blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


Vandeesmaand se hoofartikel in Le Monde diplomatique: Watter Spanje? 2006-02-15
Ignacio Ramonet

*Redakteur, Le Monde diplomatique

**Uit die Frans vertaal deur Christel Cattin [email protected]


Die debat oor Katalonië se nuwe status van outonomie (1) het in die jongste aantal weke sorgwekkende intensiteit in Spanje verkry. Veral na generaal José Mena Aguado se verklaring op 6 Januarie in Seville: “Dit is ons plig,” het hy gesê, “om ’n waarskuwing uit te reik oor die ernstige gevolge wat die staat se goedkeuring van die Statuut van Katalonië in sy huidige formaat kan veroorsaak binne die Weermag as instelling en onder sy personeel.” Voeg hierby dat, volgens hom, Artikel 8 van die Grondwet aan die weermag die missie toevertrou om oor Spanje se eenheid te waak en om sy verbrokkeling teen te staan (2).

Hierdie toespraak deur ’n hoë offisier in ’n politieke debat wat reeds gespanne is, het onaangename herinneringe by demokrate opgeroep. Want dit vind plaas in ’n verontrustende tydperk: generaal Franco se dood 30 jaar gelede is pas in November 2005 herdenk; binne enkele weke vind die 25ste herdenking plaas van kolonel Tejero se mislukte staatsgreep op 23 Februarie 1981; en oor ’n paar maande, die 70ste herdenking van die opstand van 18 Julie 1936 teen die Republiek, wat die land in ’n burgeroorlog gedompel het. Spanje het gedink hy het klaar met die tradisie van militêre pronunciamiento (uitdrukking) wat sy politieke lewe deurlopend in die negentiende eeu en vir ’n gedeelte van die twintigste eeu gekenmerk het, tot en met die aanvaarding van die huidige Grondwet in 1978.

Dit is nietemin duidelik dat tye verander het; demokrasie het wortel geskiet, en dit is deesdae ondenkbaar dat ’n klein groepie offisiere daarin sou slaag om dit selfs te bedreig. Generaal Mena se verklaring wys bloot dat oorblyfsels van ’n intervensionistiese tradisie by ’n klein aantal offisiere bly voortbestaan. Maar hierdie tradisie is oor die afgelope maande weer eens kragtig opgewek deur die veldtog van sistematiese vyandigheid van die Populêre Party (PP – regtervleuel) teenoor mnr. José Luís Rodríguez Zapatero se sosialistiese regering. Laasgenoemde het ’n sekere aantal inisiatiewe opgeneem wat hom die gramskap van die mees konserwatiewe elemente in Spanje op die hals gehaal het.

Ons onthou sy besluit – geneem na sy verkiesing in Maart 2004 en ná die terroriste-aanvalle in Madrid – om troepe te onttrek uit Irak waarheen die voormalige President, mnr. José María Aznar, hulle op halsstarrige wyse gestuur het (reëlreg teen die mening van 80% van die Spanjaarde). Ander maatreëls het nog erger polemiek uitgelok, veral die restitusie van argiefmateriaal aan Katalonië, wat deur Franco se troepe in 1938 geplunder en in Salamanca se argiewe van die burgeroorlog geberg is. Weke aaneen het die media wat deur die regtervleuel beheer word, die openbare mening gebombardeer met alarmistiese inligting oor die "gevaar" wat hierdie restitusie vir Spaanse eenheid inhou ... Die Populêre Party (PP) het nie gehuiwer om reusagtige betogings te organiseer om teen hierdie "stroping" te protesteer nie.

Hierop het gevolg die wettiging van homoseksuele huwelike. Alhoewel die meerderheid Spanjaarde dit aanvaar, het hierdie maatreël die protes van ’n ander sektor in die mees reaksionêre milieus ontlok. Die Katolieke Kerk het sover gegaan om burgemeesters wat sulke huwelike bekragtig, met ekskommunikasie te dreig.

Oplaas was daar die kwessie van Katalonië se nuwe Statuut. Net soos die Baskiese provinsie en Galicië besit hierdie gebied sy eie taal en ’n merkwaardige kultuur. Reeds sedert 1932 het hy homself as ’n “outonome streek binne die Spaanse Staat” opgestel. En het hy sy outonomie in 1979 teruggevind toe sewentien "outonome Gemeenskappe" in Spanje geskep is. Danksy ’n Statuut wat in die Grondwet erken word, kon die Katalaanse regering – die Generalitat – ’n outonome polisiemag skep, en het hy bevoegdhede ontvang met betrekking tot onderwys, gesondheid, bestaansorg, kulturele en taalbeleid asook stads- en streeksbeplanning.

Byna 30 jaar het verbygegaan. Sedert November 2003 word Katalonië – vir die eerste keer sedert die einde van Francoïsme – deur ’n linksgeoriënteerde koalisie regeer (Sosialiste, linksgesinde Nasionaliste en Groenes) wat onderneem het om ’n nuwe Statuut te ondersteun. Laasgenoemde kondig geen "afskeiding" van Spanje aan nie, maar maak deel uit van ’n “federerende” tradisie, eis "nasiestatus” vir Katalonië, en is in September 2005 deur 90% van die Katalaanse afgevaardigdes aanvaar. Dit word tans in die parlement in Madrid bespreek.

Die regtervleuel en die Kerk lei ’n skandalige veldtog van Katalanofobie. Hulle maak van al hulle media gebruik, wat steeds baie invloedryk is, en doen dit met mag en mening om gemoedere op te sweep en harte met vrees te vul. Die eerste resultaat is hier: stewelgeluide in die kasernes. Maar die meerderheid parlementariërs sal hulle nie laat intimideer nie. Met enkele aanpassings om dit in ooreenstemming met die Spaanse Grondwet te bring, behoort die nuwe Statuut aanvaar te word.


_________

(1) Lees die bylae “Katalonië”, Le Monde diplomatique, Januarie 2006; en in besonder die artikel deur Antoni Segura i Mas, “Tussen outonomie en nasie” (kyk p.1).

(2) Lees die volledige teks (in Spaans) op die webwerf: www.elmundo.es/elmundo/2006/01/06/espana/1136570580.html


 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=467
Artikel nagegaan:
    -