| ||||
Soos die meeste van u reeds weet, het daar in die afgelope dae 'n konfrontasie gevolg deur toenadering tussen die regering en Anglo-American plaasgevind. Ter verfrissing van u geheue is die feite kortliks soos volg: Op 7 September het die Business Day 'n onderhoud gepubliseer wat mnr. Tony Trahar, hoof uitvoerende beampte van Anglo-American, met die Londense Financial Times gevoer het. Mnr. Trahar het onder meer verklaar: “Ek dink die Suid-Afrikaanse politieke risiko-kwessie begin afneem, ofskoon ek nie dink dit is weg nie.” President Mbeki het mnr. Trahar hierop kaalhand gepak in sy weeklikse nuusbrief in ANC Today van Vrydag 10 September en gevra wat Anglo oor Suid-Afrikaanse politieke risiko’s weet wat die res van ons nie weet nie. Hy het gewonder of dit werklik 'n tekort aan beleggingskapitaal op Suid-Afrika se aandelebeurs was wat daartoe gelei het dat Anglo enkele jare gelede ter wille van groter beskikbare beleggingskapitaal vir projekte op die Londense Effektebeurs genoteer het, en daarop gewys dat Anglo in geen stadium tydens die apartheidsera dit oorweeg het om die land te verlaat nie. Hy het ook daarop gewys dat voornemende buitelandse beleggers gedurig aan die regering vra waarom Suid-Afrika se eie ekonomiese swaargewigte nie hul aansienlike kapitaalreserwes in die land belê nie, maar terselfdertyd kla oor die gebrek aan regstreekse buitelandse beleggings in ons ekonomie. In wese wou Mbeki van Trahar weet hoe verbind Anglo werklik tot die huidige politieke bedeling in Suid-Afrika is. Teen die afgelope Dinsdag was dit bekend dat ywerige werk agter die skerms van hoë amptenare van sowel Anglo as die regering, asook van sommige kabinetslede, gelei het tot 'n vriendelike telefoongesprek tussen Mbeki en Trahar, met die onderneming om mekaar so gou moontlik te ontmoet. Dit volg op 'n mediaverklaring deur Anglo waarin hulle daarop wys dat hulle sedert 1999 wel enorme kapitaalbeleggings in nuwe Suid-Afrikaanse projekte gemaak het, en dus nie sonder meer vatbaar is vir die aantyging dat hulle hul geld eerder elders as plaaslik belê nie. Soos 'n mens kan verwag, het hierdie uitbarsting van die baie tipiese spanning tussen die staat en kapitaal eie aan 'n modernisering soos Suid-Afrika tans deurloop heelwat openbare opinies ontlok. Hierdie opinies het gewissel van onkritiese populistiese steun vir pres. Mbeki tot naïewe opmerkings oor “hoe globalisering werk”, en dat Suid-Afrika vir haar ekonomiese groei en ontwikkeling aangewese is op die einste beleggers onder wie Mbeki ingevaar het. Die Vrye Afrikaan is van mening dat beide hierdie uiterstes allermins 'n houvas het op wat in hierdie konfrontasie op die spel is, juis en veral binne die globaliseringsproses. Wat Anglo-American betref, kan daar min twyfel wees dat hulle as globale ekonomiese swaargewig binne uiters mededingende omstandighede genoodsaak is om wins na te jaag deur eerder kapitaalintensief as arbeidsintensief te wees. Noodwendig gaan dit nie altyd in ooreenstemming met die prioriteite van die regering wees nie. Bowendien is die groeiende mobiliteit van groot kapitaal nie sonder meer terug te lei na die huidige of die vorige politieke bedeling in Suid-Afrika nie, maar eerder na die deregulering van nasionale markte, goedkoper beskikbare arbeid in ander lande, en hoër tegnologie as wat skaars twintig jaar gelede nog aan die orde van die dag was. Wat die regering betref, kan daar ewe min twyfel wees daaroor dat Mbeki vanuit die perspektief van 'n groot klomp landsburgers, wat almal belang het by die wel en wee van 'n groot Suid-Afrikaanse maatskappy soos Anglo, die volste reg het om Trahar die stryd aan te sê, veral gedagtig aan die dubbelsinnige verhouding wat groot kapitaal in die vorige en die huidige bedeling met die politieke magshebbers sowel as die gemeenskappe van hierdie land gehad het en nog steeds het. Met Mbeki se oproep dat groot Suid-Afrikaanse maatskappye ook hul verantwoordelikhede teenoor die plaaslike ekonomie nakom, is Die Vrye Afrikaan dit roerend eens. Maar aan beide die staat en groot kapitaal moet vrae gevra word. Dit is goed en wel om te sien dat groot maatskappye veral sedert 1994 en die groeiende wêreldwye erkenning van die maatskaplike omstandighede waarin maatskappye optree, begin het om meer te doen vir sogenaamde korporatiewe maatskaplike verantwoordelikhede, maar sien ons genoeg regstreekse beleggings in arm gemeenskappe ten einde hulle te help om uiteindelik ekonomies selfstandig te word nie? Wat van fondse om een Xhosa-skool op die Kaapse vlakte vanaf graad een tot twaalf moedertaalonderrig te gee en so 'n voorbeeld op die grond neer te sit wat die omliggende gemeenskap kan inspireer om druk op die regering toe te pas vir behoorlike moedertaalonderrig in al die skole van die gebied? En wat die regering betref: wil hy kapitaal in Suid-Afrika behou ten einde die staat te versterk, of ten einde gemeenskappe te versterk? In post-koloniale Afrika is daar bittermin voorbeelde van regerings wat hul gemeenskappe met fondse of besluitnemingsbevoegdheid vertrou het. Ook in Suid-Afrika word gemeenskappe aan supermetropole of staatsentralisme onderwerp, in plaas van om in staat gestel te word om hulself te ontwikkel. Dit is goed en wel dat ons verteenwoordigende demokrasie in Suid-Afrika het, maar wat ons veral benodig in 'n land met soveel energie op gemeenskapsvlak is deelnemende demokrasie waar gewone mense so ver as moontlik besluite oor hul alledaagse bestaan kan neem. Maar solank korporatiewe maatskaplike verantwoordelikheid neerkom op die versuikerde legitimering van aandeelhouersbelange sonder aandag aan gemeenskappe, of ontwikkeling neerkom op staatsbou sonder gemeenskapsontwikkeling en –besluitneming, het ons nog 'n hele ent om op die pad van demokratisering te gaan. Veral in Afrika waar die staat steeds die belangrikste politieke struktuur bly, is die uitdaging om nuwe vennootskappe tussen die staat en gemeenskappe te sluit ten einde te verhoed dat daardie vorm van globalisering wat slegs op aandeelhouersbelange gerig is 'n monopolie op die wêreldagenda verkry. |