blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


Die staatsdiensstaking 2004-09-17

Die staatsdiensstaking

Teen die skryf van hierdie kommentaar het alles daarop gedui dat die oorgrote meerderheid van Suid-Afrika se staatsamptenare op Donderdag 16 September 'n daglange staking sou hou, met dreigemente deur Cosatu om die staking te verleng om eerskomende Maandag en Dinsdag in te sluit. Die dreigende staking sou plaasvind teen die agtergrond van meer as ses maande se moeilike onderhandelinge tussen staatsdiensvakbonde en die regering, soos verteenwoordig deur die Minister van die Staatsdiens en Administrasie, mev. Geraldine Fraser-Moleketi, wat haar oor die jare onderskei het as streng toepasser van fiskale dissipline in salarisonderhandelinge.

Wat die dreigende staking hierdie keer onderskei, is dat onderwysers ook van plan is om op die vooraand van die eindeksamens aan die staking deel te neem. Hiervoor moes onderwysers reeds heelwat kritiek verduur, en nogmaals op betreklik moralistiese wyse herinner word aan hulle plig teenoor leerlinge. Dan word daar ook nog gesê dat Suid-Afrika reeds een van die grootste per capita-onderwysbegrotings ter wêreld het en kwalik nog geld aan onderwysersalarisse kan bestee.

As daar nou een professie in Suid-Afrika is wat werklik nie aan sulke kortsigtige argumente blootgestel moet word nie, is dit die onderwys. Niemand hou daarvan dat leerlinge so kort voor die eindeksamen aan 'n staking deur hul onderwysers blootgestel kan word nie, maar dit volg op jare se oplaaiende probleme in die onderwys, waaronder swak betaling, swak geriewe in skole, oorlaaide klasse en 'n gebrek aan dissipline onder leerlinge. Om teen hierdie agtergrond aan onderwysers te sê dat hulle “ter wille van die kinders” nie nou moet staak nie, is soos om aan 'n paartjie wie se huwelik lankal verby is te sê om liefs maar ter wille van die kinders nie te skei nie. 'n Probleemgesteisterde onderwysstelsel is net so min in belang van “die kinders” as 'n ongelukkige ouerhuis.

Op die lange duur is dit juis ons kinders wat ly onder die probleme in die onderwys. Op die keper beskou, is dit die regering self wat die onderhandelinge onnodig lank uitgerek het sodat 'n staking as laaste uitweg op so 'n ongelukkige tydstip oorweeg moet word. Dit is ook dieselfde regering wat in die najaag van ekonomiese groei en steeds ontwykende buitelandse beleggings lae inflasie en 'n lae begrotingstekort bo alles stel, sodat daar nie meer geld vir noodsaaklike dienste is nie, waarsonder ons in elk geval nie kan groei of, nog belangriker, selfstandig word nie.

Bowenal is die regering besig om op groot skaal geld te vermors met sy eentalige onderwysstelsel, wat kinders met gebrekkige kognitiewe vaardighede in hul tweede of derde taal in die wye wêreld instuur. Pas weer moes ons verneem dat een van die redes vir die bloedige konflik tussen swart en Arabiese Afrikane in Soedan is dat die swart Afrikane nie toegelaat is om hul moedertaal, Zaghawa, op skool te gebruik nie. Wat Engels toenemend in Suid-Afrikaanse skole word, met al die vermorsing en groeiende spanning wat dit veroorsaak, is wat Arabies in sommige Soedanese skole is.

As die regering werklik die krisis in ons skole met 'n Afrikagerigte benadering wil oplos, kan hy begin deur die doeltreffendheid in onderwys met moedertaalonderrig te verbeter, sy fiskale beleid ter wille van kinders en onderwysers verslap, en meer bestee aan openbare vervoer in veral arm gebiede, waar sowel kinders as onderwysers dikwels ten duurste op eie houtjie by die klaskamer moet kom.


 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=9
Artikel nagegaan:
    -