blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


Vandeesweek se kommentaar: In wie se belang tree SASOL op? 2004-09-10
In wie se belang tree SASOL op?
"Die Vrye Afrikaan… glo dat nuwe vorme van gemeenskap en politiek nodig is om te keer dat die partypolitiek en die markekonomie langer oor gewone mense loop". So het ons verlede week in ons eerste maanduitgawe geskryf, en ons woorde was nog nie koud nie, toe die bestuur van SASOL 'n uitstekende voorbeeld van gemeenskapsmiskenning aan ons gegee het.
Ons verwys hier na die onbeholpe en selfs onbedagsame manier waarop die bestuur van SASOL gehandel het ná die ontploffing op 1 September by hul etileensubaanleg te SASOL-Secunda. Teen die skryf van hierdie kommentaar het reeds 7 mense hul lewens verloor, verkeer 5 in kritieke toestand en is meer as 100 beseer.
SASOL het 'n primêre, interne ondersoek na die voorval aangevra, maar die betrokke vakbonde op ongebruiklike wyse uit dié ondersoek gesluit - in weerwil van die feit dat artikel 18(2) van die Wet op Beroepsveiligheid uitdruklik vereis dat "werksplekverteenwoordigers" ook by sodanige ondersoeke betrek moet word. Kan dit wees weens SASOL se misnoeë met, byvoorbeeld, Solidariteit weens die skade wat dié se mediaverklaring oor die ongeluk oënskynlik aan SASOL se aandeelprys gedoen het?
Terwyl die gebruiklike sekondêre ondersoek onder leiding van die Departement van Arbeid nog nie begin het nie, het SASOL op die oomblik uitsluitlik toegang tot die ongelukstoneel. Dit laat die gemeenskap nie met die indruk dat die ondersoek deursigtig hanteer word nie.
Hierdie jongste in 'n reeks ongelukke by SASOL-aanlegte moet gesien word teen die agtergrond van die feit dat SASOL, soos talle ander "globale" Suid-Afrikaanse maatskappye, veral vanaf die 1990's die neiging van multinasionale maatskappye wêreldwyd volg om werknemers te besnoei en met hoëtegnologie te vervang. Die rasionaal hieragter is gewoonlik dat sodanige maatskappye "meer waarde vir hul aandeelhouers toevoeg".
Die kortsigtige, oorhaastige vervanging van mense met tegnologie het die afgelope jare 'n rol gespeel in onder meer die CIA se onvermoë om 9/11 te voorkom, asook in etlike Britse treinongelukke. Dit het die verdere negatiewe gevolg dat gemeenskappe deur werkloosheid en lewensverlies onwillekeurig die "waarde" van aandeelhouers begin subsideer. Die Vaaldriehoek wat deur ISCOR se gierige bestuur in 'n lewende hel verander is in die naam van "globale mededingendheid", is hiervan 'n sprekende voorbeeld.
Wat SASOL betref, is daar al geruime tyd 'n program in bedryf om koste op soveel vlakke as moontlik met 10% te besnoei, insluitende arbeidskoste, en daar is beslis rede om te vermoed dat SASOL se kortsigtige najaag van aandeelhouerswins deur, onder meer, arbeidsbesnoeiing 'n rol in hierdie jongste ongeluk kon gespeel het. Die maatskappy het ook nie ag geslaan op waarskuwings wat reeds twee jaar voor die ontploffing op 21 Junie aan die bestuur van SASOL deurgegee is nie.
Die wyse waarop SASOL egter tans die ondersoek hanteer, boesem nie vertroue by die gemeenskap in dat die waarheid op die lappe gaan kom nie. Gesien in die lig van die feit dat SASOL in die vorige bedeling as semi-staatsinstelling 'n belangrike instrument van gemeenskapsbemagtiging was, maak dit die gebeure des te onsmaakliker.
SASOL se misnoeë met Solidariteit se mediaverklaring is ook tekenend van die ondemokratiese praktyke waaraan multinasionale maatskappye wat hulle so graag op deursigtigheid, "openbare verhoudinge", en kommunikasie beroep, skuldig maak. Hier gaan dit nie om kommunikasie nie, maar die versigtige en eensydige oorsending van 'n boodskap wat aandeelhouers pas, maar nie noodwendig die gemeenskap nie. Sodra daar dan werklik gekommunikeer moet word in 'n onvoorsiene situasie, laat die kommunikasie veel te wense oor.
Hoewel ons ons bedenkinge oor die deursigtigheid van die proses het, sien Die Vrye Afrikaan reikhalsend uit na sowel die bevindings van die primêre en sekondêre ondersoeke, as om te verneem watter stappe SASOL se bestuur in samewerking met die gemeenskappe waaruit sy werkers kom gaan neem, om hulle as gelyke vennoot naas SASOL se aandeelhouers te betrek.
'n Bietjie minder "kommunikasie" en heelwat meer luister sal 'n goeie plek wees om te begin.

 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=14
Artikel nagegaan:
    -