blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


Le Monde diplomatique: Hamas se oorwinning 2006-02-15
Alain Gresh

* Joernalis, Le Monde diplomatique en kenner van die Midde-Ooste

** Uit die Frans vertaal deur Johann Rossouw, [email protected] Hierdie artikel het op 27 Januarie op die webwerf van Le Monde diplomatique verskyn.

Hamas se onverwagse oorwinning in die Palestynse parlementsverkiesing op 25 Januarie 2006 het heelwat verontwaardigde kommentaar en waarskuwings ontlok van die Verenigde State en die Europese Unie, Frankryk inkluis. ’n Sekere aantal opmerkings vooraf is egter nodig om hierdie gebeurtenis in konteks te plaas.

Die verkiesing, wat onder buitelandse besetting gehou is, het gelei tot ’n intense mobilisering van die Palestynse bevolking. Meer as driekwart van die kiesers is na die stembus. Dit is onteenseglik ’n oorwinning vir die demokrasie en ’n bewys van die Palestyne se verbintenis daartoe. Die sowat 900 internasionale waarnemers het ook getuig van die reëlmatigheid van die verkiesing.

Die kiesers het hulle verwerping van die beleid van die Palestynse Owerheid en Fatah op minstens twee vlakke uitgedruk. Eerstens verdoeming van hul onvermoë om stewige instellings te skep, korrupsie uit te wis en die daaglikse lewe te verbeter. Almal in Palestina is bewus van die permanente beperkings van ’n besetting wat nou al veertig jaar duur, maar selfs in hierdie omstandighede lyk die balansstaat van die Owerheid ongunstig. Dit lyk ook ongunstig op die terrein van onderhandelinge met Israel sedert die Osloverdrag in 1993. Mnr. Mahmoud Abbas, verkies tot president van die Owerheid in Januarie 2005, het alles gewaag op die aanname dat ’n meer “gematigde” posisie van sy kant die “vredesproses” sou herlanseer. Daar het niks van gekom nie. Mnr. Ariel Sharon, wat lank volgehou het dat Jasser Arafat die struikelblok in die pad van vrede was, het niks aan sy nuwe onderhandelingsvennoot aangebied nie: die eensydige onttrekking aan Gasa is vergesel – en dit was die hele doel van die oefening – van die versnelling van die kolonisering en die bou van die apartheidsmuur, in weerwil van die veroordeling hiervan deur die Internasionale Hof van Den Haag. Die padblokkades en kontrolepunte maak steeds die alledaagse lewe van die Palestyne onmoontlik; politieke gevangenes beloop duisende, ensovoorts. Dit is dus nogal vreemd om die Amerikaanse, Europese en Franse leiers hulleself aanstellerig oor die “hervatting van die vredesproses” te hoor afvra. Hierdie proses het nie voor die Palestynse verkiesing bestaan nie – dit het met mnr. Sharon se verkiesing feitelik tot stilstand gekom.

Daar is nog ’n ander faktor wat aandag verdien. Die kiesers het nie vir Hamas gestem omdat hulle sy “historiese” program vir die vernietiging van die staat van Israel aanhang nie; ook nie omdat hulle die hervatting van selfmoordbomaanvalle verlang nie (onlangse meningsopnames toon eerder ’n wil tot vrede en onderhandeling), maar omdat hulle genoeg had van die katastrofiese bestuur van die Palestynse Owerheid. ’n Mens kan bowendien hoop dat die aardbewing van 25 Januarie sal lei tot ’n herskikking van die Palestynse politieke lewe wat ’n meer doeltreffende strategie teen die besetting sal moontlik maak.

Enkele opmerkings oor Hamas self is ook onontbeerlik. Hierdie organisasie is onteenseglik gewild waar dit aan die Wesoewer en Gasa gesetel is. Dit vorm deel van die politieke landskap. Soos by talle Arabiese lande is dit ’n illusie om te dink dat daar na die demokrasie gevorder kan word deur die Islamiste uit te sluit. Hamas beskik oor drie troefkaarte by die bevolking: sy deelname aan die weerstand teen die besetting; sy netwerk van maatskaplike hulp; die onbetwisbare toewyding van sy kaders. Maar om die bewind te voer, sal ’n formidabele uitdaging wees. Laat ons bowendien nie vergeet nie dat Hamas op die ekonomiese vlak eerder aan die regterkant, gunstig teenoor die liberalisme, verkeer; en op die vlak van sedes is dit uiters konserwatief, wat veral onder ’n deel van die vroue tot kommer lei.

Hamas is ook ’n organisasie wat weet hoe om pragmaties te wees: hy het byvoorbeeld geweier om aan die vorige verkiesing in 1996 deel te neem op grond van die feit dat dit binne die raamwerk van die Osloverdrag geskied het. Sedertdien het hy van posisie verander, terwyl die omstandighede nie het nie. Hy het ook daarin geslaag om bande te smee met van die baie gesiene plaaslike gemeenskapsfigure, Christene op sy lyste aanvaar, munisipaliteite onder sy beheer bekwaam bestuur, ensovoorts.

Dit is moeilik om te voorspel wat in die komende maande gaan gebeur. As Frankryk egter ’n rol te spele het, is dit om daaraan te herinner dat enige oplossing van die konflik deur die toepassing van die Verenigde Nasies se resolusies sal geskied: Israel se totale onttrekking aan al die gebiede beset sedert 1967 – insluitend Jerusalem-Oos; die skepping van ’n onafhanklike Palestynse staat; Israel se reg op vrede en veiligheid. Om daarop aan te dring om van Hamas ’n erkenning van die Staat van Israel in ooreenstemming met die internasionale reg te verkry, maar na te laat om terselfdertyd te herhaal dat die huidige impasse setel in die permanente weiering van hierdie Staat om die resolusies van die VN in werking te stel, sal bloot bevestig dat Parys enige onafhanklike rol in die Nabye Ooste opsê.


 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=468
Artikel nagegaan: Nee.
Indien die artikel se inhoud hierbo nie vertoon nie, sal dit mettertyd bygevoeg word wanneer die artikel nagegaan word.

    -