blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


'n Afrikaanse Gemenebes onderweg: 'n Verslag van die NTLA-beraad in Stellenbosch (25 – 27 Augustus 2004) 2004-09-03
Carel (iv) Boshoff

Deur Carel (iv) Boshoff, gemeenskapsaktivis, Orania

1.
As geleentheid was die Afrikaanse Taalberaad van 2004 vir my 'n besondere ervaring en 'n voorreg om by te woon. My indruk is verder dat die meeste deelnemers dit só ervaar het en dat die beplanners en organiseerders daarvan 'n ongekwalifiseerde kompliment daarvoor verdien. Die keuse van tema’s, die sprekerslys, die vloerbespreking, die samestelling van deelnemers en die aandprogramme was deel van 'n suksesresep wat tot méér as die intellek gespreek het en van beide energie en erns getuig. Tot sover die beraad opsigself.

2.
'n Betekenisvolle beoordeling van die beraad se inhoud en moontlike nawerking is slegs moontlik teen die agtergrond van die breër diskoers oor Afrikaans en die sprekers van Afrikaans se plek en toekoms onder die magsorde wat veral sedert 1994 in Suid-Afrika gevestig is. Daarop is my eie perspektief bepaal deur betrokkenheid by verskeie pogings gedurende die 1990’s om Afrikaanse taal- en kultuurorganisasies onder byvoorbeeld die Afrikaanse Kultuurforum (AKF), die Tussentydse Afrikanerberaad (TAB) en die rekonstituerende FAK opnuut en eietyds saam te snoer. Dit is eweneens bepaal deur my betrokkenheid by pogings van byvoorbeeld die Afrikaanse Oorlegplatform, die Lord Charles-beraad in Somerset-Wes (1995 of ’96), die inisiatief vir 'n Afrikaanse universiteit op Oudtshoorn, kunstefeeste op Oudtshoorn en elders en die Groep van 63, om tot 'n meer inklusiewe (wit en bruin/swart) behandeling van Afrikaans se toekoms te kom. 'n “Wit” perspektief dus, aangesien dit kennelik nog belangrik is om geen illusies daaroor of oor die belangrikheid daarvan te hê nie.
3.
Die aard van hierdie beraad is dat dit na aanleiding van 'n ope gesprek oor die toekoms van Afrikaans wat deur die FAK gereël en belê is; dat die reëlings getref is deur 'n komitee wat beide die Nasionale Taalligaam vir Afrikaans (NTLA en 'n komitee van PanSAT) en instellings van die burgerlike samelewing verteenwoordig het; en dat dit op ope uitnodiging aan elkeen wat voel dat hy/sy genoeg belang daarby het, geskied het. Die beraad is dus nie nog 'n organisasie nie en is nie op pad om 'n organisasie te word nie. Dit is wel 'n geordende poging van instellings en individue om hulle selfopgelegde verantwoordelikheid jeens Afrikaans en haar sprekers op planmatige wyse na te kom. Hierdie vrywillige verantwoordelikheid teenoor die toekoms is belangrik omdat daar in die verlede dikwels gevra is wie namens wie kan en mag praat, terwyl dit in hierdie geval kwalik ter sprake gekom het. Dit moet seker een of beide van twee dinge beteken, naamlik dat die opset en deelnemers 'n groter mate van legitimiteit as in die verlede geniet en dat diegene wat wíl se reg om vir Afrikaans in te tree, geredeliker aanvaar word.
As mens aanvaar dat ons hier met gedeelde kulturele of sosiale denkbeelde te doen het en dat sulke denkbeelde bitter moeilik en stadig tot stand kom en verander, spreek die voorgaande aanvaarding al van betekenisvolle vordering. Boonop hou dit nie daarby op nie. Ek is van oordeel dat daar ook mettertyd oor die volgende 'n groot mate van ooreenstemming posgevat het en by die beraad gemanifesteer het: dat daar 'n politiek bewuste taalaktivisme vir Afrikaans nodig is en dat die gevolglike optrede van 'n verskeidenheid selfstandige en outonome rolspelers bepland en gekoördineerd moet plaasvind.
Vier punte is hierby van groot belang. Eerstens het die ietwat wêreldvreemde begeerte om Afrikaans “uit die politiek te hou”, plek gemaak vir die aansienlik meer realistiese besef dat taalpolitiek ook politiek is en dat Afrikaans se voorstanders dit net tot haar nadeel kan ontken. Tweedens en soortgelyk het die eweneens oppervlakkige optimisme dat voorstanders van Afrikaans gerus kan wees “solank ons dit net praat”, plek gemaak vir die besef dat besondere en doeltreffende optrede nodig is om 'n taal in Afrikaans se posisie, se toekoms te verseker. Derdens het die skynbaar instinktiewe sug na rasionalisering van organisasies plek gemaak vir 'n waardering van die verskeidenheid en selfstandigheid van die organisasies en individue wat vir Afrikaans wil intree, en vir die besef dat dié verskeidenheid krag inhou. Vierdens het die vrees vir koördinering as sou dit rolspelers se outonomie op die spel plaas, voor die noodsaak vir planmatige en doeltreffende optrede en voor sekuriteit wat onderlinge erkenning meebring, gewyk.

