blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


Le Monde diplomatique: Katalonië: tussen outonomie en nasie 2006-02-15
Antoni Segura I Mas

*Professor in Eietydse Geskiedenis en Direkteur van die Sentrum vir Internasionale Historiese Studies van die Universiteit van Barcelona

** Uit die Frans vertaal deur Christel Cattin [email protected] Hierdie artikel het verskyn in ´n bylaag oor Katalonië by Le Monde diplomatique van Januarie 2006



Katalonië praat Katalaans, ’n Romaanse taal wat ook die taal is van die outonome streek van Valencia, die Baleariese Eilande, Andorra (’n soewereine staat), die Franse gedeelte van die historiese Katalonië (die département Pyrénées orientales), die oostelike gebied van Aragon en die klein streek van Alguer (in Sardinië). Katalaans het homself reeds duidelik van Latyn begin onderskei aan die einde van die eerste millenium, en die eerste geskrifte in prosa is historiografiese kronieke van die dertiende en veertiende eeue, hoewel poësie in die Provensaalse tradisie reeds vroeër ontwikkel het.

Katalonië het al in die negende eeu reeds ’n historiese en kulturele entiteit begin uitmaak, etlike dekades nadat die graafskappe wat deur Karel die Grote geskep is, hereditêr en onafhanklik geword het. Romaans-Katalaanse kuns vertoon hierdie sonderlingheid in merkwaardige werke (Boí-vallei). Die juridies-politieke entiteit verskyn eers later, ná die unifikasie van die verskillende graafskappe met dié van Barcelona, wat sy uniewording met Aragon in die dertiende eeu sou voorafgaan. Daarna volg die verowering van Majorka en van Valencia in dieselfde eeu. Die nuwe politieke entiteit bereik in daardie stadium sy territoriale en kommersiële hoogtepunt. Dit is in hierdie tydperk dat die eerste universele skrywers van die Katalaanse letterkunde na vore kom: Ramon Llull, Joanot Martorell en Ausias March.
Teen die middel van die vyftiende eeu word die Middeleeuse koninkryk afgetakel vanweë die maatskaplike krisis in Katalonië se platteland, die burgeroorlog (1462-1472) en epidemies. In 1474 verenig die huwelik van Ferdinand II van Aragon met Isabella van Kastilië die twee belangrikste koninkryke in Spanje, terwyl elkeen sy instellings en erfgoed behou. Dit sou egter nie verhoed dat, tydens Philippus IV (in die sewentiende eeu) se era, “die geskil oor die teoretiese unie van gelykes, oorgeërf van die laat Middeleeue, of die aanwending van die finansiële bydraes van al die dele van die konglomerasie van Spaanse gebiede vir die finansiering van die imperiale beleid met groter heftigheid as ooit tevore ter tafel gelê word nie” (1).
Die Katalaanse antwoord daarop was die oorlog “dels Segadors” (van die Maaiers) wat in 1640 begin het met die inname van Barcelona deur ’n boeremag. Na ’n poging tot afstigting en inlywing by Frankryk word vrede weer eens herstel met die Verdrag van die Pireneë (1649), wat die mees noordelike streke van Katalonië by Frankryk integreer. Die instellings het nietemin behoue gebly, maar slegs ’n halfeeu lank. Met Karel II van Habsburg se afsterwe sonder ’n nakomeling het die Europese moondhede met mekaar gewedywer om elkeen sy eie kandidaat as leier van Spanje te probeer afdwing. Kastilië het gekies ten gunste van Philippus van Anjou, kleinseun van Lodewyk XIV, terwyl die koning van Aragon (insluitende Aragon, die Baleariese Eilande, Valencia en Katalonië), wat besorg was oor die vestiging van ’n regeringstelsel wat openlik ten gunste van sentralisasie sou wees, aartsbiskop Karel van Oostenryk ondersteun het. In 1714, na ’n maandelange beleg, het Philippus V van Bourbon se troepe Barcelona binnegegaan, en die Katalaanse instellings is kort daarna afgeskaf.
Die agtiende eeu was nietemin die eeu van belangrike transformasies in Katalonië se landbou en die ontwikkeling van die katoenbedryf. Hierdie veranderings het nie slegs met formidabele demografiese ontwikkeling gepaard gegaan nie, maar het ook die weg gebaan vir die industrialisasie van die negentiende eeu.
