| ||||
Gerrit Brand Deur Gerrit Brand, veeltaligheidsaktivis, i-Mag en die Taalsekretariaat Familietwiste kom slegs in families voor. Te oordeel aan die pasafgelope Afrikaanse Taalberaad, is iets soos 'n Afrikaanse familie stadig, dog ontstuimig aan die ontstaan. Die pasafgelope Afrikaanse Taalberaad was 'n beslissende moment in die gesprek oor wat dit sou kon beteken om Afrikaans in Afrika te wees. Dit het beslis nie net oor Afrikaans en die mense wat Afrikaans praat gegaan nie, maar deurlopend ook oor die soort samelewing wat besig is om aan die suidpunt van Afrika vorm aan te neem. My eie inset in dié gesprek oor die laaste aantal jare was gebaseer op die veronderstelling dat die hantering van tale 'n wesenlike kwessie op die nasionale agenda moet wees en, meer spesifiek, dat veeltaligheid - die gelykberegtiging van tale en die kweek van 'n meertalige bevolking - die aangewese opsie vir ons land en ons vasteland is. Die beraad het die geleentheid aan my en ander wat soos ek dink gebied om dié perspektief aan 'n breë en diverse gehoor van Afrikaansgebruikers voor te lê. Maar ook diegene wat skepties is oor die wenslikheid óf haalbaarheid van veeltaligheid - en wat daarom 'n meer eksklusiewe fokus op Afrikaans bepleit - was verteenwoordig en kon hul argumente op die tafel lê. Dit was beslis nie 'n gesprek tussen enersdenkendes nie. Wit, bruin en swart Afrikaanssprekendes asook anderstaliges wat met Afrikaans gemoeid is, het die beraad bygewoon. Daar was sterk verteenwoordiging uit die owerheidsektor, maar veral ook 'n wye verskeidenheid organisasies uit die burgerlike samelewing en individuele deelnemers van oor die hele land. Oor elke onderwerp is uiteenlopende en dikwels botsende sienings aan die woord gestel. Daar is gepraat oor Afrikaans in verskillende domeine - van die media en die regswese tot die onderwys en die sakewêreld - maar ook oor Afrikaans se verhouding tot ander tale en Afrikaans in die buiteland. Die toonaard van gesprekke het gewissel van diepgaande intellektuele besinning en gesprekke oor strategie en taktiek, tot klagtes en dikwels skerp woordewisselings en selfs enkele uitbarstings. Dit is waarskynlik die eerste keer dat so 'n wye spektrum van belanghebbendes by Afrikaans oor 'n aantal dae so intensief met mekaar in gesprek kon bly sonder dat dit in 'n breukspul ontaard. In die verlede het dergelike pogings gewoonlik misluk omdat daar nie 'n inisiatiefnemer was wat genoeg vertroue onder meer as net 'n heel spesifieke sektor binne die Afrikaanse gemeenskap ingeboesem het nie. Vanweë ons komplekse verlede is daar verskillende kampe binne die Afrikaanse gemeenskap wat tot nog toe te agterdogtig was om hul gewig in te gooi by pogings om gesamentlik rondom Afrikaans te organiseer. Agterdog oor die moontlike koöptering van bruin en swart rolspelers vir 'n wit agenda en argwaan jeens wat beskou is as 'n staatsagenda om Afrikaners te assimileer, het telkens die totstandbrenging van so 'n breë gespreksforum in die wiele gery. Hoekom het dit hierdie keer anders verloop? Eerstens het die feit dat 'n statutêre liggaam - die Pan-Suid-Afrikaanse Taalraad (PanSAT) se Nasionale Taalliggaam vir Afrikaans (NTLA) - die forum voorsien het 'n belangrike rol gespeel. Dit het, vir sover so iets hoegenaamd moontlik is, die nodige neutraliteit en legitimiteit aan die proses verleen. Terselfdertyd was die NTLA sensitief genoeg vir potensiële slaggate om nie die proses alleen aan te pak of 'n voorafgekose agenda deur die beraad te probeer realiseer nie. Hoewel sommige kritici aanvanklik laasgenoemde vermoed het, het dit uit die program en prosedures duidelik geblyk dat die NTLA hul rol beperk het tot die doen van 'n taalbestekopname en die byeenbring van belanghebbendes - dit wil sê die pad vorentoe was in die hande van die beraadgangers self. Omdat die NTLA nie die proses alleen kon of wou bestuur nie, is verskillende organisasies en individue uit die burgerlike samelewing betrek