|
||||
Johann Rossouw *Redakteur. Hierdie voordrag is gelewer op Versoeningsdag 2005 in die Ortodokse Kapel van die Heilige Maria die Egiptenaar op Robertson tydens die spesiale gedenkdiens vir alle gestorwenes van Afrikaanse tong.
Vriende, ek is gevra om vanoggend met julle te praat oor spoke en taal, hier waar ons almal van Afrikaanse tong wat ons voorafgegaan het, gedenk. Maar as ek met julle praat, as ek met julle hier teenwoordig praat, dan praat ek reeds met julle wat nie vanoggend liggaamlik hier is nie, julle wat deur ons hier is omdat julle, bloot deur die feit dat julle eens in Afrikaans geleef het, die wêreld wat ons vanoggend met mekaar deel, moontlik help maak het. Ek praat dus met julle wat vanoggend hier voor my sit, maar ook met julle wat dit vir ons moontlik gemaak het om vanoggend hier te sit, die spoke dus, julle wat in ons spook, julle wat by ons spook, julle met wie ons spook. Hiermee praat ek nie van buite af met julle nie: ek is nie maar ´n neutrale waarnemer wat vanoggend vir julle ´n boodskap van die spoke en oor die spoke bring nie, want alles wat ek self vanoggend kan sê, kan ek net sê omdat ons almal ook in my en by my spook, en omdat ek elke dag van my denkende lewe met ons spook. Danksy die woorde wat hulle gebruik het om ´n lewe te lei, het die mense voor ons behoue gebly, en is om daardie selfde woorde te gebruik, reeds om hulle elke oomblik te gedenk. Ons lewe dus elke oomblik intiem met die spoke saam. Vriende, spookvriende, ek het gesê dat ek praat met julle wat in ons spook, julle wat in die eerste plek in ons spook omdat ons die woorde gebruik wat julle vir ons nagelaat het, die woorde wat julle eens vlees laat word het omdat julle dit in die mond geneem het, die woorde uit hierdie grond en hierdie lug en hierdie water waarmee julle ´n groot woordvuur genaamd Afrikaans aangesteek het. Het die oudstes onder julle spoke geweet dat julle met die woord in die mond die vuurklippies huiwerig teen mekaar kap? Het julle geweet watter huiwering julle ons soms voor die groot vuur van Afrikaans sou laat, hier waar ons vandag steeds in Afrikaans huiwer voor wat dit beteken om ons te sê? Ons huiwer voor wat dit beteken om ons te sê omdat julle by ons spook. Ons weet dat ons nie ons kan sê sonder om reeds aan julle te dink nie. Ons weet dat die begeerte om ons te wees die verlange na môre is, maar hierdie verlange word getemper deur die gedagtes aan julle. Omdat julle by ons spook, weet ons hoe moeilik dit is om ons te sê. Want as ons aan julle dink, hoor ons die sweep op die ontblote slawerug klap, sien ons die lig van die kroonkandelaar by die teater op die sagte rug van die vrou skyn, en weet ons dat ons albei hierdie herinneringe aan julle vandag op ons rug dra. En ook daarom is ons besig om met julle te spook. Die waarheid is dat ons nie weet hoe om met julle, die spoke, te praat nie. Julle wat aan ons ons woorde en ons wêreld gegee het, laat ons oor ons woorde struikel wanneer ons voor julle te staan kom. Julle spore spoor ons aan om die spoor te vat, om spore te maak, om spore te laat. Julle neem ons op ver paaie sodat ons kan sien dat ons altyd eindig waar ons begin het, maar dat dit nie dieselfde plek is nie, dat ons nooit eindig waar ons begin het nie. Dit is so omdat niks wat begin het ooit ophou nie, dit wil sê om rede van julle, julle wat vanoggend hier is danksy ons, en ons danksy julle. Maar vriende, ons kan nie net vanoggend onthou nie. As ´n mens bloot onthou ter wille van onthou, onthou jy jou van die wêreld, onttrek jy jou van die wêreld, word jy deur nostalgie verlam, word jy self voortydig ´n spook. Om te onthou, is om anders met mekaar te verhou, hier en nou. Om te onthou, is om ons aan te spoor om spore te laat waarop ons kinders en ons kindskinders sal kan loop, sodat hulle self die spoor sal kan hou: spore is belangrik, want noem ons nie ook sade spore nie? Spore is moontlikhede. Spore is geboorte. Spore is toekoms. As ´n mens jou met die spoke besig hou, as jy, soos ek, ´n spektroloog is, een wat spoke bestudeer, dan is die gevaar dat jy van die liggaam sal vergeet, dat jou woorde glimmend in die maanlig van jou mymeringe dryf sonder om ooit grond te raak. Om met spoke om te gaan, om met woorde om te gaan, hou die gevaar van spookagtigheid in. Om dit te vermy, moet die woord vlees word, soos ons in lank reeds in ons Afrikaanse tradisie leer. Want sou Afrikaans bestaan het, sou ons bestaan het, as die woord nie op hierdie vasteland vlees geword het nie? Maar as die woord moet vlees word, as ons die brood vir mekaar moet breek, as ons die wyn vir mekaar moet skink, dan vra dit ook van ons om te luister. Een van ons eerste spektroloë, ´n man wat met sy eie spoke geworstel het en spookstories geskryf het, C.J. Langenhoven, het gesê: “Die gewone man weet nie wat hy sê nie; die ongewone man weet wat hy sê; en die buitengewone man weet wat hy nie sê nie.” Ek onthou die man se woorde ongetwyfeld verkeerd, en ek weet dat dit ongewoon is om so vrouloos te praat, maar hierdie woorde spook by my. Een van die maniere waarop die woord vlees word, is by die oordenking van waar ons ons vanoggend bevind, hier en nou: ´n buitengewone, sonderlinge plek waar ons op buitengewone manier met mekaar saamverkeer. Wie van ons kan vanoggend sê dat ons al voorheen op so ´n manier en in so ´n plek so met mekaar verkeer het? Laat ons dus vanoggend onthou dat om aan hulle voor ons te dink, beteken om ook en veral oor onsself te dink. Hulle wat voor ons gekom het, hulle van wie ons die woorde ontvang het, hulle van wie ons die wêreld ontvang het, hulle het dit vir ons moontlik gemaak om in hierdie buitengewone omstandighede met mekaar te verkeer. Ons is vanoggend hier van verskillende stande, van verskillende plekke, van verskillende denominasies, selfs van verskillende geloofsoortuiginge, maar danksy die gedeelde band van Afrikaans, danksy die spoke en hulle woorde, kan ons ´n glimps van ´n ander manier van saamwees sien, kan ons soos in die Katolieke Mis die koekie van ons saamwees op die tong neem en ons saamwees proe as ´n moontlikheid van nuwe dinge. Vriende, ek het vroeër gesê dat die spoke ook ons verlange temper, omdat hulle ons herinner aan die grense van die moontlikhede. Ons kan terugkyk na hulle, na julle wat vanoggend hier onder ons spook, en sien waar julle gefaal het. Maar ons kan ook sien dat julle faling nooit sonder julle drome sou wees nie: ´n mens misluk slegs as daar ´n droom is. Vir julle wat ons nie vanoggend kan sien nie, maar wat ons wel kan hoor, omdat ons julle woorde dra, kan ons dus vanoggend dankie sê: dankie omdat julle vir ons wys wat ons wil en wat ons nie wil wees nie. Maar bowenal, dankie dat julle was. |