blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


Na jare se harde werk word 'n nuwe taalbeweging gebore 2004-09-03
Koos Malan

Deur Koos Malan Regslui vir Afrikaans

Daar ís 'n derde Afrikaanse taalbeweging. Dit het uiteenlopende aksente, sluit 'n sonderlinge hoeveelheid stemme in en het tientalle verskillende fokusse op 'n swetterjoel van terreine: vanaf Afrikaans in die kunste, die media, die handel, die onderwys, die openbare sektor, die howe, tot Afrikaans as tegnologiese taal en Afrikaans as 'n werktuig vir die bemagtiging van gemeenskappe - om maar 'n paar uit te sonder.
Baie van die deelnemers aan die beweging koester ideale wat veel meer as taal omvat. Sommige deelnemers worstel met hulle eie identiteit, die bruines onder hulle, so lyk dit soms, dalk selfs meer as die wittes. Baie sien hulleself as Afrikaners, sommige noem hulleself Boere. Ander weer, beleef hulleself bloot as Afrikaanssprekende Suid-Afrikaners, enkeles bely dat hulle ofskoon Afrikaanssprekend, in die eerste plek Griekwas is en beywer hulle tegelyk vir die herlewing van die Khoi-tale. Trouens, klaarblyklik is daar nie 'n Afrikaanse gemeenskap nie, eerder 'n verskeidenheid van onderskeibare maar interaktiewe Afrikaanse gemeenskappe. Ondanks die groot en dikwels uiteenlopende verskeidenheid mense wat weens skerp verskillende aksente soms die indruk laat dat hulle nie bymekaar hoort nie, maak al die stemme, aksente en energieë tog 'n taalbeweging - 'n groeiende taalbeweging - uit.
Dít is die belangrikste - en bemoedigendste - slotsom van die pasafgelope taalberaad in Stellenbosch. 'n Mens mag skepties wonder hoe 'n beweging wat darem 'n sekere graad van eenheid veronderstel in die aanwesigheid van soveel uiteenlopendheid moontlik is. Vanuit 'n sentralistiese denkwyse is 'n beweging natuurlik net denkbaar as daar sentrale beheer is en indien mense dit wat hulle as besonders van hulleself koester, opoffer en oplos in die een of ander weinigseggende gemene deler. Die taalbeweging en so ook die taalberaad funksioneer egter op 'n andersoortige versweë filosofiese grondslag. Versweë, want dis bykans onderbewustelik, wat beteken dat dit nie nodig was om uitdruklik daarop ooreen te kom nie. Daar is naamlik die versweë verstandhouding, soos Carel Boshoff dit paslik beskryf, dat die taalbeweging 'n gemenebes is. Anders gestel - in die woorde van Danie Goosen - dit funksioneer federatief.
Daar het oor die afgelope jare en met die baie uiteenlopende taalaksies en organisasies (met ewe uiteenlopende rolspelers) wat geloods is, geleidelik oor twee kardinale sake 'n onuitgesproke eenstemmigheid gegroei. Enersyds oor dinge wat op die taalterrein te doen is. Andersyds is daar, tipies federatief, 'n verdraagsaamheid van verskille en verskeidenheid en tegelyk 'n erkenning van rolverdeling. Dit is daarop gebaseer dat die rolspelers as't ware op 'n grondslag van 'n gesonde beskeidenheid begryp dat die taalterrein wyd is en dat die werk op elkeen van die subterreine belangrik is en ten beste gedoen kan word deur diegene wat weens besondere belangstelling en hartstog daarvoor, op die betrokke terrein bedrywig is. Tegelyk is daar 'n onderlinge sin vir samewerking en wedersydse ondersteuning. Hierdie dinge geld weliswaar nie ongekwalifiseerd en sonder uitsondering nie. Dis egter dominant en deurslaggewend.
Die taalberaad het natuurlik glad nie die taalbeweging begin nie. Dit was wel 'n gebeurtenis wat duidelik aantoon dat die energieë van die afgelope jare dermate gegroei het dat dit nou wydlopend genoeg is om 'n taalbeweging genoem te word.
'n Opmerklike kenmerk van die taalberaad is dat dit gedemonstreer het dat die besef oral posgevat het dat die verantwoordelikheid vir Afrikaans (en veeltaligheid) nie aan die staat toevertrou kan word nie. Op demokratiese wyse word begryp dat die welweë van Afrikaans deur Afrikaanse gemeenskappe self beslis moet word, dat die sprekers van Afrikaans self Afrikaans se toekoms moet skep. Waar baie tot betreklik onlangs nog erg ontsteld was om 'n waarskuwende stem te hoor wat die onvermoë van die grondwet uitwys om na Afrikaans en dergelike belange om te sien, heers daar nou breë eenstemmigheid oor die ontoereikendheid van die grondwet. Daar word toenemend begryp dat daar langs die grondwet 'n politieke werklikheid tot stand gekom het wat die beloftes van die grondwet klaaglik ongedaan maak.