Katalonië was een van die eerste lande wat ’n geïndustrialiseerde gemeenskap geword het. Sedert die middel van die negentiende eeu was die katoentekstielbedryf reeds volkome gemeganiseer, en Katalonië het die "werkswinkel van Spanje" geword. Die maatskaplike en demografiese veranderings het sy verskillendheid van die res van Spanje beklemtoon. Anargistiese teorieë en ’n baie strydlustige proletariaat het van Barcelona die stad van barrikades gemaak (volgens Friedrich Engels se uitdrukking). Op hierdie wyse het die geboorte van die industriële gemeenskap met lyding gepaard gegaan, want benewens maatskaplike stryde het drie burgeroorloë die negentiende eeu uitgelig.
Met die oorgang na die volgende eeu is Spanje gekenmerk deur die ekonomiese agterstand van sy binneland en suidelike deel, wat op landbou gebaseer was, teenoor die groeiende moderniteit van Katalonië, wat swak verteenwoordig is en nog swakker ingeskakel het by die res van die Staat. Kulturele en politieke bewegings (Reinaixença, Modernisme, Bases de Manresa) het die lig gesien, wat moderniteit en nasionale hereiening met mekaar vereenselwig het. Gematigde Katalanisme het ’n projek vir die modernisering van die staat ontwikkel waarvan die mees gevorderde vorm die Mancomunitat van Katalonië (1914-1923) was. Hierdeur sou ’n afgewaterde oordrag van enkele staatsbevoegdhede aan Katalonië vergun word, wat deur laasgenoemde goed aangewend kon word om sy wetlike eenheid te bevestig. Die Noucentisme het die polities-kulturele uitdrukking daarvan uitgemaak. Maar dit was in werklikheid die werkersklasse wat die "differensiële feit" lewend gehou het, en dit was danksy hulle inisiatiewe (opbloei van verenigings, opvoedkundige vernuwing, kulturele klubs) dat maatskaplike strydvoering en nasionale aansprake nou met mekaar verbind is, dermate dat ’n sonderlinge politieke projek tydens die Tweede Republiek (1931-1939) uitgewerk is – Republikeins, Federaal en linksgesind.
Die munisipale verkiesing van 12 April 1931 het die oorwinning aan ’n linksgesinde nasionalistiese koalisie besorg: Esquerra Republicana de Catalunya (Republikeinse Linkervleuel van Katalonië – ERC) en Unió Socialista de Catalunya (USC). Twee dae later het Francesc Macià (ERC) ’n “Katalaanse Republiek” geproklameer wat ’n integrale deel van ’n Iberiese Federasie sou vorm. Die voorlopige Republikeinse regering in Madrid het nie hierdie inisiatief verwelkom nie. As teenvoeter het hulle die stigting van ’n outonome gesag voorgestel wat die naam van ’n historiese instelling sou oorneem, die Generalitat (Generaliteit), gepaard met die uitbouing van ’n Statuut van Outonomie wat op 2 Augustus 1931 by wyse van ’n referendum aanvaar is.
Die verkiesing van die Spaanse Grondwetgewende Vergadering (Cortes) op 28 Junie 1931 het weer eens ’n oorwinning besorg aan die ERC, wie se stem hoofsaaklik van die werkersklas afkomstig was. Hieronder het ’n proletariaat geressorteer wat merendeels by die Nasionale Konfederasie vir Werkverskaffing (CNT), ’n anargisties uniegedrewe vakbond, geaffilieer was, en wel ten koste van die Lliga, die party van konserwatiewe Katalanisme. Nietemin moes die Statuut aansienlik gewysig word om dit in ooreenstemming met die Grondwet te bring en is dit op 9 Desember 1931 aanvaar. Die Cortes van Madrid het dit op 9 September 1932 aanvaar met 214 stemme (Sosialiste en Republikeine) ten gunste van, 24 teenstemme en 100 onthoudings.
