blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


FAK-oop gesprekke oor Afrikaners en die regering 2006-02-15
Danie Goosen

*Filosoof en voorsitter, FAK


Die FAK is tans besig met ’n reeks van raadplegende vergaderings landswyd onder die opskrif "Afrikaners en die Nasionale Vraagstuk". Die oogmerk met die reeks vergaderings is om Afrikaners te raadpleeg oor hoe die verhouding tussen Afrikaners as ’n kultuurhistoriese gemeenskap en die staat op ’n sinvolle grondslag geplaas kan word.

Die FAK benader die vergaderings vanuit een sentrale vraagstelling: hoe kan die demokrasie vandag in Suid-Afrika uitgebou en versterk word? Met ‘demokrasie’ word verwys na die grondwetlike bedeling waarvolgens sowel die eenheid as die veelheid (van onder meer kultuurhistoriese gemeenskappe) erken en gevier word. Anders verwoord, die vraag wat ter sprake is, is hoe die federatiewe aspekte van die bestaande grondwetlike bedeling uitgebou en versterk kan word.

Alhoewel die reeks van vergaderings nog nie afgehandel is nie, wil ons u hieronder graag op hoogte bring met belangrike kwessies wat reeds tydens die afgelope FAK-vergaderings in Pretoria, Stellenbosch, die Paarl en Bloemfontein ter sprake gebring is. As sodanig bied dit reeds ’n raamwerk aan die hand waarvan oor die verhouding tussen Afrikaners en die staat nagedink kan word.

Uit die FAK-vergaderings blyk dit dat daar by Afrikaners groter eenstemmigheid bestaan oor kwessies wat verbandhou met die idioom en styl aan die hand waarvan hul na hulself en hul rol in Suid-Afrika wil verwys as wat algemeen gemeen word. Afrikaners stem saam dat hul voorspraak vir dié sake wat hulself as gemeenskap ten nouste raak aan die hand van ’n demokratiese idioom moet geskied. Afrikaners het geen begeerte om na apartheid en die gebrek aan legitimiteit wat dit verteenwoordig terug te keer nie.

Die meerderheid Afrikaners wil lojaal wees teenoor ’n Suid-Afrika wat op demokratiese uitgangspunte geskoei is en wat op ’n federatiewe grondslag erkenning gee aan die veelheid van gemeenskappe. Afrikaners is egter nie lojaal teenoor ’n Suid-Afrika wat alle mag in die hande van ’n bevoorregte elite saambundel en Suid-Afrika onherroeplik op die pad van miskenning jeens sy gemeenskappe plaas nie. Om laasgenoemde met ’n nostalgie na apartheid te identifiseer, is ’n wanvoorstelling.

Afrikaners stem ook saam dat die spanningslyn wat die afgelope jare so kenmerkend van die vraag na hul verhouding met die regering geword het, naamlik die verskil tussen ’n sogenaamde opposisionele benadering en ’n samewerkende benadering, nie ’n weerspieëling van die werklikheid is nie. As uitgegaan word van die prinsipiële standpunt dat Afrikaners ’n demokratiese Suid-Afrika begeer wat op ’n sinvolle wyse erkenning aan die veelheid van kultuurgemeenskappe verleen, dan is die vraag aan Afrikaners nie of ons opposisiepolitiek of samewerkingspolitiek moet beoefen nie, maar eerder wanneer ons opposisiepolitiek en wanneer ons samewerkingspolitiek moet beoefen. Beoordeel vanuit die prinsipiële voorkeur vir ’n demokratiese orde kan beide benaderings, gegewe die omstandighede, met groot vrug gebruik word.

Afrikaners stem ook saam dat daar ’n dringende behoefte aan groter koördinasie tussen die verskillende Afrikaanse organisasies en woordvoerders moet wees. Groter koördinasie word gesien as ’n noodsaaklike voorwaarde om op ’n strategies sinvolle wyse te handel en byvoorbeeld op ’n meer doeltreffende wyse in gesprek met die regering te tree. Gesprekke deur Afrikaanse instansies met die regering wat nie tot tasbare resultate lei nie - wat volgens waarnemers dikwels gebeur - word deur die meeste Afrikaners met skepsis bejeën.

