blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


Hervorming van bo-af, deel 1, die universiteit: Die ‘Betrokke’ Universiteit en die Gemeenskap 2004-10-08
Bert Olivier

Deur Bert Olivier, professor in filosofie, Sentrum vir Gevorderde Studie, Universiteit van Port Elizabeth en skrywer van Projections: Philosophical Themes on Film (Universiteit van Port Elizabeth-uitgewers, 2003)
[email protected]

Wat beteken dit vir ‘n universiteit om ‘betrokke’ te wees? En wat is die gevolge van verskillende opvattings van ‘betrokkenheid’ vir die dissiplines, natuurwetenskaplik sowel as geestes- of menswetenskaplik? Hierdie vrae is des te belangriker in die huidige tyd van samesmeltings tussen verskillende hoëronderwysinrigtings in Suid-Afrika, omdat die regering in sy wysheid besluit het dat sekere van die eindprodukte in hierdie proses nie volle universiteitstatus sou hê nie, maar ‘omvattende’ inrigtings sou wees, dit wil sê instellings wat akademiese programme van sowel universiteitsaard as van ‘n technikonsoort sou aanbied. Hierin is reeds ‘n spanning geleë: ‘n universiteit is tradisioneel, soos die naam aandui, ‘n inrigting vir hoër- of tersiêre onderrig waar die universum of heelal in die verskeidenheid en omvattendheid daarvan deur die verskillende dissiplines verteenwoordig word. Met ander woorde, ‘universiteit’ is ‘n sinoniem vir ‘omvattende inrigting’, in weerwil waarvan daar nou in Suid-Afrika ‘n fundamentele onderskeid tussen die twee tipes inrigtings gemaak word. Hoe mens dus ook al daarna kyk, behoort die nuwe ‘omvattende inrigtings’ (comprehensive institutions) in elk geval, net soos die oorblywende ‘universiteite’, ook die maatskaplike en natuurlike werklikheid op ‘omvattende’ wyse te verteenwoordig in die dissiplines wat daar aangebied sou word.

Maar stem dit ooreen met wat besig is om te gebeur? Te oordeel aan my eie ervaring by die Universiteit van Port Elizabeth (UPE) – wat van die begin van 2005, saam met wat vroeër Vista Port Elizabeth was en tans nog Technikon Port Elizabeth is, as die Nelson Mandela Metropolitaanse Universiteit sal bekendstaan – sou ‘omvattende inrigting’ uiters misleidend wees. Dit is reeds die geval dat wat vroeër ‘n lewenskragtige Fakulteit van Lettere en Wysbegeerte was, tot ‘n blote geraamte verskraal is. Van die departemente Geskiedenis en Filosofie, byvoorbeeld, is daar slegs een oorblywende dosent per vakgebied. En hulle moet maar die mas opkom, ongeag die aantal kursusse en studente wat hulle hanteer – vandat die universiteit na die sogenaamde kostesentrummodel oorgeskakel het, word daar slegs bykomende personeellede aangestel indien studentegetalle (saam met ander gesubsidieërde aktiwiteite, soos navorsing) dit toelaat. ‘n Ander geval by UPE is die Departement Geologie, waar pogings aangewend is om dit tot die vlak te devalueer waar dit, ten spyte van ‘n goeie navorsings- en nagraadse opleidingsprofiel, en in weerwil van ander Oos-Kaapse universiteite se erkenning hiervan, in die toekoms nie meer formeel toegelaat sal word om nagraadse opleiding tot op meesters- en doktorale vlak te doen nie.