Katalonië het homself op hierdie wyse opgerig as ’n “outonome streek binne die Spaanse staat”, die Generaliteit het sy “verteenwoordigende orgaan” geword, en Kastiliaans (Spaans) en Katalaans het albei gelykwaardige status as amptelike tale geniet. Die staat het die alleenmag behou oor “verdediging en die weermag; internasionale betrekkinge; beleid met betrekking tot doeaneregte, belasting, kapitaal en banke.” Die Generaliteit se bevoegdhede het “alles wat burgerregte ... en die administratiewe regeringstelsel van Katalonië raak”, ingesluit; dit is toegelaat om opvoedkundige instellings te stig, en Madrid het ook die “handhawing van wet en orde, sowel as regspleging” aan hom opgedra. Verder is die “heffing van territoriale, landelike en stedelike belasting” (2) aan hom toegestaan.
Die Statuut van 1932 maak hoogs doeltreffende regeringsaksies moontlik, veral wat die onderwys betref. Maar die onbuigsamer sektore van die weermag en die Spaanse regtervleuel het nooit die republikeinse wetlikheid aanvaar, of kon toelaat dat die staat van sy monopolie afstand doen nie. Hulle veroorsaak die burgeroorlog (1936–1939), wat ’n einde gebring het aan die outonomistiese en republikeinse droom van die linkervleuel.
Die nederlaag van 1939 het gelei tot die ontbinding van Katalaanse instellings, wrede onderdrukking (3) en “’n poging tot kulturele volksmoord op Katalonië” (4). Gedurende die eerste jare van generaal Franco se diktatorskap kon die Katalaanse taal en kultuur uitsluitlik in ballingskap voortbestaan. Die verlies aan individuele vryhede het gepaard gegaan met die verlies aan nasionale vryhede. Op hierdie wyse het die politieke en kulturele opposisie, wat geleidelik kragtiger geword het, die volgende slagspreuk gedurende die 1970's aangeneem: “Vryheid! Amnestie! En 'n Statuut van outonomie!” Die nasionale feit het die kollektiewe patrimonium van die opposisie in sy geheel geword. Tydens die eerste demokratiese verkiesing op 15 Junie 1977 het meer as 75 % van die Katalaanse kiesers hulleself ten gunste van die herstel van die Katalaanse instellings en die 1932-Statuut uitgespreek, en meer as 50% van die kiesers het dit gedoen vanuit ’n linksgesinde posisie (5).
Die territoriale herorganisasie van die Spaanse Staat het die sleutelvraag geword tydens die oorgang na Franco se bewind tussen 1975 en 1978. Op 11 September 1977 het ’n reusagtige betoging, wat honderde duisende Katalane in Barcelona se strate verenig het, die eis om ’n outonome regering in Katalonië vergestalt. Maar die president van die Spaanse regering op daardie tydstip, mnr. Adolfo Suarez, was onwillig om ’n outonomie toe te staan wat deur die linkervleuel beheer sou word. Hy het dus besluit om weer die Generaliteit in te stel en het die uitgeweke Katalaanse president, Josep Tarradellas, aan die hoof daarvan aangestel, wat op 23 Oktober 1977 na Barcelona teruggekeer het. Die herinstelling van die Generaliteit was die oorgangsregering se enigste besluit wat binne die raamwerk van Republikeinse wetlikheid val.
Die nuwe Spaanse Grondwet is by wyse van ’n referendum op 6 Desember 1978 aanvaar, en dié van Katalonië se nuwe Statuut, op 25 Oktober 1979. Die teks verleen aan die Generaliteit bevoegdhede met betrekking tot die onderwys, gesondheid, bestaansorg, taal- en kulturele beleid, stads- en streeksbeplanning, ensovoorts. Dit magtig verder die skepping van ’n outonome polisiemag en definieer Katalonië as ’n “nasionaliteit”, wat “sy eie taal ... Katalaans” besit, wat dieselfde amptelike status as Kastiliaans geniet. Desondanks het hierdie Statuut nie ander hoogs simboliese bevoegdhede wat in die Statuut van 1932 bestaan het, aanvaar nie, byvoorbeeld “die staat se polisiemag in Katalonië” en die skepping van ’n appèlhof. Die finansiering van die Generaliteit is afkomstig van die Staat se inkomste uit belasting.