Die groot uitdaging aan Afrikaners is om ooreenstemming te kry rondom ’n visie vir die toekoms. Sonder so ’n koherente visie sal die Afrikaners as kultuurhistoriese gemeenskap nie ’n sinvolle strategie jeens die staat kan volg nie. Die FAK meen dat die voorwaardes vir sodanige visie onder Afrikaners aanwesig is. In aansluiting by bogenoemde opmerkings: alhoewel Afrikaners oor die detail van ’n toekomsvisie met mekaar verskil (en waarskynlik nog in die toekoms sal verskil), is dit tegelyk duidelik dat die meerderheid Afrikaners ’n demokratiese Suid-Afrika verlang wat aan die hand van federatiewe beginsels steun op sowel die gondwetlike eenheid van alle burgers as die sinvolle erkenning vir die veelheid van kultuurgemeenskappe. Kortom, in die balans tussen eenheid en veelheid lê die kern van ’n toekomsvisie vir ons mense vervat.

Uit die betrokke vergaderings is dit ook duidelik dat daar by Afrikaners dwarsoor die politieke spektrum groter eenstemmigheid bestaan oor kwessies wat verbandhou met hul verhouding jeens die staat as wat dikwels te kenne gegee word:


1. Afrikaners stem saam dat die federatiewe aspekte van die Grondwet en in die besonder dié grondwetlike bepalings wat sinvolle seggenskap aan kultuurhistoriese gemeenskappe gee tans onder ernstige druk verkeer. Die persepsie onder Afrikaners is dat die federatiewe aspekte van die Grondwet deur sentralistiese tendense in die staat ontkragtig word.


2. Afrikaners stem saam dat ons moedertaal aan ’n klaarblyklik sistematiese marginalisering in die openbare lewe, die onderwys en die universiteitswese onderwerp word. Afrikaners ervaar dit ook as kommerwekkend dat daar min deur die staat gedoen word om die veelheid van inheemse tale uit te bou, omdat die neiging tot eentaligheid klaarblyklik as onomkeerbaar ervaar word.


3. Afrikaners stem saam dat die staat, te midde van die noodsaak vir regstellende aksie, ’n onvermoë vertoon om werksekerheid vir Afrikaners in die arbeidsmark te skep. Afrikaners stem ook saam dat die bykans patologiese vlakke van vervreemding (eksterne en interne immigrasie) onder ons mense met die arbeidsituasie verbandhou.


4. Afrikaners stem saam dat die wyse waarop die erfenis van Afrikaners en in die besonder plekname (‘Pretoria’ en ‘Bloemfontein’, simbole van demokratiese republikanisme vir Afrikaners) eensydig aan druk onderwerp word, nie die federale en demokratiese aard van die grondwetlike bedeling respekteer nie. Die veelheid van verhale (geskiedenisse, erfenisse, ensovoorts) moet toenemend plek maak vir slegs die één almagtige en sentriese verhaal.


5. Afrikaners stem saam dat die regering se politiek van stille diplomasie jeens Zimbabwe daartoe bygedra het dat die voortslepende onsekerheid oor die grondkwessie nie uit die weg geruim is nie, maar eerder verdiep het. Die tirannie, geweld en intimidasie van misdadigers waaraan boere onderwerp word, hou op ’n indirekte wyse (en veral vanweë die sosio-psigies prosesse wat dit ontketen) met hierdie gebeure verband.


6. Afrikaners stem saam dat die regering, gemeet aan heersende internasionale maatstawwe, daarin slaag om die ekonomie suksesvol te stuur. Nogtans spreek Afrikaners hul kommer uit oor die toenemende gaping tussen arm en ryk en die ontwrigtende gevolge wat dit vir die veelheid van kultuur-historiese en ander gemeenskappe in Suid-Afrika het.

Die FAK is daartoe verbind om in die maande wat kom die raadplegende vergaderings na ander dele van die land uit te brei en uiteindelik met omvattende voorstelle na vore te kom oor hoe die verhouding tussen Afrikaners en die staat op ’n skeppende grondslag geplaas kan word.


 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=469
Artikel nagegaan: Nee.
Indien die artikel se inhoud hierbo nie vertoon nie, sal dit mettertyd bygevoeg word wanneer die artikel nagegaan word.

    -