blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


Chaos met wapenlisensies; Geharde manne kry closure 2006-02-15
Kleinjan Schietekat

 

Nee, se moer, wat is ’n Boer sonder sy roer?” het oom Herklaas Snuif vroeër vandeesmaand in ’n openhartige onderhoud met Die Vrypostige Afrikaan gesê. Ons gesprek met oom Herklaas het deel uitgemaak van ’n ondersoek na die chaos met die inhandiging en herlisensiëring van vuurwapens in privaat besit.

Oom Herklaas, ’n boer van Groot-Marico se wêreld, het tydens ons besoek verduidelik waarom hy nie van plan is om met die staat saam te werk nie. “Kyk, man, ek het amptelik drie gewere. Daar’s my 9 mm-Mauser, vir grootwild, olifante en so. Dan’s daar my BRNO 308, destyds nog uit Tsjeggo-Slowakye ingevoer, vir rooibokke en so. En dan my Purdy-haelgeweer, wat ek nog by Pa gekry het en wat basies maar net goed is vir tarentaalskiet. Nieamptelik het ek nog van my oupagrootjie ’n 6,5 mm-Mauser uit die Boereoorlog. Ek het nog nooit enige van my gewere teen mense gebruik nie, en my oupagrootjie het die Mauser net op Engelse gebruik, wat destyds nie as mense gereken is nie.

“Nou sê die goewerment ek moet op my ryp ouderdom van 73 my gewere ingee en met elkeen ’n skiettoets aflê. Die toets is prakties en teoreties. Die teoretiese deel was nie te moeilik nie; ek het net bietjie met die Engelse vraestel gesukkel, en die poliesman, Inspekteur Troost, kon my ook nie juis met die Engels help nie. Maar die neukery,” en hy spoeg ’n tabakstraaltjie, “was die praktiese toets. As ek prakties getoets moet word, kan ek nie met hierdie gewere bloot net op ’n skietbaan gaan staan en skiet nie. Hiermee skiet jy olifante en leeus en rooibokke - nie mense nie, en  nie teikens op ’n skietbaan nie. Ek wil dus hê dat my skietvermoë getoets moet word in die bosveld op wilde diere - en dan op die skiet van Engelse. Ek besef egter dat hierdie toetse onmootlik is, omdat olifante nou beskerm moet word, en die enigste Engelse eintlik die ANC is - en jy kan tog nie die regering begin uitroei met ’n Boere-oorlog Mauser nie. Om praktiese - en morele - redes kan ek dus nie my gewere prysgee of her-registreer nie. Wat nou? Kan ’n filosoof van julle tydskrif my miskien help?”

Die probleem met ongelisensieerde skietbane het by nadere ondersoek van ernstige omvang geblyk. Harry Pietersen, eienaar van ’n geweerwinkel in Rondebosch, Kaapstad, sê dat hy reeds voor die inwerkingtreding van die nuwe wapenwet sy skietbaan vir die praktiese toets gebou het. “Maar tot op hede het ek nog nie ’n lisensie vir die baan gekry nie!”

Pietersen sê hy wag nou al agtien maande op die lisensie, “en dis so erg dat ek my winkel waarskynlik binnekort sal moet sluit en weer my loopbaan as beroepsjagter moet hervat – as ek my eie gewere gelisensieer kan kry!”

Al die opgekropte spanning onder wapeneienaars en -handelaars is blykbaar besig om verskeie van dié geharde manne met sielkundige probleme op te saal. Koos Manning, ’n kliniese sielkundige van Claremont, Kaapstad, vertel dat hy soveel gevalle van Piedmont se Sindroom in sy praktyk het, dat hy tot radikale terapeutiese stappe moes oorgaan. Volgens Manning is Piedmont se Sindroom vernoem na ’n Franse boer wat na die burokratisering van Frankryk na die Franse Rewolusie op ’n dag veertien staatsfunksionarisse se ink vergiftig het. “Die kêrel wat onlangs by Binnelandse Sake met ’n speelgoedrewolwer ’n amptenaar aangehou het vir sy ID ly beslis aan ’n variant van Piedmont se Sindroom. Dis ’n ding wat ons met ons wapeneienaars kan tref as hulle nie ’n uitlaatklep kry nie.”

Manning vertel verder dat sy radikale terapie die stig van ’n omgeegroep insluit. Die omgeegroep kom elke Saterdagoggend op die Rondebosch-meent bymekaar waar hulle onder meer teikenskiet op papiermaché-afbeeldings van parlementslede en regeringslui wat verantwoordelik is vir die administratiewe rompslomp. “Een van ons manne het in die proses met die maak van die afbeeldings sy kunstalent ontdek, terwyl ander vir die eerste keer in jare kon huil as hulle op die teikens lostrek.”

Oom Herklaas kon danksy die bemiddeling van Die Vrypostige Afrikaan self opgeneem word in die omgeegroep. “Miskien kan ek nou closure kry,” sê hy.


 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=462
Artikel nagegaan: Nee.
Indien die artikel se inhoud hierbo nie vertoon nie, sal dit mettertyd bygevoeg word wanneer die artikel nagegaan word.

    -