Mense praat van die burgerlike samelewing as kontrolepunt, as keerwal,
as beginpunt van verandering. Maar dan ook van die niebetrokkenheid van
die burgery tydens tye van verandering.
Dis asof die stiltes deesdae 'n soort afwagting is. Ons het mos 'n nuwe
regering en hulle moet ‘deliver’. Hulle het koffers vol geld. Daar is
al die nuwe beleide wat SA 'n beter en getransformeerde land moet maak,
Afrika se sukses. Daarom hou ons hulle dop, en sê en doen niks. Sulke
stiltes kan vertolk word as stilswyende bekragtiging van wat aangaan.
In die alledaagse lewe is daar baie mense vir wie die veranderinge ten
goede werk. Maar dan het ons ook so baie vir wie alles ten swaarste
werk, of uiteindelik ten kwade, en dit is in verband met
laasgenoemde mense dat stiltes nie baat nie.
Hierdie groep burgers en hulle besonder erge situasie is al vir 'n
geruime tyd met ons. Ek verwys hier na die mans wat op hoeke van strate
staan en werk vra, die mans met vraende oë, sommiges met 'n verfkwas in
hand, ander met leë hande wat beduie en vra.
Mense wat hierdie mans soggens sien, is diegene wat op pad is werk toe,
of skole toe om kinders af te laai. Aan hierdie skerp kontras is mense
wat elke dag verbyry, besig om gewoond te raak. Jy't al geleer hoe om
mis te kyk.
En dis nie asof enigiets wat die regering doen, selfs op plaaslike
vlak, enige verskil maak nie. As dit die geval is, moet kiesers hulle
ontevredenheid uitspreek. En dan is dit duidelik 'n geleentheid vir
gewone mense om iets te doen.
Gewone mense is nou diegene wat op die straathoeke staan en werk soek,
maar ook diegene wat verbyry, die werkloses en hulle waarnemers.
Werkloses en waarnemers is saam die burgery, die burgerlike samelewing
wat kan opstaan as 'n regering net watertrap. En dis juis hier waar ons
kan saamstaan, want die probleem is glad nie onbeduidend nie.
Gestel hier in Gauteng staan daar tussen 50 en 60 mans op een so 'n
kruising. Gestel daar is sowat 20 sulke kruisings per distrik/woonarea,
en dat ons in Gauteng 200 sulke distrikte het: dit maak 200 000 tot 250
000 mense, en indien elkeen van hulle 4 afhanklikes het, praat ons van
tot een miljoen mense wat direk geraak word deur die weinig maar
enigste geleenthede wat staan-op-die-hoek-van-die-straat-vir-werk kan
inhou.
Indien 70% op 'n gegewe dag nie stukwerk kry nie, word 700 000 mense
geraak? En hierdie is net een klein deel van die totale aantal
werkloses.
Die probleem is sekerlik veel erger as jy die vergrootglase van tyd,
gebrek aan opleidingsgeleenthede, uitgebreide burokrasie, ens. bysit,
en as jy die verhaal van elke man opneem en hom vra na sy afhanklikes,
waar hulle is, watter geleenthede daar vir hulle is, en hoe desperaat
almal is.
Miskien is dit deel van die probleem dat ekonome en politici groei en
vordering in SA meet aan inflasie en BBP en hoe gelukkig die middelklas
is. Omdat ons dit nie kan meet nie, wil niemand regtig weet tot in
watter mate massas mense gelukkig is nie.
Ek pleit hier nie vir kitsoplossings nie, of oplossings wat net een of
twee dinge doen en die res nalaat nie, soos die miljoene wat beskikbaar
is vir opleiding maar nie gebruik word nie. Teen nou besef mense
opleiding alleen is nie die antwoord nie.
Hier is 'n paar gedagtes, gemik op 'n proses wat eers moet help
verstaan wat aangaan, en dan vra wie moet betrokke wees by deurdink,
dan wat kan gedoen word, en dan hoe mens gaan weet of die situasie
verbeter het.
Die beginpunt moet wees dat mense probeer verstaan wat aangaan. Hoe het
dit gebeur dat, as mens moet skat vir die land as geheel, daar
derduisende mans elke dag in die land op hoeke van strate staan en vra
vir werk? Hoe raak hierdie situasie die mans se eie gesinne en
families? En hoe raak dit uiteindelik ook diegene wat hulle waarneem,
en die getuies is van die mense is in lewenskrisis?
En hoe is dit dat die situasie geleidelik deel word van strukturele
armoede, 'n spiraal wat dikwels geslagte neem voordat mense daaruit kan
kom?
Hoe is hierdie situasie ook ons eie probleem, in die buurtes waar die straathoeke
is?
Tweedens, wie moet hier saam soek na oplossings? Wat is die dringende
aksies wat werkloses en waarnemers, ons burgelike gemeenskap, kan
opneem?
Derdens, hoe gaan ons weet dat oplossings werk, en bydra tot langtermynoplossings
en 'n gelukkige burgerlike samelewing?
Die ideaal is niks buitengewoon nie: net dat die straathoekers 'n
basiese lewe kan maak, met werk, studiegeleenthede, inkomste,
gesin/familielewe, deelname aan gemeenskapsaktiwiteite, ensomeer, alles
wat basies is vir gelukkige lewe, en wat kan bydra tot wat in Oosterse
lande genoem word "gross national happiness".
|