Hierdie Grondwet van 1978 het nie ’n oplossing gebied vir die probleme wat met die staat se territoriale organisasie gepaard gaan nie. Sewentien outonome Gemeenskappe regoor Spanje is daarin erken, met die gevolg dat dit die aspirasies van Baske, Katalane en Galiciërs afgewater het. Kortom, die nodige desentralisasie van die Staat is doelbewus met die regmatige aansprake van Euskadi, Katalonië en Galicië verwar. ’n Unieke geleentheid het op hierdie wyse verlore gegaan om aan historiese eise te voldoen deur middel van ’n herdefinisie van die staat, gebaseer op Spanje se multinasionale karakter.
Niemand weet of die konteks van die era dit moontlik sou maak om verder te gaan nie, veral omdat daar geen skeuring plaasgevind het nie, maar bloot hervorming. Dit is onbetwyfelbaar dat die Grondwet onder druk van “die geraas van stewels en swaarde” vanuit die kasernes plaasgevind het en later, op 23 Februarie 1981, het ’n poging tot ’n militêre staatsgreep plaasgevind. Dit is ook waar dat die politieke wil van die regering – en van ’n gedeelte van die linksgesinde opposisie – op daardie tydstip daarop gerig was om nie prioriteit aan Katalonië se nasionale sonderlingheid te verleen nie.
Op 20 Maart 1980 het die eerste verkiesing van die Katalaanse Parlement plaasgevind, wat ’n oorwinning aan Convergencia i Unio (CiU), ’n nasionalistiese middelregse koalisie, verleen het en wat deur middel van gesprekvoering met alle maatskaplike klasse daarin geslaag het om die “belange van Katalonië” met dié van sy eie agenda te identifiseer. Vir 23 jaar lank het mnr. Jordi Pujol, wat as President van die Generaliteit verkies is, die lotsbestemming van Katalonië in sy hande gehad. Die vooruitgang op alle gebiede was merkwaardig. Mnr. Pujol het ook bygedra tot Spanje se politieke stabiliteit deur die minderheidsregerings van die Spaanse Sosiale Werkersparty (PSOE) van 1993 tot 1996 en die Populêre Party (PP) tussen 1996 en 2000 te ondersteun. Desnieteenstaande het hy nooit die Statuut van 1979 waarvan die gebreke na vore gekom het, bevraagteken nie; in die besonder met betrekking tot die stelsel van finansiering wat die rykste streke swaarder belas sonder dat hulle daarvoor vergoed word by wyse van staatsbeleggings.
Al is Katalonië se bruto binnelandse produk (BBP) inderwaarheid hoër as die Spaanse gemiddeld, kom dit nietemin neer op ’n kleiner inkomste per persoon as die nasionale gemiddeld wanneer belasting afgetrek en oordragte na armer outonome streke, tesaam met die staat se beleggings in Katalonië, in berekening gebring word.
Die verkiesings van November 2003 in Katalonië en Maart 2004 in Spanje open opnuut die moontlikheid vir herorganisasie van die staat, terwyl huidige imperatiewe in ag geneem word. In Katalonië is ’n linksgesinde Katalanistiese regering saamgestel, terwyl ’n sosialistiese regering in Madrid gevorm is. Hierdie stuasie lyk dus gunstig vir oorgang na ’n federale beskouing van Spanje wat oplaas aan die verwagting van outonomie vir Katalonië sal voldoen en tegelyk voorsiening sal maak vir ’n finansieringstelsel wat aan onmiddellike uitdagings sal voldoen. Dit is die mikpunt van die nuwe Statuut wat in September 2005 deur die Katalaanse Parlement aanvaar is en wat tans in Madrid se Parlement bespreek word.
Die teks definieer Katalonië as ’n “nasie wat as outonome gemeenskap saamgestel is in ooreenstemming met die Grondwet en die huidige Statuut”. Dit bepaal sy bevoegdhede om sodoende te verhoed dat die Madrid-regering wette kan uitvaardig wat hulle kan inperk. Dit vereis die Generaliteit se teenwoordigheid te midde van nasionale en Europese instellings; dit skep ’n bilaterale Kommissie Generaliteit-Spaanse Staat. Dit skep veral ’n nuwe finansieringstelsel wat berus op die daarstelling van ’n Fiskale Agentskap vir Katalonië wat verantwoordelik is vir die “bestuur, invordering, betaling en inspeksie van alle belasting wat die staat na Katalonië oorplaas”, en wat daarop, in die naam van solidariteit en deelname aan staatsbesteding, ’n bedrag sal terugbetaal bereken op grond van “bevolkingsgetalle, die bruto binnelandse produk en die vergelykende fiskale bydrae.” (6)
Hierdie nuwe statutêre teks kan sonder twyfel verder bespreek word, dit is die bestaansrede vir die parlementêre proses. Maar waaroor geen twyfel bestaan nie, is die legitimiteit daarvan, want dit is per stemming deur 90% van Katalaanse afgevaardigdes vanuit alle politieke strominge aanvaar, en ook nie oor die versoenbaarheid daarvan met ’n soepel interpretasie van die Grondwet nie. Origens is al die prosedures vir die samestelling daarvan ten nouste nagekom, en dit getuig van ’n bereidheid om Katalonië beter met Spanje te integreer sonder prysgawe van politieke spelreëls, en sonder om homself bloot te stel vir enige beskuldiging van ’n poging tot afskeiding.