4.
Ten spyte van die voorgaande optimisme en die formele erkenning wat rolspelers ten minste in beginsel aan mekaar gee, is daar tog 'n vraagstuk wat die proses om 'n gesamentlike taalstrategie vir Afrikaans te ontwikkel, kan vertraag of selfs ontspoor. Dit het met die uiters gevoelige verhouding tussen bruin/swart en wit deelnemers in die hele poging te doen. Daar is naamlik van beide kante van hierdie mindere verdelingslyn tussen deelnemers na die hantering van “bagasie”, in besonder “apartheidsbagasie” verwys. Soos verwag kan word, wil die bruin/swart deelnemers wat daarna verwys het, hê dat die “bagasie” eers deeglik verreken moet word om aan 'n nuwe, onderlinge verhouding beslag te gee. Die wit deelnemers wat daarna verwys het, wil weer hê dat die “bagasie” nou “vir eens en vir altyd agtergelaat moet word” sodat ons ons “op die toekoms en nie op die verlede nie, kan toelê”.
Die probleem is egter dat “bagasie” net 'n metafoor – en 'n onvanpaste een daarby – vir die geskiedenis is. Die rede waarom ons dus nie met die “bagasie” afgereken kry nie, is dat mens onontwykbaar jou geskiedenis is en dit nie soos 'n tas kan weggooi of soos 'n jas kan uittrek nie. Dat daar met hierdie problematiese geskiedenis tot grepe gekom moet word, val sekerlik nie te betwyfel nie, maar om te verwag dat dit “agtergelaat” kan word, is omtrent so naïef as om te glo dat ons Afrikaans uit die politiek moet hou of gerus kan slaap solank ons Afrikaans net praat!

5.
Miskien is die belangrikste stuk geskiedenis wat verreken word, dan ook nie dié van apartheid se hoogbloei nie, want daarvan is die meeste van ons reeds ver en vreemd. Dit is dalk eerder die koöpteringstrategieë waarmee wit Afrikaanssprekendes ander Afrikaanssprekendes wou inspan om beide hulle legitimiteit en getalle ten aansien van die mislukking van apartheid te versterk. Hiervolgens sou die Afrikaanse gemeenskap 'n bruin lyf en 'n wit kop hê – 'n vooruitsig wat soos verwag kon word, veral in bruin/swart geledere min inslag gevind het. Hierdie geskiedenis het naamlik nog 'n duidelike nawerking en spook selfs nou nog in sommige uitsprake wat oor Afrikaans en die toekoms gemaak word; dit spook selfs in die onmoontlike begeerte om die “bagasie” af te gooi of die geskiedenis te vergeet.
Die omgekeerde verhouding wat nou toenemend vaardig is, naamlik dat bruin/swart Afrikaanssprekendes hulle wit reisgenote darem eers oor die geskiedenis wil laat sweet, berus egter op dieselfde verwagting dat 'n enkele en in beginsel 'n hegte Afrikaanse gemeenskap danksy die verrekening van die geskiedenis tot stand kan/moet kom. Dat die verhouding sou omkeer, volg logieserwys uit die feit dat bruin Afrikaanssprekendes die afgelope tyd demografies die botoon voer en dat bruin/swart Afrikaanssprekendes deur die huidige magsorde minder gemarginaliseerd as die Afrikaners voel en is, en beter toegang daartoe kry. Voordat Afrikaners dan toegang tot die nuwe, nie-rassige Afrikaanse gemeenskap kan kry – so lyk dit my – moet hulle die verlede verreken deur van hulle ongemaklike en gediskrediteerde onderskeidende identiteit afstand doen.
Ek sal verbaas wees as so 'n eis nie toenemende afwysing en verset van Afrikaners uitlok en in die proses ou verdelingslyne verskerp nie. Daarom is ek van mening dat hierdie denkwyse nie net versag moet word nie, maar dat die gedagte van 'n Afrikaanse gemeenskap in té 'n intieme sin, laat vaar moet word. Ek voeg my daarin by Neville Alexander se een opmerking ter afsluiting van die beraad, naamlik dat mens met so 'n verbeel-ding (sic), maar stadig oor die klippe moet gaan.
Daarmee wil ek egter nie berus in 'n onoorbrugbare kloof tussen ou apartheidskategorieë nie. Inteendeel, ek wil in die plek daarvan die gedagte van 'n Afrikaanse Gemenebes propageer, 'n geestelike ruimte waarin nie twee nie, maar talle Afrikaanssprekende gemeenskappe mekaar met die oog op almal se beterskap en beste belang opsoek. Dit behoort nie die moeisame en soms pynlike debatte oor ons gesamentlike en aparte geskiedenisse uit te sluit nie, maar dit mag niemand per definisie op grond van hulle herkoms uitsluit nie. Die “gemenebes” is 'n begrip wat uit die klassieke republikeinse tradisie kom en in die nouste samehang met begrippe soos federalisme (die samehang van selfstandige eenhede) en subsidiariteit (dat besluite op die laagste moontlike vlak geneem word en slegs waar nodig na die volgende vlak opgewentel word) funksioneer.

4.
Ten slotte sluit ek my graag by nog een van Neville Alexander se wyshede aan, naamlik dat introspeksie nie die beste manier is om perspektief te kry nie. Laat ons die vraag van 'n werkbare verstandhouding sonder veel meer magsmonstering afhandel en ons ons by volgende berade eerder op vraagstukke soos taal/Afrikaans/veeltaligheid en onderwys, grond, armoede en volhoubare ontwikkeling - om maar 'n paar te noem - toelê.

 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=11
Artikel nagegaan:
    -