjetsjeense verkiesing binne minder as twee jaar. Ook is die wêreld geskok deur die skoolgyselaarsdrama in Beslan, Noord-Ossetië, wat aan Tsjetsjnië grens. Al hierdie, asook die meeste ander lande waar Islamitiese terreur die afgelope drie jaar voorgekom het, het die miskenning van plaaslike gemeenskappe gemeen. Miskien neem Rusland se tsaristiese president Vladimir Poetin 'n besondere plek in in die galery van nominaal demokratiese geweldenaars met sy koelbloedige verguising van die Tsjetsjene, wat nou al meer as 200 jaar om hul vryheid teen 'n imperiale Rusland stry. Daar is egter ook 'n ander faktor wat verreken moet word in die globalisering van Islamitiese ekstremisme. Dit is naamlik die feit dat die kombinasie van 'n opkomende netwerkwêreld met gebrekkige politieke instellings en die grensontkennende neo-liberale markfundamentaliste mense na ouer, beproefde vorme van grense - soos die religie - laat teruggryp. Die val van die Berlynse Muur in 1989 was simptomaties van die einde van 200 jaar se bepaling van die internasionale orde deur die nasiestaat, wat mense se natuurlike behoefte aan grense vervul het met sy nasionalistiese agenda. Dit was egter die moderne kommunikasie- en vervoerrewolusie wat vanaf die 1950's die belang van nasionale grense opgehef het. Die internasionale mediamark wat hieruit ontstaan het, het ook belang daarby om grense op te hef. Hiervan is die beste voorbeeld die politieke druk wat die VSA vanaf die laat 1970's vir die deregulering van nasionale markte begin uitoefen het, toe dit finaal duidelik was dat die amper heilige ideaal van nimmereindigende groei nie langer gehandhaaf kon word binne die Amerikaanse binnelandse mark nie. Nuwe markte moes geskep word, en hiervoor moes ander lande begin "dereguleer". Wêreldhandel was histories by tye een van die belangrikste kragte ter wille van vrede, maar die aggressiewe politieke manier waarop wêreldhandel gerugsteun deur Amerikaanse militêre mag vandag alle grense uit die pad wil vee, maak van wêreldhandel 'n krag van oorlog. Veral gemeenskappe wat nie deel in die winste van wêreldhandel nie, en nie meer veilig kan voel binne nasionale grense nie, kan onder meer in religie 'n veilige hawe sien. Hoe groter die behoefte aan die grens, hoe groter ook die verdraaiing van die religie - vandaar globale Islamitiese ekstremisme. Die enigste alternatief vir die absurde "globale oorlog teen terreur" is teen die agtergrond van die afgang van die nasiestaat nie net om nuwe streeksinstellings - die Europese of Afrika-Unie - na te streef nie, maar ook om meganismes te skep wat gemeenskappe groter politieke en ekonomiese selfstandigheid gee. So nie sal al hoe meer gemeenskappe uit wanhoop hulle tot geweld en terreur in die naam van ou tradisies wend. |