Hoe het hierdie proses van dissiplinêre uitdunning - en uiteindelike verwoesting - begin, en hoe word dit geregverdig? Dit vind plaas aan die hand van ‘n ‘beleid’ - wat eintlik op ‘n ideologie neerkom - van ‘betrokkenheid’. Uit die universiteit se openbare verklarings is dit duidelik dat ‘betrokkenheid’ verstaan word as ‘n gewilligheid om aan die gemeenskap diens te lewer in die vorm van opleiding van studente om aan al die identifiseerbare ontwikkelingsbehoeftes van die samelewing te voldoen. Hierdie standpunt word oorgedra in verklarings oor die universiteit se gereedheid om in die naam van ‘betrokkenheid’ saam met die samelewing te verander ten einde daaraan diensbaar te wees. Op die oog af skyn daar niks te skort met sodanige standpunt nie; trouens, op sigself moet mens saamstem dat dit inderdaad deel uitmaak van ‘n universiteit se opleidings- en opvoedingstaak, wat naamlik as die heteronome aspek daarvan bestempel kan word. Maar die punt is: dit is slegs een kant van die rol van die universiteit, wat tradisioneel minstens twee kante het, en dit tans meer as ooit behoort te hê. Die ‘ander kant’ hiervan is die universiteit se onontbeerlike kritiese taak, wat nie uitgevoer kan word sonder ‘n sekere outonomie nie. Immers: indien die universiteit volledig sou opgaan in die heteronome onderworpenheid daarvan aan samelewingsverwagtinge, sou dit ondenkbaar wees vir universiteite in Suid-Afrika onder apartheid om laasgenoemde rassebeleid op rasioneel-etiese gronde te kritiseer. Om ‘betrokkenheid’ dus eensydig as opleidingstaak te verstaan, sou logieserwys tot ‘n implisiete ondersteuning van enigiets vanaf fascisties-totalitariese of sentralisties-oligargiese sosio-politiese tendense, tot die algehele kommersialisering van die samelewing kon lei.
Watter alternatiewe is daar wat kan verhoed dat universiteite aan die hand van oorwegend tegnokratiese kriteria in tegniese produksiemasjiene omskep word? Die jong Iranees-Amerikaanse politieke filosoof, Farhang Erfani , maak ‘n onderskeid tussen twee funksies van universiteite wat vrugbaar hier aangewend kan word. Eerstens het tydgenootlike universiteite volgens Erfani die taak om studente as arbeiders op te lei, dit wil sê om hulle met sodanige bekwaamhede toe te rus dat hulle as ‘arbeiders’ in ‘n land se ekonomie hul plek kan volstaan. Nodeloos om uit te wys dat dit ooreenstem met die modieuse klem in hedendaagse opvoeding op die ontwikkeling van ‘vaardighede’. Maar universiteite se rol eindig nie hier nie. Hul tweede taak, volgens Erfani, kom daarop neer dat hulle ook studente behoort op te voed om burgers te wees – iets wat fundamenteel verskil van eersgenoemde taak. Die rede hiervoor is dat die praktyk van burgerwees nie bloot daarin bestaan om sekere kognitiewe of tegniese vaardighede soos rekenaarprogrammering of aptekerswese te beoefen nie. Iemand is eers waarlik ‘n burger in ‘n demokrasie wanneer sy of hy hul opvoeding op krities-rasionele en verantwoordelike wyse benut - byvoorbeeld deur hul deelname aan openbare debatte - om daartoe by te dra dat die demokratiese bestel waarbinne hulle woon so demokraties as moontlik funksioneer. Met ander woorde, normatiefgesproke oorskry burgerskap die grense van arbeiderwees in dieselfde sin as wat denkende handeling die grense van tegniese vaardigheid oorskry.