by die uitvoer van die bestekopname en die beplanning van die beraad. Daar was ook deurgaans, oor 'n tydperk van ongeveer 'n jaar, deursigtigheid in die vorm van raadpleging en persvrystellings. As iemand wat ten nouste by die saak betrokke was, kan ek daarvan getuig dat dit geen maklike proses was nie. Die soort spanning en konflik wat tydens die beraad na vore gekom het, was reeds ook onder die beplanners teenwoordig. Juis dit het myns insiens die proses ten goede gekom omdat daar noodgedwonge met groot omsigtigheid en deeglikheid te werk gegaan is om 'n geslaagde beraad te reël. Tweedens wil dit lyk of daar, in die loop van die taalgesprek oor die afgelope aantal jaar, 'n groter mate van volwassenheid in die debat begin kom het. Die insig het gegroei - en is tydens die beraad ook telkens verwoord - dat daar geen nodigheid vir 'n algemene konsensus oor alles hoef te wees voordat daar saam gedink én gedoen kan word nie. Tot onlangs nog was daar 'n geneigdheid onder meeste groeperings om meningsverskille en belangebotsings te betreur en as sameswerings of verskuilde agendas te vertolk. Die ontdekking is egter toenemend gemaak (en tydens die beraad opnuut bevestig) dat mense ook opreg van mekaar kan verskil en werklik verskillende belange kan hê. Juis daarom kan in goeder trou - sonder agterdog óf illusies - saamgewerk word op terreine waar 'n mate van konsensus wel ontstaan. Dit word dikwels gesê dat daar te veel gepraat en te min gedoen word oor Afrikaans. Wat hiermee egter buite rekening gelaat word, is dat praat ook 'n manier van doen is - in hierdie geval 'n manier om gemeenskap te stig (sonder om bestaande identiteite noodwendig te bedreig) en om energieë op mekaar af te stem. Die beraadgangers kon, in die finale sessie, daarin slaag om konsensus te vind oor hoe die proses verder moet verloop - opsigself 'n merkwaardige prestasie: Die bestaande organiseringskomitee sal ontbind en 'n aksiekomitee sal saamgestel word uit alle belangstellendes wat hulle daarvoor aanmeld. Hulle sal die taak hê om - in oorleg en met die ondersteuning van die NTLA - die talle voorstelle wat tydens die beraad na vore gekom het te verwerk en tot 'n strategie te ontwikkel wat dan weer aan die beraadgangers en die breë publiek vir kommentaar en insette deurgegee sal word. Die bestekopname wat reeds gedoen is, sal ook aangevul, verfyn en gereeld opgedateer word. Die gedagte is verder uitgespreek dat 'n opvolgberaad oor 'n jaar gehou word om terugvoer aan die gemeenskap te gee en om nog meer rolspelers te betrek. Belangrik in hierdie besluit is dat daar duidelik onderskei word tussen die NTLA as statutêre liggaam, enersyds, en die aksiekomitee as verteenwoordiger van die burgerlike samelewing andersyds. Hoewel noue samewerking tussen die twee voorsien word, is die waarskuwing ter harte geneem dat daar nie verwarring tussen hulle moet bestaan nie en dat die aksiekomitee dus haar outonomie en beweeglikheid behou. Die proses wat op die beraad uitgeloop het, die gesprekvoering tydens die beraad en die besluit oor die pad vorentoe het 'n dinamiek geskep waarvan die uitkoms deur geen enkele instansie beheer of voorspel kan word nie, maar wat ongetwyfeld groot belofte inhou. Verteenwoordigers van ander tale, waaronder lede van ander taalliggame, was ook by die beraad betrokke en die media het redelike goeie dekking daaraan gegee. Van die kant van PanSAT word voorsien dat soortgelyke prosesse ook met betrekking tot die ander tale van stapel gestuur sal word. So ontstaan die moontlikheid dat die gesprekke en aksies binne tale toenemend ook beïnvloed kan word deur die gesprek tussen tale. Daar is in die burgerlike samelewing reeds enkele inisiatiewe om gesprek en samewerking tussen die sprekers van verskillende tale aan die gang te kry. Ek persoonlik hoop dat die nuwe dinamiek in die Afrikaanse gemeenskap - en die oorspoeleffek daarvan op die ander tale - mettertyd ook stukrag aan dié proses sal verleen. |