blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


Vandeesmaand se hoofartikel: Plaaslike regering 2006-02-15


“Om jou in ’n plaaslike verkiesing beskikbaar te stel, skep die moontlikheid om die samelewing van onder af te begin verander, wat die enigste demokratiese strategie is – anders as staatsbemoeiingsmetodes (wat die samelewing van bo af wil verander deur staatsbeheer oor te neem) en sogenaamde “burgerlikesamelewing”-benaderings (wat glad nie beoog om die stelsel te verander nie).”

                So verwoord Takis Fotopoulos (1) ’n sterk standpunt ten gunste van deelnemende demokrasie beginnende op die plaaslike vlak, waarmee Die Vrye Afrikaan dit roerend eens is. Vir demokratiese Afrikaners kan lotsverbetering kwalik deur verandering van bo af geskied, gegewe die oorheersing van die ANC. Aan die ander kant kan betrokkenheid vanuit die burgerlike samelewing nie sonder meer as stelselbevestigend beskou word nie.

                Die plaaslike regeringsverkiesing wat op 1 Maart plaasvind, het reeds meer belangstelling gaande gemaak as vorige soortgelyke verkiesings na 1994. Minstens twee redes kan hiervoor aangevoer word.

                In die eerste plek het die uitwasse van sentralisme, neoliberale begrotingsbesnoeiiings en rasgebaseerde indiensneming, sonder inagneming van die toepaslike kwalifikasies, op min ander terreine as op die vlak van plaaslike regering die afgelope twee jaar of wat so duidelik geword. Meer as een-derde van Suid-Afrika se plaaslike regerings word tans deur die regering self as in ’n staat van krisis geklassifiseer, met tot soveel as 50% van plaaslike regerings wat in duie stort.

                In die tweede plek het die voetsoolvlakopstand wat in die middel van verlede jaar in ANC- en Alliansiegeledere teen president Thabo Mbeki en sy binnekring losgebars het, die ANC voor ’n groeiende krisis te staan gebring. Ofskoon die Alliansie se geledere in die aanloop tot 1 Maart gesluit is, ly dit geen twyfel nie dat die interne twiste weer later vanjaar in die openbaar sal kom, miskien reeds met mnr. Jacob Zuma se verhoor teen die middel van die jaar.

                Van die kant van die burgery is op die ineenstorting van plaaslike regering gereageer met ’n reeks spontane opstande, veral op die platteland, maar ook aan die buitewyke van stede. Elders in vandeesmaand se uitgawe (p.16) ontleed Dale McKinley  die oorsake van hierdie opstande, maar kortweg kom dit neer op ontoereikende demokratiese ruimte vir gewone landsburgers.

                Van die kant van die regering is die reaksie tot dusver volledig in lyn met die groeiende eliteminagting van die burgery, naamlik groter sentralisering, onder meer deur moontlik munisipale begrotings onder sentrale regeringsbeheer te plaas. Die antwoord is natuurlik om meer besluitnemingsbevoegdheid, kapitaal en kundigheid na plaaslikeregeringsvlak af te wentel, maar dit sal waarskynlik nie gebeur nie.

                Waar staan Afrikaners te midde van al hierdie onstuimigheid? Nagenoeg twee-derdes van Afrikaners woon vandag in stede, waar die dienslewering ook wisselvallig is, soos byvoorbeeld met die chaos rondom munisipale rekeninge in Pretoria en Johannesburg. Om hierop te kan reageer, lê Afrikaners se heil waarskynlik in deelname saam met ander gemeenskappe op plaaslike vlak, veral buite die georganiseerde partypolitiek.

                Die verpartypolitisering van plaaslike regering het Suid-Afrikaners geen guns gedoen nie. Veral die ANC het daarmee net ’n verdere vliegwip vir allerlei gure karakters op sy plaaslike lyste geword. Oorhoofs gesien, het die leidende politieke partye in Suid-Afrika toenemend in flou nabootsings van die Amerikaanse partypolitiek verval. ’n Slagspreuk soos “Meer as net opposisie” (VF+) verlaag die politiek tot niks meer nie as die verkoop van tandepasta of waspoeier, terwyl “Die DA lewer” die politiek weer as suiwer ’n kwessie van bestuur en goeie dienste hanteer.

                In ’n land soos Namibië, wat haar oorgang na nominale veelpartydemokrasie 5 jaar voor Suid-Afrika beleef het, het nie-partypolitiese inwonersverenigings in die jongste plaaslikeregeringsverkiesing beduidende belangstelling getoon, en dit is iets wat met groot vrug in Suid-Afrika kan herleef.

                Die beste wat demokratiese Afrikaners onder die omstandighede kan doen, is om hulle kruisie te gaan trek vir daardie kandidate wat ’n bewese rekord van gemeenskapsbetrokkenheid het. In aanvulling hiertoe behoort moeite gedoen te word om demokratiese inwonersverenigings ’n sterker werklikheid te maak ten einde plaaslike politici verantwoordbaar te hou.

                Hierdie verenigings kan egter ook veel meer doen, naamlik inisiatiewe vanuit die gemeenskap loods om groter selfstandigheid te verseker. Die Afrikanerbond van die 1880’s en 1890’s het hulle byvoorbeeld met talle sodanige inisiatiewe besig gehou, en die organisering ter wille van aksie op plaaslike vlak is ’n tradisie wat Afrikaners met groot vrug kan herwin, ook te midde van die agteruitgang van hierdie tradisies in armer gebiede sedert die ANC se bewindsoorname in 1994.

                Kortom, demokrasie gaan oor veel meer as die trek van ’n kruisie, en die vestiging van demokratiese praktyke op plaaslike vlak behoort demokratiese Afrikaners se grootste oogmerk te wees. Soos Koos Malan juis in ’n artikel in verlede maand se Die Vrye Afrikaan uitgewys het (2), bied die Grondwet noemenswaardige moontlikhede vir Afrikaners wat hulself op plaaslike vlak wil organiseer.

__________

(1) Soos aangehaal deur Serge Latouche in “Ekofascisme of ekodemokrasie: Op weg na negatiewe groei”, Die Vrye Afrikaan, Vrydag 18 November 2005, http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=395.

(2) “Selfbeskikking en die Grondwet”, Die Vrye Afrikaan, Vrydag 20 Januarie 2006, http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=447.


 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=460
Artikel nagegaan: Nee.
Indien die artikel se inhoud hierbo nie vertoon nie, sal dit mettertyd bygevoeg word wanneer die artikel nagegaan word.

    -