Naas self-verantwoordelikheid het die Stellenbosch-beraad ook groeiende begrip geregistreer vir die voorwaardes vir die gesonde voortgang van 'n taal soos Afrikaans. Waar die noodsaak vir Afrikaans as openbare taal en vir die aanwending van die taal vir die hoër taalfunksies enkele jaar gelede nog met 'n bogtige hunkering na kombuistaalstatus (eufemisties tuiskomstaal genoem) vermy is, heers daar nou breë eenstemmigheid dat Afrikaans se hoër taalfunksies - in die onderwys, regspleging, openbare sektor, die politiek ens., gekonsolideer moet word. Dié dinge is belangrik en geen taal kan daarsonder nie.
En waar die aandrang vir die gebruik van Afrikaans in die handel, hetsy by wyse van kennisgewingborde, of produkte-etikette, dienslewering, of wat ook al , sommige mense vroeër by die keel uigehang het, was daar nou op die beraad eensgesindheid oor die belangrikheid daarvan. Wat meer is, daar is energie dat dié terrein aangepak moet word.
En laastens, het die kinderlike vermyding van die predikament waarin Afrikaans op baie terreine verkeer deur telkens uitgelate uit te roep van hoe wonderlik dit met die taal gaan, nou plek gemaak vir 'n volwasse realisme. Dié realisme gee daaraan erkenning dat dit op sekere terreine inderdaad goed gaan, maar versuim nie om die talle gebiede waar Afrikaans onder druk verkeer helder onder oë te sien en daarmee as ernstige probleme te handel nie. In die besonder word die vyandige politieke omgewing met besondere nadele soos verteenwoordigendheid toenemend en grondig deur alle ernstige deelnemers begryp.
Die Stellenbosch-konferensie was onder die vaandel van die Nasionale Taalliggaam vir Afrikaans (NTLA), 'n subkomitee van die Pan-Suid-Afrikaanse Taalraad (PanSAT). Sommige mense voel nie gemaklik hiermee nie en vind die erge gebrek aan deursigtigheid met die samestelling van die NTLA onaanvaarbaar. Dié beswaar is geldig. Die samestelling van die NTLA was allermins deursigtig en 'n herhaling hiervan moet voorkom word. Nogtans hoef dit nie die taalbeweging te ontspoor nie. Eerstens is al die lede van die NTLA verdienstelike mense op die taalterrein. Maar veel belangriker is die feit dat die NTLA nie in die minste iets soos 'n sentrale leierskap van die taalbeweging is nie. Tewens, dit is nie eens die leidinggewende liggaam nie en het ook nie daardie pretensie nie. Dit besef die lede van die NTLA ook wel deeglik. Juis omdat die taalbeweging 'n eg burgerlike beweging is, is die NTLA net soos die ander rolspelers 'n gelyke bondgenoot met 'n beperkte rol in die groter taal-gemenebes, 'n bondgenoot wat veral dié rol moet speel om die ander rolspelers te onderskraag wanneer daar met staatsorgane gepraat en beding word.
Vir sewe, agt jaar is daar nou reeds taalaksies rondom Afrikaans aan die gang. Sommiges was ofskoon welmenend maar bedroewend. Ander inisiatiewe is verdag gemaak, en nog ander as 'n niksseggende gepraat afgemaak. Dié oordele was verkeerd want al die inisiatiewe het gehelp slyp aan 'n nuwe Afrikaanse gemeenskapspolitiek, anderkant die grootliks uitgediende partypolitiek van weleer. Die Stellenbosch-beraad het gewys dat die gemeenskapspolitiek besig is om op dreef te kom. Haakplekke en mislukkings - voorsien en onvoorsien - sal daar ongetwyfeld wees. Afrikaans se posisie is ofskoon op sekere gebiede gesond, op ander eenvoudig te swak en te erg onderhewig aan die knelling van 'n vyandige politieke omgewing om te glo dat slegs ongekwalifiseerde sukses wag. Inteendeel, daar lê 'n harde opdraande pad vir die taalbeweging voor.
Dié beweging is egter, ofskoon nog lank nie so sterk as wat dit moet wees nie, met die Afrikaanssprekende Suid-Afrikaners, Afrikaners, Boere, Griekwas en wie nog almal in sy geledere besig om sterker op dreef te kom. Daar is goeie hoop.

 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=12
Artikel nagegaan:
    -