| ||||
Lawrence Schlemmer Deur Lawrence Schlemmer, direkteur van die Helen Suzman-stigting, asook Markdata Drie uitstekende verslae oor die pasafgelope Afrikaanse taalberaad, met die ewe uitstekende ontleding in ThisDay van 1 September deur dr. Neville Alexander saamgelees, het my gelyktydig besiel en bedroef laat voel. Ek is beslis aangevuur maar opnuut deur die haas onoorkomelike probleme in die weg van Afrikaans vorentoe getref. Carel (iv) Boshoff, Gerrit Brand en Koos Malan het met vlymskerpe aanvoeling verslag gedoen oor die beraad. Neville Alexander het breër die geskiedkundigheid van die inisiatief beklemtoon, met sy oordeel dat dit die heel eerste volslae Suid-Afrikaanse taalbeweging ooit verteenwoordig. Sonder om enigsins hul betekenisse te bevraagteken, was al die vorige fases van die taalstryd rondom Afrikaans, wel met uitsonderings by individue, altyd op 'n afbakening van lojaliteite, identiteite en aanhang gerig. Die solidariteit was onafwendbaar na binnetoe. Die verslae en die artikel deur Alexander het egter almal bevestig dat die nuwe solidariteit op oorbrugging en ’n oorkoepelende identiteit gebou sal wees – ’n “federatiewe” strewe, soos Danie Goosen dit op die beraad bestempel het. Dus maak die nuwe inisiatief geen veronderstellings oor groepvorming, eenheid onder taalgenote of ideologiese eensgesindheid nie. Hierdie keer het die verdelings in die geskiedenis, vorige mislukkings wat deur baie bywoners ervaar is asook die soms driftige meningsverskille en agterdogte binne die beraad, die deelnemers as’t ware opwaarts gedwing om sodoende ’n vlak bokant versoening te vind. Die verslae het die uitslag soos volg bewoord: Carel Boshoff: “… die gedagte van ’n Afrikaanse gemeenskap in te ’n intieme sin (moet) laat vaar word … Daarmee wil ek egter nie berus in 'n onoorbrugbare kloof tussen ou apartheidskategorieë nie, (maar) ek wil in die plek daarvan die gedagte van ’n Afrikaanse Gemenebes propageer, ’n geestelike ruimte waarin talle Afrikaanssprekende gemeenskappe mekaar met die oog op almal se beterskap en beste belang opsoek.” Koos Malan: “ … ’n Mens mag skepties wonder hoe ’n beweging wat darem ’n sekere graad van eenheid veronderstel in die aanwesigheid van soveel uiteenlopendheid moontlik is…die taalbeweging en so ook die taalberaad funksioneer egter op 'n andersoortige versweë filosofiese grondslag … bykans onderbewustelik, wat beteken dat dit nie nodig was om uitdruklik (oor die verenigende grondslag) ooreen te kom nie”. Malan sien in die taalberaad en die nuwe insiatief “op die grondslag van ’n gesonde bekeidenheid”, die begrip dat die … “taalterrein wyd is en dat die werk op elkeen van die subterreine belangrik is, (met) ’n onderlinge sin vir samewerking en wedersydse ondersteuning …die taalberaad … was wel ’n gebeurtenis wat duidelik aantoon dat die energieë van die afgelope jare dermate gegroei het dat dit nou wydlopend genoeg is om ’n taalbeweging genoem te word.” Dit volg uit hierdie uiters beskeie veronderstellings dat daar deurlopende gevoeligheid sal moet wees om ruimte te laat vir onderskeie identiteite en soms diep verskillende strewens binne die breëre taalidentiteit. Soos Malan dit stel, sal dit vir elkeen die taak voorhou om as “… bondgenoot… veral die rol (te) moet speel om die ander rolspelers te onderskraag wanneer daar met staatsorgane gepraat en beding word”. Gerrit Brand merk dat die nuwe beklemtoning beteken dat die “Taalberaad ’n beslissende moment (is) in die gesprek oor wat dit sou kon beteken om Afrikaans in Afrika te wees” en spreek die hoop uit dat “die nuwe dinamiek in die Afrikaanse gemeenskap – en die oorspoeleffek daarvan op die ander tale – mettertyd ook stukrag aan die proses (van samewerking tussen Afrikatale) sal verleen. Hier sien ons dus dat ’n “gemenebes” binne ’n oorkoepelende groter sfeer van samewerking en deelname oor taalbehoud en kultuurverryking in die vooruitsig gestel word. Die sienings en hoop wat ontluik het, was nie idealisties en rooskleurig nie. Dan Roodt en ek het die waarskuwings van Carel Boshoff, Koos Malan en ander beaam dat die politiek wel deeglik verreken sal moet word in die verloop van die ontwikkeling. Nie