Uiteraard word dit nie op dieselfde wyse deur die Spaanse regtervleuel en die media wat dit beheer, vertolk nie. In die praktyk gebruik die Populêre Party (PP) doelbewus vals argumente (byvoorbeeld dat die nuwe Statuut poligamie en genadedood sou wettig); dit vererger die onderliggende spanning deur voor te hou dat die teks “Spaanse eenheid laat verbrokkel” en lei tot sy “balkanisering”. Die media wat hom simpatiek gesind is, gaan nog verder deur propagandategnieke aan te wend wat aan Goebbels toegeskryf sou kon word: lieg, beledig, bestempel Katalaanse politieke leiers as “Nazis” en voer veldtogte om produkte van plaaslike en multinasionale maatskappye wat in Katalonië gesetel is, te boikot – SEAT, Nestlé, Sony, Danone, Gerblé, ensovoorts.
Die kernvraag is nie eens die Statuut in sigself nie, maar, soos die geval is met ander sake (homoseksuele huwelike, die plek van godsdiens in die onderwys, ensovoorts), buit die PP en die nostalgiese sektore van Francoïsme die situasie uit in ’n poging om mnr. José Luis Rodríguez Zapatero se regering te destabiliseer en omver te gooi. Hulle huiwer nie om affrontasie tussen outonome gemeenskappe aan te blaas nie en skep soveel spanning dat dit werklik nasionale harmonie kan bedreig. Hulle diskoers herinner aan dié van die regtervleuel op die vooraand van die burgeroorlog in die 1930's.
Die sosialistiese regering van Spanje moet onverstoord bly en weet hoe om die aanslae van die reaksie te weerstaan. Op ’n tydstip waar dit lyk of vrede in die Bask-provinsie nader as ooit tevore is, moet dit die uitdaging van ’n herorganisasie van die staat aanvaar wat tydens die oorgangstydperk onvoltooid gelaat is.

_________
(1) Joaquim Nadal i Farreras, “Catalunya sota els Àustries”, in Joaquim Nadal i Farreras et Philippe Wolff (Dir.), Història de Catalunya, Barcelona: Oikos-tau, 1983.
(2) Josep Termes, Història de Catalunya (Red. Pierre Vilar). VI, De la Revolució de setembre a la fi de la Guerra Civil (1869-1939), Barcelona: edicions 62, 1987.
(3) Josep M. Solé i Sabaté, La repressió franquista a Catalunya 1938-1953, 2de uitgawe, Barcelona: Edicions 62, 2003.
(4) Josep Benet, L’intent franquista de genocidi cultural contra Catalunya, Barcelona: Publicacions de l’Abadia de Montserrat, 1995.
(5) Borja de Riquer y Joan B. Culla, Història de Catalunya (Red. Pierre Vilar), VII, El franquisme i la transició democrática, Barcelona: edicions 62, 1989.
(6) Parlament de Catalunya, “Proposta de reforma de l’Estatut d’autonomía de Catalunya”, Butlletí Oficial del Parlament de Catalunya, núm. 224, 3 Oktober 2005: http://www.parlament-cat.net/activitat/bopc/07b224.pdf (in Spaans: http://www.parlament-cat.net/porteso/estatut/estatuto.pdf).



 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=461
Artikel nagegaan: Nee.
Indien die artikel se inhoud hierbo nie vertoon nie, sal dit mettertyd bygevoeg word wanneer die artikel nagegaan word.

    -