Met bogenoemde onderskeid in gedagte kan beweer word dat te oordeel aan die beleidsbesluite wat daar aan bestuurskant by die Universiteit van Port Elizabeth – of die toekomstige Nelson Mandela Metropolitaanse Universiteit (NMMU) – geneem word (en ander wat nie geneem word nie), hierdie inrigting toenemend daarop ingestel is om slegs ‘arbeiders’ op te lei wat oor sekere tegniese vaardighede beskik (weliswaar een van die take van die universiteit), maar nie om ‘burgers’ toe te rus met die kritiese denkvermoëns wat hulle in staat sou stel om hul rol as ‘betrokke’ burgers in sosio-politieke verband te vervul nie (wat die ander wesenlike taak van die universiteit uitmaak). Hoe anders moet mens die gebrek aan institusionele ondersteuning vir die menswetenskappe of die kritiese sosiale wetenskappe vertolk? Dit is immers hierdie wetenskappe wat tradisioneel die vlam van kritiese selfrefleksie laat brand het. Toe ek onlangs saam met bogenoemde besoekende Amerikaanse filosoof - Farhang Erfani - filosofiedepartemente by ‘n aantal ander Suid-Afrikaanse universiteite (insluitend die Universiteit van die Vrystaat, die Randse Afrikaanse Universiteit en die Universiteit van Stellenbosch) besoek het, was die uitgebreide en gedifferensieerde institusionele infrastruktuur waarbinne filosowe by hierdie inrigtings funksioneer opvallend in vergelyking met ‘n grootliks afwesige, vergelykbare infrastruktuur by UPE. By laasgenoemde bestaan wat vroeër departemente van Filosofie, Geskiedenis en Bybelkunde/Teologie was, tans uit slegs een dosent elk, en aanduidings is dat, indien hierdie mense sou aftree of bedank, daar waarskynlik nie weer enigiemand in hul plek aangestel sal word nie. Dit bring die dringende vraag na vore: kan daar, vanweë die uitdunning van hierdie dissiplines, hoegenaamd nog aan UPE as ‘n universiteit gedink word? Histories is sodanige fundamentele dissiplines immers wesenlike boublokke van ‘n universiteit as inrigting van hoër onderrig en navorsing wat oor die breë spektrum van dissiplines binne al die verskillende fakulteite die verskeidenheid en samehang van die universum of heelal behoort te weerspieël. In die lig van hierdie drastiese aftakeling van die menswetenskappe by UPE kan verder tereg gevra word of daar aan bestuurskant hoegenaamd nog voorsien word dat die nuwe NMMU self ‘n ‘omvattende’ inrigting sal wees. Soos dinge nou daar uitsien, neig dit eerder in die rigting van ‘n ‘basiese’ (bedrock) inrigting. Wanneer sal tegnokrate en burokrate hier te lande leer dat die rede waarom die leidende universiteite in byvoorbeeld die VSA – soos Yale, Harvard, Penn, Villanova, en so meer – toonaangewend is omdat hulle niks in die pad laat staan van die vrye en optimaal gefinansierde ontwikkeling van al die dissiplines, insluitend die kritiese menswetenskappe nie? So is daar onlangs aan Joan Copjec, ‘n internasionaal bekende psigoanalitiese denker, ‘n residensiële genootskap toegeken deur Harvard-universiteit, wat haar in staat stel om sonder enige onderrigverpligtinge, en met die benutting van Harvard se indrukwekkende intellektuele hulpbronne, haar jongste boek klaar te skryf. Dit spreek van ‘n kultuur wat, in weerwil van die ander tekortkominge wat dit mag hê, intellektuele waardes hoog aanslaan.

Dit is inderdaad die geval dat individuele filosowe, antropoloë of historici buite inrigtings kan funksioneer sover dit hul eie navorsing en die publikasie van hul werk betref. Maar dit beteken nie dat nuwe geslagte studente – die toekomstige wetenskaplikes, onderwysers en akademici wat met hul ingeligte deelname aan openbare debatte die ontwikkelinge in ‘n demokratiese bestel in die toekoms moet help bepaal – noodwendig by die werk van sodanige individue sal baat nie. Daarvoor moet hulle op die voortgesette bestaan van universiteite staatmaak, want daarsonder sou die meeste mense wat vir krities-intellektuele ontwikkeling ontvanklik (en daartoe in staat) is nooit die nodige blootstelling daaraan ontvang nie. En dit beteken dat die demokrasie armer sal wees as vantevore.

Kyk uit vir ‘n artikel deur Erfani oor George W. Bush se posisie in die Amerikaanse politiek in aanstaande maand se spesiale dossier oor die globale politieke toneel en die Amerikaanse presidentsverkiesing in November se maanduitgawe van Die Vrye Afrikaan – red.


 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=33
Artikel nagegaan:
    -