slegs wat Malan genoem het die “ontoereikendheid van die grondwet” nie, maar ook die behoefte daaraan dat die taalfunksies in die onderwys, regspleging, openbare sektor en die politiek gekonsolideer moet word”. Carel Boshoff voeg ook by dat armoede en volhoubare ontwikkeling onder die uitdagings moet tel. Hier is dus met rypheid en beskeidenheid ’n gedeelde taak vir “Afrikaanssprekendes, Afrikaners, Boere, Griekwas en wie nog almal” (Boshoff) voorgestel wat beter as enige vorige pogings die onderlinge kontraste en verwikkeldheid van Suid Afrika se nuwe sosio-politieke werklikheid sal kan verreken. Hier is inderdaad ’n geleentheid om politieke insette totaal onafhanklik van partypolitieke standpunte te maak. Die nuwe inisiatief sal alle huidige stereotiperings van Afrikaanse politiek kan en moet verpletter. Waarom dan, was my besieling met die inisiatief met ’n sekere droefheid getemper? Dit was juis van die aspekte wat die meeste besiel het wat die grootste mismoedigheid ontlok het. Veral die verhewenheid van die gesprek het my aan die dink gesit – die vermoë onder baie deelnemers om met nuwe definisies van take, rolle en uitdagings ’n ruimte te skep vir intellektuele groei binne die gemeenskaplike taalverband. My bekommernis lê in die vraag of die arrogansie, kruheid en baie laagliggende motiewe van so baie Afrikaanssprekendes wat die alledaagse lewe van taalgenote domineer behoorlik vanaf hierdie verhewe posisies aangespreek kan word. Hoe kan die deelnemers in so ’n verhewe proses die opportunisme van Afrikaanse sakeleiers wat met hul politieke posisionering vir verdere winsbejag behep is, aangespreek word? Hoe kan die ondeurdagte papegaaiverbeelding van tieners wat ten alle koste net “cool” en vreeslik “Amerikaans” wil voorkom, verdiep word? Hoe kan die koerantskrywers en akademici wat doodangstig en desperaat is om aanvaarding binne die nuwe diskoers oor transformasie en bemagtiging te kry, gemotiveer word? Hoe kan ’n waardevolle erfenis van opregte beginsels van die verlede wat deur apartheid versluier is, herontdek word? Hoe kan die verwurgende oppervlakkigheid en instrumentaliteit van die dikwels voorgeskrewe “nuwe Suid-Afrika” simboliek binnegedring word om daarin 'n plek vir Afrikaans te vind, en met watter gevare vir die integriteit van die beweging? Hoe, veral, sal ’n Afrikaanse inisiatief sy regverdigheid kan beskerm wanneer die magsestablishment so baie van die Afrikaanse erfenis as ’n rasionaal vir nuwe, verdelende beleid opeis? Die kort antwoord is dat dit haas onmoontlik is. Maar met oordeelkundige strategie is daar miskien ’n skrefie hoop. In alle kultuurbewegings het die wyere ondersteuning eers bygekom nadat redelik onbesielde mense deur geleenthede en ’n begeerte om in belonings te deel, ingelok is. Die huidige bestel waarin baie Afrikaanse meningsvormers so ondeurdag opgeneem is en wat die oorlewing van die Afrikaanse taal as onbenullig bejeen, het geweldige hulpbronne om mense mee in te lok. Watter alternatiewe “voertrog” kan die nuwe Afrikaanse inisiatief vir al hierdie honger snuite aanbied? Dit moet gedoen word. Naas idealisme en liefde vir ’n taal, sal die onderdele binne enige nuwe taalbeweging ook moet saamwerk om kompeterende hulpbronne te mobiliseer, aktiwiteite te loods en geleenthede te skep wat belonend vir sommige asook boeiend vir ander sal kan wees. Die nuwe Afrikaans het nie net sielsgenote, ’n verskeidenheid van samewerkende leierskappe, vurige en ook kalme maar opregte ondersteuners nodig nie, maar ook ’n redelike skare van meelopers. Die meelopers sal dan ook die “mark” vir die taalkultuur versterk en die politici beïndruk. Daarom is hulle nie te versmaai nie. Een van die moeilikste take dus sal die versoening van idealisme met ’n doeltreffende werwingsaksie op 'n baie laer vlak moet wees. Baie jare terug moes ek as ’n tienjarige gevangene in ’n Sap-huishouding ’n keuse maak tussen lidmaatskap van die Boy Scouts en die Voortrekkers. Ek het eers gehuiwer, maar toe het ’n maatjie my probeem onmiddellik opgelos: “Is jy mal,” het hy gevra, “waar is die mooi meisies in die blerrie Boy Scouts?” Die klavier van ’n taalbeweging moet op alle note gespeel word. |